|
||||
Carel (iv) Boshoff
*Gemeenskapsaktivis, Orania
Ons het in die binneplein van Fort Schanskop rondgestaan en koffie drink. Die vorige aand se toekenningsgeleentheid was onder bespreking en die oggendprogram sou oor die FAK se manifes handel. Danie Goosen het aangekom en vertel dat Stefan Louw vermoor is. Ek het dadelik gedink aan iemand van wie ek dit nie juis verwag het nie, wat by die onthaal na afloop van die toekennings gesê het: “Ons praat oor naamsveranderings, maar ons mense word vermoor”. Ek was nie gretig om op die saak in te gaan nie, maar het darem gesê: “Ja, die twee goed is nie só verwyderd van mekaar as wat dit lyk nie.” Dit was die einde van daardie gesprek. Nou het Danie gesê van Stefan, en bygevoeg: “Dis ’n oorlog hierdie; daar word oorlog gemaak teen ons mense.” Hy was ontsteld, en dit was nie ’n openbare verklaring nie, maar dit was ’n eerlike innerlike aanvoeling dat iets groot en onheilspellend besig is om te gebeur. Van my was Stefan eerder ’n kennis as ’n vriend, sodat ek dit meer konseptueel as emosioneel beleef het en in besonder deur die beeld van ’n oorlog beetgepak is. “Moeilikheid is”, het ek gedink, “dat ons nie weet wie is aan watter kant nie. God behoede ons van ’n reduksie tot swart en wit, iets wat maklik kan posvat waar almal mettertyd vir almal bang is.” En toe weet ek watter oorlog dit is: die oorlog van almal teen almal. Nie lank gelede nie, was hierdie oorbekende frase van Thomas Hobbes ook vir my ’n blote cliché, maar danksy Hans Achterhuis se meesterwerk Het Ryk van de Schaarste. Van Hobbes tot Foucault het dié uitdrukking onder dié omstandighede vir my skrikwekkend konkreet geword. Leviathan Ek het meer as eenmaal die Leviathan van Hobbes (1651), wat al langer as tien jaar op my boekrak staan, begin lees. Dit is immers een van daardie tekste waarna gedurig verwys word en wat aan die oorsprong van ons moderne wêreld staan. Maar die kloof tussen my en die skrywer was ten ene male te groot, en ek was te onkundig oor die vraagstukke en debatte van sy tyd, om hoegenaamd ’n greep op sy denkbeelde te kry. Daarom dat Achterhuis se kontekstualisering aan die hand van beide eietydse en destydse verwysings so waardevol is. Aan die hand daarvan het ek naastenby die volgende beeld gevorm. Die sewentiende-eeuse Engeland waarin Hobbes hom bevind, staan reeds in die teken van ’n verreikende omwenteling wat hy aanvoel en onder woorde probeer bring. Veranderende vestigingspatrone, grondbesit, toegang tot produksiemiddele en wat meer het die weefsel van tradisionele gemeenskappe onherroeplik verander. Dit het veral die hiërargiese strukture en die gepaardgaande mensbeeld en instellings wat vastigheid en orde moes verseker en begeerte moes bekamp, hewig ontwrig. Teen die agtergrond van hierdie uitrafeling van gemeenskappe en in teenstelling met die uiters gestruktureerde feodale orde waarin mense en gemeenskappe gefunksioneer het, kry Hobbes die moderne, ongebonde individu in die oog. In plaas van ’n vaste plek in ’n voorafbepaalde orde, tree gelyke individue wat almal met mekaar in kompetisie om skaars hulpbronne verkeer, na vore. Dit verteenwoordig vir hom, dalk eerder konseptueel as histories, ’n oorsprongstoestand wat hy as “’n oorlog van almal teen almal” beskryf. Volgens Achterhuis werk Hobbes met wat hy sien: individue wat hulle eie oorlewing en belange bo alles stel en wat niks sal ontsien om dit te bevorder nie. Boonop besef hy dat oorlewing en eiebelang onder sekere - al is dit dan uiterste - omstandighede, ’n soort natuurwet is wat nie met moraliserende klagtes tegemoetgegaan kan word nie. Om die waarheid te sê, die enigste redelike uitkoms sou wees dat hierdie fundamenteel vrye en gelyke individue saamspan om ’n gesag op te rig wat minstens elkeen se veiligheid en oorlewing kan waarborg, al is dit dan teen die prys van elkeen se vryheid wat aan dié gesag oorhandig word. Om dus die grondliggendste van menslike waardes - naamlik lewensbehoud - te verseker, gee elkeen in gelyke mate hulle vryheid prys aan ’n staat wat, uit hoofde daarvan, oor soewereine beskikkingsreg teenoor almal beskik. In sy tyd word hierdie kontraktuele oorsprong van die staat in ’n soewereine heerser beliggaam, maar dit sou mettertyd verskillende vorme van wettige beskikking oor absolute mag oor almal aanneem. Dit noem Hobbes die Leviathan; dit wek vrees, maar ook vertroue.
