blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Musiekrubriek 2006-11-15
Herman van Niekerk

Die hoofdoel van hierdie musiekrubriek is om musiekinligting te kommunikeer wat nie noodwendig algemeen en gereeld ons (oor-)drempels bereik nie – of waaraan ’n mens nie aldag blootgestel word nie. Die doel van die inhoud is hoofsaaklik inligtinggewend, soms aanbevelend en partykeer vertolkend. Ons wil veral fokus op nuwe en moontlik minder toeganklike musiekinligting.

U word genooi om inligting oor musiek aan ons te voorsien (of sommer bloot te laat weet van musikale aksies waarvan ons kan kennis neem), en ons sal poog om blootstelling daaraan te verleen met inagneming van ons rubriekdoel en die beskikbaarheid van bladruimte vir ’n spesifieke uitgawe. Stuur mediaverklaring en inligting aan: Die Vrye Afrikaan: Musiek, Posbus 1010, Auckland Park 2006, of stuur ’n vonkpos aan [email protected]. Positiewe en opbouende kommunikasie is enige tyd welkom, maar indien dit vir publikasie oorweeg moet word, moet inligting ons asseblief minstens ses (6) weke voor die publikasiedatum van ’n spesifieke uitgawe bereik. – byvoorbeeld: indien inligting vir die Maart 2007-uitgawe oorweeg moet word, moet dit ons asseblief teen 15 Januarie 2007 bereik.

 

Omvangryke nuwe kunsfasiliteite by die Universiteit van Johannesburg.

Hierdie maand oorskry ons die musiekgrense so effe om ook te berig oor die nuwe fasiliteit vir die Fakulteit vir Kuns, Ontwerp en Argitektuur aan die Universiteit van Johannesburg (voorheen RAU).

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) spog tans met twee omvattende nuwe kunsfasiliteite – die een het pas sy eerste verjaardag gevier, en die ander word op 1 Desember 2006 ingewy deur dr Nicky Oppenheimer.



Ons praat natuurlik van die nuwe kunstesentrum van die UJ – wat in Oktober vanjaar sy eerste verjaardag gevier het, asook die nuwe doelontwerpte gebou vir die Fakulteit Kuns, Ontwerp en Argitektuur aan die Universiteit van Johannesburg.

Die Fakulteit vir Kuns, Ontwerp en Argitektuur (ook bekend as FADA) het in 1926 tot stand gekom met nie minder nie as 120 deeltydse studente en 50 voltydse dosente – tóé bekend as die Skool vir Kunsvlyt – destyds bedryf as ’n departement van die Witwatersrand se Tegniese Instituut – en later bekend as die Tegniese Kollege van die Witwatersrand.

En nou vir die eerste keer in 30 jaar is al die departemente van FADA onder een dak. Die verskillende departemente wat die Fakulteit huisves, sluit in Keramiekontwerp, Industriële Ontwerp, Juweliersontwerp en Vervaardiging, Skone Kunste, Multimedia, Grafiese ontwerp, Argitektuur, Binnehuisontwerp asook Klereontwerp.

Die nuwe Fakulteitgebou is op die Buntingweg-kampus van die Universiteit van Johannesburg.

’n Publikasie oor die geskiedenis van kunsonderrig in Johannesburg word later vanjaar deur die UJ uitgereik.

Volgens Jeremy Rose van Mashaben-Rose Argitekte was die doel van die ontwerp van die nuwe Kunstesentrum om op die kunste te fokus, en nie op die gebou nie. Die gebou het onder meer ten doel om die raamwerk te bied waarin die kunste kan plaasvind en waargeneem kan word.

Hierdie baie moderne Kunstesentrum – bestaande uit ’n teater en kunsgalery – op die Kinsgwaykampus van die UJ is verlede jaar ingewy.

Twee opdragwerke het tydens die inwyding van die sentrum plaasgevind: Strijdom van der Merwe se landskapkunswerke getiteld Boodskap van die Suidelike Aarde, asook Niel van der Watt se Mis, Missa De Meridiana Terra – of dan Mis van die Suidelike Aarde – is deur die UJ Kingswaykoor uitgevoer saam met lede van die UJ-Dansgeselskap.

