|
||||
Ten tye van sy dood op 15 September 2006 was Stefan Louw besig met wat sy laaste bydrae vir Die Vrye Afrikaan sou wees: ’n onderhoud met Suid-Afrika se voorste konseptuele kunstenaar, Willem Boshoff. Met Boshoff se hulp kon die onderhoud voltooi word, en publiseer ons dit nou hier.
Die Vrye Afrikaan: Hoe verstaan jy die verhouding tussen woord en beeld in jou kuns? Willem Boshoff: Eerstens skenk ons natuurlike moeder geboorte aan ons. Maar ons is nooit volledig gebore nie. Ons taal, oortuigings en gewoontes word stadig vir ons gebore wanneer ons met ander omgaan, wanneer ons onderrig word, en deur fisieke ervaring. Ons is altyd op die leerspeelgrond. In my werk soek ek bloot na andere wat met my kan ‘speel’, of probeer ek om andere te kry om met mekaar te ‘speel’, veral dié wat nog altyd geweier het om met mekaar te speel. My veld is vol kunsgraduandi met bedrewenheid in visuele bewustheid, en ek mik daarop dat blinde mense hulle kan help om te sien. Ek skryf woordeboeke om strikke te stel vir diegene met ekspertkennis van die Engelse taal. Hulle brei die aksioma ‘taal is mag’ uit tot absurditeit. Hulle mag maak hulle sowel begeerlik as uiters lelik. Onder hulle kom ’n mens feitlik nooit iemand teë wat ’n tweede Afrikataal kan praat nie. Verder identifiseer ek sterkpunte onder die Suid-Afrikaanse bevolking wie se eerste taal ‘swart’ is. Hulle sterkpunte is 1) dat hulle baie dikwels Engels met ’n gebroke aksent praat en 2) dat hulle almal byna altyd lees en skryf. Ek plaas dan die moeilikste, gedateerde of uitgestorwe Engels binne volle openbare sig met verduidelikings geskryf in hulle Afrikatale. Daar is geen monopolie op die Engelse taal nie. Sy idiosinkrasieë en genietinge is nie slegs vir ’n paar akademiese verligtes nie. Die ou tannie wat papajas en aartappels op die straathoek verkoop, is dan in staat om die Engelse akademikus te help veral ’n akademikus wat in die Engelse taal spesialiseer – om ’n bietjie ‘onmoontlike’ Engels te leer. Ek voel ’n drang om ondeund te wees in my werk. Om subversief te wees in so ’n mate dat ek ’n taalterroris is. In die verhaal van die bruilof (Mattheus 5) daag die genooide gaste nie op nie. My algemene ‘kunspartytjie’ is vir onwaarskynlike gaste van die snelweë en ander onwaarskynlike plekke. Ek probeer niemand verkleineer nie – die fisiese werklikheid van klip, glas of ander materiaal dien as die matrys van my teks en is bedoel om die ys te breek. Om ’n glimlag vir die gekheid van ons ‘presieuse’ terminologie en ander nuttelose togte te ontlok. Niks is veilig nie. ’n Goeie skeut sinisme is nuttig wanneer ons besig is met die heilige koeie van God, die Bybel en heersende politieke of filosofiese vooroordele. As God ’n greintjie boosheid in Hom het, is dit werd om na te jaag eerder as om verstrik te raak in ’n web wat Sy sogenaamde onfeilbaarheid uitbeeld. As Hitler ’n greintjie goed in hom had, is dit werd om te verdedig teen ’n warboel leuens wat (selfs al is dit met ‘goeie’ rede) oor sy boosheid versprei word. Moraliste is nie meer menslik nie. Menseregte vooronderstel dat ‘andere’ nie menslik is nie en niks van regte weet nie.
DVA: Watter sentimentele lading het Afrikaans en die breër Afrikaanse wêreld vir jou? WB: My ma het my Afrikaans geleer – ek is lief daarvoor en trots daarop. Ek glo dat as ek toegelaat word om met andere te praat wie se moedertaal ook Afrikaans is, ek net so bekoorlik, samehangend, gesaghebbend, poëties en sjarmant as sprekers in die wêreld se grootste tale kan wees. Op skool is ek geleer dat Afrikaans die wêreld se jongste moderne taal is en dat dit baie van die grammatikale ‘probleme’ van gevestigde Europese tale te bowe gekom het. Ek het deur die slegte jare van apartheid geleef en het talle male gesien hoe my Afrikaanse taal, die wêreld se jongste, tot pulp geslaan is. Almal wat ek vanaf my jeug geken het – en ek het eintlik maar net Afrikaners geken – het geglo dat Afrikaans sou gedy as een van die groot tale met sy eie letterkunde, grammatika en plek. Maar Afrikaans het die taal van die verdrukker geword – van die Afrikanerapartheidsopportunis – en sodanig het dit vuisvoos geword nog voor dit sy merk op die wêreldtoneel kon maak. Die merk wat dit gemaak het, is dié van ’n ongewenste gewetenlose, die wêreld se jongste taalboelie. Ek is regtig verslae oor hierdie onderskeid en as gevolg daarvan word ek geleidelik getrek om te praat en te skryf in die taal van my voormalige vyand – Engels. Ek probeer ook desperaat om ’n swart taal te leer – Zoeloe. In die twee kunswerke, FALLEN 2-LETTER WORDS en FALLEN 3-LETTER WORDS, bring ek paradoksale hulde aan ’n gestrande taal. Die eenvoudigste Afrikaanse woorde, bestaande uit twee en drie letters, se vlerke is gesmelt en hulle tuimel soos Ikarus uit die lug om deel van die sypel en gly van die oseane te word – gevalle, gebroke en uitgespoel.