Skaarste/begeerte Hobbes staan op die breuklyn tussen ’n tradisionele en ’n vroeë moderne samelewing en dit stel hom in staat om aan die hand van ’n sonderlinge vergelyking te werk. Waar lê naamlik die wesenlike verskil tussen hierdie twee samelewings? Achterhuis se vertolking is dat dit om die verknoopte begrippe van skaarste en begeerte handel. Hy beskou dit as ’n deurslaggewende insig dat Hobbes “skaarste” nie as ’n objektiewe gebrek aan beskikbaarheid (van wat dan ook al) sien nie, maar as ’n tussen-menslike verhouding van begeerte wat die beskikbaarheid te bowe gaan. Met ander woorde: namate ons mekaar in ons begeertes naboots, werk ons ’n ervaring van skaarste in die hand. Of andersom, namate ons die nabootsende begeerte aan bande sou lê, sou ons die ervaring van skaarste kon hokslaan. Juis daarin het tradisionele gemeenskappe uitgeblink, want die ongelyke status wat mense beklee het - oftewel die vaste plek in ’n ordelike gemeenskap - het ongelyke aansprake op begeerbare dinge meegebring. ’n Kleinboer sou dit in die reël ondenkbaar vind om te begeer wat ’n landheer begeer, en ’n landheer sou nie begeer wat ’n prins begeer nie; ’n ridder en ’n priester sou mekaar op die markplein van begeerte uiters selde ontmoet. Meer nog, in soverre hierdie hiërargiese gemeenskap in ’n positiewe sin funksioneel was, sou hoë vlakke van onderlinge solidariteit verseker dat beperkte lewensmiddele betreklik gelykop verdeel word. Nie almal in ’n uitgebreide huishouding sou dieselfde snitte van ’n slagdier ontvang nie, maar elkeen sou ’n deel kry. Die huiskneg sou sekerlik nie skaapboud op tafel hê nie, maar solank sy heer sy vriende op skaapboud trakteer, sou hy nie sonder vleis hoef te eet nie, en in soverre hy hom by sy mindere status berus het, was hy daarmee tevrede. Maar juis daar lê die knoop: namate sulke beelde van ongelykheid aan die hand van ’n komplekse maatskaplike omwenteling in diepe onguns verval het, is die beperkings wat dit op begeerte geplaas het ook daarmee heen. Die gevolg is dat almal op ’n Sondagmiddag ’n skaapboud begeer, al verander dit nie die feit dat die Base dit nog steeds het en die Klase nog steeds daarsonder moet klaarkom nie. Om die waarheid te sê, in die disfunksionele gemeenskappe wat die moderne samelewing kenmerk, gebeur dit baie dikwels dat mense aan die onderpunt van die leer aan basiese lewensmiddele gebrek lei ten spyte van hulle verklaarde gelykheid aan dié bo-aan die leer en ten spyte van hulle kompeterende begeerte met mekaar. Hierdie deernislose verdeling, wat ironies genoeg met gelykheidsdenke verband hou, skep dan ook die beeld van objektiewe skaarste, oftewel gebrek aan lewensmiddele. Dit, terwyl daar meestal juis ’n objektiewe oorvloed aan, maar ’n ongelyke verdeling van lewensmiddele is - ’n verdeling wat deur die oënskynlik neutrale faktor van koopkrag gewettig word. Dat sentimentele pogings tot vrywillige en meestal uiters beperkte herverdeling wat in die naam van liefdadigheid aangepak word, in die reël geen volhoubare verligting bring nie, hoef ons ook nie te verbaas nie. Dit onderstreep nie net die de facto ongelykheid wat in die naam van almal se grondliggende gelykheid teweeggebring is nie, maar verhoog ook die vlakke van begeerte deur blootstelling aan skaars en begeerlike goed.
