|
||||
Hans Visser
* Professor in privaatreg, Universiteit van Pretoria
Die hoë vlak van misdaad, en veral geweldsmisdaad, het verskeie oorsake. Doeltreffende optrede teen misdadigers moet uiteraard op soveel as moontlik van die oorsake van hulle dade fokus. Dit is populêr om misdaad veral te probeer verklaar aan die hand van die armoede en ongeletterdheid van misdadigers. Hiervolgens is een antwoord op misdaad dat mense beter onderwys en meer geld moet hê. ‘n Ernstige probleem hiermee is dat dit vir misdadigers ’n vals tipe regverdiging van hulle dade skep - die koelbloedige doodskiet van mense vir finansiële gewin, die verkragting van vrouens en kinders en die wreedaardige marteling van plaasfamilies en ouer mense wat alleen woon. Daar is tog baie arm en ongeleerde mense in Suid-Afrika en die res van die wêreld wat nie soos bloeddorstige barbare optree nie. In ’n sin is ons Grondwet wat die menseregtefilosofie weergee op ’n onrealistiese fiksie gebaseer – wat skadelike gevolge kan hê. Artikel 10 bepaal naamlik dat elke mens inherente waardigheid het asook die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word. Die feit dat beskaafde mense misdadigers en vermeende misdadigers op ’n redelike wyse behandel, het egter meer te doen met hulle eie beskaafdheid as met die fiksie dat boosaardige mense noemenswaardige menswaardigheid het. Meer klem behoort dus op misdadigers se boosheid en gebrek aan waardigheid gelê te word as op enige fiktiewe waardigheid. Groter realisme in hierdie verband behoort nuttig te wees in die stryd teen misdadigers. Regsmaatreëls en -optrede is die juridiese reaksie op misdadigers. Dit bied die wapens en spelreëls in die oorlog teen hulle. Dit verteenwoordig ’n onvolmaakte en tydelike reaksie wat nogtans noodsaaklik is. Vanselfsprekend dra die openbare amptenare soos die polisie, aanklaers, landdroste, regters en diegene wat gevangenisse bestuur die primêre verantwoordelikheid vir veiligheid en sekuriteit. Nogtans erken ons reg al eeue dat individue redelike voorsorg en noodmaatreëls vir hulle eie veiligheid en beskerming kan tref. Dit is hier waar die private sekuriteitsbedryf tradisioneel inpas. Nietemin speel private sekuriteit internasionaal ook ’n groterwordende rol in die openbare domein en moet die private aard daarvan nie oorbeklemtoon word nie.
Enkele feite oor private sekuriteit
Daar is tans ongeveer 5 000 sekuriteitsbesighede en meer as 305 000 individuele private sekuriteitsbeamptes aktief in Suid-Afrika – en die sekuriteitsbedryf groei steeds. Minstens R15 000 miljoen word na raming jaarliks aan private sekuriteit bestee. Die meeste groot sekuriteitsbesighede word deur buitelanders beheer. Die private sekuriteitsbedryf oortref duidelik die openbare polisie wat menslike en ander hulpbronne betref. Alhoewel die internasionale tendens is vir die private sekuriteitsbedryf om te groei en al hoe meer gesofistikeerde dienste te lewer, het private sekuriteit die afgelope tien jaar in feitlik geen land in omvang en menslike hulpbronne soveel toegeneem as in Suid-Afrika nie.
