|
||||
Ignacio Ramonet
*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]
Na die afgrond. Verward voel ’n mens aan dat die lyding waaraan die Palestyne onderwerp word, die al roekeloser vorme van solidariteit wat dit in die Midde-Ooste meebring en Israel se gewelddadige verdedigingsreaksies die risiko inhou om die wêreld in die afgrond te stort. Die kop-aan-kop botsing tussen twee volke – Israels en Palestyns – wat, reg of verkeerd, mekaar vrees, kan nie voortduur nie. Want hierdie vrees “regverdig” enersyds ’n toename in die verdrukking, en andersyds radikale groepe se toevlug tot geweld. Peilings bevestig dat die meerderheid burgers in albei kampe na vrede aspireer. Maar haat en ekstremisme styg ook in albei kampe. Die twee kante praat nou van “oorlog tot die dood” en “totale uitwissing”. Die feit dat Hisbollah se burgermagte nie die afgelope somer deur Israel se troepe verslaan is nie, die Amerikaanse magte wat nie in Irak die oorwinning oor insurgente behaal nie, het nuwe hoop gegee aan Palestynse groepe wat weer begin glo in die kanse op ’n “uitgerekte populêre oorlog”. Nadat hulle die Israelse soldaat, Gilad Shalit, op 25 Junie gevange geneem het (en steeds gevange hou), vermenigvuldig hierdie groepe hulle vuurpylaanvalle op Sderat en Askelon. Ses mense is in ses jaar gedood. In dieselfde tydperk het die verdrukking in die Palestynse gebiede tot 4 500 sterftes gelei. Maar die vuurpylbedreiging stook wraaksug onder Israeli’s. Die kamp van die “valke” wat tans aan bewind is en aangemoedig word deur internasionale passiwiteit, lyk asof hulle ’n vrye hand het om die Palestyne na willekeur te kasty. Die afgelope vyf maande is 400 mense, waaronder die helfte burgerlikes, gedood deur die Israelse magte wat oënskynlik deur niks meer teruggehou word nie. Die soldate het selfs nie gehuiwer om op 3 November ongewapende vroue in Beit Hanoen te dood nie. Dieselfde dorp waar twintig burgerlikes, onder wie etlike kinders, vyf dae later deur Israelse mortiere gedood sou word. Hierdie misdaad – volgens die Israelse owerhede die gevolg van ’n “flater” – het die openbare mening wêreldwyd ontstig. En daartoe gelei dat die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies onder inisiatief van Frankryk met 156 stemme teen 7 ’n resolusie aanvaar het wat vra vir die beëindiging van Israelse operasies in Gasa, asook van dade van geweld. Ons is baie ver daarvan af. Mnr. Ehud Olmert se regering het onlangs nie geaarsel om ten spyte van die dapper bedanking van die minister van Kultuur, die Arbeider, Ofir Pines-Paz, mnr. Avigdor Lieberman in sy geledere as adjunkpremier in beheer van “strategiese bedreigings” te verwelkom nie. Lieberman is die leier van die ekstremistiese party, Jisrael Beitenoe (Ons Huis Israel), waarvan die ondersteuners hoofsaaklik immigrante uit die voormalige Sowjet-Unie is, wat dikwels van vreemdelingehaat beskuldig word. Mnr. Lieberman se ampsaanvaarding in ’n gedisoriënteerde kabinet, getempteer deur die wanordelike gebruik van krag, verteenwoordig ’n gevaar vir die hele streek. In die eerste plek vir Israel en sy bevolkingsgroepe. Dit is nie voldoende beklemtoon deur die Europese hoofstroommedia nie, wat gewoonlik meer gereed is om die opkoms van ander ekstremiste in regerings van die Europese Unie af te wys. Skerpsinniger Israelse koerante, soos Ha’aretz, het vinnig gewaarsku: “Om die onverantwoordelikste leier met die minste terughoudendheid tot die amp van minister van strategiese bedreigings te kies, kom self op ’n strategiese bedreiging neer. Mnr. Lieberman se gebrek aan matigheid en sy stormagtige verklarings – wat slegs met dié van Iran se president vergelyk kan word – loop gevaar om ’n katastrofe in die hele streek te ontketen (1)”. Op sy beurt was die Israelse politieke wetenskaplike en historikus van Europese fascisme, Zeev Sternhell, baie uitgesproke: in sy oë is mnr. Lieberman miskien “die gevaarlikste politikus in die geskiedenis van Israel” omdat hy ’n “kelkie van nasionalisme, outoritarisme en ’n diktatoriale mentaliteit” (2) verteenwoordig. Die streekskonteks vererger die risiko. Mnr. George W. Bush se onlangse verkiesingsneerlaag en die konstatering van die militêre mislukking in Irak kan tot ’n wending in Amerikaanse beleid in dié streek lei. Dit lyk reeds asof kontak met Sirië aangeknoop is (in weerwil van die beskuldigings teen Damaskus na die onlangse moord op die Libanese minister van nywerheid, mnr. Pierre Gemajel). En selfs met Teheran, wie se steun beslissend mag wees indien Washington wil slaag met sy onttrekking uit die Irakkese moeras. Laastens lyk dit asof die moontlikheid van ’n regering van nasionale eenheid in Palestina op die horison wink. Dit alles is haaks op diegene in Israel wat, soos mnr. Lieberman en sy vriende, steeds wed op konfrontasie en die oppergesag van mag. Wat hulle betref, is ’n onverantwoordelike skuif nie uitgesluit nie. Hulle voel duidelik aan dat die gevoel in internasionale kanselarye posvat dat daar geen vrede in die streek sal wees sonder dat die Palestyne ’n pad uit hulle labirint vind nie.
__________ (1) Ha’aretz, Tel-Aviv, 24 Oktober 2006. (2) The Scotsman, Edinburgh, 23 Oktober 2006. |