blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ekonomierubriek: Wat Stern vir SA sê 2006-12-11
James Blignaut

*Deeltydse professor in ekonomie aan die Universiteit van Pretoria en direkteur van Jabenzi & Beatus, twee maatskappye wat ten doel het om landelike ontwikkeling in Suider-Afrika ’n werklikheid te maak

 

Op 30 Oktober vanjaar het die toonaangewende Britse ekonoom, Sir Nicholas Stern, die sogenaamde Stern-oorsig oor die ekonomie van klimaatsverandering bekend gestel (Eng. Stern review on the economics of climate change, beskikbaar by http://www.hm-treasury.gov.uk/independent_reviews/stern_review_economics_climate_change/sternreview_index.cfm). Sommige mense noem die oorsig reeds die “Stern warning” (-waarskuwing) wat sinspeel op beide die outeur se naam en die erns waarmee die saak benader moet word.

Terwyl die Stern-oorsig op almal se lippe is met dié se uitmuntende beskrywing van die groteske en negatiewe impak van klimaatsverandering op sowel die ekonomie as die lewensgehalte van mense, moet besef word dat hierdie studie van 600 bladsye nie die werk van een persoon was nie, maar van ’n stuk of 20 aktiewe lede én ’n paneel van meer as 50 van die wêreld se voorste wetenskaplikes en ekonome op hierdie terrein. Daar is dus min twyfel oor die feit dat hierdie verslag tot nog toe beslis die mees gesaghebbende oor die onderwerp is. Geen wonder dat vooraanstaande ekonome baie positief daarop gereageer het nie.

Robert Solow (Nobelpryswenner vir Ekonomie, 1987) het gesê: “As die wêreld wag op ’n kalm, redelike, versigtig beredeneerde benadering tot klimaatsverandering, het Nick Stern en sy span een geproduseer. Hulle skets die buitelyne van ’n haalbare aanpassingsbeleid teen draaglike koste wat nou begin. Gouer is baie beter.”

Net so het Amartya Sen (Nobelpryswenner vir Ekonomie, 1998) gesê: “Die strakke vooruitsigte van klimaatsverandering en sy stygende ekonomiese en menslike kostes word duidelik na vore gebring in hierdie deurtastende ondersoek. Wat besonder treffend is, is die identifisering van middele en weë om hierdie boetes te minimaliseer deur dadelik op te tree, in plaas daarvan om te wag dat ons lewens deur snelvorderende adversiteit verswelg word. Die wêreld sal dom wees om hierdie kragtige, maar streng tydsgebonde boodskap in die wind te slaan.”

Laastens het Joseph Stiglitz (Nobelpryswenner vir Ekonomie, 2001) gereageer met die opmerking: “Die Stern Oorsig van die Ekonomie van Klimaatsverandering verskaf die deeglikste en mees nougesette ontleding tot op datum van die kostes en risiko’s van klimaatsverandering. En dit verskaf ’n omvattende agenda wat ekonomies en polities haalbaar is, en waaragter die hele wêreld kan saamstaan om hierdie baie belangrike bedreiging vir ons toekomstige welstand aan te spreek.” Hierdie aanhalings dui terdeë daarop dat die verslag sterk steun geniet onder van die mees vooraanstaande ekonome in die wêreld vandag.

Terwyl die Stern-oorsig nou baie aandag geniet, is dit nie asof die probleem nou eers geïdentifiseer is nie - allermins. Die Vrye Afrikaan het in sy uitgawe van 18 November 2005 reeds ’n hele dossier oor die onderwerp van klimaatsverandering gedra. In dieselfde uitgawe is daarop gewys dat Suid-Afrika se koolstofdioksiedspoor buitengewoon groot en buite verhouding straf is. Ook is daar geopper dat daar verskeie moontlikhede bestaan om die koolstofdioksiedspoor in te perk. Dit is dus baie interressant om kennis te neem dat Suid-Afrika ’n báie prominente plek in die Stern-oorsig inneem. Nie net word daar verskeie male in die teks van die verslag na Suid-Afrika verwys nie, maar tydens die bekendstelling van die verslag het Sterne gebruik gemaak van 6 skyfies waarvan een na die gesamentlike koolstofdioksied-emissies van die sogenaamde BRICS-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) verwys het.

Die bron van Suid-Afrika se emissies lê opgesluit in die feit dat ons ekonomie ruimskoots gebruik maak van groot hoeveelhede laekwaliteit- en goedkoop steenkool om beide elektrisiteit mee op te wek en ’n groot gedeelte van die land se brandstof te vervaardig. Dit wat as ’n ekonomiese seën beskou is gedurende die 1950’s, 60’s en 70’s, en wat inderdaad ’n groot bydrae gelewer het tot Suid-Afrika se ekonomiese selfstandigheid in dié tydperk, het nou ’n vloek van globale afmetings geword. Dit is so dat Suid-Afrika se emissies vergeleke met dié van die Verenigde State van Amerika verhoudingsmatig baie gering is, maar in vergelykende terme ten opsigte van sowel ons Bruto Binnelandse Produk (BBP) as ons bevolking is ons bydrae ongelukkig so hoog dat dit op die wêreld se radarskerm verskyn – trouens, so hoog dat die Stern-oorsig dit nie kon miskyk nie.

