|
||||
Jean-Claude Paye
*Sosioloog, skrywer van La fin de l’Etat de droit. Parys: La Dispute, 2004.
In die naam van oorlog teen terreur moet mense hulle vryheid prysgee. Dit is die boodskap wat in ons onderbewuste ingehamer is. Net, hierdie inkorting van ons regte sou nie bloot ’n tydelike maatreël soos in ’n noodtoestand wees nie, maar het gekom om te bly – dit word deel van die reg. Die nuwe regsorde vereis dat die burgers hulleself geheel en al aan die uitvoerende gesag onderwerp. Laasgenoemde neem die meeste regsprekende en geregtelike prerogatiewe oor, en die mag om dit nie net in werking te stel nie, maar om reg te spreek. Dit is die einddoel van die jongste antiterroristewet van die VSA. President Bush het die Military Commissions Act (wet op militêre kommissies) op 17 Oktober 2006 onderteken. Hierdie nuwe wet wettig militêre gesag, dit wil sê, daardie spesiale tribunale wat deur ’n presidensiële dekreet in die volgstroom van die 9/11-aanvalle uitgevaardig is. Die noodtoestand is afgekondig om die regsbevoegdhede te regverdig wat so vryheidsvernietigend is dat dit selfs teen die militêre kode indruis. Hierdie tribunale is in plek gestel om regspraak te lewer oor buitelanders wat deur die Minister van Justisie van terrorisme verdink word en teen wie daar geen bewyse is wat voor óf ’n burgerlike, óf ’n militêre hof regsgeldig sou wees nie.
Die Hooggeregshof se Beslissing
Na ’n bestaan van etlike jare is die militêre kommissies deur ’n uitspraak van die Hooggeregshof op 29 Junie 2006 onwettig verklaar. Die uitspraak het gespesifiseer dat hierdie tribunale nie geregtig/bevoeg is om enigiemand te veroordeel nie, aangesien hul strukture en prosedures reëlreg teen die regte van die verdediging indruis, soos dit in die VSA se militêre kode gestipuleer is en in die Geneefse Konvensie van 1949. Die Hof het die Withuis se aansprake afgewys dat die President as Opperbevelhebber van die Weermag en Vloot die reg het om spesiale tribunale in aanskyn te roep en dat dit verder gemagtig is deur die resolusie wat die Kongres in die volgstroom van 9/11 ingestem het, wat aan hom buitengewone magte verleen het om verdere aanvalle te kan verhoed. Die Hof het benadruk dat die Kongres nog steeds die mag het om oorlog te verklaar en oorlogsmisdadigers te verhoor. Die reaksie van die Amerikaanse Unie van Burgerlike Vryhede (ACLU) het die reaksies van ander soos volg opgesom: “Vandag se beslissing is ’n oorwinning vir die oppergesag van die reg in die Verenigde State,” aldus die ACLU se Uitvoerende Direkteur, Anthony D. Romero. Daaropvolgende gebeurtenisse (naamlik die legalisering van militêre kommissies ingevolge die wet op millitêre kommissies van 2006) sou toon dat die Hooggeregshof se beslissing, hoewel dit op ’n terugkeer na die letter van die wet aangedring het, die wet nie meer as die grondslag van die Regstaat beskou nie. Daarbenewens het die Hooggeregshof se meerderheidsbeslissng die deur wyd oop gelaat vir die regering om sy doelwitte te bereik. Dit verander nie die status van die Guatanamese aangehoudenes nie. Dit lewer nie uitspraak dat die tronk gesluit moet word nie. Die besluit gee eerder aan die regering die reg om ’n weg te probeer vind om verhore ooreenkomstig die reg te organiseer. ’n Minderheidsverslag wat deur regter Stephen Breyer geskryf is, toon eerder aan hoe dit gedoen kan word: as die Kongres nie ’n blanko tjek aan die uitvoerende gesag gegee het nie, is daar niks wat die President verhoed om na die Kongres terug te keer om die gesag wat hy nodig ag, te verkry nie. Dit is inderdaad wat die Administrasie sou doen, en vinnig ook, aangesien die regering die Hooggeregshof se antwoord voorsien het.
