blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Hulle was ook ons: Hendrik Biebouw, die eerste (wit) Afrikaner? 2006-12-11
Hermann Giliomee

*Historikus en skrywer van Die Afrikaners (Kaapstad: Tafelberg, 2004)

 

Op ’n Sondagmiddag in 1707 roep ’n beskonke 16-jarige man op Stellenbosch teenoor die landdros wat met die lat onder hom ingeklim het, “Ik ben een Afrikaner!” Maar wat weet ons van dié jong belhamel, Hendrik Biebouw, en wat beteken sy oproep in sy tyd vir óns tyd?

Sy vlietende oomblik van roem het geskied binne die raamwerk van die stryd in die eerste jare van die agtiende eeu tussen die hoë amptenare onder Willem Adriaan van der Stel en vryburgers wat geboer het. Dit het gegaan oor die boerdery van die amptenare en hul onwettige voorsiening van die mark van vleis, wyn en koring. As dit sou voortgaan, sou die vryburgers as mededingers op die mark uitgeskakel word en hulle sou weer soldate en matrose moet word.

Vroeg in Maart 1707 het die nuus gekom dat Van der Stel en verskeie hoë amptenare na Nederland teruggeroep is. Die vryburgers het die stryd gewen. Die nuus het gou Stellenbosch bereik. Volgens Johannes Starrenburg, landdros van Stellenbosch, het hy vier jong mans op ’n Sondag gewaar wat soos “mal mense” in die straat afjaag. Hulle was dronk en rumoerig. In die Kompanjiesmeule het hulle met “veel gevloek” die skale rondgegooi.

 Starrenburg het hulle berispe en gelas om huis toe te gaan. Toe hulle weier om te gehoorsaam het hy Hendrik Biebouw, sestien jaar oud, met sy rottang geslaan. Hierop het Biebouw geskreeu: “Ek wil nie loop nie, ek is ’n Afrikaner, selfs al slaan die landdros my dood en selfs al sit hy my in die tronk, ek sal en wil nie swyg nie.”

Die landdros het Biebouw en sy trawante in die tronk gestop en by die regering aanbeveel dat hulle verban word. Die regering het die mag gehad om enkellopende mans wat leeglê in die Kompanjiesdiens terug te neem en weg te stuur. ’n Maand later is drie van die jong mans in die openbaar lyfstraf toegedien. In die Stellenbosse “opgaaf” of sensus van 1708 is Biebouw se naam geskrap met die enkele opmerking “weg”.

Net iets terloops oor Biebouw se lot. Ek het in my boek oor die Afrikaners geskryf Biebouw is in alle waarskynlikheid na Batavia verban. Volgens een oorlewering het sy skip noord van die huidige stad Perth gestrand en het hy sy lewe in wat vandag Wes-Australië is onder inboorlinge geslyt.

Daar is ook ’n teorie, waaroor die NRC Handelsblad van 10 Januarie 1998 verslag gedoen het, dat Biebouw verantwoordelik is vir die oordra van die siekte Porphyria variegata na verskeie Australiese inboorlinge. Hierdie was ’n lekker storie om te vertel – “die eerste Afrikaner is verban na Australië en daar het hy aan sy nasate van gemengde bloed die siekte porfirie oorgedra” – maar ongelukkig is dit nie korrek nie. ’n Navorser van die Tanap projek oor die VOC het vasgestel hy het matroos geword en het in 1716 na Batavia vertrek. Hy is daar in 1719, op die ouderdom van 29 jaar oorlede.

      Al wat in die insident werklik onderskei van ’n alledaagse relletjie, is dat Biebouw homself ’n Afrikaner genoem het. Hy het homself nie ’n boer of Boer (met ’n hoofletter genoem nie). Dit is hoe die hoë amptenare die vryburgers wat geboer het, genoem het. Soms het hulle dit gespel met ’n hoofletter, Boere, asof dit ’n politieke begrip is eerder as ’n bestaanswyse. Die hoë amptenare het besef daar is ’n kloof tussen hulle en hul teenstanders, wat, soos Van der Stel een keer geskryf het, “geen ander vaderland ken nie.”

