|
||||
Chris van Zyl
*Veiligheidskenner, TLU
Weinig ander vorme van misdaad het so ’n diepgaande en verreikende uitwerking op die samelewing as die voortslepende voorkoms van moorde, geweldsmisdade en diefstal op plase. Benewens die emosie wat daarmee gepaardgaan, veral vanweë die geografiese isolasie van slagoffers, is die vlakke van brutale geweld en die relatief hoë ouderdom van slagoffers opvallend. Daarbenewens word gesinslede, familie, bure, vriende en kennisse regstreeks betrek by die emosionele verwerking van grusaamhede wat enige mens liewer gespaar sou wou bly. Gesien teen breë sosio-maatskaplike en -ekonomiese agtergronde, is daar egter gevolge wat nie met die eerste oogopslag sigbaar is nie. Die staking van (veral) voedselproduksie, die breuk in produktiwiteit en die ontwrigting van werknemers is sake wat nie met die nodige erns bejeën word nie. Amptelike statistiek is tans nie vryelik bekombaar nie, en in die rapportering van misdaad op plase is daar verskillende interpretasies deur SAPD-lede wat tot gevolg het dat die ware toedrag van sake nie akkuraat sigbaar is nie. Daar kan egter met redelike sekerheid aanvaar word dat daar sedert 1991 meer as 2 000 mense vermoor is in meer as 30 000 insidente van geweldsmisdaad op plase en kleinhoewes. Hierdie getal slagoffers verteenwoordig ’n segment van die landbousektor wat na alle waarskynlikheid 45 000 kommersiële boere, hul gesinne en werkers behels. Daarbenewens is die teikengroep nie uitsluitlik blank nie, maar is dit duidelik dat blanke slagoffers die oorgrote meerderheid slagoffers verteenwoordig. Daar bestaan geen akkurate statistiek van die werklike omvang van misdaad in die landelike omgewing nie. Die akkuraatheid van misdaadstatistiek wat jaarliks vrygestel word, word boonop uit talle oorde bevraagteken. In landbougeledere is daar eenstemmigheid dat die dalende standaard van polisiëring, gebrekkige kommunikasie en agterdog tot gevolg het dat vertroue in die SAPD daal. Hierdie daling het weer tot gevolg dat talle boere nie meer misdaad aanmeld nie, omdat daar doodeenvoudig geen reaksie van die SAPD is nie. Geen ander sektor in die ekonomie (veiligheidsdienste uitgesluit) is per kapita aan soveel geweld en misdadige teistering onderworpe nie. Benewens lewensverlies en liggaamlike en sielkundige beserings het landbouers ’n gerapporteerde finansiële verlies as gevolg van diefstal van R1,2 miljard gedurende die jaar 2004-2005 gely. Indien die verliese gely vanweë onaangemelde misdade hierby ingesluit word, is dit ernstig te betwyfel of daar ’n meer geteikende gemeenskap in Suid-Afrika as die landbougemeenskap is. Heel dikwels word die bewering gemaak dat die landbou onnodig kla aangesien daar meer geweld en misdaad in die metropolitaanse gebiede is. Suiwer getalsgewys mag dit dalk waar wees, maar indien die vlakke van misdaad per 100 000 van die bevolking bereken word, is die situasie beduidend erger as wat algemeen aanvaar word.
Motiewe
Die voorkoms en intensiteit van plaasmoorde was van sodanige omvang dat twee ondersoeke in hierdie verband reeds uitgevoer is. Die laaste verslag is gedurende September 2003 vrygestel, maar het weinig lig op die motiewe vir sodanige misdrywe gewerp. Wat wel opmerklik was, was die opmerking deur aanklaers hoofsaaklik in die Vrystaat dat rassehaat ’n sigbare element was in talle aanvalle. Sedertdien is daar herhaaldelik aangevoer dat “normale misdaad” die motief vir aanvalle was. Die “normale misdaad”-motief verloor egter geloofwaardigheid wanneer die volgende tendense ter sprake kom: · Die meerderheid slagoffers is ouer as 50 jaar. · Weinig plaaswerkers is by die uitvoering van plaasaanvalle betrokke. Oor die algemeen word sulke aanvalle uitgevoer deur vreemdelinge afkomstig uit metropolitaanse gebiede. · Plaasaanvalle word met “militêre presisie” uitgevoer. Daar is voldoende aanduidings dat die groep verantwoordelik vir die aanval met behulp van spesifieke aanduiders as’t ware na die teiken toe gelei word. · Die getal mense betrokke by die uitvoering van plaasaanvalle neem toe. Beskikbare gegewens dui daarop dat die grootte van groepe wat sodanige aanvalle uitvoer, toegeneem het. Aanvanklik was tussen drie en ses misdadigers betrokke, terwyl soveel as dertien deesdae ter sprake is. · Die vlakke van wreedheid en tekens van doelbewuste marteling is unieke eienskappe in die voorkoms van geweldsmisdaad. · Die feit dat slagoffers op so ’n wyse “uitgestal’ word dat dit ’n bepaalde geweldsboodskap uitstraal. Dit is niks anders as gewelddadige propaganda nie. · Die feit dat aanvallers oënskynlik vir ’n geruime tyd gewag het op die terugkeer van slagoffers wat uithuisig was. Waarom dan nie die woning stroop van gesogte artikels en die hasepad kies sonder die gevaar van opsporing nie? · Die verskynsel dat slagoffers erg vermink en vermoor word sonder dat iets vermis word. Selfs vuurwapens en kontant word in sommige gevalle nie geneem nie. · Die verbintenis van soortgelyke geweldsmisdade met die bekende slagspreuk “Kill the boer, kill the farmer”.
