|
||||
Terry Eagleton
*John Edward Taylor Professor van Engelse Letterkunde aan die Manchester-universiteit. Sy jongste boek is How to Read a Poem (Oxford: Blackwell, 2006). Hierdie resensie het oorspronklik verskyn in die London Review of Books (www.lrb.co.uk) van 19 Oktober 2006. Die Vrye Afrikaan bedank hulle vir hul toestemming om dit hier in Afrikaans te plaas.
Ofskoon die bekende Britse bioloog en ateïs, Richard Dawkins, nogal heelwat onkritiese aandag in die Suid-Afrikaanse media geniet, word sy anti-religieuse sienings selde aan behoorlike kritiek onderwerp. Hier stel die oud-Marxistiese en allesbehalwe konserwatiewe letterkundige, Terry Eagleton, die saak reg in sy resensie van Dawkins se jongste werk, The God Delusion (Londen: Bantam Books, 406 bl.) Stel jou voor iemand wei uit oor biologie terwyl sy enigste kennis van die onderwerp die Book of British Birds is, en jy het ’n rowwe idee van hoe dit voel om Richard Dawkins oor teologie te lees. Kaartdraende rasionaliste soos Dawkins, wat die naaste aan ’n professionele ateïs is wat Brittanje sedert Bertrand Russell het, is in een opsig die swakste toegerus om te verstaan wat hulle striem, aangesien hulle nie glo dat daar enigiets is om te verstaan, of minstens die moeite werd is om te verstaan nie. Dit is waarom hulle sonder uitsondering vorendag kom met vulgêre karikature van religieuse geloof wat ’n eerstejaar teologiestudent sou laat ineenkrimp. Hoe meer hulle religie verfoei, hoe meer oningelig neig hulle kritiek daarvan om te wees. Indien hulle gevra sou word om ’n oordeel te vel oor fenomenologie of die geopolitiek van Suid-Asië, sou hulle die vraag ongetwyfeld so deeglik moontlik bestudeer. As dit egter by teologie kom, sal enige ou belaglike voorstelling deug. Deesdae is teologie die koningin van die wetenskappe in ’n ietwat minder deurlugtige sin van die woord as in sy Middeleeuse fleur. Dawkins oor God herinner nogal aan daardie regse Cambridge-dosente wat enkele jare gelede Senate House ywerig binnegetou het om ’n eregraad vir Jacques Derrida af te stem. Baie min van hulle, vermoed ’n mens, het meer as ’n paar bladsye van sy werk gelees, en selfs dié aanname mag buitengewoon vrygewig wees. Tog sou hulle ongetwyfeld met afgryse vervul word om ’n opstel oor Hume te ontvang van ’n student wat nie sy Treatise of Human Nature gelees het nie. Daar is altyd onderwerpe waaroor andersins noulettende geeste kwalik met stryd aan die grofste vooroordeel sal toegee. Vir talle akademiese sielkundiges is dit Jacques Lacan; vir Oxbridge-filosowe is dit Heidegger; vir voormalige burgers van die Sowjet-blok is dit die geskrifte van Marx; vir militante rasionaliste is dit die religie. Wat, wonder ’n mens, is Dawkins se siening van die kennislerige verskille tussen Aquinas en Duns Scotus? Het hy Eriugena oor subjektiwiteit, Rahner oor genade of Moltmann oor hoop gelees? Het hy al ooit van hulle gehoor? Of verbeel hy hom soos ’n verwaande jong advokaat dat jy die opposisie kan verslaan terwyl jy selfvoldaan onkundig oor sy sterkste saak kan wees? Dawkins, lyk dit, is soms deur teoloë vertel dat hy strooipoppe opstel net om hulle om te klits – ’n aantyging wat hy in sy boek afwys – maar te oordeel aan The God Delusion is hulle absoluut reg. Wat die teologie betref, het Dawkins enorm baie gemeen met Ian Paisley (1) en Amerikaanse TV-evangeliste. Albei partye stem redelik saam oor wat religie is; dis net dat Dawkins dit verwerp terwyl Oral Roberts (2) en sy selfvoldane stam daarop vet word. ’n Molshoop van voorbeelde uit ’n berg daarvan sal dus voldoende