Die rol van private sekuriteit
Die vraag oor watter rol private sekuriteit presies in misdaadbekamping speel, is moeilik om te beantwoord. Daar is eenvoudig nie voldoende empiriese getuienis hieroor nie. Nogtans is dit redelik om aan te neem dat Suid-Afrikaners waarskynlik nie miljarde rand sou spandeer aan ondoeltreffende sekuriteitsdienste nie. Aan die ander kant is die misdaadsyfer in Suid-Afrika (en veral geweldsmisdaad) steeds so hoog dat ’n mens waarskynlik nie slegs die gehalte van die polisie se dienslewering nie, maar ook dié van die kommersiële sekuriteitsbedryf kan bevraagteken. Voorts blyk dit dat in heelwat gevalle die werklike diens wat private sekuriteit bied, nie noodwendig die voorkoming van misdaad is nie, maar eerder die verkoop van gemoedsrus aan mense sodat hulle eenvoudig veiliger voel weens die sigbaarheid van sekuriteitsbeamptes, hulle toerusting en selfs kennisgewingbordjies. Nog ’n probleem is dat, net soos daar in die geledere van die polisie self te veel misdadigers is, die private sekuriteitsbedryf ongelukkig ook te veel kriminele elemente en onbekwame persone huisves. ’n Ongekwalifiseerde vertroue in openbare óf private sekuriteit is dus misplaas. Volgens die jongste amptelike misdaadsyfers het ernstige misdaad effens afgeneem. Die vraag is nogtans hoe ’n mens kan vasstel of hierdie statistiek akkuraat is en watter gevolgtrekkings werklik daaruit gemaak kan word. Die hoë misdaadsyfer is ’n verleentheid vir die regering, en daar is dus die versoeking tot statistiese manipulasie. ’n Mens sou dus eerder ’n stelsel wou hê ingevolge waarvan die statistiek heeltemal onafhanklik geoudit kan word buite die kring van politici en amptenare wat belang daarby het om ’n afwaartse misdaadtendens voor te hou. As ’n mens aanneem dat daar wel ’n effense afname in sekere misdade te bespeur is, ontstaan die vraag wat die oorsaak daarvan is. Daar is al aangevoer dat die polisie nie die krediet hiervoor moet kry nie, maar eerder die private sekuriteitsbedryf. Alhoewel hierdie verklaring nie summier afgewys kan word nie, is daar te min feite beskikbaar om ’n ingeligte mening hieroor te kan uitspreek. Dit is waarskynlik die moeite werd om behoorlike navorsing in hierdie verband te onderneem en te probeer vasstel wat die werklike afskrikkingswaarde van private sekuriteit is asook watter rol dit in die ondersoek en die vervolging van misdadigers speel. Volgens die ortodokse siening van die verhouding tussen die staatspolisie en die private sekuriteitsbedryf is laasgenoemde se taak bloot om die polisie te ondersteun, aangesien die staat altyd die primêre rol by misdaadbekamping speel (naamlik voorkoming, ondersoek en regshandhawing). In die lig van die voortdurende misdaadkrisis is dit klaarblyklik nodig om hierdie teorie in sekere opsigte grondig te hersien. Terwyl niemand kan twyfel dat die staat primêr daarvoor aanspreeklik bly om sy inwoners voldoende te beskerm nie, noodsaak die misdaadgolf vernuwende denke oor onder meer ’n groter rol vir privaatsekerheid. Rewolusionêre planne en optrede word vereis, aangesien die bestaande teorie en praktyk klaarblyklik misluk het. Ongelukkig blyk dit dat daar nog te veel mense in verantwoordelike posisies is wat vasklou aan uitgediende sienings oor die rol van private sekuriteit, of wat eerder besorg is om die aansien van die staat se polisie te beskerm. In byvoorbeeld ’n witskrif oor veiligheid en sekuriteit ’n paar jaar gelede is die rol van private sekuriteit nie eers direk vermeld nie! Inisiatiewe op die terrein van byvoorbeeld gemeenskapspolisiëring het blykbaar dusver nie veel gehelp om Suid-Afrikaners veiliger teen geweldenaars te maak nie. Feit is dat elke beskikbare hulpbron op die een of ander wyse gemobiliseer sal moet word om die oorlog teen ernstige misdadigers te wen. Vir sover die polisie nie in staat is om misdaad te voorkom en wet en orde te handhaaf nie, moet alternatiewe ingespan word. Uiteraard moet die bestaande regstelsel ook ondersoek word. Terwyl ’n oordrewe reaksie nie nodig is nie, sou ek graag ’n hoëvlak- regshersieningskomitee wou sien met ’n mandaat om alle regsreëls te ondersoek ten einde knelpunte te identifiseer en die reg te verbeter waar nodig. Selfs die Grondwet moet in sekere opsigte aangepas word indien nodig. ’n Mooi liberale Grondwet help in ieder geval min as mense nie eers relatief veilig kan wees en voel nie.
