|
||||
Tony Leon se aankondiging op Sondag 26 November, 2006 dat hy aanstaande Mei gaan uittree as leier van die Demokratiese Alliansie (DA) skep ’n geleentheid vir die DA en sy ondersteuners om oor die toekoms van die party te besin. Getrou aan die tradisie van Suid-Afrikaanse politieke joernalistiek is die wel en wee van die DA weer die afgelope week ten nouste aan die persoon van Leon verbind, en dit is sekerlik waar dat sy nogal prominente styl die party ’n rapsie meer as die norm aan sy persoon verbind het. Dit is ook waar dat onder sy leiding die party minstens die waarskynlike steun waarop die leidende opposisieparty vandag kan hoop, naamlik dié van minderhede wat slegs in beperkte mate in die ANC se toenemend Afro-nasionalistiese projek betrek kan word, die laaste jare gekonsolideer het. Hiermee het die party egter ’n plafon bereik wat slegs deurbreek kan word as een van twee koerse ingeslaan word: óf om ’n strategie in te span om spesifiek meer swart kiesers te werf, óf om ’n veelvuldige gemeenskapsparty met ’n sterk gemeenskapsgerigte ekonomiese beleid te word. Wat die eerste strategie betref, skryf die DA se uitvoerende hoofbeampte en leidinggewende strateeg die afgelope jare, Ryan Coetzee, onlangs in ’n vertroulike gespreksdokument dat die DA sal “disintegreer as hy nie swartes lok nie” (1). Hiermee gee Coetzee nie net blyke van die skynbaar onverbiddelike, voortslepende rasselogika van die Suid-Afrikaanse politiek nie, maar impliseer hy ook iets wat een van Die Vrye Afrikaan se redaksionele raadslede, Koos Malan, al minstens ses jaar gelede voorspel het, naamlik dat groter meerderheidsteun aan die DA in die huidige politieke klimaat dié party se vermoë om vir minderheidsbelange in te tree waarskynlik aan bande sal lê. Partypolitiek in Suid-Afrika is ’n genadelose spel, en dit val te betwyfel of die DA, wat in weerwil van retoriek tot die teendeel alte goed weet dat hy met minderheidsteun nou ’n plafon bereik het, Coetzee se ontleding sonder meer in die wind sal slaan. Wat ekonomiese beleid betref, het die DA die afgelope jare hom ook geensins van die heersende neoliberale dogma onderskei nie; sy ietwat onverwagse steun vir ’n basiese inkomstetoelaag vir armes buite rekening gelaat. Maar gestel die DA gaan die risiko aan om die party van ’n federale nasie, van ’n gemeenskap van gemeenskappe te word. Aan watter soort ideale sal die party hom dan kan verbind? In die eerste plek sal hy die begrip Afrika red van die onsmaaklike rasnasionalistiese inslag wat dit die afgelope jare onder die Mbeki-bewind verkry het. As daar een begrip is wat diversiteit versinnebeeld, en wat die meeste Suid-Afrikaners se hartsnare roer, dan is dit die begrip Afrika – en die herwinning van ons vasteland se selfrespek. Terwyl Mbeki die afgelope jare die begrip Afrika met die staatskorporatiewe elites van die vasteland gaan identifiseer het, kan die DA dié begrip se diverse, gemeenskapsgerigte assosiasies herstel. In die tweede plek sal hy die debat oor die ekonomie gaan voer anderkant die uitgediende opposisie tussen die neoliberale en hulle sosialistiese opponente. Suid-Afrikaanse sosialiste soos veral deur Cosatu en die SAKP verteenwoordig, reageer tereg op die katastrofale groeiende ekonomiese ongelykheid in die land, maar dan met uitgediende drome soos nasionalisering – of die vae hoop op ’n “ontwikkelingstaat” wat nóg erken dat sulke state gewoonlik in betreklik etnies homogene samelewings geslaag het, nóg watter prys aan demokrasie in sulke state aanvanklik betaal is, nóg hoe swak die Suid-Afrikaanse staat geword het. Om anderkant die neoliberale en die sosialiste te tree, kan ’n nuwe DA hom besig hou met ’n ekonomiese beleid wat kapitaal en besluitnemingsbevoegdheid so ver as moontlik na plaaslike en gemeenskapsvlakke afwentel. Niks verhoed hom om interessante eksperimente in hierdie rigting uit te voer solank hy in beheer van die Stad Kaapstad is nie. Eweneens sal hy heelwat kan doen om ekologies vriendelike ekonomiese ontwikkeling voorop te stel, veral byvoorbeeld in voormalige tuislande, waar na raming tot soveel as 25% van Suid-Afrika se landbougrond tans onbewerk lê – met die gevolglike toestroming na die stede, waar ’n lewe van groot ellende en vernedering op die meeste nuwe aankomelinge wag. Dus sal ’n behoorlike landelike ontwikkelingsprogram ook veel kan beteken. In die derde plek sal moedertaalonderrig ’n sentrale aspek van sy beleid wees. Oor en oor is dit al bewys dat moedertaalonderrig nie slegs goeie onderwys verseker nie, maar ook groter politieke en ekonomiese deelname – iets wat Suid-Afrika broodnodig het om die voortslepende koloniale verdeling van hulpbronne en deelname te deurbreek. Hierdie idees mag na wensdenkery klink, maar as ’n sterk opposisieparty nie die uitdaging gaan opneem om met nuwe gemeenskapsgerigte idees die groot gaping in die opposisiepolitiek te betree nie, mag groter staatsentralisme, ekonomiese ongelykheid en ekologiese wanpraktyke Suid-Afrika se voorland wees. Sal die DA hierdie uitdagings anderkant Tony Leon aanvaar?
__________ (1) “DA ‘disintegreer as hy nie swartes lok’”, Die Burger, 28 November 2005. |