Die Kunstesentrum bestaan uit ’n kunsgalery asook ’n 435-sitplek-teater (wat ook intiemer aangewend kan word met 270 sitplekke) met volledige fasiliteite wat onder meer insluit ’n orkesput, ’n ‘fly tower’ met 240 ligte en 30 balke, klankstelsel, kleedkamers, repitisielokale, administratiewe fasiliteite, asook ’n foyer met koffiewinkel, dranktoonbank, store en ’n spesiale parkeerruimte vir konsertgangers. Vanjaar is daar omvattende uitvoerings aangebied soos byvoorbeeld huldigingsuitvoerings vir die NP van Wyk Louw-herdenkings, ’n seisoen van David Kramer en Taliep Petersen se Ghoema, studenteproduksies soos Jump for Joy (Ian von Memerty), West Side Story en Metamorphoses.

Vir 2007 word die sentrum weereens gebruik vir die jaarlikse Dance Umbrella; daar is ook die vooruitsigte dat ’n nuwe musiekblyspel vir die UJ Sang- en Dansgeselskap geskep word deur die bekende Ian von Memerty; die bekende dramaturg, Paul Mpumelolo Grootboom is besig met ’n nuwe werk vir die UJ Dramageselskap, en dan sal ’n nuwe produksie van die Ballet Teater Afrikan ook in 2007 op die planke wees.

In die kunsgalery het die volgende uistallings in 2006 plaasgevind: Die Keiskamma Altaarwerke, beeldhouwerke van Angus Taylor asook ’n retrospektiewe uitstalling van Paul du Toit.

Inligting oor die UJ-Kunstesentrum is beskikbaar op www.uj.ac.za/artscentre, en navrae kan gerig word aan Ehllené by 011.489-3058.

 

VAN ALLES EN NOG WAT

Van hier rond en van oraloor…

 

·             Deon van der Walt

Op Woensdag 29 November 2006 sal dit ’n jaar wees dat die liriese tenoor, Deon van der Walt, oorlede is. Die CD, Dichterliebe – wat ’n geruime tyd nie maklik in Suid-Afrika bekombaar was nie … is nou weer hier verkrygbaar. Op die CD sing Deon van der Walt liedere van Brahms, Liszt en Schumann en word hy begelei deur Charles Spencer. Opnames is onder meer beskikbaar vanaf Salon Musiek in Pretoria (012-3463474) en ook by www.themusicstore.co.za.

Dichterliebe – Lieder nach Gedichten von Heinrich Heine. Brahms, Liszt en Schumann. Deon van der Walt (tenoor), Charles Spencer (klavier). Nightingale NC 071060-2.

 

·             Sting blaas nuwe asem in (stok-)ou komposisies

Wie sou ooit kon droom dat die klassieke Deutsche Grammophon-etiket eendag pa sou staan vir Sting? Dit het pas gebeur met die uitreiking van Sting se vertolking van die komposisies wat 400 jaar gelede deur die Elisabethaanse komponis/sanger/luitspeler, John Dowland (1563-1626), gekomponeer is. (Dowland se geboorteplek is onseker – Londen of Dublin. Hy het in 1595 studeer aan die Vatikaan; het ook tyd deurgebring in Parys en ook vir Christian IV in Denemarke gewerk. Sy eerste musiekpublikasie First Booke of Songes het in 1597 verskyn. Hy is in Londen oorlede).



 

Songs from the Labyrinth is pas uitgereik en het reeds nommer 1 status bereik op die sogenaamde Klassieke treffersleer van Kanada, Frankryk, Duitsland, Hong Kong, Ierland, Mexiko, Noorweë, Swede, die Verenigde Koninkryk en die VSA.

Sting voer hierdie komposisies uit met begeleiding deur Edin Karamazov op die luit.

Sting sings Dowland: Songs of the Labyrinth, DG 1703139.

 

Inligting vir hierdie rubriek word onder meer voorsien deur MCCOSA (Die Musiekkommunikasiesentrum van Suider-Afrika). Die samesteller is Herman van Niekerk[email protected] en Posbus 1010, Auckland Park, 2006 Suid-Afrika. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=767
Artikel nagegaan:
    -