moet wees. Dawkins reken dat alle geloof blinde geloof is, en dat Christen- en Moslemkinders grootgemaak word om sonder vrae te glo. Nie eens die stompsinnige dominees wat my in ’n staatskool (grammar school) opgedons het, het dít gedink nie. Vir die hoofstroom Christendom het die rede, die argument en eerlike twyfel nog altyd ’n integrale rol in geloof gespeel. (Waar, gegewe dat hy ons op een punt uitnooi om alles te bevraagteken, is Dawkins se eie kritiek van die wetenskap, objektiwiteit, liberalisme, ateïsme en dergelike sake?) Dit is inderdaad so dat die rede nie vir gelowiges die hele pad gaan nie, maar dan is dit ook nie so nie vir die meeste sensitiewe, beskaafde niereligieuse tipes. Selfs Richard Dawkins leef meer volgens geloof as volgens rede. Ons huldig talle aannames (beliefs) wat geen onkreukbare rasionele regverdiging het nie, maar wat nietemin redelik is om te huldig. Slegs positiwiste (3) dink dat ‘rasioneel’ ‘wetenskaplik’ beteken. Dawkins verwerp die sekerlik redelike siening dat wetenskap en religie nie in kompetisie staan nie op grond daarvan dat dit religie verseël teen rasionele ondersoek. Maar dit is ’n fout: om te beweer dat wetenskap en religie verskillende vrae aan die wêreld stel, is nie om te beweer dat as Jesus se beendere in Palestina ontdek sou word, die Pous so spoedig moontlik in die ry vir ’n werkloosheidstoelae moet gaan val nie. Dit is eerder om te beweer dat terwyl geloof, nogal soos liefde, feitelike kennis moet betrek, dit nie daartoe verskraal kan word nie. Vir my bewering dat ek jou liefhet om samehangend te wees, moet ek in staat wees om te verduidelik wat omtrent jou dit regverdig, maar my bankbestuurder mag met my nat-oogbeskrywing van jou saamstem sonder om self op jou verlief te wees. Dawkins beskou die bestaan of niebestaan van God as ’n wetenskaplike hipotese wat oop is vir rasionele demonstrering. Die Christendom leer dat om te beweer dat daar ’n God is, redelik moet wees, maar dat dit glad nie dieselfde as geloof is nie. Ongeag wat Dawkins ook al mag dink, is om in God te glo nie dieselfde as om tot die slotsom te kom dat ruimtewesens of die tandemuis bestaan nie. God is nie ’n hemelse supervoorwerp of goddelike VVV (4) oor wie se bestaan ons agnosties moet bly tot al die getuienis ingewin is nie. Teoloë glo nie, soos Dawkins dink, dat hy óf binne, óf buite die heelal is nie. Sy transendensie en onsigbaarheid is deel van wat hy is, wat nie die geval met die Loch Ness-monster is nie. Dit is nie dieselfde as om te sê dat religieuse mense in ’n gravitasiekolk glo omdat hulle ook dink dat God homself geopenbaar het: nie, soos Dawkins dink, in die gestalte van ’n kosmiese vervaardiger wat nog slimmer as Dawkins self is nie (die Nuwe Testament sê so te sê niks oor God as Skepper nie), maar minstens vir Christene in die gestalte van ’n verguisde, vermoorde politieke misdadiger. Die Jode van die sogenaamde Ou Testament het geloof in God gehad, maar dit beteken nie dat nà hulle die saak by ’n aantal internasionale konferensies gedebatteer het, hulle besluit het om die wetenskaplike hipotese dat daar ’n opperste argitek van die heelal bestaan, te onderskryf nie – selfs al was dit, soos Genesis wys, hulle mening. Hulle het geloof in God gehad in die sin wat ek geloof in jou het. Hulle mag wel verkeerd wees, maar hulle was nie verkeerd omdat hulle wetenskaplike hipotese ongegrond was nie. Dawkins praat spottend van ’n persoonlike God asof dit heeltemal ooglopend sou wees wat dít presies beteken. Dit lyk asof hy God verbeel, indien nie heeltemal met ’n wit baard