Benewens die voorafgaande kan die vraag tereg gevra word tot watter diepte daaropvolgende ondersoekwerk gedoen word. Die verlies aan kundigheid is allerweë bekend, terwyl die enorme werklading op individuele polisiebeamptes ewe bekend is. Maar word daar werklik moeite gedoen om agter die kap van die byl te kom? Dit wil voorkom of alles aangewend word net om deur identifisering van ’n toereikende motief ’n skuldigbevinding in die hof te verseker. Indien diefstal as toereikende motief geld, is dit nie nodig om dieper te delf nie. Intussen kan niemand die sensitiwiteit rondom polities geïnspireerde plaasaanvalle ontken nie.
Teikengebiede
Dit is opsigtelik dat sekere provinsies aan aansienlik minder plaasaanvalle as ander onderworpe is. In hierdie verband is die Noord-Kaap, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap verreweg in die minderheid, terwyl provinsies soos Gauteng, Mpumalanga en Noordwes by uitstek deur plaasaanvalle geteister word. Ofskoon nie uitsluitlik so nie, kom dit tog voor asof plase binne trefafstand van hoofroetes in ’n baie groter mate geteiken word as afgeleë plase. In Gauteng is daar pro rata meer kleinhoewes wat geteiken word as wat die geval in ander provinsies is. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat die soomgebiede van die groter metropolitaanse gebiede ’n groter aantal kleinhoewes insluit as wat in die ander provinsies die geval is. Die gevolg hiervan is dat talle professionele mense wat in die stede werksaam is, toevallige teikens raak. Gevolglik raak landbouverwante misdaad ook die professies wat hoofsaaklik in stede en dorpe beoefen word. Dit is ook opmerklik dat die nuutste tendens ten opsigte van grondeise juis daarop dui dat plase langs sulke roetes en by belangrike kruispaaie in aanvraag is. Gegewe die voorkoms van etlike gevalle van voorafgaande intimidasie deur grondeisers en die daaropvolgende pleging van geweldsmisdaad, is daar rede om te aanvaar dat daar wel ’n verband tussen grondeise en geweldsmisdaad bestaan.