Dit laat Suid-Afrika met ’n netelige probleem. Die president, en waarskynlik by verre die meerderheid van die land se inwoners, verleen alle moontlike steun aan ASGISA, Suid-Afrika se program vir versnelde en gedeelde ekonomiese groei. Suid-Afrika het ’n dringende behoefte aan versnelde groei, maar groei wat armoede kan help uitwis en miljoene mense deelgenote aan die ekonomie kan maak. As ons egter die ekonomiese model van die jare 1950’s-70’s gaan volg om hierdie doelwit te bereik, beteken dit doodeenvoudig meer koolstofdioksied-emissies (en ook verhoogde waterverbruik én ’n toename in al die ander insette tot die ekonomie). Dit skep ’n probleem. Die ekonomie van die 21ste eeu kan doodeenvoudig nie dieselfde struktuur hê en op dieselfde tegnologie as dié van die vorige eeu gegrond wees nie. Daar is gewoon net nie die ekologiese ruimte om dit te doen nie.

Stern stel dit duidelik dat binne ’n globale konteks, maar ook met betrekking tot Suid-Afrika, die oorgang na ’n laekoolstofekonomie verskeie uitdagings na vore bring. Hierdie uitdagings verg leierskap van die hoogste gehalte en ’n politieke wil om die besluite deur te voer. Tog is alles nie verlore nie. As daar niks gedoen gaan word nie is die moontlikheid van tragedie nie uitgesluit nie, soos so treffend deur Al Gore se film An inconvenient truth uitgewys word.

Maar, en dit is ’n groot MAAR: daar bestaan opsies om na hierdie uitdagings as ekonomiese geleenthede te kyk. Ja, dit sal in vele opsigte ’n kentering beteken, maar die geleenthede wat biogas en waterstof bied, is nog nie naastenby ten volle ondersoek of benut nie. Wat nog te sê van die benutting van die groot hoeveelhede uitheemse indringerplante wat reeds deur werk-vir-water afgekap word. Dan is daar nog die opsies van ander energiebronne soos son, water, wind en oseaankrag. Van die goedkoopste vorms van koolstofdioksiedverlaging is om oor te skakel na elektries doeltreffende toerusting en verskeie vorms van hibriede uitrusting, soos motorenjins met gekombineerde elektriese en brandstofdrywing. Ek het my elektriese warmwaterstelsel (geyser) vervang met ’n sonkragstelsel wat uitstekend werk én geld spaar. Om die omskakeling uit te voer, verg veel eerder ’n paradigmaskuif as ’n ekonomiese of tegnologiese verandering. Soms moet die ekonomiese rigtingwysers egter verander om die paradigmaskuif ’n bietjie aan te help. Dit is waarom Stern (en ook genoem in DieVrye Afrikaan van 18 November verlede jaar) verwys na die belangrike rol wat koolstofdioksiedmarkte en omgewingsbelasting kan speel om die pryssein dermate te wysig dat dit die impak en effek van koolstofdioksied ten volle weerspieël.

Dit is interessant om daarop te let dat Stern sê: “Beleid om emissies te verminder moet op drie wesenlike elemente gebaseer wees: koolstofbeprysing, tegnologiebeleid en die verwydering van hindernisse vir gedragsverandering.” Dit is die drie genoemde aspekte waarna hierbo verwys is. Stern sluit sy verslag af met twee baie sterk punte, albei positief. Hy sê dat dit nie te laat is om die toename van koolstofdioksied in die atmosfeer te beperk nie, maar dat dit dringende en sterk gesamentlike optrede sal verg. Verder is hy daarvan oortuig dat buitelandse hulp aan ontwikkelende lande soos Suid-Afrika baie kan doen om koolstofdioksied in te perk, mits die hulpprogramme reg gefokus word om sowel armoede te bestry as emissies te bekamp.

Die vraag is dus: Hoe gaan Suid-Afrika op die Stern-oorsig reageer? Hy is deur die kabinet na Suid-Afrika genooi en sal ons in Januarie besoek. Mag sy besoek tot daadwerklike en korrekte, doelgerigte optrede lei. Uiteindelik gaan ons emissievlakke egter nie deur Stern afgebring word nie, maar deur elke individu wat sy/haar bydrae lewer tot die kollektiewe probleem met sy individuele implikasies.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=780
Artikel nagegaan:
    -