blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
So, jy glo nie in Kersvader nie? 2006-12-11
André Agenbag

*Leraar, NG-gemeente Johannesburg-Noord Andrew Murray

 

Die jaarlikse Kersinkoop-orgie is in volle swang. Maar wat ons nou beleef, gaan oor veel meer as die kommersialisering van Kersfees. Kersvader is maar net die simbool van iets groters: die ekonomie as die religie van ons tyd...

Dis al vir meer as ’n eeu dat Christene beswaar maak teen Kersvader. Van toeka af voel mense aan dat Kersvader tydens Kerstyd gebruik word vir kommersiële doeleindes. Sulke gesprekke handel dan meestal oor die wyse waarop sekularisasie besig is om godsdiens te ondermyn. Sekularisasie versus godsdiens - en Kersvader is die simbool van sekularisasie wat besig is om die botoon te voer.

      Tradisioneel is die Christendom se verhouding tot die kontemporêre wêreld binne die raamwerk van die sogenaamde sekularisasieteorie verstaan. Hiervolgens sou die opkoms van die moderne wêreld die toenemende marginalisering van die Christendom inhou, terwyl sekulêre instellings soos die staat en die mark begin om die Christendom as die bron van kulturele betekenisse en waardes te vervang.

In sy onlangse boek, The Sacred Santa: The religious dimensions of consumer culture, redeneer Dell DeChant dat só ’n tradisionele lees van die kultuur die saak oorvereenvoudig en bepaald nie rekening hou met die inherente godsdienstige dimensies van ’n sekulêre kultuur nie.

Eerder as sekulêr en nie-godsdienstig, is ons laat-kapitalistiese, postmoderne kultuur eintlik intens godsdienstig en kan dit ten beste as ’n kontemporêre weergawe van antieke kosmologiese godsdienstigheid beskou word.

Maar vir DeChant gaan dit nie alleen oor Kersfees nie. Om die waarheid te sê, die kern van die saak lê vir hom nie eens by al die ander vakansiedae wat deurdrenk is van dieselfde godsdienstige gees as Kersfees nie. Hierdie soort kosmologiese godsdiens is in werklikheid ’n fundamentele eienskap van ons kontemporêre kultuur. Die vakansiedae intensifeer bloot die godsdienstige ervaring.

 

Ekonomie sakrale mag van ons kultuur

 

Soos wat die antieke mens die natuur as die hoogste sakrale mag beskou en aanbid het in ’n verskeidenheid van uitdrukkingsvorme, word die ekonomie vandag gesien as die sakrale mag van ons kultuur, en aanbid ons dit in ’n steeds wyer verskeidenheid van uitdrukkingsvorme.

Om die seisoenale stryd tussen Kersvader en Christus te lees binne die raamwerk van die konflik tussen die sekulêre en die godsdienstige, verteenwoordig sowel ’n foutiewe interpretasie van Kersvader en Kersfees as die ware aard van ons kontemporêre kultuur, aldus DeChant. Die verlies aan die Christelike inhoud van Kersfees mag inderdaad eerder die gevolg wees van die Christendom se onvermoë om suksesvol mee te ding op ’n ander soort markplein: die markplein van godsdiens as sodanig.

DeChant redeneer dat Kersfees nie sy godsdienstige betekenis verloor het nie, maar slegs sy Christelike godsdienstige betekenis. Presies die sogenaamde sekulêre dimensie van Kersfees (die materialistiese, kommersialistiese, verbruikeristiese) maak daarvan ’n godsdienstige gebeurtenis binne die konteks van ons postmoderne kultuur. Die sogenaamd gesekulariseerde Kersfees is dus ’n godsdienstige ervaring, en dit word volgehou deur normatiewe rituele en gelegitimeer deur mitiese verhale wat toepaslik is binne hierdie kultuur. Die rituele gee aan deelnemers die geleentheid om ingesluit te word in ’n kollektiewe vertoning van sakrale betekenis op ’n massiewe skaal terwyl die mites die verhouding tussen die deelnemers en die sakrale werklikheid verhelder.