Die naam Boer het in die volgende twee eeue ’n noemnaam vir die plattelandse Afrikaners geword. Maar dit was nie net die trekboere en die veeboere wat hulself boere, eerder as Hollanders of Kapenaars genoem het nie. Ook Andries Stockenstrom, een van die helde in my boek, is sover ek weet die enigste persoon wat uitdruklik gesê het hy is ’n Afrikaner en ’n Boer (Boer met ’n hoofletter).

Biebouw het in sy opstand van daardie Sondag in Maart 1707 homself ook nie ’n vryburger genoem nie. In die vroeë agtiende eeu het mense aan die Kaap hulle in die eerste plek kragtens hul statusgroep – vryburgers of burgers – geïdentifiseer.

Daar was drie amptelike statusgroepe onder die administrasie van die VOC – Kompanjiesamptenare, die burgers en slawe. Die wet het vir burgers spesifieke regte en verpligting voorgeskryf. Maar wanneer Hendrik Biebouw woedend teenoor die landdros uitroep dat hy nie sal stilbly, roep hy nie “Ek is ’n vryburger en ek sal my nie laat slaan nie”, maar “Ek is ’n Afrikaner”.

Biebouw se gebruik van die term “Afrikaner” is vreemd. Teen die begin van die agtiende eeu is dié term net gebruik vir sekere slawe, vryswartes of Khoi-Khoi, wat in die Kaap gebore is, byvoorbeeld Hottentot Africaaner en Jager Afrikaner. Met die gebeure op Stellenbosch word daar vir die eerste keer geboekstaaf dat ’n Europeër homself ’n Afrikaner noem.

F.A. van Jaarsveld se vertolking is dat die kreet ’n nuwe nasionale bewussyn aandui. Hy dink dat Biebouw se kreet “Ek is ’n Afrikaner!” histories net so betekenisvol is as De Crèvecœur se beroemde vraag in 1783 oor Amerikaner-identiteit: “What, then, is the American, this new man?”

Van Jaarsveld se vertolking is betwisbaar. Dit is onwaarskynlik dat die jong Biebouw die soort mens was wat oor ’n nuwe nasionale identiteit getob het. Hy was sekerlik nie die soort persoon wat hom sou vereenselwig met ’n identiteit wat deur kleur of ras begrens word nie.

Wie was Biebouw? Biebouw se pa Detlef was ’n burger-sjirurgyn van Mecklenburg in die huidige Duitsland. Hy kon sy eie naam slegs met ’n kruisie teken en was volgens alle verslae brandarm.

Voor hy met Hendrik se moeder, Willemientjie de Wit, ’n weeskind van Rotterdom, getrou het, was hy in ’n buite-egtelike verbintenis met ’n slavin waaruit ’n dogter gebore is. Hendrik is in 1690 gebore. In vandag se terme was hy waarskynlik werkloos toe hy op daardie Sondag halfdronk teenoor die landdros uitgeroep het: “Ek wil nie loop nie, ek is ’n Afrikaner...”

Verre van ’n etniese nasionalis te wees, was Hendrik Biebouw met sy ongeletterde Duitse vader, Hollandse moeder en swart halfsuster eerder iemand wat oor sy nasionale identiteit verward was. Die feit dat daar mense was wat deels van Europese en deels van slawe-afkoms was wat hulle ook Afrikaners noem, het Biebouw nie verhinder om die naam vir hom toe te eien nie.

Biebouw sê ook nie hy is ’n blanke nie. Vir ongeveer 130 jaar het die 1780’s het die vryburgers en die amptenare nie ras of kleur gebruik om buitestaanders te stigmatiseer nie. Dit was genoeg om na ’n bruin of swart persoon se slawestatus of slaweafkoms te verwys. Die eerste gedokumenteerde voorvalle van rassisme kom eers in die 1780’s voor. Eers van die 1790’s kom die term blanke in gebruik en dan is dit besoekende Europese amptenare wat die voortou neem.

’n Naam wat Biebouw kon gebruik om sy gekrenktheid aan te dui, is Christen. As iemand in die sewentiende en die agtiende eeu ’n “Christen” genoem is, is veel meer as net sy geloofsoortuiging daarmee aangedui. Winthrop Jordan merk ten opsigte van die Amerikaanse kolonies op dat om Engels of wit te wees en om Christen te wees feitlik dieselfde ding was. “Die konsep ingebed in die term Christen lyk of dit heelwat van die gevoel van ons teen hulle oorgedra het: om “Christen te wees, was om beskaafd eerder as barbaars te wees, Engels eerder as Afrikaan, wit eerder as swart.”

