blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Le Monde diplomatique: Die Iran van president Mohammed Ahmadinejad 2006-12-11
Alexandre Leroi-Ponant

*Navorser en joernalis. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

Vandeesmaand beleef Iran gelyktydig ’n munisipale verkiesing en ’n verkiesing vir die Raad van Hoeders. So begin ’n nuwe fase van konflik tussen konserwatiewes en hervormers binne ’n politieke bestel wat weerstand bied teen die groter demokratiese openheid waarna die tweede groep streef. Die krisis met die VSA rakende die kernaangeleentheid stel president Mohammed Ahmadinejad in staat om nasionale eenheid te versterk.

Bestaande uit twaalf lede wat vir ses jaar aangewys word (ses geestelikes wat deur die ajatolla Ali Khamenei, die Leier van die Rewolusie, benoem word, en ses juriste wat deur die Parlement verkies word op voorstel van die geregtelike gesag), is die Raad van Hoeders se hoofdoel om toe te sien dat wette met die Grondwet en Islam ooreenstem. Die raad moet wette goedkeur wat deur die Nasionale Vergadering ingestem is en uitspraak lewer oor kandidate vir die presidentskap, wetgewende raad en die raad van deskundiges (wat die Leier van die Rewolusie kies). Die konserwatiewes probeer om hervormingsgesinde kandidate op die kantlyn te hou, en verwerp hulle op grond van hul teenstrydigheid met Islam. Gelyktydig met hierdie verkiesing vind die munisipale verkiesings ook plaas, wat ’n aanduiding sal kan gee van die gewildheid van president Mohammed Ahmadinejad se huidige regering, anderhalf jaar nadat hy aan bewind gekom het.

Die parlementêre verkiesing in 2004 het ’n meerderheid konserwatiewes in die Parlement geplaas, met ’n groot gedeelte van die hervormingsgesinde kandidate wat deur die Raad van Hoeders geëlimineer is weens hulle “afvalligheid van Islam”. ’n Jaar later besorg die presidentsverkiesing die bewind aan ’n bykans onbekende in die buiteland, mnr. Ahmadinejad. Ten spyte van ongerymdhede wat die eerste rondte ontsier, dui hierdie verkiesing bowenal op die verwerping van die hervormers deur ’n beduidende randgroep bestaande uit die sogenaamde mostazafin (“onterfdes”).

Onder Mohammed Khatami se twee termyne as president (1997-2005) het die middel- en hoër klas gefloreer. Die instelling van ’n vaste wisselkoers met die dollar, die duiselingwekkende styging van eiendomspryse, die herevaluering van staatsamptenare se salarisse binne ’n bestel wat gekenmerk word deur sy gebrekkige openbare sektor, het tot hierdie nuwe bevolkingslae se welvaart bygedra. Daarenteen het die armes se toestand agteruitgegaan onder houe van ’n inflasie van by die 20%. Gepaai met praatjies oor die meriete van die “dialoog tussen beskawings” moes hierdie versaaktes toesien hoe hulle koopkrag afgemaai word. Dit is ’n de facto-alliansie tussen laasgenoemdes en konserwatiewes wat naarstig wou terugkeer na ’n stoere Islamisme, wat sou lei tot mnr. Ahmadinejad se verkiesing, met sy beloftes van ’n beter lewe vir die onterfdes en die veroordeling van die mafia van die rykes. Die Opperleier, ajatolla Khamenei, sê sy steun aan hierdie groepe toe, aangesien hy die soort politieke regime wat die hervormers voorstaan, verdink van sekularisme en weerstand teen die velayat-e faqih (1).

In die agt jaar van mnr. Khatami se bewind het die hervormers geen hervorming van die staatsmasjinerie teweeggebring nie, en ook geen konkrete oplossing aan die hand gedoen vir ’n stelsel wat op olieopbrengste en eiendomspekulasie gebou is nie. Met die wete dat sy gesag in gedrang is, op sowel wetgewende as uitvoerende vlak, spits die ajatolla Khamenei hom daarop toe om sy wetgewende gesag ná die parlementêre verkiesings in 2004 te herwin. Hy ontvang sterk steun uit regsgeledere waar die konserwatiewes steeds oorheers. Met die verkiesing van die nuwe president van die Republiek in 2005 verkry hy ’n beslissende invloed op die uitvoerende gesag en word sy globale gesag gekonsolideer.