Die Christelike verlies van Kersfees is dus nie die afstaan van grondgebied aan kommersialisme, verbruikerisme of laat-kapitalisme nie, maar aan ’n ander soort godsdiens – ’n godsdiens wat pasgemaak is vir die een-en-twintigste eeu en vir sukses in ons opkomende kultuur.

Eerder as wat ons hedendaagse kultuur godsdienstig is in die transendente sin van die woord, is dit godsdienstig op ’n kosmologiese manier. Transendent verwys na godsdienste en kulturele sisteme wat die grond van alles in ’n bonatuurlike dimensie terugvind – letterlik ’n werklikheid anderkant en radikaal verskillend van die natuur. Kosmologies verwys na godsdienste en kulturele sisteme wat die grond van alles terugvind in die natuurlike wêreld.

Indien Paul Tillich se omskrywing van godsdiens waar is, dit wil sê as dié dimensie van die samelewing en bewussyn waar die hoogste belange gevind word, moet verbruik bepaald as eietydse kapitalisme se hoogste belang beskik oor ’n godsdienstige dimensie in vandag se wêreld.

Sentraal tot die proses van sekularisasie is wat Max Weber die onttowering of desakralisering van die wêreld genoem het. Die sleutel tot die verstaan van die desakralisering van die wêreld is geleë in die fundamentele verskil tussen die transendente en kosmologiese benaderings tot die lewe en betekenis.

Hedendaagse (en antieke) kosmologiese godsdienstige uitdrukkings poog om mense en die ganse kultuur met die bron van sakrale mag in verband te bring. Mites is verhale oor die sakrale en die mens se verhouding tot die sakrale. Rituele is die formele prosesse waardeur iemand deelneem aan ’n korrekte verhouding tot die sakrale.

 Net soos wat die antieke kosmologiese godsdienste gebruik gemaak het van mites en rituele om dié verhouding te vestig en te legitimeer, poog kontemporêre kosmologiese godsdienste om dieselfde te doen, met dié verskil dat die bron van sakrale mag saam met die mites en rituele verander het. Dit is die ekonomie wat die beste beliggaming van die sakrale in ons kultuur is.

 

Postmoderne religie

 

Jean Baudrillard skryf dat ons in ons kontemporêre wêreld die punt bereik het waar verbruik die volle omvang van die lewe omhels. Die verbruiker kan die verpligting om te verbruik nie weerstaan nie, want om te verbruik is die primêre modus van sosiale integrasie, asook die primêre etiek en aktiwiteit binne die samelewing.

Ons postmoderne kultuur is dus meer as bloot die verbruik van voorwerpe en beelde. Dit is die vind van betekenis en waarde deur ’n proses wat sigself in drie fases ontplooi: Die proses begin met (1) die verkryging van produkte, word verhelder in (2) die verbruik van produkte en word uiteindelik vervul in (3) die ontslae-raak van die produkte.

Volgens Robert Bellah het die natuur in antieke kosmologiese godsdienste gefunksioneer as die sakrale grond van ’n godsdiens wat gepoog het om mense te integreer met die kosmos en hulle onmiddellike gemeenskap. In hierdie sisteme was godsdiens nie te onderskei van die samelewing in sy geheel nie.

In ’n postmoderne wêreld het die ekonomie die natuur vervang as die sakrale werklikheid in die kosmologiese kultuur. Die mites van hierdie kultuur artikuleer die sakraliteit van die ekonomie en die rituele van verkryging (oftewel die proses van verkryging, verbruik en ontslae-raak) begelei deelnemers tot interaksie met die sakrale werklikheid. Godsdiens verwys dus na die sakrale stories waarbinne mense hulle diepste identiteite vind, asook die handelinge wat hulle uitvoer om die identiteite te bevestig soos aan hulle gegee in die verhale. As die godsdienstige uitdrukking van ’n kosmologiese kultuur is postmoderne godsdiens ’n verskynsel waarin ’n mens se selfverstaan ontwikkel word binne die konteks van die kultuur se mitiese verhale en ’n mens se mees betekenisvolle rituele uitdrukkings.

