blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na aanleiding van Terry Eagleton se resensie van Richard Dawkins se jongste boek in ons vorige uitgawe skryf Steve Hofmeyr van Johannesburg 2006-12-11

Eagleton se rapportkaart vir Richard Dawkins verdien hersiening. Hy moet weet as die meme-man hom onder hande kry, hy beslis sy eerste vyf ad hominem paragrawe (onder meer) sal moet weglaat. Ek vir een glo Dawkins reeds omdat hy NIE teologiese credentials het nie. Dit maak hom een van ons en as ons afdwaal of nie verstaan nie of selfs fouteer op teoloë se verwagtinge, is dit julle skuld, prof. Eagleton, nie ons s’n nie. Omdat ek Dawkins al in aksie gesien het, is ek bevrees hy is meer ingelig oor geloof as meeste van ons wat ons so graag roem daarop. Dit is moontlik om sy “teologie” en moraliteit op te som teen die agtergrond van die wetenskappe maar ek sukkel nog om te verstaan hoekom dit ’n probleem sou wees (veral omdat hy meer bewyse het vir evolusie as skepping? En dis ’n feit).

Ons MOET relativeer. Ek lewer my bydrae teen die agtergrond van ’n eenvoudige sanger en Piet Pompies vanuit sy konteks as passer en draaier, Mormoon of gemeenskapleier. Dis ook wat ek van die woorde en van ons gode verwag, dat hulle nie impak en gewig verloor slegs omdat ons die prentjies daaragter verander nie! Die bestaan van drie susterskerke (i.p.v. een kerk) dien nog altyd as voorbeeld van onoorkombare verskille tussen mense wat oorwegend saamstem. Dit wat Dawkins doen en vanwaar hy kom, hoe hy lyk en wat sy denkkader is, is ’n leë ad hominem aanklag. As die vrae wat Dawkins opper nie volledig beantwoord kan word nie, doen hy wat in elk geval gebeur en dit vir dieselfde rede: hy loop weg, soos vele ander doen teenoor geloof. Die kerk verloor ons. Die kerk het meeste van my baby boomer-demografie verloor omdat ons as teologiese buitestanders geen insae kon hê in hierdie argaïese geskrifte nie, amper soos die donker eeue die gewone gepeupel kon distansieer omdat hulle nie kon lees nie, en Latyn die voorreg van ’n paar kloosterlinge in ’n paar abdye was. Die voorbeelde en motiverings van waar fundamentaliste hulle graag posisioneer is ooglopend - indien nie effe luidrugtig nie - en kennis van Aquinas en Duns Scotus maak dit nie minder sigbaar, irriterend en selfs gevaarlik nie. Om ’n dokter te vermoor of met Boeings in World Trade Towers vas te vlieg OMDAT JOU GOD SO sê, vra nie spesiale tyd saam Josephus Flavius nie. Dis ’n vreeslike hermeneutiese weelde om te verwag dat kinders, wat besig is om dood te brand, stil moet raak vir ’n lesing oor Tillich, Tracy en Shreiter  (laasgenoemde spekuleer woes om korrelasiemodelle gesanksioneer te kry, wat vir my oor en oor vrae los oor die Bybel as God se Absolute “Onveranderbare” Woord). Hierdie Bybel van ons word nie versprei met ’n klinkklare verduideliking of vriendelike teoloog daaraan vasgespyker, wat reageer elke keer as ons frons nie. Gewone mense met gewone lewens en gewone versoekings en gewone behoeftes moet lees dat God twee bere stuur om 42 kinders te verskeur omdat Elisha ’n blesneurose gehad het. Vir die man op straat is daar min opsies hier, behalwe die letterlike en grafiese.

Ds. Solly Orzovech vertel dat …“’n getuie iemand is wat met oortuiging kan sê: ‘Ek  weet dis waar want ek was daar toe dit gebeur het.’ Hy praat nie van hoorsê nie en universiteit nie, maar van ’n eerstehandse, proefondervindelike kennis wat nie-gelowiges en skeptici s’n ook mag wees. Hierdie getuie, betroubaar of nie, is ek en jy en Richard. Ook Piet, Johan en Susan. Ons sien, ons oordeel en by die lisensie van ’n bemagtigende tydgees, aanvaar of verwerp ons. Ons loop nie meer gebukkend onder ’n dogmatiese voorskriftelikheid nie en as ons God ons nie aanspreek nie, verloor Hy ons moontlik nie, maar ons verloor Hom...

