|
||||
Olivier Vilain
*Joernalis. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
General Electric (GE) se huidige hoofbestuurder, Jeffrey Immelt, het sy amp op 10 September 2001 betree ... In die daaropvolgende dae en maande het drie van die firma se belangrikste sektore ernstige tekens van wankelrigheid getoon: vliegtuigmotore as gevolg van die krisis in lugvervoer; herversekering (die versekering van versekeraars) weens die volume uitbetalings ná die aanvalle op 11 September 2001; kragsentrale-turbines nadat die Enron-debakel die ganse energiesektor benadeel het. Vyf jaar later het die maatskappy se aandeelmarkwaarde nog nie van die skokke herstel nie. Sedert 2001 het dit met 14% geval. Origens gaan dit skynbaar goed. In elk geval kom dit voor of die pers van General Electric hou. Vir agt opeenvolgende jare is GE deur Financial Times as die “mees gerespekteerde firma” van die jaar uitgelig; op 22 Februarie hierdie jaar word dit ook deur die tydskrif Fortune as die “mees bewonderenswaardige” maatskappy benoem. Sulke eerbetonings is uiters gesog onder multinasionale maatskappye. Om dit in dieselfde jaar van twee internasionaal toonaangewende publikasies te ontvang, maak die eer des te groter. En wat nog te sê van die reëlmaat waarmee GE so uitgesonder word? In totaal het die dagblad van die City hom die titel van “mees gerespekteerde firma” sewe keer die afgelope agt jaar toegedeel. En vir die Amerikaanse tydskrif was GE elke jaar vanaf 1998 tot 2002 die “bewonderenswaardigste” maatskappy/firma. Met takke in veertig lande is en bly GE die grootste industriële konglomeraat ter wêreld; sy aandeelkapitalisering word ook net-net oortref deur ExxonMobil, die oliereus. Sy finansiële dienste toon opbrengste wat slegs vir die grootste Amerikaanse banke terugstaan; sy vliegtuighuur-filiaal se vloot is groter as dié van American Airlines, en sy verbruikerskrediet-filiaal bestuur meer kaarte as American Express. Met sy 163 miljard dollar omset aangeteken in 2006, genereer GE soveel rykdom soos die hele Argentinië, die vier-en-dertigste rykste nasie op aarde. In 2005 oorskry die 16,3 miljard dollar wins opgelewer deur die multinasionaal die rekordprofyt van Total; tussen 1989 en 2004 maak hy 139 miljard dollar wins, byna net soveel soos IBM, McDonalds en Wal-Mart gesamentlik (1). Uit die totaal het 61,3 miljard dollar in die vorm van dividende in die aandeelhouers se sakke beland. Nog dertig miljard gaan in die terugkoop van GE-aandele op finansiële markte (2). Die pers en bestuurskole se heldeverering van General Electric vind sy teenhanger wanneer daar gepraat word van mnr. John Francis (“Jack”) Welch Jr, wat tussen 1981 en 2001 aan die stuur van die groep gestaan het. In November 2003 vereer The Economist hom as “bestuurder van die 20ste eeu”. ’n Jaar voor sy aftrede kan Forbes beswaarlik ’n sekere angstigheid verberg: “Min mense onthou nog die opvolger van Mao Tse-Tung, die president wat Lincoln vervang het, of die naam van die dirigent wat die leisels by Leonard Bernstein oorgeneem het (...). Die skadu wat Jack Welch oor GE gooi, is van hierdie orde.” Gevra in November 2004 watter “historiese figure” hulle graag op hulle direksie sou wou sien, het topbestuurders mnr. Welch se naam saam met dié van Bill Gates, Winston Churchill, Carlos Ghosn en Jesus Christus genoem. Maar sommige menings is meer krities ... In April 2002 het die vereniging United for a Fair Economy, wat boek hou van ongelykhede, GE byvoorbeeld geklassifiseer onder die “Titane van die Enron-styl ekonomie”, vernoem na die firma wat slegs tot die voordeel van ’n handjievol