nie, dan minstens as een of ander kêrel (chap), dog supergroot. Hy vra hoe dié kêrel met miljarde mense tegelyk kan praat, wat nogal is soos om te wonder waarom, as Tony Blair ’n seekat is, hy slegs twee arms het. Vir die Joodse Christendom is God nie ’n persoon in die sin wat, sê, Al Gore (5) is nie. Hy is ook nie ’n beginsel, ’n entiteit of ‘bestaande’ nie: in een sin van laasgenoemde woord sal dit heeltemal samehangend vir religieuse tipes wees om te beweer dat God feitelik nie bestaan nie. Hy is eerder die moontlikheidsvoorwaarde van watter entiteit ook al, insluitend onsself. Hy is die antwoord op waarom daar iets eerder as niks is. God en die heelal tel nie meer op tot twee nie, ewemin as wat my afguns en my linkervoet ’n paar van voorwerpe uitmaak. Dit – en nie een of ander supervervaardiger nie – is wat tradisioneel bedoel word met die bewering dat God die Skepper is. Hy is dit wat alle dinge in die syn, in dit wat is, deur sy liefde onderhou; en dit sou steeds die geval wees selfs al het die heelal geen begin nie. Om te sê dat hy dit uit niks in bestaan gebring het, is nie ’n maatstaf van hoe baie slim hy is nie, maar om te suggereer dat hy dit uit liefde eerder as behoefte gedoen het. Die wêreld was nie die gevolg van ’n onverbiddelike ketting van oorsaak en gevolg nie. Soos ’n modernistiese kunswerk is daar geen noodsaak daaromtrent nie, en God mag sy handewerk dalk al eons gelede berou het. Die Skepping is die oorspronklike gratis daad. God is ’n kunstenaar wat dit vir die blote liefde of vir die hel daarvan gedoen het; nie ’n wetenskaplike in die uitvoering van ’n manjifiek rasionele ontwerp wat sy navorsingstoekenningsliggaam mateloos sal beïndruk nie. Omdat die heelal God s’n is, het dit deel aan sy lewe, wat die lewe van vryheid is. Dit is waarom dit heeltemal op sy eie werk, en waarom sowel wetenskap as Richard Dawkins gevolglik moontlik is. Dieselfde geld menslike wesens: God is nie ’n hindernis vir ons selfstandigheid en genieting nie, maar, soos Aquinas aanvoer, die mag wat ons toelaat om onsself te wees. Soos die onbewuste is hy nader aan ons as wat ons aan onsself is. Hy is die bron van ons selfbepaling, nie die uitwissing daarvan nie. Om van hom afhanklik te wees, soos om van ons vriende afhanklik te wees, is ’n kwessie van vryheid en vervulling. Vriendskap is inderdaad die woord wat Aquinas gebruik om die verhouding tussen God en die mensdom te beskryf. Dawkins, wat ewe geobsedeer met die meganika van die Skepping as sy Kreasionistiese opponente (6) is, verstaan niks van hierdie tradisionele leerstellinge nie. Hy verstaan ook nie dat omdat God transendent tot ons is (wat ’n ander manier is om te sê dat hy ons nie tot stand hoef te gebring het nie), is hy vry van enige neurotiese behoefte aan ons en wil hy bloot toegelaat word om ons lief te hê. Dawkins se God is, daarenteen, Satanies. Satan (‘beskuldiger’ of ‘aanklaer’ in Hebreeus) is die wanvoorstelling (misrecognition) van God as Groot Pa en straflustige regter, en Dawkins se God is presies so ’n afstootlike superego (7). Hierdie valse bewussyn word omvergewerp in die persoon van Jesus, wat die Vader openbaar as vriend en minnaar eerder as regter. Dawkins se Opperwese is die God wat diegene wat daarna streef om goddelike toorn af te weer deur diere te offer, kieskeurig in hulle dieet te wees en vlekkeloos in hulle optrede. Hulle kan nie die skandaal dat God hulle liefhet soos hulle in al hulle morele slordigheid is, aanvaar nie. Dit is een rede waarom Paulus opmerk dat die wet vervloek is. Dawkins sien die Christendom in