Geweld in Suid-Afrika Hoef ek die vergelyking met wat ons vandag in Suid-Afrika beleef, te trek? Is dit nie duidelik watter vernietigende uitwerking modernisering ook hier op tradisionele gemeenskappe het en hoe die ontrafeling daarvan mense van hulle betekenisgewende verwysingspunte vervreem nie? Is dit nie duidelik dat mense wie se armoede in soveel-dollar-per-dag-terme gemeet word, mense wat nog nooit van ’n dollar gehoor het nie, maar wie se vermoë om vir hulleself te sorg in die proses vernietig word, hulle tot bandelose kriminaliteit kan wend nie? Boonop is dit nie net die voorheen gemoderniseerde sektore van ons samelewing wat aan ’n diepgesetelde minagting van tradisie en gemeenskap skuldig is nie, dit is ook en juis die pas- en amper gemoderniseerdes wat oor hulle eie skaduwee probeer spring. En verder is dit nie ’n plaaslike vorm van modernisering wat deurgeworstel en verwerf word nie, maar ’n pasklaar model soos deur die globale verbruikersreklame voorgehou, wat nagejaag en onkrities omhels word. Dat hierdie gewaande bemagtiging ’n skadukant van ongeëwenaarde onmag het, ontsnap die nuwe elite net soos die ou elite - buiten natuurlik waar laasgenoemde hulle opvolgers aan die hand daarvan vir swak prestasie kan verwyt. Tot oormaat van swaarmoedigheid moet ek nog byvoeg dat modernisering nooit anders as met ontwrigting en trauma gepaardgaan nie en dat dit bowendien ’n eenrigtingproses skyn te wees. Is dit byvoorbeeld denkbaar om gelykheidsdenke, watter ongelykhede dit ookal teweegbring, weer met ongelykheidsdenke te vervang? Sekerlik nie. En verder: watter vooruitsig het ons dat die oorlog van almal teen almal, wat onder meer die vorm van bandelose misdaad en geweld aanneem, hokgeslaan kan word? As ons Hobbes se logika volg, is die volgende stap - en daar gaan uit liberale geledere reeds stemme voor op - dat die staat verantwoordelikheid moet neem, dat die regstaat sy staal moet wys. Maar die soort staat wat genoeg vrees en vertroue kan inboesem om onder sulke omstandighede die orde te herstel, hou nie belowende vooruitsigte vir ’n uiters sigbare, voorheen bevoordeelde minderheid soos die Afrikaners in nie. Inteendeel, ons bevind ons tussen die duiwel en die diep blou see; tussen chaos en ’n staat wat by magte is om daardie chaos hok te slaan. As hierdie ietwat neerdrukkende ontleding enigsins akkuraat is, moet Afrikaanse denkers en leiers hulle met nuwe ywer op minstens twee vrae toelê. Die eerste is die vraag na ’n ander moderniteit as die een wat deur Hollywood en Singapoer versinnebeeld word en wat tans as norm vir die modernisering van Suid-Afrika dien. Daarmee is Die Vrye Afrikaan reeds besig, nie die minste nie in die vorm van die alternatiewe ekonomiese teorieë wat hier uitgewerk word. Die tweede vraag is wat ons doen as die regstaat ons faal. Dit is toenemend Afrikaners se ervaring dat die regstaat nie is wat ons daarvan verwag het nie, deels deur sy onvermoë om sy burgers se lewe en eiendom te waarborg, en deels deurdat een party se parlementêre meerderheid dit vir hom ewe maklik maak om die Grondwet te wysig as om enige ander wet te wysig. Dit in soverre hy, danksy transformasie van openbare en private instellings, nodig het om sulke wysigings te formaliseer. Afrikaners het die post-94-bedeling betree in die geloof dat die Grondwet/regstaat ons bestaan sal waarborg. Ek is van oordeel dat ons hoe gouer, hoe beter moet besef dat ons in hierdie omstandighede, soos voorheen, weer mekaar se waarborg sal moet wees. |