aandeelhouers bestuur is en wat dieselfde jaar nog in duie sou stort. Sowat tien multinasionale maatskappye het elk ’n negatiewe streep van hierdie nuwe kapitalisme weg. Onder die indruk dat GE verskeie hiervan saamvat, ken die vereniging hom die jurie se spesiale prys toe vir “die werk van ’n hele lewe”. Thomas O’Boyle, voormalige joernalis by die Wall Street Journal wat ’n gedetailleerde ondersoek van die firma gedoen het, meen dat hoewel laasgenoemde “een van die belangrikste en mees fassinerende instellings van die 20ste eeuse Amerikaanse samelewing is”, dit ook een is wat die rol van ’n tussenganger speel tussen ’n “paternalistiese kapitalisme” en ’n ander, “kannibalistiese” weergawe wat gekenmerk word deur die onderwerping van nywerheidsgroepe aan die winsgewendheidseise van spekulante. “Om aandeelhouers tevrede te stel,” verduidelik hy, “het die voltydse preokkupasie van hoofbestuurders geword, en nie een van hulle wy hom so ten volle daaraan soos Jack Welch nie” (2). Gevolg: nywerheidsontwikkeling word agterweë gelaat en die werknemers, wat vroeër opgehef en beskerm is, voel dat hulle vyandig behandel en bedreig word. Deurdat vorige bestuurders van GE-filiale aan die stuur van ander Amerikaanse maatskappye geplaas is – onder meer die leier in die verspreiding van selfdoenvoorrade, Home Depot, die kleefstofvervaardiger 3M of die lugvaartsubkontrakteur Honeywell – het dié soort ontwrigting deur die hele Amerikaanse maatskappyewêreld versprei. General Electric is in 1892 gebore uit die samesmelting van twee maatskappye, onder meer dié van die uitvinder Thomas Edison. Vanaf sy stigting die jaar daarop vorm GE deel van die Dow Jones-indeks. Uit die agtien grootste Wallstraat-firmas waaruit die indeks destyds bestaan het (vandag sluit dit dertig in), is GE die laaste oorlewende. Belangriker nog, hierdie maatskappy het die Amerikaanse nywerheid gevorm deur ontelbare uitvindings, van die broodrooster tot optiese vesel. Vir ’n groot gedeelte van die 20ste eeu was dit die belangrikste hoëtegnologiemaatskappy ter wêreld; verskeie van sy ingenieurs was Nobelpryswenners vir chemie en fisika, en sy kundigheid in elektrisiteit en elektronika sou hom blywend die grootste portefeulje van industriële patente besorg. Die firma voer ook sy bestuurstrategieë uit: in 1935 besit hy reeds beleggings in Japan, Frankryk, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Nederland. Met die tweede wêreldoorlog word die Pentagon sy grootste kliënt; twintig jaar later slaan General Electric munt uit bestellings wat met die Viëtnamoorlog verband hou. Vanaf 1951 innoveer en desentraliseer die firma sy operasionele departemente op die vlak van sy filiale. Dit is trouens kort hierna dat Ronald Reagan as akteur die land in die maatskappy se naam deurkruis ten einde dié verbrokkeling teen te werk en ’n verenigde beeld en aanskyn van GE te behou. Desentralisering stel in ieder geval buffers daar, aangesien die bestuurders ’n stelsel van reëls en prosedures soos in agt Blouboeke uiteengesit tot op die letter moet nakom. Ingenieurs wat vroeër aan die hoof van GE-maatskappye gestaan het, gee nou die leisels oor aan finansiers wie se breër agtergrond hulle in staat stel om opeenvolgend verskeie filiale van die groep te bestuur. Reginald Jones, hoofbestuurder van 1972 tot 1981, moedig hierdie beweeglikheid van topbestuur aan en voeg daarby ’n “strategiese” beplanning wat die evolusie van elke filiaal vir etlike jare vooruit skou. Hierdie bestuursinnoverings word almal deur ander Amerikaanse maatskappye nageboots. Op maatskaplike gebied doen GE ook pionierswerk. In die 1930's