Landelike Veiligheid
Tradisioneel was die Kommandomag in Suid-Afrika belas met landelike veiligheid. Kommando’s het bestaan vandat slegs skyfskietkompetisies die belangrikste aktiwiteit was tot die era toe die landelike bevolking met blatante terreur tydens die struggle bedreig was. Die doeltreffendheid van die stelsel is oor eeue beproef en verfyn, en die vrywillige aard van diens daarin sowel as die kennis van plaaslike omstandighede was van die belangrikste boublokke. Tans is hierdie mag in die proses van ontbinding en word dit in die vooruitsig gestel dat sektorpolisiëring die plek daarvan sal inneem. Die huidige realiteit is egter dat sektorpolisiëring nie met dieselfde effektiwiteit en ondersteuning posvat nie. Gevolglik bestaan daar ’n uiters kwesbare situasie wat die veiligheid van die landelike gemeenskap in besonder op risiko plaas. Die unieke eienskappe van landelike gemeenskappe stel eiesoortige behoeftes aan die SAPD. Dikwels is polisiestasies veraf geleë, daar bestaan daadwerklike kommunikasieprobleme met polisielede aan diens, die beskikbaarheid van personeel en voertuie is nie gewaarborg nie en dienslewering voldoen gevolglik nie aan verwagtinge nie. Hierdie toedrag van sake skep eiesoortige spanning in landelike gebiede en lei tot groeiende agterdog en verwydering tussen die gemeenskap en die polisie. Die markgeleentheid wat deur misdaad sowel as die sluiting van die kommandomag geskep is, is in ’n redelike mate gevul deur sekuriteitsmaatskappye wat nuwe geleenthede in die landelike gebied raakgesien en toegetree het. Etlike sekuriteitsbeamptes is sedertdien tydens plaasaanvalle gedood of gewond tydens gewelddadige optrede. Feit bly egter dat sodanige werknemers se gewaarborgde dienste nie bo alle twyfel verseker kan word nie, en arbeidsaktiwiteite in die betrokke sektor kan oornag bepaalde gapings laat. Eweneens is dieselfde agterdog soos van toepassing op die SAPD, ook op sekuriteitsmaatskappye van toepassing. Die jammerlike gevolg van die voortslepende geweld gemik teen plaas- en hoewebewoners, is die verlies aan vertroue in stelsels wat juis veronderstel is om na die veiligheid van die gemeenskap om te sien. Dit laat weinig opsies buiten om in die afwesigheid van effektiewe misdaadvoorkoming te aanvaar dat weerbaarheid by die individu begin en dat die steun van bure en vriende kritiek belangrik is om voldoende afskrikvermoë te verseker. Hierdie vermoë moet sodanig uitgebrei word dat toepaslike optrede in die ergste scenario ’n gemeenskapsverantwoordelikheid word. President Mbeki het onlangs tereg die vraag gevra wat die burgery doen om misdaad aan bande te lê. Gedwing deur omstandighede het die landbougemeenskap lank terug reeds noodgedwonge begin om teenmaatreëls te tref om lewe en eiendom in die afgeleë gebiede te beskerm. Om die waarheid te sê, hierdie inisiatiewe het na alle waarskynlikheid reeds talle lewens gered, om nie te praat van potensiële voorvalle van roof en diefstal wat effektief hierdeur verhoed is nie. Daarbenewens het boere reeds etlike kere tot die hulp van die owerheid gekom om ontsnapte misdadigers aan te keer en om tonele van geweldsmisdade soos transitorooftogte te beveilig. Die realiteit sê egter dat die landelike gemeenskappe toenemend op hulleself aangewese gaan wees, aangesien veiligheidsfokuspunte vir die 2010 Sokkerwêreldbekerkompetisie na alle waarskynlikheid die beskikbare veiligheidsvermoëns elders heen sal kanaliseer. Gevolglik is dit dringend noodsaaklik dat sekere bestaande maatreëls, onder meer die Wet op die Beheer van Vuurwapens en die wetgewing van toepassing op die privaat sekuriteitsindustrie, aangepas moet word sodat die wetsgehoorsame burgery met groter vrymoedigheid en ondersteuning na eie veiligheid kan omsien.
Gevolgtrekking
Uit die voorafgaande kan die volgende stellings moeilik as versinsels afgemaak word: · Plaasbewoners word doelbewus geteiken en die doel daarvan kan een of meer van die volgende wees: o Intimidasie van die bewoners. o Ontwrigting van arbeidsverhoudinge. o Demotivering van bure en vriende. o Kriminele onteiening. · Die struggle kon dalk de jure tot ’n einde gekom het, maar duur de facto voort omdat aanvalle deur deeglik opgeleide individue in groepsverband uitgevoer word. · Gebiede wat aan grondeise onderwerp is, vertoon ’n groter voorkoms van plaasaanvalle. · Die produktiwiteit van ’n kommersiële plaas word ernstig ingeperk deur die moord op die eienaar of een van sy afhanklikes. Daar is reeds bepaal dat normale produktiwiteit in sommige gevalle eers na sowat agt jaar weer herstel. · Waar plase van eienaar verwissel as gevolg van ’n moord, is dit bykans onvermydelik dat ’n ontwrigting ten opsigte van die werkers ontstaan. In etlike gevalle is daar wantroue by die nuwe eienaar en word werkers deur nuwes vervang.
Suid-Afrika se selfvoorsiening van voedsel en vesel verg dat die owerheid en die publiek in die algemeen met veel groter erns moet kyk na die lot van diegene wat sorg vir kos op die tafel. Voedselsekerheid is en bly ’n kritieke strategiese bate wat nie net vir Suid-Afrika van nasionale belang is nie, maar ook vir die subkontinent en die res van die vasteland. |