DVA: Hoe verstaan jy die verhouding tussen taal en gemeenskap in die algemeen? WB: Diegene in eentalige en eenkulturige samelewings sien ander mense wat nie soos hulle(self) is nie dikwels nie as werklik en grondig verskillend nie, nie as die ‘radikale ander’ (Derrida se tout autre) nie, maar eerder as blote weergawes van hulleself, en gewoonlik dan ook minderwaardige weergawes. Eweneens word diegene wat ’n dominante taal as tweede (of selfs derde) taal praat, soos wat die norm in Afrika is, en onvermydelik met ’n ‘ongewone’ aksent praat, beskou as onopgevoed, onintelligent of selfs skuldig aan een of ander perversie of geheime agenda. Hierdie sprekers word meestal onderwerp aan die maklike oplossing van assimilasie gewoonlik gevolg deur irredentisme. Diegene wat in veeltalige en multikulturele samelewings woon, skyn ’n sekere intuïsie te deel oor die dikwels koverte magsverhoudinge wat versteek is in die alledaagse en oënskynlik eenvoudige handeling van wedersydse kommunikasie. Dit is nog meer die geval as ’n mens se moedertaal toevallig ’n minderheids- of kwesbare taal is. Diegene wat in eentalige samelewings, of in die veilige kokon van ’n groot wêreldtaal as hulle allesomvattende ‘taalwêreld’ woon, bevraagteken nooit, of sien nie eens die lot raak van diegene wat hulle ‘gedagtes moet vertaal’ voor hulle dit kommunikeer nie. Maar soos ons al so dikwels in Afrikasamelewings gesien het, kan hierdie selfde ‘tonggeknoopte’ mense binne die gemak van hulle eie moedertaal ewe poëties, omvattend, bekoorlik en oortuigend as die beste sprekers in enige van die wêreld se groot tale wees. My werk by die Universiteit van Johannesburg, KRING VAN KENNIS (foto) – ’n klipsirkel bestaande uit elf groot granietrotse, gepoleer en beskryf met elk van ons elf amptelike tale, verskaf ’n forum vir sprekers van al Suid-Afrika se tale. Dit is opgerig op ’n tydstip toe Suid-Afrikaners nie meer institusioneel geskei was nie en ons begin het om mekaar – hoe tentatief ook al – te ontdek. Die klippe is beskryf met hoogdrawende, pedantiese ‘-ologies’ en ‘-isms’ in Engels (´n opsetlike en ironiese hoek op die Skrifgeleerdes in die Bybelse verhaal van die ontroue vrou – is die universiteitsowerhede nie die bewakers van kennis soos die Skrifgeleerdes was nie?). Ofskoon die woorde Engels of van Engels afgelei is, is hulle verduidelikings in ons ‘ander’ tale. As ’n Engelssprekende die klippe wil ontsyfer, moet hy of sy die geselskap of bystand van ’n voormalig benadeelde spreker opsoek. Klipgooiery was eens ’n desperate manier vir benadeelde Suid-Afrikaners om hulle ontevredenheid met hul politieke lot aktief te demonstreer. Maar anders as die klippe in die ouer klipgooiverhale is die klippe in KRING VAN KENNIS so swaar – met ’n gemiddelde gewig van drie ton elk – en bevat hulle so ’n oorlading van intellektuele bagasie, dat hulle nie geskik is om enigiemand mee te gooi nie. In plaas daarvan vorm hulle ’n kring sitplekke, ‘pseudo-akademiese stoele’, waarop sprekers van alle tale kan sit en vriendskaplik met mekaar verkeer.
DVA: Sou jy jouself beskryf as ’n argivaris en indien wel, met die oog waarop? WB: Ek is ’n kunstenaar en ek ken die waarde van weggegooide dinge, van arte povera en uiterste hopeloosheid. Ek glo teen geloof in dat Afrikaans in sy huidige toestand as opdrifsel van ’n politieke ramp ’n beter kans as een van die wêreld se groot tale staan om ‘bevry’ te word, beter as toe dit selfgeldend en gemeen was. Kolonialisme in Afrika was reeds die getuie – indien nie die oorsaak nie – van die uitsterwing of amperse ondergang van kleiner Afrikatale soos San, Khoisan, Khoekhoen, Nama en Griekwa. Terwyl die koms van die kuberruim en die massamedia oënskynlik ‘die wêreld verenig’, verhaas dit tans die verlies van kleiner tale weens die dominansie van supertale in hulle volskaalse poging om eerste gehoor te word in ’n steeds groter en harder wêreld. In die groot taaltwis kwyn die wêreld se kleiner taalgroepe nie net tot vaagheid nie, maar tot uitsterwing toe. Daar word algemeen voorspel dat ons binne ’n eeu slegs ’n paar groot oorblywende tale mag hê. My werk handel hoofsaaklik oor hierdie verlies. Dit wys na ’n rampsalige uitsterwing van ’n volk se kollektiewe mite as hulle dit nie meer mondeling deel nie. |