stel hulle aftree-spaarplanne in ten einde “werknemers van vakbonde af weg te hou”. Ten tyde van die Groot Depressie pas Gerard Swope, wat die groep van 1922 tot 1940 lei, nie grootskaalse afdankings toe nie, en voorsien hy die demokratiese president Franklin D. Roosevelt van raad in die toepassing van sy New Deal. Tot in 1981 funksioneer “Generous Electric” – soos werknemers dit geslagte lank genoem het – volgens die Ford-model, wat impliseer dat vervaardigde rykdom onder die werknemers herverdeel word. Hulle koopkrag ondersteun verkope in die Amerikaanse ekonomie. Niemand is in die 1960's in staat om hierdie rigting teen te staan nie: die vakbonde is magtig en, soos die ekonoom John Kenneth Galbraith opmerk, in maatskappye so groot soos General Electric “is die bydrae van aanvanklike beleggers nie beduidend nie; in elkeen van hulle is die winste wat in enkele ure of dae gemaak word, genoeg om dit uit te koop. In geeneen van hulle kan die individuele aandeelhouer aanspraak maak op ’n porsie van die mag nie” (4). Die man wat hierdie model in heroorweging bring, is die chemiese ingenieur, Jack Welch. Hy word benoem tot hoofbestuurder in 1981 nadat hy sy hele loopbaan lank in die groep gewerk het. Waar sy voorgangers, soos die tydskrif Fortune opmerk, “versigtig was om ’n balans tussen die belange van werknemers, aandeelhouers en die maatskappy as ’n geheel te behou, stel Welch die prys van GE-aandele as die nuwe maatstaf” (5). Hierdie ommeswaai toon die verandering in die magsverhouding wat plaasvind toe Ronald Reagan, pas verkies tot die Withuis, finansiële markte “bevry” van die politieke voogdy wat deur die 1929-krisis op hulle afgedwing is. Pensioenfondse en ander gesamentlike beleggingsfondse word die belangrikste aandeelhouers in Wallstraat, hulle eise om wins word deurgaans groter, en bestuurders wat dit nie begryp nie, word uit die pad gestoot. Inaggenome die lae prys van sy aandele, is GE uiters kwesbaar vir ’n vyandige oorname deur middel van ’n openbare koopaanbod. Jack Welch spits hom daarop toe om dit te verhoed. Hy begin deur begrotingstekort-aktiwiteite uit te brei: “Daar was,” verduidelik hy, “174 mense in beheer van beplanning en drie aktiwiteite het die afgelope 20 jaar geld verloor.” (6) Voortaan, soos hy dit stel, moet daar voortdurend “meer sap uit die suurlemoen gedruk” word. (7). Deur telkens sy jaarlikse resultate met dubbelsyfers op te stoot, beland die konglomeraat kort voor lank buite die bereik van moontlike stropers. Dit word selfs die grootste markkapitalisering ter wêreld. Die maatskappy se Wallstraat-waarde vermenigvuldig met dertig tussen 1981 en 2001, toe mnr. Welch uittree. GE se waarde is vandag soveel as dié van Total, EDF, GDF, Suez, Saint-Gobain en Alcatel gesamentlik (8). So ’n metamorfose gaan met newe-effekte gepaard. “Mense is bevrees omdat hulle nie werksekerheid het nie, maar ’n maatskappy wat teen ’n verlies werk, kan niks vir hulle doen nie,” is mnr. Welch se antwoord. “Dit is dié wat wins maak wat vir hulle ’n toekoms kan bied.” Bestempel as die “evangelis van bestuur” deur die Amerikaanse weekblad Business Week in Oktober 2004, werk hy aan die verhoging van produktiwiteit en, vir sover een slagspreuk ’n ander vervang, aan die verhoging van skattings. In die 1980's produseer ’n fabriek in Erie, Pennsylvania, 350 lokomotiewe per jaar met die ekwivalent van 7 500 mense in diens. In 2000 kyk ons na 911 lokomotiewe per jaar met 3 500 poste minder (9). Al hoe meer fabrieke word ook gesluit. Subkontraktering word ’n algemene praktyk. Die groep se aantal werknemers verminder van 400 000 na 300 000 