’n Dergelike houding is in hierdie tyd ook in ander Europese kolonies aangetref. Omdat die Kaap nie deur mense van ’n enkele Europese nasie gekoloniseer is nie, was die koloniste geneig om hul Christelike identiteit met hul politieke identiteit te vereenselwig. Dit was algemeen dat burgers aan die Kaap na hulleself as Christene verwys het. Volgens ’n bron het ’n grensboer, toe hy twee ander boere in die teenwoordigheid van ’n Khoi-Khoi en ’n Engelsman opmerk, gesê: “Hier kom twee Christene, ’n Hottentot en ’n Engelsman.”

 Biebouw het ook nie hierdie term gebruik nie. Al wat ons op hierdie stadium kan sê, is dat dit vir Hendrik Biebouw in sy verontwaardiging nie daaroor gaan dat sy eer as vryburger, blanke of Europeër of Christen gekrenk is nie. Hy rebelleer teen ’n amptenaar wat Duits is en nie ’n boorling van Afrika nie wat sy aanspraak op ’n bepaalde plek, posisie en status aantas. Hy gebruik daarvoor die term Afrikaner.

      In ’n ongepubliseerde essay “The Afrikaner as African” spreek Breyten Breytenbach die problematiek goed aan.

 

Bibault se uitdagende uitroep (“Ek is ´n Afrikaner”) van sesessie van Hollande reg en Kompanjie-soewereiniteit moet ’n definiërende sprong na ’n ander identiteit wees. Maar hy sê ook: Julle kan my nie belas of oor my regeer nie omdat ek nie langer ’n Hollander of ’n Fransman is nie; ek is van híérdie vasteland. Die algemene toestande van sy omgewing en sy situasie word nou beperk tot ’n spesifieke poging tot herdefinisie.

 

Breytenbach stel die vraag hoe ver het Biebouw se disaffiliasie van ras en kultuur gestrek. Sou hy beswaar gehad het as sy swart halfsuster haar ’n Afrikaner genoem het? Waarskynlik nie. Sou hy die Khoikoi wat redelik talryk in sy omgewing was ook Afrikaners noem? Waarskynlik nie. Het die Khoikoi en die Bantoesprekende stamme in die binneland hulself op daardie stadium Afrikane of Afrikaners genoem? Die antwoord is nee. Hulle het hulself ooreenkomstig hul stam geïdentifiseer en is so deur die ander geïdentifiseer. Pan-Afrikanisme het nog ver in die verskiet gelê.

      Breytenbach maak die interessante moontlikheid oop dat Biebouw homself ’n Afrikaner noem hy omdat nόg die een nόg die ander is. Hy is nie soos die landdros ’n Europeër of ’n Duitser nie en hy behoort ook nie aan ’n bepaalde stam nie. Breytenbach stel die vraag:

 

“Het ‘Afrikaner’ dan ’n reënboog beteken wat nóg son nóg reën is, maar ’n fraaie illusie wat die twee oorspan? As’t ware gevange in ’n middelwêreld. Wat het verander toe hy sy sprong gemaak het? Vir seker nie sy ‘ras’ nie. Is hierdie verandering die uitkoms van ’n evolusie, ’n onontkombare proses, ’n ontsnapping, ’n wilsdaad? Of bloot ’n slegte babelaas? Impliseer dit nie ook ’n tikkie vervreemding nie? ’n Glimps werklikheid gee aan vervreemding soveel meer betekenis…”

 

Vir ’n groot deel van die twintigste eeu het Afrikanernasionaliste Biebouw vir hul saak probeer inspan. Vandag is Biebouw weer ter sake omdat die Afrikaners onder die beleid van transformasie en verteenwoordigendheid weer van vooraf oor tussen-in posisie besin. Hulle is nie Europeërs nie en tog ook nie heeltemal Afrikane nie. Hulle is Afrikaners en dra al die dubbelsinnighede van die term saam met hulle.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=783
Artikel nagegaan:
    -