|
|||
Pieter Duvenage
*Filosoof en lid van die FAK-direksie
Waar staan die Afrikaners as ’n kultuurpolitieke gemeenskap op die oomblik? Is dit nog enigsins nodig om jouself oor Afrikaners te bekommer? Wat word alles onder die kollektiewe noemer Afrikaner tuisgebring? Vanuit die verlede is ’n mens deeglik daarvan bewus hoe moeilik ’n klinkklare definisie van ’n verskynsel soos Afrikaners is. Verder: is dit nog enigsins nodig om oor Afrikaners te besin in ’n grondwetlike demokrasie waarin elke burger se individuele regte (teoreties minstens) verskans is? Wat is die aard van die Suid-Afrikaanse staat? Moet ons almal op dieselfde manier burgers wees, of moet ons verskille ook gehuisves word? Hierdie is alles vrae wat enige ernstige debat oor die Suid-Afrikaanse samelewing nie kan ontglip nie.
Dit is ook vrae soos hierdie wat die FAK in 2005 genoop het om ’n hele aantal ope vergaderings landswyd te hou om te probeer peil wat onder Afrikaners, so ’n dekade en ’n bietjie meer na 1994, aan die roer is. Hierdie vergaderings het baie interessante stof tot nadenke opgelewer, wat daarop dui dat daar ernstige grade van vervreemding onder Afrikaners bestaan. Voordat die dimensies van vervreemding verder verken word, is dit egter nodig om eers net enkele notas oor die onderwerp van definisie te maak. Die tradisionele en eksklusiewe definisie van ’n Afrikaner (veral ’n 20ste-eeuse een) is aan almal bekend. Hierteenoor sou ’n mens ook ’n meer inklusiewe definisie kon gee. Een wat bloot daarop dui dat jy jouself as ’n Afrikaner beskou omdat jy Afrikaans praat en deur Afrikaners se geskiedenis aangespreek voel. So ’n definisie behels verder dat die begrip Afrikaner tussen verlede, hede en toekoms beweeg en dus vir kritiek en interpretasie oop staan. Verder kan die begrip Afrikaner ook aan die hand van Benedict Anderson se begrip van ’n verbeelde gemeenskap (imagined community) beoordeel word. Wat word hiermee bedoel? Bloot dat gemeenskap nooit ’n afgehandelde geheel is nie, maar altyd iets wat nuut verbeel moet word sodat dit ’n toekoms kan hê. Kortom: wat hier gepoog word rondom die begrip Afrikaner is niks anders nie as ’n pleidooi vir praktiese oordeel en wysheid. Dit bring ons by die punt van die FAK se gesprekke oor Afrikaners in die huidige Suid-Afrika. Wat word daar bedoel met grade van vervreemding onder Afrikaners? Verkeer Afrikaners as ’n kultuurgemeenskap in ’n krisis? En hoe kan dit beredder word? Sal ’n Afrikanergemeenskapsraad (breedweg op die model van die Joodse Raad van Afgevaardigdes) binne ’n plurale demokrasie ’n moontlike antwoord wees? Wat vervreemding betref, kan die volgende aspekte aangestip word. Afrikaners voel dat hulle nie werklik as minderheid enige impak op die politieke stelsel het nie. Vanaf plaaslike regeringsvlak, via provinsiale owerhede tot die sentrale regering is die politieke werklikheid so gestruktureer dat daar vir minderhede baie min ruimte tot formele inspraak bestaan. Tweedens voel baie Afrikaners onveilig - oor misdaadvlakke in Suid-Afrika hoef daar nie ellelange argumente gevoer te word nie. Misdaad is buite beheer, en een van die wrede werklikhede daarvan is die plaasmoorde. Die onnadenkende naamsverandering van dorpe en strate dra ook glad nie by tot ’n gevoel van geborgenheid en deelname nie. Die probleem van regstellende aksie, en veral die wyse waarop dit geïmplementeer word, lei ook tot vervreemding. Dan is daar die geweldige toename in emigrasie onder Afrikaners, wat daarop dui dat ’n groot deel van ons gemeenskap hulle hoop op ’n toekoms in hierdie land laat vaar het. ‘n Mens sou nog lank kon voortborduur oor die realiteit van vervreemding onder Afrikaners, wat tot ’n