terme van ’n eng, legalistiese opvatting van boetedoening – van ’n brutale, wraakgierige God wat sy eie kind opoffer as vergoeding daarvoor dat hy beledig is – en beskryf dié geloofsartikel as venynig en aanstootlik. Dit is veilig om te wed dat die Aartsbiskop van Kantelberg nie sterker kan saamstem nie. Dit was die imperiale Romeinse staat, nie God nie, wat Jesus vermoor het. Dawkins vind dit vreemd dat Christene nie gretig na die dood uitsien nie, gegewe dat hulle daar die paradys ingelei sal word. Hy sien nie raak dat die Christendom, soos die meeste religieuse gelowe, menslike lewe diep waardeer nie, wat dan ook dìt is waarin die martelaar verskil van die selfmoordenaar. Die selfmoordenaar laat die lewe vaar omdat dit waardeloos geword het; die martelaar staan sy of haar kosbaarste besitting vir die uiteindelike welsyn van andere af. Hierdie daad van selfoorgawe staan algemeen bekend as opoffering, ’n woord wat ten onregte allerlei polities inkorrekte implikasies verkry het. Jesus, spekuleer Dawkins, mag sy eie verraad en dood verlang het, ’n siening wat die skrywers van die Nuwe Testament opsetlik afwys deur die Getsemane-toneel in te sluit, waar Jesus duidelik paniek ervaar by die vooruitsig van sy komende teregstelling. Hulle plaas ook woorde in sy mond as hy op die kruis is om grotendeels dieselfde stelling te bevestig. Jesus het nie gesterf omdat hy mal of selfkastydend was nie, maar omdat die Romeinse staat en sy verskillende plaaslike lakeie en hardlopende honde geskrik het vir sy boodskap van liefde, genade en geregtigheid, asook vir sy enorme gewildheid onder die armes, en met hom weggedoen het om ’n massaopstand in ’n hoogs plofbare politieke situasie te vermy. Heelwat van Jesus se naaste kamerade was waarskynlik Selote, oftewel lede van ’n anti-imperialistiese ondergrondse beweging. Judas se van suggereer dat hy een van hulle kon wees, wat sy verraad des te meer verklaarbaar maak: miskien het hy sy leier in bitter ontnugtering uitverkoop in die oortuiging dat hy per slot van rekening nie die Messias was nie. Messiasse word nie in armoede gebore nie; weier nie wapens van vernietiging nie; is boonop geneig om die nasionale hoofstad binne te ry in koeëlvaste limousines met polisiebegeleiding, nie op ’n donkie nie. Jesus, wat met respek vir Dawkins inderdaad “sy etiek aan die Skrif ontleen het” (hy was ’n toegewyde Jood, nie die stigter van ’n spoggerige nuwe opset nie), was ’n karikatuur van ’n Messias. Hy was ’n karnavalistiese parodie van ’n leier wat verstaan, so lyk dit, dat enige regime wat nie op solidariteit met broosheid en mislukking gegrond is nie, gedoem is om onder sy eie hubris in duie te stort. Die simbool van daardie mislukking was sy kruisiging. In hierdie geloof was hy getrou aan die lewensbron wat hy enigmaties sy Vader genoem het, wat in die vorm van die Jahwe van die Ou Testament aan die Hebreërs sê dat hy hulle brandoffers haat en dat hulle wierook in sy neusgate stink. Hy herinner hulle dat hulle hom sal ken vir wie hy is wanneer hulle die hongeres met goeie dinge gevul en die rykes leeg weggestuur sien. Jy word nie toegelaat om ’n fetisj of gesnede beeld van hierdie God te maak nie, aangesien die enigste beeld van hom menslike vlees en bloed is. Verlossing het vir die Christendom te make met sorg vir die sieke en die verwelkoming van die immigrant, die beskerming van die armes teen die geweld van die rykes. Dit is glad nie ’n “godsdienstige” saak nie en vereis geen besondere kleredrag, rituele gedrag of kieskeurigheid oor dieet nie. (Die Katolieke verbod van vleis op Vrydae is ’n onskriftuurlike kerkreël.)
