|
||||
Met die jaar 2006 amper iets van die verlede, en alles wat daarop dui dat 2007 ’n taamlik onstuimige politieke jaar vir Suid-Afrika gaan wees, kan ’n mens te midde van die besinning wat die feesgety toelaat vir ’n oomblik bestek van Suid-Afrika opneem. In die eerste plek het ekonomiese groei aan die einde van die jaar historiese rekordvlakke bereik. Dit is ongetwyfeld goeie nuus vir die land, maar dit moet in perspektief gesien word. Dié groei is grootliks aangedryf deur die steeds hoë internasionale pryse van kommoditeite, waaruit mineraalryk Suid-Afrika ook voordeel trek. Dan is die groei ook gedryf deur waarskynlik die grootste vlaag van verbruikersaankope die afgelope dekades, terwyl dieselfde groei in produksie of vervaardiging nie gesien is nie. Vermoedelik sal die werklikheid weldra intree indien kommoditeitspryse val of die rentekoers steeds verhoog word, soos wat volgens die aanduidings inderdaad gaan gebeur. In die tweede plek het die figuur Jacob Zuma – wat oor die naweek van 26 November sou gesê het dat die ANC belangriker as die Grondwet is – na vore getree as beliggaming van sowel die gebrek aan politieke leierskap deur president Mbeki as van die volgehoue neoliberale ekonomiese beleid, wat gemeenskappe steeds onder groot druk plaas en die gaping tussen arm en ryk vergroot. Hiersonder sou ’n bedenklike figuur soos Zuma nooit kon reken op die bykans ongelooflike steun van Cosatu en die SAKP nie. Dié is klaarblyklik so desperaat en so ideeloos dat hulle enigiets teen Mbeki en sy neoliberale binnekring sal steun. In die derde plek het die ANC ernstige tekens van sklerose begin toon. Koersloosheid oor Zimbabwe, Vigs en veral misdaad het die ANC se posisie op die morele hoëgrond verander na een op die rand van die morele afgrond. Met die ter perse gaan van hierdie uitgawe van Die Vrye Afrikaan was die toenemend twyfelagtige Jackie Selebi steeds in sy pos as kommissaris van polisie, met die gebruiklike steun tot op die laaste deur die ANC vir een van sy eie. Ten spyte van oënskynlik oplaaiende burgerlike ontvredenheid met die ANC – verlede jaar was daar bykans 800 voorvalle van burgerlike onrus, hoeveel vanjaar? – was daar nog nie noemenswaardige tekens dat dié ontevredenheid deur opposisiepartye tot iets konstruktiefs gemobiliseer kon word nie. Eweneens het die Suid-Afrikaanse burgery geduldig en gedwee hom grootliks passief gehou. Gegewe die stand van misdaad in die land is dit bykans ondenkbaar. Gelukkig het die kerke aan die einde van die jaar tekens van leiding oor misdaad begin toon, ofskoon hulle nog veel kan doen om hulle profetiese stem oor strukturele armoede en die verheerliking van ’n holle materialisme te laat hoor. Soos Suid-Afrika 2007 nader, lyk dit amper asof geen behoorlike politieke alternatief vir Zuma en die sosialiste uit die ANC na vore gaan tree nie. Aan die ander kant is dit onvoorstelbaar dat mense van die kaliber van ’n Cyril Ramaphosa, Tokyo Sexwale of Mosiua Lekota nie ’n behoorlike uitdaging aan Zuma sal kan stel nie. Inligting dui daarop dat die spanning in die Drieparty-alliansie en veral die ANC self egter so hoog loop, dat enige uitdaging te vroeg aan Zuma egter fataal kan wees. Dít is bewys deur die steeds onverklaarde “aankondiging” vroeër vanjaar deur Ramaphosa dat hy gaan toetree … net om dit blitsig weer te ontken. Wat die Afrikaanse wêreld betref, is dit waar dat terwyl ons grootliks deur die res van die samelewing en die regerende elite geïgnoreer word, ons veel kan doen om by te dra tot ’n uitweg uit die impasse waarin die ANC die land laat. Daar is bemoedigende tekens dat wit en bruin al hoe nader aan mekaar in Afrikaans beweeg, en veral die wyse waarop die stryd om Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch gevoer is, het gespreek van ’n tree verby die ou verdelingslyne. Ook die treë nader aan kerkhereniging was tekenend hiervan. Die Afrikaanse wêreld is in die unieke posisie dat sy nie net ’n mikrokosmos van die breër samelewing met al sy uitdagings is nie, maar dat sy ook die intellektuele en ekonomiese bronne het om via ons gedeelde taal hierdie uitdagings te pak en sodoende as inspirasie vir ’n Suid-Afrikaanse alternatief te dien. Hoe kragtig sal dit nie wees nie as Solidariteit se nuwe opleidingskollege (kyk Flip Buys se artikel elders in dié uitgawe) en die opleidingswerk wat die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans by mekaar kan aansluit? Of as ’n Afrikaanse inisiatief vir die uitwissing van Afrikaanse armoede op dreef kan kom? Deur sulke dade van herverbeelding sal die Afrikaanse wêreld mettertyd moontlik ’n gemeenskap in die volle sin van die woord word, en bewys dat ’n ander wêreld moontlik is, in Afrikaans en saam met andere. Te veel anti-koloniale demokrate voor ons het reeds opgestaan en alles gegee vir ’n vrye, demokratiese land, dat die droom van ’n gemeenskap van gemeenskappe vandag oorhandig kan word aan net nog ’n moeë, verstaatlikte nasionalistiese party.
|