Voorstelle oor ’n groter rol vir private sekuriteit
Totdat misdaadvlakke meer “normaal” is, moet daar dus herbesin word oor die funksies van private sekuriteit. Een strategie teen misdadigers is om die aard en die kwaliteit van die rol van private sekuriteit te verbeter. Alhoewel ek hieronder ’n voorstel bespreek, moet onthou word dat die Suid-Afrikaanse bevolking steeds die reg het dat die staat alle redelike stappe moontlik moet doen om hulle veiligheid in die algemeen te waarborg en in bepaalde gevalle te verbeter. Dit is onaanvaarbaar dat benewens die betaal van belastings wat vir veiligheid en sekuriteit aangewend word, lede van die publiek nog miljarde rand privaat moet bestee om hulleself en hulle eiendom te beveilig. Watter verhoogde rol ’n mens ook al vir private sekuriteit kan bedink, is ’n transformasie van openbare veiligheid nodig om onder meer te verseker dat die polisie genoeg bevoegdhede, hulpbronne, opleiding en strategieë het om misdadigers af te skrik deurdat oortreders gevang en behoorlik gestraf word. Ek het reeds 8 jaar gelede in ’n regsblad betoog vir die verlening van die bevoegdhede van vredesbeamptes aan sekere kategorieë private sekuriteitbeamptes. Dit sou hulle doeltreffendheid teen vermeende misdadigers verhoog. Tans beskik private sekuriteitsbeamptes slegs oor daardie bevoegdhede wat elke private persoon het. Die voorstelle wat ek destyds gemaak het, is nie in die algemeen aanvaar nie, hoewel sekere bykomende bevoegdhede wel verleen is aan private sekuriteitsbeamptes by lughawens. Alhoewel meer bevoegdhede alleen nog nie alle probleme kan oplos nie, sou dit wel ’n positiewe stap wees om noodsaaklike polisiëring in die algemeen uit te brei. Natuurlik is daar allerlei praktiese probleme in hierdie verband, maar nie een daarvan is onoorkomelik nie. Trouens, in heelwat Europese lande word al hoe meer tradisionele polisiëringsfunksies aan private sekuriteitsbeamptes oorgedra. Deur private sekuriteitsbeamptes groter bevoegdhede te gee, kan hulle meer doen om die openbare polisie en die publiek in die algemeen te help. In baie gevalle van private sekuriteit gaan dit nie net om die beveiliging van ’n enkele kliënt se belange nie. Die gemeenskap kan byvoorbeeld ooglopend daarby baat as private sekuriteitsbeamptes sterker kan optree teen X wat hulle kliënt Y se belange bedreig. Uiteraard moet daar by die implementering van so ’n plan behoorlike voorsorg getref word vir beheer oor sekuriteitsbeamptes en dat hulle rekenskap vir hulle optrede moet gee. Effektiewe regulering van private sekuriteit is en bly noodsaaklik om ’n wettige en effektiewe sekuriteitsbedryf te verseker. Dit sou ook nie nodig wees om alle sekuriteitsbeamptes van meer bevoegdhede te voorsien nie, maar slegs diegene wat behoorlik opgelei is en aan ander redelike vereistes wat gestel mag word, voldoen.
Slotgedagte
Meer bevoegdhede vir private sekuriteitsbeamptes is ooglopend nie die finale of enigste antwoord nie. Daar is nog meer innoverende en selfs drastieser idees ten einde te verseker dat hierdie belangrike hulpbron van die gemeenskap ten volle benut word. Dit is egter noodsaaklik dat die regering ’n hoëvlak-proses aan die gang sit sodat almal se idees hieroor behoorlik gelug, ondersoek en getoets kan word. Die beste daarvan kan dan in werking gestel kan word. Die prys vir ’n versuim of vertraging is hoog en word betaal deur die bloed van die slagoffers van die duisende moorde, verkragtings en rooftogte elke jaar. |