blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Telebemarking onder druk; Boer bars deur glasdeure 2006-12-11
Kleinjan Schietekat

Terwyl die telebemarkingsbedryf die afgelope jaar volgens talle ekonomiese ontleders ’n belangrike rol in Suid-Afrika se ekonomiese groei gespeel het, kan Die Vrypostige Afrikaan vandag onthul dat donker wolke besig is om op die telebemarkingshorison saam te pak. ’n In-diepte ondersoek na dié bedryf het in die loop van die afgelope weke heelwat insiggewende en selfs ontstellende kante van die bedryf aan die lig gebring waaroor vanaf weinig tot niks nog in die media berig is nie.

      Die Vrypostige Afrikaan het die eerste keer lont geruik toe onbevestigde berigte dat ’n boer van Limpopo op sy trekker van sy trollie af geraak het, ons kantoor bereik het. Nadere ondersoek het getoon dat die gebeure veel meer om die lyf het as wat ons aanvanklik verneem het. ’n Lywige boer, wie se naam hier op regsadvies weerhou word, het inderdaad gedurende die eerste week van November die plaaslike tak van een van Suid-Afrika se leidende telebemarkers, Oorkopers Ingelyf, op Nelspruit tot die tande toe gewapen met sy Massey-Ferguson bestorm, deur hulle glasdeur gebars en die ontvangstoonbank tot in die personeelkombuis gery. Hierna het die boer die verskrikte personeel van meer as twintig uit hulle oopplankantoor geboender voor hy verskeie magasyne leeggeblaas het op hulle telefoontoerusting. “Vandag skiet ek hierdie toy telephones onder julle asse uit!” het hy volgens verskeie getuies gebulder voor hy losgetrek het.

      Nuus oor die boer se eensame daad van weerstand het soos ’n veldbrand deur die Bosveld, die Laeveld en ander snikhete dele van die Noorde versprei, en soortgelyke insidente is gerapporteer in Sekoekoenieland, Matatiele, Pietersburg en Vaalwater.

      Tydens ’n eksklusiewe onderhoud met Die Vrypostige Afrikaan het die boer, wat homself blykbaar as ’n moderne Guy Fawkes sien, vertel dat hy hoegenaamd geen skuldgevoelens oor die insident koester nie. “Nee, magtag, so kon ’n man darem ook nie aangaan nie. Die wetters het my selnommer in ’n Landbouweekblad gekry waar ek my grond te koop aangebied het, en my tot vyftien keer op ’n dag gebel: by die koeie, in die stalle, op die lande, in die bed. Jy kan nie glo wat hulle alles aan my wou verkoop nie. Mags vir my Massey, generiese Boxer-tabak, ’n melkmasjien en Derrida se versamelde werke. En ek lees nie eers flippen Frans nie!”

      Die boer is tydelik deur ’n Nelspruitse magistraat onder observasie geplaas en moet hom een keer per week aanmeld by ’n omgeegroep, Telebemarkers Anoniem. By verdere ondersoek het dit geblyk dat Telebemarkers Anoniem (TA) een van die snelgroeiendste verenigings in Suid-Afrika is. En dit is nie net ontspoorde teikens van telebemarkers wat by TA aansluit nie. Nee, die telebemarkingsbedryf is besig om sy tol ook onder werknemers en selfs eienaars in die bedryf te eis!

      ’n Voormalige eienaar van ’n telebemarkingsmaatskappy, mnr. Thulasizwe Tshabalala, vertel dat hy nie langer met sy gewete kon saamleef nie omdat die bedryf sulke hoë winsgrense het en soveel lede van die publiek aanhou teister. Tshabalala sê dat ’n besonder roerende ervaring by ’n TA-byeenkoms was toe hy een van sy maatskappy se vorige slagoffers, wat deur hulle in ’n koopverslaafde verander is, van aangesig tot aangesig ontmoet het. “Ek het spontaan begin huil toe ek die tenger vroutjie ontmoet het, en sommer belowe om haar naam van alle kredietswartlyste af te kry.” Hy sê ook dat hy hom nou voltyds wy aan openbare optredes om skoolkinders teen die gevare van ’n beroep as telebemarker te waarsku.

      Hoe gevaarlik die beroep kan wees, het duidelik geword in onderhoude wat Die Vrypostige Afrikaan met ’n voormalige werknemer van die bedryf gevoer het. Die 23-jarige Elna Stone het aan ons vertel hoe sy uiteindelik nie meer al die lede van die publiek se mondelinge mishandeling kon verduur nie. Sy het finaal in duie gestort toe ’n Pretoriase huisvrou haar toegesnou het: “Wil jy nie liewer ’n koei by my koop nie!” Stone sê sy moes al die jare haar heimlike simpatie met haar ongevraagde kliënteteikens onderdruk. “Ek het ’n leuen geleef. En ek kan verstaan dat mense woedend word as hulle sewe-uur die aand oor ete gebel word vir ’n ekstra paar gratis minute op hulle telefoonrekening – terwyl die gratis minute hulle gou-gou meer laat bel en betaal!”

      Prof. Madge Smithers, ’n bedryfsielkundige van die Universiteit van Kaapstad, sê dat die regering die bedryf sal moet begin reguleer. “My hart gaan uit na daardie arme Afrikanerboer van Nelspruit! Ek is verbaas dat hy nie ’n aaklige daad met sy two-tone hemde gepleeg het nie.”

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=773
Artikel nagegaan:
    -