DeChant verduidelik dat ons, soos in die antieke kosmologiese godsdienste, ook in die godsdiens van vandag se postmoderne kultuur beide sjamaans en priesters vind, met elkeen ’n spesialis wat die verhouding met die sakrale werklikheid van die ekonomie bemiddel.

Benewens sjamaans en priesters vertoon die hedendaagse sekulêre kosmologiese godsdienste ook ander verskynsels eie aan godsdienste: Mites, rituele, sakrale ruimtes, godsdienstige vakansiedae, en Kersvader as vleeswording van dié spesifieke ekonomiese godsdiens.

In die postmoderne epog is die hoofmite van ons kultuur die sakrale verhale van welvaart en sukses wat bereik word deur binne die korrekte verhouding tot die ekonomie te staan. Dit word openbaar gemaak deur die immer ontwikkelende materiële welvaart van die samelewing en deur die immer ontwikkelende verkryging en verbruiking van produkte deur indiwidue.

Die hoofmite is die meesterverhaal van ’n kultuur wat volgens Jacques Ellul die ware motiverende en psigologiese fondamente van ’n beskawing artikuleer en dan funksioneer as uitdrukking van die wese van die kollektiewe en universele beskawing waarbinne ons woon. Sekondêre en tersiêre mites is verhale wat meer toeganklike weergawes van die hoofmite bied in ’n poging om dit meer persoonlik te maak, te verlewendig en dit onmiddellik relevant tot indiwidue te maak.

Die hoofmite in ons postmoderne epog is die sakrale verhale van welvaart en sukses wat bereik word deur binne die korrekte verhouding tot die ekonomie te staan.

 

TV vervang die Bybel

 

TV is die primêre medium waardeur sekondêre uitdrukkings van die hoofmite gekommunikeer word. TV het die Bybel vervang as die sakrale teks van ons tyd, en sy mitiese verhale duur eindeloos voort. Deur televisie het ons ’n baie noue kontak met die hoofmite. Ons kan kyk en luister na bekende persoonlikhede (celebrities) wat funksioneer as helde, voorouers en gode in antieke kosmologiese mites wie se verhale universeel geken sal word.

Die kritieke rol van die sekondêre mites is om ons nader te bring aan die een of ander sakrale wese wie se lewe die hoofmite dramatiseer. Steeds weet ons egter dat wie hy of sy is radikaal anders is as wie of wat ons is.

Hoe kan ons dan soos die bekende persoon wees? Die gasheer van die gespreksprogram op televisie help om die gaping te oorbrug en die afstand tussen die sakrale wêreld van die mitiese figuur en die wêreld van ons onmiddellike ervaring kleiner te maak. Ook TV-dramas en -sitkoms funksioneer as voertuie vir sekondêre mites wanneer dit die hoofmite verhuislik. Ons gaan egter nie die wêreld van die hoofmite binne nie, maar soos die gode van ouds kom hulle ons wêreld binne op interessante, lewendige en stimulerende wyses.

Dit is in advertensies waar ons die mees oortuigende en ook die mees onmiddellike mitiese verhale vind – die tersiêre mites van ons postmoderne kultuur. Hierin verplaas die mees sakrale entiteite hulleself tot in ons wêreld. Hierdie is die verbruiksartikels van ’n verbruikersamelewing, die goedere en produkte, die sakrale objekte en beelde van rituele verbruik. Advertensies stel nie belang in die sterre of bekende persoonlikhede wat sport- en ander uitsendings onderbreek nie. Hulle is geïnteresseerd in verbruiksartikels, en as tersiêre mites vertel hulle ons van ons teenwoordigheid in die hoofmite en hoe ook ons kan deelneem aan daardie werklikheid deur middel van sakrale verbruik.

Soos die sjamaans van primitiewe gemeenskappe is die postmoderne sjamaans storievertellers en hervertellers van sakrale narratiewe, begaafd met die insig in die oorsprong en orde van die wêreld, bewus van die verhouding van mense tot die sakrale werklikheid.