Die sluiting in 2006 van koerante soos Sharg, een van die bastions van die hervormers, en die kortvat van intellektuele met die inhegtenisname van Ramin Jahanbeglou (wat uiteindelik op borg vrygelaat is) het die burgerlike samelewing se protesmag ingekort. Voortaan pas die intelligentsia selfsensuur toe in ’n samelewing waarin wettige politieke teenstand alle legitimiteit verloor het. Die styging van die olieprys die afgelope jare het bygedra tot die opbloei van ’n nuwe middelklas wat hom van alle politieke avontuurlikheid weerhou, uit vrees dat ’n groot maatskaplike krisis hom sy ekonomiese voorregte sal ontneem.

Die nuwe president se koms het gesorg vir ’n ingrypende herskommeling van die mag binne die staat. Alle politieke en institusionele hiërargieë is daardeur omvorm, en derduisende poste het van hande verwissel: rektore en dekane van universiteite is aangestel en akademici wat ná aan die hervormers gestaan het, moes aftree. Wetend dat die nie-ideologiese randgroepe van die staatsmasjinerie hom verwerp het, takel president Ahmadinejad die tegnokrasie en ontbind selfs in die herfs van 2006 die beplanningskomitee wat verantwoordelik is vir die befondsing en begroting van die onderskeie ministeries; dié liggaam se voorregte word oorgedra na die prefektorate wat verantwoording doen aan die ministerie van Binnelandse Sake, een van die bastions van die konserwatiewes.

Die ministerie van Islamitiese Leiding, in beheer van media en intellektuele produksie, is tydens Khatami se bewind omvorm tot ’n instansie wat kulturele bedrywighede bevorder. Talle werke wat handel oor die samelewing, die oopmaak van die politieke veld, maar ook kuns en kultuur in die algemeen, sien die lig en talle vergunnings word gemaak vir die publisering van nuwe mediatitels. Die konserwatiewes maak op hulle beurt gebruik van die regstelsel as teenvoeter om afvallige intellektuele bedrywighede kort te vat. Met die verkiesing van Ahmadinejad hervat dié ministerie sy rol as onderdrukker van die media.

Die nuwe president het ook aansienlike bedrae (in die vorm van kontrakte aangedui in dollar) uitgedeel aan faksies van die pasdaran-weermag (bewakers van die revolusie, AP) wat hom gesteun het. Miljarde dollars vir die bou van gastoevoernetwerke is toegestaan aan Khatam ol Anbiya, ’n organisasie wat aan die AP verbonde is. As ekonomiese reus (wat handelsware kan invoer sonder om belasting aan die staat te betaal, en dit dan vrylik op die mark kan verkoop) het die AP een van die hoofspelers in die oliesektor geword. Die staat se vrygewigheid, wat ’n deel van sy klandisie insluit, tesaam met ’n papiergeldbeleid, dra by tot inflasie wat die onterfdes se koopkrag nog verder verminder deur die pryse van lewensmiddele op te stoot, tot die teleurstelling van ’n groot gedeelte van die armstes en die laer middelklasse in die stede met hul uiters beperkte inkomstes. Hulle het op Ahmadinejad se presidentskap gereken om hulle lewensgehalte te verbeter.

Daar is egter geen openlike konfrontasie by hierdie dele van die bevolking te bespeur nie. Dit is eerder die akademici, intellektueles en hervormingsgesinde koerante soos E’temad Melli wat as selfaangestelde woordvoerders vir hulle optree en die bewindhebbers se ekonomiese en maatskaplike beleid en die stygende werkloosheid veroordeel. Die huidige bewind word in der waarheid sterk beproef ná die sluiting van ’n groot deel van die bankstelsel in die Emirate (veral Dubai en Qatar waar daar heelwat Irannese sakelui is), asook in Singapoer – wat die toestaan van lenings aan Irannese woekeraars aansienlik bemoeilik. Voeg hierby die teësinnigheid van ’n groot gedeelte van die tegnokratiese lae, insluitend “gematigde” konserwatiewes, om met Ahhadinejad se regering saam te werk. Hoewel die konserwatiewes in die Parlement in die meerderheid is, het dié hom gedwing om twee ministers te vervang: dié vir koöperasies en dié vir bestaansorg en maatskaplike bystand. Ander mag ook nog in die pad gesteek word.