onder mnr. Welch se heerskappy. Maar as ’n mens die werknemersyfers van die 1 000 maatskappye wat GE tussen 1981 en 2001 aangekoop het byreken, kom die aantal afgeskafte poste op 500 000 te staan. Dié verloop van sake besorg aan die hoofbestuurder die benaming “Neutron Jack”, met verwysing na die effek van die gelyknamige bom: geboue word leeggemaak van werknemers, maar die mure bly staan. Al wat hom te doen staan, is om jaarliks van 10% van die groep se werknemers, “die mins doeltreffendes”, ontslae te raak, ’n beleid wat deur sy opvolger, mnr. Immelt, voortgesit word, maar op ’n “minder streng” manier (10). Vir mnr. Welch was dit in ieder geval “die beste teenmiddel vir die ontwikkeling van ’n burokrasie”. Ook hier is die ommeswaai van die era duidelik: werkskepping tel nie meer onder die oogmerke van die kapitalisme nie, en die afdanking van werkers word as ’n teken van waagmoed gesien. Tydens ’n konferensie verlede Junie in La Baule, Frankryk, waar byna 800 internasionale beleggers en verteenwoordigers van Europese ontwikkelingsagentskappe byeengekom het, het mnr. Immelt, aan wie die Franse minister van ekonomie, Thierry Breton, die rang van offisier in die Erelegioen toegeken het, politici trouens daarvan beskuldig dat hulle slegs hulle verantwoordelikhede “aanskuif” eerder as om dit te aanvaar. “Wanneer ek oor GE se prioriteite besluit, vra ek nie die werknemers se mening nie.” (11)
“Die ideaal,” droom mnr. Welch, “is dat elke fabriek op ’n boot gelaai word.” Nodeloos om te sê dat die multinasionale maatskappy sedert 1994 van die Noord-Atlantiese Vryhandelsooreenkoms (Nafta) (12) gebruik maak om fabrieke tot oorkant die Mexikaanse grens te verskuif. Voor die Huis van Verteenwoordigers se kommissie van buitelandse sake, tydens die debatte wat die aanvaarding van die verdrag deur die Clinton-administrasie voorafgegaan het, het General Electric egter die getalle afgerits van al die werksgeleenthede wat danksy dié ooreenkoms in die VSA gered sou word (13). Vyf jaar nadat dit in werking gestel is, wys die tydskrif Multinational Monitor daarop dat sommige van die groep se filiale druk op hulle subkontrakteurs uitoefen om hulle na Mexiko te volg ... In 1991 het GE nog vier maal soveel mense in die VSA in diens gehad as in die res van die wêreld. Tans is die verhouding 1,15 tot 1, en die omset wêreldwyd (veral Europa, Indië, China) is 80 miljard dollar, oftewel die helfte van die totaal. “Globalisering,” beweer die voormalige hoofbestuurder, “is die doeltreffendste manier om die lewensgehalte in arm lande te verbeter.” Op 8 Desember 1981, agt maande nadat hy as hoof van die maatskappy aangestel is, verduidelik mnr. Welch aan finansiële ontleders wat in die Pierre Hotel in New York byeengekom het, dat die firma in ’n “totale oorlog” teen die lae prys van sy aandele gewikkel is, en dat hy van filiale verwag om nommer een of nommer twee in hulle sektor te wees indien hulle nie verkoop wil word nie. Om die daad by die woord te voeg, raak GE ontslae van ’n steenkoolmyn, ’n platevervaardiger, satellietbedrywighede, ens. Ten einde nie die steeds strawwer mededinging van Japannese produkte die hoof te moet bied nie, doen mnr. Welch selfs afstand van verbruikerselektronika, hoewel GE voorop in dié sektor in die Amerikaanse mark is. Fabrieke wat klein huishoudelike elektriese toerusting vervaardig, word in 1983 van die hand gesit sonder om die maatskappye se bestuur in die saak te ken. “Dit is asof General Motors ophou om motorkarre te vervaardig,” is die New York Times se kommentaar. In die bestek van twintig jaar verlaat 400 maatskappye op hierdie