Wettiging van die Skepping van Militêre Kommissies
Die Military Commissions Act van 2006 ondersteun die regering se mag om buitelandse aangehoudenes wat van terrorisme verdink word, onbepaald aan te hou en verleen daaraan toestemming om hulle deur militêre kommissies te laat verhoor. Dit vestig ook ’n formele stelsel vir ’n burgerlike tribunaal om vonnisse te heroorweeg: die VSA se Appèlhof vir die D.C. se rondgaande hof is die enigste hoër regsliggaam wat bevoeg geag word om besluite deur hierdie tribunale ter syde te stel, en al wat dit kan doen, is om die konformiteit van die prosedure te verifieer. Daar word geen ondersoek ingestel na die waarheid al dan nie van die feite wat deur die vervolging voorgelê word nie. Toe die Kongres hierdie wet ingestem het, het dit aan die uitvoerende gesag permanente regsgeldigheid verleen wat in stryd met die Grondwet is. Danksy hierdie nuwe wet kan militêre kommissies nou gerugte en skulderkennings, wat deur mishandeling uit die aangeklaagdes getrek is, as getuienis aanvaar. Ofskoon marteling formeel in die ban gedoen is, word ’n “graad van oorreding” toegelaat, en die President sal die strafheid van die ondervragings bepaal. Getuienis wat gebaseer is op skulderkennings wat verkry is in lande waar marteling wel wettig is, word ook aanvaar. Laat ons in gedagte hou dat dit presies hierdie soort “getuienis” was wat dit moontlik gemaak het om vas te stel dat Irak oor wapens van massavernietiging beskik, wat die besetting van die land geregverdig het. Die wet verbied ook dat enige militêre agent van marteling of mishandeling aangekla word tot die einde van 2005. Dit het president Bush in staat gestel om deur middel van sy handtekening te bevestig dat die wet die CIA magtig om sy program van aanhouding en ondervraging van persone wat van terrorisme verdink word, in geheime tronke buite die Verenigde State voort te sit. Die stelsel van militêre kommissies stroop die regte van die verdediging af tot feitlik ’n ronde nul. Die beskuldigde word nie toegelaat om sy of haar advokaat te kies nie - dié word deur die uitvoerende gesag aangestel. Die aangeklaagde kan ook om nasionale veiligheidsredes van ’n deel van die verhoor weggehou word, en het geen reg tot insae in sy of haar volledige dossier nie. Die wet verwerp die habeas corpus van die aangehoudenes, selfs voor ’n militêre kommissie. Sodoende brei dit die regsbevoegdheid uit van die Minister van Justisie om enige buitelander wat van terrorisme verdink word, onbepaald aan te hou. Terwyl die uitvoerende opdrag (Executive Order) van November 2001, wat hierdie spesiale tribunale in die lewe geroep het, sy bevoegdhede beperk het tot vreemdelinge wat buite VSA se grondgebied gevange geneem is, brei die Wet op Militêre Kommissies sy bevoegdhede uit om vreemdelinge in te sluit wat in die Verenigde State woon.
Vyandelike Vegter of Vyand van die Regering?
Hierdie wet skryf die konsep van “onwettige vyandelike vegter” in die regspleging in. Dit verleen aan die aanklag ’n direkte politieke aard, aangesien “iemand wat vyandelikhede bedryf het of wat doelbewus en materieel vyandelikhede teen die Verenigde State of sy mede-gevegsgenote ondersteun het”, as sulks geëtiketteer word. Hierdie definisie is so vaag dat dit toepaslik is op maatskaplike bewegings of dade van burgerlike ongehoorsaamheid. Dit is des te betekenisvoller aangesien die konsep van vegtende vyand ook betrekking op VSA-burgers het. Slegs “vreemde onwettige vyandelike vegters” kan deur militêre kommissies verhoor word. VSA-vyandelike vegters kan hulle op siviele jurisdiksie beroep om habeas corpus verleen te word. Nogtans het hierdie wet, deur die skepping van militêre kommissies te wettig, van meet af aan betrekking op die hele bevolking, met inbegrip van VSA-burgers. Die eerste konsep was hieroor volkome eksplisiet. Sommige Republikeinse Kongreslede se weerstand het hul bevoegdheid oor buitelanders beperk. Met inagneming van die spoed waarteen dit aanvaar is, dra dit steeds tekens van die aanvanklike oogmerk. Dus sluit die konsep van onwettige vyandelike vegter, wat die grondslag van hierdie tribunale is, VSA-burgers in. Bowendien vind ons, afgesien van misdade wat deur ’n militêre kommissie verhoor kan word, dat die misdaad wat gepleeg kan word deur enige persoon “deur verbreking van ’n alliansie met of plig teenoor die Verenigde State” doelbewus vyandelike aksies teen die VSA of sy bondgenote ondersteun. Wie, buiten ’n VSA-burger, kan in ’n posisie van alliansie of verpligting teenoor die Verenigde State wees? Onder die misdade wat deur militêre kommissies verhoor kan word, tref ons definisies aan wat eksplisiet verwys na maatskaplike opstand, soos ’n aanval op beskermde eiendom, of konsepte wat met plundering verband hou, en wat elke vorm van besetting van ’n terrein in ’n daad van terrorisme verander. Die eksplisiet politieke aard van sulke misdade is veelseggend van die regering se aanvanklike bedoeling om hierdie kommissies ook vir die verhoor van VSA-burgers aan te wend.