Jesus het uitgehang met hoere en sosiale uitgeworpenes, was merkwaardig ontspanne oor seks, was afwysend oor die gesin (die voorstedelike Dawkins is ’n ietsie ongemaklik hieroor), het ons aangemoedig om ongeërg oor eiendom en besittings te wees, het sy volgelinge gewaarsku dat hulle ook gewelddadig sou sterf, en het volgehou dat die waarheid doodmaak en verdeel asook bevry. Hy het ook eiegeregtige pedante vervloek en die heersersklas verontrus. Die Christelike geloof leer dat diegene wat na die kruisiging kan kyk en leef, wat aanvaar dat die traumatiese waarheid van menslike geskiedenis ’n gemartelde liggaam is, dalk net ’n op ’n nuwe lewe mag hoop – maar slegs by grasie van ’n onvoorstelbare transformasie in ons huidige uitsiglose toestand. Dit staan bekend as die opstanding. Diegene wat nie hierdie skrikwekkende beeld van ’n verminkte onskuldige as die waarheid van die geskiedenis sien nie, sal waarskynlik aanhangers wees van daardie blinkoog bygeloof, bekend as menslike vooruitgang, waarvoor Dawkins ’n volbloed apologeet is. Of hulle mag goedbedoelende hervormers of sosiale demokrate wees, wat vanuit ’n Christelike oogpunt gewoon nie radikaal genoeg is nie. Die sentrale leerstelling van die Christendom is dus nie dat God ’n bliksem (bastard) is nie. Dit is, in die woorde van die oorlede Dominikaanse teoloog, Herbert McCabe, dat as jy nie lief het nie, is jy dood, en dat as jy liefhet, sal hulle jou doodmaak. Hier is dan jou holle belofte en opium van die volk. Dit was natuurlik Marx wat daardie laaste frase gemunt het, maar Marx, wat religie in dieselfde passasie beskryf as die “hart van ’n hartelose wêreld, die siel van siellose toestande” was ietwat oordeelkundiger en #meer dialekties in sy beoordeling daarvan as Dawkins, wat wild en wakker misskop en -slaan. Nou mag dit so wees dat dit alles niks meer geloofwaardig as die tandemuis is nie. Die meeste denkende mense sal deesdae uitstekende gronde hê om dit te verwerp. Maar kritici van die rykste, duursaamste vorm van populêre kultuur in die menslike geskiedenis het ’n morele verpligting om dié saak op sy mees oortuigende te konfronteer, in plaas daarvan om vir hulleself ’n goedkoop oorwinning te beklink deur dit toe te takel as soveel snert en gebrabbel. Die hoofstroomteologie wat ek pas uiteengesit het, mag heel moontlik nie waar wees nie, maar enigeen wat dit aanhang moet na my mening gerespekteer word, terwyl Dawkins reken dat geen religieuse geloof te eniger tyd of op enige plek hoegenaamd respek waardig is nie. En dit, mag ’n mens noteer, is die opinie van ’n man wat diep afkerig is van enige dogmatisme. Selfs gematigde religieuse sienings, dring hy aan, moet vurig betwis word, aangesien hulle altyd tot fanatisme kan lei. Sommige strominge van die liberalisme wat Dawkins onderskryf, het tans verval in ’n taamlik gemene vorm van neoliberalisme, maar wat my betref is dit geen rede om nie liberalisme voor te staan nie. Op een of ander obskure wyse kry Dawkins dit reg om te insinueer dat die Biskop van Oxford verantwoordelik is vir Osama ben-Laden. Sy polemiek sou ietwat oortuigender wees komende van ’n man wat ’n bietjie minder arrogant triomfantelik is oor wetenskap (daar is bloot een of twee gebare oor die feilbaarheid daarvan in die boek), en wat hom daarvan kan weerhou om sinne te skryf soos “hierdie beswaar [teen ’n sekere wetenskaplike siening] kan beantwoord word met die suggestie … dat daar baie heelalle is” (ons vertaling), asof ’n suggestie ’n wetenskaplike weerlegging is. Oor die afgryse wat