wyse die wentelbaan van die groep. Maar die beweging vind nie net in een rigting plaas nie: oor die duisend firmas word deur die multinasionale groep aangekoop. Die afdanking van 130 000 werknemers en die verkoop van meer as 100 filiale bring vir GE 6,5 miljard dollar in tussen 1981 en 1986. Hierdie aardige sommetjie word aangewend vir koorsagtige aankope wat sy winste nog vinniger moet opstoot. Waar die groep aanvanklik sy inkopies gedoen het in mediese toerusting (Compagnie Générale de Radiologie in 1987), die vervaardiging van elektriese gloeilampe (die Hongaarse Tunsgram in 1989) of chemie (plastiek by Borg-Warner in 1988), bou hy voorts eerder uit in finansiële dienste (makelary en versekering in die 1980's). Laasgenoemde aktiwiteit, wat vir ’n tyd lank GE Capital genoem is, verteenwoordig in 1981 slegs 10% van die groep se omset. Twintig jaar later is dié verhouding verviervoudig. In 1986 bestee GE 6 miljard dollar aan sy mees emblematiese aankoop: dié van RCA. Welch likwideer laasgenoemde se industriële bedrywighede en behou slegs die televisienetwerk NBC. Aanvanklik in 1919 gestig as filiaal van GE en die Britse Marconi, word RCA in 1932 outonoom as gevolg van die Amerikaanse regering se anti-trust-optrede. RCA se terugkeer na GE-geledere werk ten gunste van die nuwe reëls wat “konsolidering” voorstaan, en wat besig is om die Amerikaanse radio- en televisiewese te omvorm (14). GE se bedrywighede fokus egter op die finansiële bestuur van sy bates. Die geld wat vir aankope aangewend word, is nie meer beskikbaar vir die ontwikkeling van industriële bedrywighede nie. Tussen 2001 en 2003, merk die Wall Street Journal op, “het die bars van die spekulasie-borrel in die 1990's dit duidelik gemaak dat, hoewel die inisiatiewe van die GE-bestuur ongetwyfeld winsgewendheid verhoog en profyte opgestoot het, dit terselfdertyd ook baie tekortkominge verdoesel het” (15). Soos byvoorbeeld die 19% afname in reële terme in navorsing- en ontwikkelingsuitgawes tydens die dekade 1990. In die vorige eeu was die firma aan die voorpunt van innovering; tans figureer hy nie meer op die jaarlikse lys van die twintig grootste vervaardigers van industriële patente nie. Sonder die produkte wat in die 1960's en 1970's deur sy plastiek- en lugvaartfiliale teen ’n verlies ontwikkel is, sou Welch egter nie die winste kon smaak wat hierdie uitvindsels later sou genereer nie. Sy opvolger, bewus van die gevaar, verkoop weer ’n deel van die maatskappy se finansiële bedrywighede en verhoog die uitgawes wat aan navorsing en ontwikkeling gewy word tot soveel as 3,1 miljard dollar in 2004 (16). Voortaan word die aksent geplaas op tegnologieë wat veral bydra tot die vermindering van kweekhuisgasse. General Electric hoop selfs om eendag mnr. George W. Bush te oorreed om die Kyoto-verdrag te onderteken, wat Amerikaanse nywerhede sal verplig om kwotas op die vervaardiging van kweekhuisgasse te respekteer. Sedert sy ontstaan kon die maatskappy nog altyd op die Amerikaanse welsynstaat reken. “Suksesvolle firmas is die enigste stutpilare van ’n land soos ons s’n; state skep niks nie,” verkondig mnr. Welch egter (17). Maar tussen 1990 en 2002 (dus tydens sy bewind), hou die maatskappy die rekord vir openbare bestellings ten bedrae van ’n som wat die Center for Public Integrity op 43,7 miljard dollar beraam. Danksy uitvoerbystand en talle plaaslike subsidies is dit ook die Amerikaanse multinasionale groep wat die meeste voordeel getrek het uit belastingkortings op maatskappywinste wat in die VSA gemaak is (18). Tussen 2001 en 2003 byvoorbeeld, betaal hy ingevolge hiervan slegs 3,4 