“Vir die hoofstroom Christendom het die rede, die argument en eerlike twyfel nog altyd ’n integrale rol in geloof gespeel,” verduidelik Eagleton.  Ja en nee. Tuis is dit soos om te verklaar dat Suid-Afrikaners die hoogste gesag van die Grondwet aanvaar sonder om te herinner dat dit alles onderdanig is aan Transformasie.  Gelowiges gebruik graag “rede, argument en eerlike twyfel” selektief, maar beslis NIE by geloofsake nie. Is dit nie hoekom gelowiges aandring daarop dat hulle glo ten spyt bewyse, en laasgenoemde nooit sal nodig hê nie? Anders is dit nie geloof nie, is dit? As ’n Christen by ’n ligskakelaar staan, vertrou hy op rasionele wetenskap en druk die knoppie. Baie min gelowiges wat ek ken, gebruik geloof om die lig aan te kry. Maar bring gelowiges se primêre onderbou na die tafel en niemand stel belang om op te daag nie. IS DAAR ’n GOD? Vir Dawkins is hierdie die een voorbeeld van presies dit waaroor die hoofstroom Christendom NIE debatteer nie. Die res, ja. Hermeneutiese handleidings is legio. Dis hier waar Dawkins homself onderskei van gelowiges. Hy sweer by die mens se onkunde en dat hy, by enige bykomende data wat sal verander waarin hy glo, enige van sy teorieë summier sal wysig of verwerp. Ek kan myself byvoorbeeld vir 5 minute vermaak met die idee dat God nie bestaan nie terwyl meeste “hoofstroom” gelowiges hulself kreatief kan vermaak met ’n stoet moontlikhede, behalwe daardie een. “Admissions of ignorance and temporary mystification are vital to good science...” erken Dawkins, “ We believe in evolution because the evidence supports it, AND WE WOULD ABANDON IT OVERNIGHT IF NEW EVIDENCE AROSE TO DISPROVE IT. No real fundamentalist would ever say anything like that.”

As Eagleton verklaar: “Ons [beskaafde niereligieuse tipes en Dawkins] huldig talle aannames (beliefs) wat geen onkreukbare rasionele regverdiging het nie, maar wat nietemin redelik is om te huldig”.  Wat natuurlik sinneloos is in die argument omdat ons almal weet dis waar. Dawkins ook. Maar geen van hierdie dryf Dawkins na massamoord in die naam daarvan nie. Geen van hierdie voltrek ’n doodsvonnis van hellevuur op jou en jou gesin omdat julle nie glo nie en al sou nie-gelowige wetenskaplikes verantwoordelik wees vir die ontwerp van die atoombom, sou hulle dit steeds nie doen in die naam van nie-geloof of om ander te bekeer na een of ander fanatiese goddelose ideaal nie. Dink baie mooi. Dis hier waar Christene, wat uiters sensitief is oor hul eksklusiewe waarheid, eerste en desnoods gaan moet begin onderskei tussen tipes geloof, want meeste van daardie teorieë grief hulle al eeue lank! Veral hier in Afrika, waar jy “glo” dat jou voorvaders jou van Vigs sal bevry as jy ’n maagd kan verkrag. Waar Sataniste “glo” aan hul oorwinning oor Christus. En ’n paar New Agers ’n meisie deur ’n opgerolde mat forseer omdat hulle “glo” die rebirth jou verlos van die defekte van jou eerste geboorte. Sy’t versmoor. Die wetenskappe, as een van die ander maniere om te “weet”, verval nie in bogenoemde kategorie onheil nie.

In Eagleton se “natoogbeskrywing” van liefde as voorbeeld van dit wat nie tot feitelike kennis verskraal kan word nie, laat hy na om te noem dat sy voorbeeld die enkele emosionele entiteit is waaroor ons onsself as aardbewoners, reeds die meeste misgis! Die Liefde.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=777
Artikel nagegaan:
    -