wetenskap en tegnologie op die mensdom losgelaat het, is hy voorspelbaar swygsaam. Tog sal die Apokalips waarskynlik veel eerder hulle produk as die werk van religie wees. Ruil jou die Inkwisisie vir chemiese oorlogvoering. Dawkins se onverstoorde wetenskaplike onpartydigheid is van so ’n aard dat hy homself in ’n boek van bykans vierhonderd bladsye nouliks sover kan bring as om toe te gee dat daar een enkele menslike voordeel uit religieuse geloof gevloei het, ’n siening wat by voorbaat ewe onwaarskynlik as empiries vals is. Die ontelbare miljoene mense wat hulle lewens selfloos aan die diens van andere gewy het in die naam van Christus, Boeddha of Allah word uit die menslike geskiedenis gewis – en dit deur ’n selfaangestelde kruisvaarder teen dweepsug. Hy is soos ’n man wat sosialisme gelykstel aan die Gulag (8). Soos die Puritein en seks sien Dawkins God oral, selfs waar hy klaarblyklik afwesig is. Hy dink byvoorbeeld dat die etno-politiese konflik in Noord-Ierland sou verdwyn as die religie sou, wat vir iemand soos ek wat deeltyds daar woon, verraai hoe min hy eintlik daarvan weet. Op ietwat vreemde wyse dink hy ook dat die terme Lojalis en Nasionalis ‘eufemismes’ vir Protestant en Katoliek is, en ken duidelik nie die verskil tussen ’n Lojalis en ’n Unionis of ’n Nasionalis en ’n Republikein nie. Hy beweer ook, teenoor ’n aansienlike deel van die beskikbare getuienis, dat Islamitiese terrorisme deur religie eerder as politiek geïnspireer is. Hierdie is nie bloot die sieninge van ’n woedende ateïs nie. Dit is die opinies van ’n maklik identifiseerbare soort Engelse middelklas, ’n liberale rasionalis. As ’n mens Dawkins lees, wat soms skryf asof “Thou still unravish’d bride of quietness” ’n skreeusnaakse manier is om ’n Griekse vaas te beskryf, kan jy redelik seker wees dat hy nie Europa se grootste entoesias vir Foucault, psigoanalise, agitprop, Dadaïsme, anargisme of separatistiese feminisme sal wees nie. ’n Mens stel jou voor dat al hierdie verskynsels net so onsmaaklik vir sy bruuske, bloedlose rasionaliteit as die maagdelike geboorte sal wees. Tog kan ’n mens natuurlik ’n ateïs en ’n geesdriftige aanhanger van hulle almal wees. Sy God-haat is dus geensins die siening van ’n wetenskaplike wat bewonderenswaardig van vooroordeel gestroop is nie. Dit behoort tot ’n spesifieke kulturele konteks. ’n Mens sou nie verwag om in Noord-Oxford heelwat stemme te monster vir óf anargisme, óf die maagdelike geboorte nie. (Ek moet daarop wys dat ek die term Noord-Oxford in ’n ideologiese eerder as geografiese sin gebruik. Dawkins mag verlig wees om te weet dat ek inderdaad nie weet waar hy woon nie.) Daar is ’n baie Engelse weergawe van gesonde verstand wat hoofsaaklik glo in wat dit kan aanraak, weeg en proe, en The God Delusion ontspring uit, onder ander plekke, daardie besondere stal. Op sy mees Filistynse en provinsiaalste laat dit Dick Cheney soos Thomas Mann klink. Die sekulêre Tien Gebooie wat Dawkins vir ons aanbeveel, waaronder een ons adviseer om ons sekslewens te geniet solank hulle nie aan ander skade doen nie, is oor die algemeen liberale gemeenplasighede. Dawkins verpes – en tereg ook – fundamentaliste, maar sover ek weet is sy anti-religieuse smaadredes nog nie in sy werk geëwenaar deur ’n kritiek van die globale kapitalisme wat die haat, angs, onsekerheid en sin van vernedering wat fundamentalisme kweek, voortbring nie. Soos die stompsinnige mediageklets dit wil hê, is dit eerder alles op die rekening van die religie. Dit kom dus as geen verrassing nie dat Dawkins ’n oudmodiese Hegeliaan blyk