blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na aanleiding van ons dossier “Geweld en misdaad in SA” in dieselfde uitgawe skryf Robert Bond van Centurion 2006-12-11

Die anatomie van die leuen; mag; identiteit – die geweldskrisis van almal teen almal. Hoe kan ek, as postmoderne individu, as hoof van ’n gesin, as deel van hierdie vervreemde en bedreigde gemeenskap, myself (my daaglikse realiteit) beter verstaan – wie is ek, en waarheen? Is dit nie ironies dat my “ontmagtiging” in 1994 ’n ongelooflike vryheid van denke en gees toegelaat het? (Wat ’n mens laat vra – wat is die regte balans van mag en vryheid in die samelewing?) Met ’n onlangse besoek aan Nederland was ek getref deur die vlak van openbare debat wat gevoer word oor sulke temas. ’n Boek wat my aandag getref het – Migrating identity – Transmission / Reconstruction (ISBN 90-8546-022-0) - handel oor die assimilassie (of nie) van (gemarginaliseerde) emigrante in Europa – ’n krisis wat vandag wel heelwat aandag in Europese lande kry. Ek het dit altyd vreemd gevind hoe arbitrêr (maar gevaarlik kompleks) dit eintlik is om deur emigrasie ’n identiteit te skep (kies) vir jou kinders. (Vandag Australies, môre Kanadees). Hoe het ons ouers en voorouers die vraag benader? Is daar nou kontinuïteit? Was hulle migrasie die begin van ’n migrantidentiteit vir ons? Die bydraes van Die Vrye Afrikaan (waarvan ek ’n getroue leser is) help my om sulke temas aan te pak – en dus soms besluite in my lewe te neem. Die vraag wat by my opkom is hoe om die debat wyer te neem in Suid-Afrika – om deur verkrampte politiese magsdenke van verskillende gemeenskappe te breek. Temas soos diversiteit, mag, identiteit – die leuen. Kan “lewende museums” van (beeldende of ander) kuns deur die land geskep word om die huidige Suid-Afrikaanse waarheid te verbeeld? Noem dit maar “Die blinde haat” om aandag te vestig op dit wat ons nie moet wees nie. Laat dit ’n teenpool wees vir diegene wat vir politieke doeleindes wil hê ons moet gevange bly in die verlede. Hoeveel buitelandse mense is al deur Robbeneiland of die Apartheidsmuseum sonder om enige insig te kry in die huidige Suid-Afrikaanse geweldskrisis? ’n Medium om kwaad, vervreemding (van alle gemeenskappe), magteloosheid – uit te beeld. ’n Muur met die name van geweldslagoffers. ’n Medium om kontinuïteit te vestig tussen die hede, die verlede, en die toekoms om temas aan te pak wat die huidige regering ignoreer – mag, die leuen, die legimiteit van bestaansreg en kultuurreg as verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika, die aanvaarding en uitbou van diversiteit.

Ek het nie al die antwoorde nie. Om niks te doen, is ondenkbaar. Om te vlug – ek weet nie. Die waarheid moet uit – elke Suid-Afrikaner se belewenis daarvan.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=776
Artikel nagegaan:
    -