Ahmadinejad se regering is gebou op ’n alliansie tussen verskeie politieke en militêre groeperinge: eerstens is daar ’n stoere faksie geestelikes, onder wie die ajatolla Mesbah Yazdi ’n groot rol speel, en wat aandring op die totale implementering van die Velayat-e faqih-beginsel, saam met die Leier van die Rewolusie; dan is daar ’n gedeelte van die pasdaran-leër (AP), met sy aspirasie om van Iran ’n leidende mag in die streek te maak, en waarvan die leiers beloon is met belangrike ekonomiese en politieke poste. Nog ’n AP-faksie skaar hulle weer by generaal Mahmoud Bagher Ghalibaf, burgemeester van Teheran en kandidaat in die presidentsverkiesing, wat die modernistiese faksie in dié weermag verteenwoordig.

Die sowat 15% van die bevolking wat deurgaans vir die konserwatiewes gestem het, staan by die president om redes wat minstens ewe kultureel en godsdienstig as ekonomies en maatskaplik is. Hulle verwerp die hervormingsgesindes se “afvallige” sekularisering van die gemeenskap en die aantasting van tradisionele maatskaplike verhoudings op gesinsvlak, maar ook verhoudings tussen seuns en meisies en die emansipasie van vroue. ’n Groot deel van die jeug verwerp egter Ahmadinejad se konserwatisme in godsdienstige aangeleenthede en sy verbreekte beloftes om spoedig die toestand van die armes te verbeter. Ná byna anderhalf jaar van konserwatiewe bewind glo ’n gedeelte van die onterfdes nie meer sy belofte om hulle lewensomstandighede te verbeter nie. Maar die afwesigheid van politieke samehang en die nuwe generasie se gebrekkige organisasie maak openlike politieke weerstand moeilik.

Die konserwatiewes se groeiende mag noop hulle teenstanders om saam te staan: Hasjemi Rafsandjani se kliek wat gematigde konserwatiewes en hervormers van die middel en regs byeenbring, ander hervormingstrominge, onder wie mnr. Khatami steeds morele invloed het, asook Mehdi Karroubi, kandidaat van ’n fraksie hervormers in die presidentsverkiesing en tans leier van die E’temad Melli-party.

Alhoewel die regime volslae antidemokraties is – alle kandidate is onderhewig aan goedkeuring van die Raad van Hoeders, wat ontslae raak van die meerderheid wat na sy mening nie “Islamities” genoeg is nie, dit wil sê, voorstanders van groter politieke openheid – bevat dit nietemin ’n mate van populêre stemme. Laasgenoemde het trouens daarvoor gesorg dat Mohamed Khatami in 1997 verkies is, teen alle verwagtings in, en veral teen die sin van die Leier van die Rewolusie.

Maar die hervormers se politieke en ekonomiese mislukking het gelei tot ’n terugkeer na die ou kredo’s van die Islamitiese republiek: ’n anti-Westerse gesindheid; ’n strewe na ’n stoere Islam in die aangesig van ’n samelewing waarin die hervormingstussenspel by die jonger generasies ’n suikerlagie rondom Islamitiese norme gegee het; en laastens, die projek om die alliansie met die Weste te vervang deur toenadering tot die “Moskou-Beijing”-spil te soek.

Konserwatiewe geestelikes wil ’n stokkie steek voor die bandelose sekularisering wat die hervormers op kulturele vlak, maar ook in die alledaagse lewe, aan die gang gesit het. Hulle doen dit egter met omsigtigheid. So sien ’n mens byvoorbeeld hoe satellietskottels op groot stedelike woonstelblokke afgebreek word, maar dan weer sluikvoets hulle herverskyning maak. Die Internet het hulle sistematies gefiltreer met behulp van Chinese tegnologie, maar ander tegnieke maak dit nou weer moontlik om hierdie struikelblokke te omseil. Die onderdrukking van feministegroepe is verskerp, maar vroue is nie beduidend aan nuwe marginalisering onderwerp nie; die president aanvaar selfs dat hulle groot sokkerwedstryde bywoon – maar die Opperleier het ’n einde aan hierdie toegewing gemaak onder druk van konserwatiewe geestelikes. Die bewind takel met hernieude ywer “afvallige” religieuse groepe soos die soefis in Qom (waar hy in 2006 ’n groot khaneqâh of soefi- godsdienssentrum gesloop het), maar vermy enige grootskaalse onderdrukking wat die gemeenskap in opstand sal bring.