te wees wanneer dit by wêreldpolitiek kom, en glo in ’n zeitgeist (sy eie term) met immergroeiende vooruitgang en net af en toe ’n ‘terugslag’. “Die hele golf,” rapsodieer hy op die fynste Liberale wyse, “bly beweeg” (ons vertaling). Daar is, gee hy vrygewig toe, “plaaslike en tydelike terugslae” (ons vertaling) soos die huidige VSA-regering – asof daardie regime ’n verkiesingsafwyking is eerder as die voorteken van ’n drastiese verandering van die wêreldorde waarmee ons waarskynlik sal moet leef vir solank as wat ons kan voorsien. Dawkins glo daarenteen op sy Herbert Spencer-agtige manier dat “die vooruitstrewende neiging onmiskenbaar is en sal voortgaan” (ons vertaling). Nou, daar het ons dit dan: ons het dit uit die mond van mnr. Openbare Wetenskap self dat buiten vir ’n paar plaaslike, tydelike haakplekke soos ekologiese rampe, hongersnood, etniese oorloë en atoomwoestenye die Geskiedenis pal aan die opswaai is. Afgesien van die sporadiese terloopse gebaar na ‘gesofistikeerde’ religieuse gelowiges is Dawkins geneig om religie en fundamentalistiese religie as een en dieselfde te sien. Dit is nie net grotesk vals nie; dit is ook ’n truuk om enige meer besinnende soort geloof te omflank deur te impliseer dat dit eerder ’n rand- as ’n massaverskynsel is. Die groot getalle gelowiges wat iets soos die teologie wat ek hierbo uiteengesit het, aanhang, kan dus gemaklik saamgegooi word met takhare wat aborsievoorstanders vermoor en homoseksuele beswadder. Wat sulke uitbarstings betref, kwyt The God Delusion hom inderdaad uitstekend van sy taak. Die twee dodelikste tekste op die planeet – buiten moontlik Donald Rumsfeld se e-posse – is die Bybel en die Koran, en Dawkins – een van die beste sowel as een van die slegste liberale – het hom oor die jare uitstekend daarvan gekwyt om uit te praat teen daardie besondere vertakking van psigopatologie, bekend as fundamentalisme, van Texas of die Taliban. Hy is reg om die soort soetsappige liberalisme wat glo dat ’n mens ander mense se lawwe of aanstootlike idees moet respekteer bloot omdat dit ander mense s’n is, kort te vat. Op sy eie bewonderenswaardige wyse betoog The God Delusion dat die status van ateïste in die VSA deesdae min of meer dieselfde as dié van gays vyftig jaar gelede is. Die boek is vol lewendige brokkies van die naakte afgryse van religie, fundamentalisties of andersins. Bykans 50% van Amerikaners glo dat ’n heerlike Wederkoms op hande is, en sommige van hulle doen hulle uiterste bes om dit te verhaas. Maar Dawkins kon dit alles vir ons vertel het sonder om so aanstootlik bitsig te wees oor daardie wetenskaplike kollegas van hom wat van hom verskil, en sonder om so teologies ongeletterd te wees. Hy kon dit ook vermy het om die tweede mees vermelde individu in die boek te wees – as jy God as individu tel. _________ (1) Onversetlike Noord-Ierse Protestantse politikus – nota van die redakteur. (2) Amerikaanse TV-evangelis – nota van die redakteur. (3) Diegene wat beweer dat sintuiglike waarneming die enigste geldige basis vir kennis en denke is. (4) Vreemde, vlieënde voorwerp – nota van die redakteur. (5) Amerikaanse visepresident van 1991 tot 1999 – nota van die redakteur. (6) Fundamentalistiese Christelike ontkenners van die ewolusieleer – nota van die redakteur. (7) ’n Verwysing na Sigmund Freud se psigoanalitiese teorie, waar die superego die wette van die samelewing is wat op onderdrukkende wyse op die onbewuste begeertes van die mens inspeel – nota van die redakteur. (8) Strafkampstelsel in die voormalige Sowjet-unie – nota van die redakteur. |