 

Advertensiesjamaans

 

Die sjamaans skep die omgewing waarbinne ons die werklikheid wat in die mites uitgedruk word, kan beleef. Hulle genialiteit lê daarin dat hulle ons intrek binne die sakrale wêreld in die advertensiemites. Hulle laat ons toe om onsself te sien as die eienaars daarvan – wat die produk ook al mag wees. Die sjamaans is die verkoopsmense – die tussengangers tussen die gewone wêreld en die sakrale werklikheid waar sakrale aankope kan plaasvind. Deur hulle rituele handelinge word die sakrale belang van die besitting bevestig en versterk. Die produk word getransformeer tot wat dit was in die advertensiemite: dit help my om moeilikhede te oorkom, om die oorvloedige lewe te lei, om pret te hê of om die een of ander held na te leef. Die sjamaan mag ons verder neem en toelaat om die realiteit van die produk te ervaar (vir ’n toetsrit te neem) en sodoende kom ons nader aan die werklikheid van die mite en die ervaring van ons korrekte verhouding met die ekonomie – ons eie aankoop van iets nuuts.

Die fisiese ruimtes en materiële gehalte van godsdienstige aktiwiteit is van kritieke belang vir die korrekte uitvoering van enige kosmologiese godsdienstige ritueel. Die belangrikste en indrukwekkendste hiervan is wat ons inkopiesentrums (malls) noem. In die inkopiesentrums vind ons wat Baudrillard noem die sistematiese organisering van ambience. Soos die tempels en sakrale plekke van ouds is ons kultuur se eie sakrale ruimtes geleë op die axis mundi (die sentrum van die wêreld).

Waar die verkoopsmense sjamaans is wat ’n wyer en breër rituele funksionering geniet, is die priesters meer gespesialiseerd. DeChant meen die klerke, kassiere, afdelingsbestuurders, winkelbestuurders en besturende direkteure funksioneer op verskillende vlakke as priesters wat gespesialiseerde priesterdiens verrig – middelaars tussen die gewone lewe en die sakrale werklikheid waarvan die hoofmite vertel.

 

Kersvader ’n god

 

Kersvader het nie oornag opgedaag nie. Soos ander kosmologiese gode het hy ’n lang en ingewikkelde kulturele genealogie. Kersvader se genealogie loop vanuit Europa vanwaar hy vanuit oervorme oor eeue heen ontwikkel het tot die kontemporêre Kersvader. Belangrik is dat Kersvader vir die eerste keer vleesgeword het in 1845 in ’n winkel in Philadelphia in die VSA. Vir baie jare het sy verskynings uitsluitlik binne die ruimte van winkels plaasgevind en was sy verskynings gou reeds vereenselwig met uitnodigings aan kinders om “die ware” Kersvader te kom ontmoet. Die kontemporêre Kersvader is ’n produk van die industriële era, maar hy het die god van ’n post-industriële era geword. Hy is gebore toe industrialisasie in volle en energieke ontwikkeling was, maar hy het sy heerskappy begin toe die gees van verbruik die enjins van produksie in die Weste gedesakraliseer het.

Vir meer as ’n eeu al maak Christene beswaar teen Kersvader op grond van die feit dat hy die beliggaming van kommersialisme en die sekularisering van vakansiedae is. En tog misluk sulke besware al vir ’n lang tyd daarin om diep genoeg oor Kersvader na te dink. Kersvader is nie sekulêr nie. Hy is sakraal. Kersvader is nie die beliggaming van sekulêre kommersialisme nie. Hy beliggaam ons kultuur se grootste godsdienstige mite: die mite van sukses en welvaart, die korrekte omgang met die ekonomie, en die verkryging en verbruiking van beelde en objekte. Kersvader is die inkarnasie, die vleeswording van hierdie mite. Die ekonomie het vlees geword en onder ons kom woon: Die sakrale Kersvader.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=770
Artikel nagegaan:
    -