’n Nuwe Politieke Orde
Tot dusver het die spesiale magte wat aan die administrasie toegeken is, berus op die Kongres se instemming in die volgstroom van 9/11 “dat die President bemagtig word om alle nodige en toepaslike geweld te gebruik teen nasies, organisasies of persone wat hy ag die terreuraanvalle van 11 September 2001 beplan, gewettig, gepleeg het, of wat sulke organisasies of persone gehuisves het, om sodoende enige toekomstige dade van internasionele terreur deur sulke nasies, organisasies of persone” te verhoed. Hoewel hierdie besluit aan die President die reg tot buitengewone prerogatiewe in redelik abstrakte terme toeken, inkorporeer die Wet op Militêre Kommissies hierdie regte in die wet. Hierdie inkorporasie van anomie in die wet beteken dat dit nou nie meer deur die een of ander noodtoestand soos in die Executive Order van November 2001 geregverdig hoef te word nie. Die Military Commissions Act beteken dat die uitsondering gekom het om te bly. Dit verander die wetlike en politieke orde en maak ’n permanente einde aan die formele skeiding van magte. Dit skep ’n suiwer subjektiewe wet, wat aan die oordeel van die uitvoerende gesag oorgelaat word. Laasgenoemde kan te eniger tyd besluit wie ’n vyandelike vegter is, kan bepaal dat ’n verdagte vreemdeling lewenslank aangehou kan word, of kan wanneer so iemand verhoor word, militêre regters aanstel en op die graad van oorreding besluit wat in die ondervraging toegepas moet word. Die teks wettig fisieke of psigologiese druk wat aan marteling grens. Op hierdie wyse baan die Military Commissions Act die weg vir die kriminalisering van politieke optrede deur VSA-burgers, en laat vreemdelinge wat van terrorisme verdink word, aan die genade oor van ’n stelsel wat deur ongebreidelde geweld regeer word. Laasgenoemde geval is nie slegs van toepassing op vreemdelinge wat buite die VSA-grondgebied deur die VSA-weermag of CIA in hegtenis geneem is nie, maar byvoorbeeld op enige EU-burger. Die uitleweringsooreenkomste wat in Junie 2003 onderteken is, bepaal dat enige persoon wat in ’n lidstaat van die EU woonagtig is en van terrorisme aangekla word, aan die VSA-owerhede oorgelewer kan word om aan willekeurige uitvoerende gesag onderwerp te word. Magtiging van die skepping van militêre kommissies is steeds deel van die regstradisie van die Weste. Dit is nog steeds binne die struktuur van ’n dubbele regstelsel ingebou: Beperkte regstatus vir nasionale burgers, en totale geweld teen buitelanders. Ofskoon die regering se oorspronklike oogmerk, om toegelaat te word om met VSA-burgers te handel asof hulle uitlanders is en hierdeur weg te doen met habeas corpus vir die hele bevolking nie gehaal is nie, verteenwoordig die Military Commissions Act, soos opgemerk deur Republikeinse senator Linsay Graham, ’n “goeie begin.” |