Verder het die president skouspelagtig misluk in sy poging om die “ekonomiese mafia” kort te vat. En toe hy probeer het om die direksie van die Parsian private bank te vervang, het die wetgewende gesag die voormalige direkteurs in hulle ampte herstel en die Sentrale Bank se nominasies verwerp.

Ahmadinejad het daarin geslaag om die hervormers en die “realistiese” faksie van Rafsandjani te verswak. As onsuksesvolle kandidaat vir die presidentskap in 2005 wou hy bande met die Weste herstel, die kernvraagstuk deur onderhandeling besleg, die ekonomiese modernisering van die land bevorder en poog om ’n einde te maak aan die konflik tussen konserwatiewe en hervormingsgesinde faksies binne die staatsmasjinerie.

Die nuwe magsblok waarby die Opperleier se mag onbetwisbaar is, is egter nie bestand teen onenigheid nie, en die alliansie tussen laasgenoemde en die president van die Republiek kan te eniger tyd in gedrang kom.

Wat die kernkwessie betref, bestaan daar inteendeel wel konsensus tussen die Leier van die Rewolusie, die president van die Republiek, ’n beduidende deel van die AP en die konserwatiewes, asook ’n gedeelte van die sekulêre middelklasse, wat origens teen Ahmadinejad gekant is. Hulle steun hom in sy strewe na kern-onafhanklikheid, ter wille van die volk se belange. Wat die onterfdes betref, sou hulle ’n verbetering van hulle ekonomiese toestand verkies het bó breedsprakige diskoerse, maar by gebrek aan organisasie word hulle stem nie in die media gehoor nie.

Die diplomatieke breuk tussen Teheran en Washington is meer as ’n kwart-eeu oud. Die kultuur van die nuwe generasie politieke en militêre elite, met hulle konserwatiewe bande, is dus intens anti-Amerikaans, of selfs anti-Westers. Die gevoel heers dat die Weste die Islamitiese Republiek van kant wil maak: die enigste manier om daaraan te ontkom, sou wees om die land van kerntegnologie te voorsien. Iran ontken amptelik dat hy die atoombom wil bekom, maar toegang tot uraanverryking word beskou as ’n minimum vereiste om die land se outonomie te waarborg in geval daar ’n probleem met uraanverskaffing uit die Weste sou kom, en om sy waardigheid as mag in die streek te behou.

Die feit dat Israel, Pakistan en Indië – al drie in wisselende mate bondgenote van die VSA – kernwapens besit, maar ook die val van die Sowjet-unie en die opkoms in Sentraal-Asië, op die grense van Iran, van nuwe state wat aan Washington verbonde is, tesaam met die aanwesigheid van Amerikaanse troepe in Irak en Afganistan, verskerp die Iranse leiers se gevoel dat hulle omsingel word.

Indien president Ahmadinejad dan nie meer so gewild in sy eie land is nie, geniet hy steeds in die Moslem-wêreld heelwat aansien, in weerwil daarvan dat hy ’n Sjiïet is. In Libanon, Egipte, Noord-Afrika en Pakistan ontlok sy veroordeling van die Amerikaanse politiek en die Israelse oorwig heelwat simpatie in Arabiese kringe. Washington se unilaterale houding, die manier waarop hy hom by Israel skaar en sy weiering om die populêre karakter van Hisbolla in Libanon en Hamas in Palestynse gebiede te erken, stem vele Moslem-gemeenskappe tot kommer. Dit is vir hulle dat president Ahmadinejad hom as woordvoerder voordoen, dikwels in teenstand met die bewindhebbers. Dit is dan ook die doel van sy luide, onaanvaarbare uitlatings oor die noodsaaklikheid om Israel van die kaart te vee, en oor die Joodse volksmoord.

Terselfdertyd het mnr. George W. Bush se insluiting van Iran by die “bose kant” die ruimte vir onderhandeling tussen die twee partye tot die minimum ingekort. Skugter en soos mosterd na die maal is die VSA se toegewings rakende die kernkwessie met agterdog aangehoor. En die pogings om volksgroepe – Azeries, Baloetsje, Arabiere en Koerde – aan te hits tot opstand teen die sentrale regering, het die bewindhebbers daarvan oortuig dat hulle nie die VSA kan vertrou nie. Teenstrydig genoeg, deur Iran se tradisionele vyande (Saddam Hoesein in Irak, die Taliban in Afganistan) uit te skakel, het Washington Teheran se politieke en militêre gewig laat toeneem.

