|
||||
Margaret Legum
*Gemeenskapsekonoom
Mohamed Yunus se Nobelprys handel in sy geheel oor ’n uiters aanvegbare onderwerp – geld en die geldstelsel. Dis nie hoe dit aangebied word nie. Die verhaal wat aan ons deurgegee word, gaan oor ’n ryk, deernisvolle man wat ’n stelsel van kredietverlening aan arm mense ontwerp wat hulle lewens verander, maar terselfdertyd nie geld vir die uitlener verloor nie. En dit ís die waarheid, maar nie die hele waarheid nie. Die Grameen Bank-plan het ontstaan toe Yunus ’n klompie klein artikels van ’n paar vroulike smouse probeer koop het en meegedeel is dat hulle dit wat hulle het, moet verkoop voordat hulle weer onverwerkte materiaal kon aankoop om nog te kan vervaardig. Hy het besef dat die vroue met ’n klein bietjie krediet volumes voorraad sou kon opbou en sodoende ’n bestaan sou kon maak. Die beginsels van die bank wat hy gestig het, het twee grondbeginsels van die bankebroederskap verontagsaam: dat lenings deur kollaterale bates gerugsteun moet word wat verkoop kan word as die lener wanbetaal; en dat die uitlener die hoogste rentekoers moet ontvang – om die ‘markkoers’ van kapitaal tot die maksimum op te stoot. Eerstens, in plaas van kollaterale sekuriteit, vereis Grameen van sy leners – aanvanklik almal vroue – om lenings aan te vra as affiniteitsgroep (onderlinge groep) wat op wedersydse vriendskap en vertroue gegrond is. Al die lede onderneem om toe te sien dat al die ander hulle lenings terugbetaal. Geen kollaterale sekuriteit word gevra nie. Die terugbetalingskoers is oor die 98%, veel hoër as wat deur konvensionele banke gepresteer word. Die stelsel van eerbaarheid en vertroue hou stand en werk beter as individuele verantwoordelikheid wat deur kollaterale sekuriteit gerugsteun word. Die gevolg is dat ’n veel wyer, en armer, deel van ’n nasie toegang het tot krediet as wat deur die konvensionele bankwese verleen word. Tweedens word Grameen se rentekoers vasgestel op die laagste koers verenigbaar met kosteverhaling, en ’n geringe wins vir uitbreiding. Toe dit begin het, was dit heelwat laer as 3%. Konvensionele banke stel rente op die hoogste koers moontlik, aangesien die maksimalisering van wins die onbetwisbare doelwit is. Waar die koerse verskil, is dit omdat verskillende markte verskillende koerse kan rugsteun. Die gevolg van hierdie konvensionele stelsel van krediet vir wins is dat mense se toegang tot krediet in direkte verhouding staan tot hul bestaande rykdom (kollaterale sekuriteit). Dus is die deel van die bevolking met banktoegang per definisie beperk. Wanneer konvensionele banke wel markte onder arm mense soek, is dit as ’n belegging in die verryking (rykwording) van daardie individue. Dis alles heeltemal begryplik, omdat banke as kommersiële entiteite funksioneer; en wins (aandeelhouerswaarde) is die oogmerk van kapitaliste-onderneming in die mark. Die kwessie is of geld wel as ’n kommoditeit behandel en vir winsbejag verhandel behoort te word. Geld is nie ’n kommoditeit nie: jy kan dit nie eet of drink of aantrek nie. Dit is die middel waarmee ons met mekaar handel dryf, en ’n middel om te spaar vir latere besteding. Die verstandige manier om met geld te werk, sou wees om onsself af te vra hoeveel ons daarvan nodig het in enige gegewe periode om handel en besparing moontlik te maak. As jy te veel geld skep, gaan daar inflasie kom; as jy te min skep, gaan die handel opdroog. As die helfte van jou bevolking sonder geld is en dus nóg kan produseer, nóg kan verbruik, het jy verkeerd te werk gegaan. Maar die wyse waarop die bankstelsel ontwikkel het, het van geld ’n kommoditeit gemaak – om gekoop en verkoop, met rente geleen en uitgeleen te word – onder mense wat geld het. Nuwe geld word gemaak – nie deur regerings met die oog op die hoeveelheid geld wat nodig is nie – maar deur handelsbanke met die uitsluitlike doel om dit uit te leen vir wins. Nuwe geld word gemaak in die vorm van skuld. Handelsbanke skep nuwe geld wanneer hulle ’n lening toestaan – wat ofskoon dit uit niks gemaak is, nogtans terugbetaal moet word, en met rente. Sodoende word geld nie met inagneming van die doel daarvan geskep nie, maar as neweproduk van ’n kommersiële onderneming. Let daarop dat feitlik alle nuwe geld skuld skep – banke reik nie geld uit sonder skuld nie. Die uitsondering is die 5% van die geldvoorraad wat uit staatsgedrukte note en –gemunte geldstukke ontstaan: dié word deur die staat as deel van sy betalings in die ekonomie bestee. Dit word nie uitgeleen nie, dit word bestee. Daar is geen rede waarom die staat nie elke jaar die nuwe geld wat hy nodig het, kan uitreik nie – as deel van sy normale uitgawes, eerder as om daardie werk aan banke te gee. Die teorie wat dit verhoed, is dat daar ’n objektiewe ‘markkoers’ bestaan vir kapitaal, gegrond op die gewoonlik lagwekkende akademiese aanname dat almal in die mark gelyke kennis van, toegang tot, en mag binne alle markte het. Inteendeel, banke is semi-monopolieë, en individue het toegang in verhouding tot hulle bestaande rykdom. Die feit is dat daar geen natuurlike of objektiewe markkoers is nie, en banke, regerings en individue kan kies watter koers hulle hef. In der waarheid kan geld deur burgers geskep word, en sonder skuld. Ons kan besluit om in ’n uitgedinkte betaalmiddel handel te dryf, mits diegene wat met ons handel dryf, die waarde daarvaan aanvaar. Die Suid-Afrikaanse Nuwe Ekonomie-stigting (SANE) dryf openlik handel op die internet in ’n geldeenheid wat Talente genoem word. Jy kan enigiets van motorvoertuigdiens tot vakansieverblyf; organies gekweekte voedsel tot rekenaarlesse; advies en herstelwerk; gesondheidsprodukte en -behandelings tot skrynwerk; boeke in oorvloed, elke soort vaardigheidsopleiding koop en verkoop. En veel meer. Besoek www.sane.org.za vir inligting oor SANE; en www.ces.org.za vir die Talent-ruilhandel. Meer as 6 000 van ons maak daarvan gebruik, en jy kan dit ook doen. Jy sal sommer ook ’n ware begrip kry van die manier waarop geld behoort te werk. Talente word slegs in aansyn geroep deur handel: daar’s geen skuld, geen inflasie en geen resessie nie. Grameen se sukses moet nie in wins gemeet word nie, maar in die uitwerking wat dit het op die ekonomie. (Jou batebestuurder gaan jou nie aanraai om in die Grameen-bank te belê nie.) Nogtans is dit ’n baken en ’n denkwyse en praktykaanduider vir die toekoms wanneer die mensdom tot sy sinne kom oor die doel van geld, en bygevolg, oor hoe dit geskep behoort te word. |