verdwaalde, verwarde en koerslose kultuurgemeenskap bydra. Op hierdie punt is dit egter nodig om te vra of die vervreemding en krisis van Afrikaners nie op ’n verbeeldingryke manier aangepak kan word nie. Is daar nie moontlikhede wat ’n mens anderkant die voorskriftelikhede van die verlede aan die een kant, en die radikale vorm van gebrek aan kollektiewe selfvertroue aan die ander kant, kan bring nie? Sulke moontlikhede staan verder nou geknoop aan die normatiewe vereiste wat deesdae deur die bank aan gesofistikeerde demokrasieë gestel word, naamlik, hoe word minderhede in die demokratiese proses geakkommodeer? Indien daar aanvaar word dat Suid-Afrika nie net ’n land van individue is nie, maar ook van gemeenskappe, dan is die vraag hoe hierdie gemeenskappe kreatief geakkomodeer word, sodat die individue binne hierdie gemeenskappe kan voel dat hulle as burgers, maar ook as behorende tot ’n gemeenskap, erken word. Teen die agtergrond van die normatiewe vereiste vir ’n plurale demokrasie en die gesketste werklikheid van vervreemding onder Afrikaners val die fokus nou op die moontlikheid wat ’n Afrikanergemeenskapsraad inhou. Sou so ’n raad nie juis ’n belangrike rol kan speel om die belange van ’n gemeenskap, wat nie deur die normale instellings opgevang kan word nie, te artikuleer? Dit is binne hierdie konteks dat die FAK die afgelope maande met ’n wye verskeidenheid van organisasies oor die gedagte van ’n Afrikanerraad gesprek voer. Deelnemers aan die gesprekke sluit in Solidariteit, die ATKV, die Afrikanerbond, die Voortrekkers, die Erfenisstigting, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Afrial en die TAR, en uitstekende vordering is reeds gemaak. Die lys deelnemers word deurgaans uitgebrei om die gesprekke so inklusief moontlik te maak. Een van die uitvloeisels van hierdie gesprekke was dat daar verbasende eenstemmigheid oor so ’n instelling bestaan. As daar verskille oor die gemeenskapsraad bestaan, is dit meestal nie van ’n prinsipiële aard nie, maar eerder rondom die “hoe” en “wanneer” daarvan. Groeiende konsensus bestaan ook dat ’n Afrikanergemeenskapsraad en ’n Afrikaanse taalraad nie wedersyds uitsluitend is nie. Dit bring ’n mens dan by die proses wat moontlik gevolg kan word om so ’n raad tot stand te bring. Die eerste punt wat hier beklemtoon moet word, is dat so ’n proses nie oorhaastig moet geskied nie. Daar bestaan ook groeiende konsensus onder die deelnemers dat die proses by voorkeur onder die voorsitterskap van ’n onafhanklike (oud-)regter geplaas en met die nodige wysheid, takt en oordeel gestuur moet word. Die punt hier is dat al die los energieë wat reeds oor die onderwerp van ’n gemeenskapsraad rondhardloop op ’n rustige manier ingebind moet word. Daar moet opnuut beklemtoon word dat vertragingsbeginsels in die proses ingebou moet word sodat alles op ’n uiters omsigtige wyse kan geskied. Die tweede punt wat beklemtoon moet word, bou voort op die vorige. Afgesien daarvan dat die gemeenskapsraad met heelwat aanvoorwerk gepaard moet gaan, moet dit ook met vertroue geskied. Daar kan dan onder die voorsitterskap van ’n (oud-)regter vertroue tussen mense geskep word, vertroue wat oor die afgelope jare en selfs dekades vernietig is. Anders gestel: Die formele strukturerering van ’n gemeenskapsraad is dalk nie so belangrik as die bou van onderlinge verstandhoudings nie. Verder moet so ’n vertrouensbasis tot gesamentlike praktyke en konsensus lei voordat ’n gemeenskapsraad kan volg. In hierdie opsig kan die ruimte geskep word om die volgende vraag te beantwoord: Is ’n politiek van verskille nie progressiewer as een wat op ’n sentralistiese wyse alles eendimensioneel wil orden nie? |