Die voorbeeld van Noord-Korea en sy “onaantasbaarheid” vanweë sy besit van kernwapens, Hisbollah se sukses in Libanon en die VSA se onvermoë in Irak en Afganistan het ’n groot deel van die konserwatiewe politieke elite daarvan oortuig dat dit moontlik is om Washington se oorheersingsdrang die hoof te bied. Des te meer met die hoë olieprys wat die regime van enige ernstige ekonomiese krisis vrywaar…

Die moontlikheid van ’n verstandhouding met China en Rusland, die eerste met sy dors na olie en die tweede wat op soek is na kern- en militêre verdrae, en albei begerig om hulleself teenoor die VSA te handhaaf, het selfs nuwe bondgenootskappe moontlik gemaak – wat Iran teen té brutale besluite van die Veiligheidsraad moet beskerm. Die moontlikheid van ’n Amerikaanse militêre ingryping word nie ernstig bejeën nie, gesien die chaos in Irak en Israel se onvermoë om die weerstand van Hisbolla in Libanon te breek.

Meer oor die algemeen gesien, maak die konserwatiewes ten volle gebruik van die buitelandse situasie: vir hulle is die Amerikaanse houding ’n geskenk van bo. Ondersteuners van die ajatolla Mesbah Yazdi en ’n randgroep van die AP in die besonder is vas oortuig daarvan dat die krisissituasies bloot hulle posisie in die gemeenskap versterk: dit stel hulle in staat om op die snaar van nasionale eenheid te tokkel ten einde die hervormers te elimineer, en om terug te keer na die ideologie van die martelaar en rewolusionêre ontsegging, soos in die glorieryke dae van die Islamitiese Rewolusie. Uit hierdie oogpunt gesien, vergemaklik die krisis met Washington hulle stryd binne die land teen die kampvegters vir politieke openheid, en buite die grense, teen “goddelose, anti-Islamitiese” imperialisme.

Die nuwe middelklas daarenteen, wat die huidige regime verwerp, maar vir wanorde nog banger is, word op hulle beurt gery deur die rewolusionêre ervaring van hulle ouers se generasie en deur die chaos in Irak. Stabiliteit is waarna hulle soek. Hulle trek voordeel uit die stygende olieprys en is nie lus vir avontuurlikheid nie. Wat betref die onterfdes, wie se lewensgehalte agteruitgegaan het: hulle teëspoed is nie vergelykbaar met dié in ander lande van die streek, soos Indië, Afganistan, of selfs Pakistan nie. Die staat se verspreidingsnetwerke laat hulle weliswaar noustrop trek, maar openbare subsidiëring van olie (´n liter brandstof kos 6 sent van ’n euro, by verre die laagste prys in die streek), brood en enkele ander basiese lewensmiddele vrywaar hulle nog van volslae nooddruf.

In hierdie omstandighede, tensy daar ’n groot krisis opduik, skyn die regime gevrywaar van beduidende binnelandse opstand. En in die geval van ’n Amerikaanse aanval, kan hy sy nasionalistiese hand ten volle speel en die ruimte nog verder inkort van die gematigdes met hulle pleidooi om openheid en groter demokrasie.

 

__________

 

(1) Die teorie van velayat-e faqih oftewel “heerskappy van die juris” vorm die ruggraat van Khomeini se denke. Die Sjiïsme voer aan dat die wettige opvolger van Mahomet Ali die skoonseun van die profeet en sy erfgename is. Die laaste van hierdie erfgename, die imam Mohammed, het in 874 “verdwyn” en die versteekte imam geword, wat ’n heerskappy van geregtigheid sou terugbring. In afwagting op hierdie terugkeer, wie moes die gemeenskap van gelowiges lei? Vir die ajatolla Khomeini kom hierdie rol die mollahs (“teoloë”) toe, asook die faqih of juris, plekhouer van die versteekte imam en verteenwoordiger van die goddelike soewereiniteit. Hierdie leerstelling gee enorme magte aan die mollahs; dit is – en word steeds – deur talle ajatollas bevraagteken.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=772
Artikel nagegaan:
    -