miljard dollar aan belasting; besparing: 9,5 miljard. Maar tussen 1996 en 1998 het die firma reeds ’n korting van 6,9 miljard dollar ontvang ... So ’n meevaller staan nie heeltemal los van die “beleggings” wat die groep toegestaan het ten einde openbare beleid te rig nie. Die besit van die televisienetwerk NBC en die aankoop in 2003 van Universal Studios en sy kabelkanale by Vivendi (wat 20% van die kapitaal behou), gee aan GE ’n sekere mate van invloed. Maar sy topbestuur word ook genader deur verkiesingsveldtogfinansiers: tussen 1990 en 2006 beloop hulle skenkings 12 miljoen dollar. Die groep gee egter voorkeur aan direkte stemwerwery. In die eerste helfte van 2005 alleen wy hy 13,9 miljoen dollar hieraan – ’n feitlik ongeëwenaarde som in die VSA (19). Hy spesialiseer ook in strategiese werwing. In Frankryk word die firma tans bestuur deur Clara Gaymard, wat haar lys van kennisse wat sy as hoof van die Franse agentskap vir internasionale beleggings opgebou het, tot haar nuwe werkgewer se beskikking kan stel. Nadat hy die aandeelhouers gegee het wat hulle wou hê, is Jack Welch ruimskoots vergoed. Slegs in die jaar 2000 ontvang hy 164 miljoen dollar, wat die verkoop insluit van aandele wat aan hom behoort. Die daaropvolgende jaar verdien hy nog 16 miljoen dollar, plus ’n bonus (van 9 miljoen dollar) as “aftreegeskenk”. Twintig jaar aan die roer van GE het aan dié voormalige hoofbestuurder ’n boedel van ’n geraamde 900 miljoen dollar besorg ... Die vergoeding is in verhouding met die opvoedingstaak wat hy verrig het: in 1981 is hy deur die CBS se nuustydskrifprogram 60 Minutes geroskam omdat hy ’n fabriek in Kalifornië gesluit het. “Vandag,” klop hy homself op die skouer, “aanvaar die Amerikaanse samelewing mededinging.” Kortweg gestel, “hy moderniseer” (20).
__________ (1) “Wall Street Week”, PBS, 13 September 2002 en die maatskappye se jaarverslae sedert 2002. (2) David Paul, “GE long term debts skyrocketing”, Bloomberg-agentskap, April 2003, en Thomas O’Boyle, At Any Cost: Jack Welch, General Electric and the Pursuit of Profit, New York: Alfred A.Knopf, 1998. (3) Thomas O’Boyle, op. cit. (4) John K. Galbraith, The new industrial state, Boston: Houghton Mifflin, 1967. (Bl. 114 in Franse uitgawe.) (5) “Tyrants, statesmen and destroyers, a brief history of the C.E.O.”, Fortune, 18 November 2002. (6) “Want to win? Here’s some practical advice from Jack Welch”, Bulletin van die Wharton-bestuurskool, 1 Junie 2005. (7) Ibid. (8) Kapitalisering en markprys in euro/dollar na afloop van die eerste helfte van 2006. (9) Aldus John Hovis, leier van een van die maatskappy se grootste vakbonde, United Electrical Workers (UEW), in “The case against GE”, Multinational Monitor, Julie-Augustus 2001. (10) Lees Kathryn Kranhold, “Five years later, Immelt transforms GE”, The Wall Street Journal, 11 September 2006. (11) Le Monde, 5 Julie 2005. (12) Canada, VSA, Mexiko. (13) Cf. “Nafta’s broken promise: Failure to create U.S. jobs”, Public Citizen, , 01.02.97. Lees ook Serge Halimi, “Triomphe ruineux pour l’administration démocrate”, Le Monde diplomatique, Desember 1993. (14) Lees Eric Klinenberg, “Dix maîtres des médias américains”, Le Monde diplomatique, April 2003. (15) “GE’s Immelt renovates house that Jack built”, The Wall Street Journal, 6 Februarie 2003. (16) “A lean, clean electric machine”, The Economist, 10 Desember 2005. (17) “Want to win”, op. cit. (18) Volgens ’n studie van die vereniging Citizen for Tax Justice aangaande 275 van die grootste Amerikaanse maatskappye. In “Corporate income taxes in the Bush years”, Citizen for Tax Justice & Institute on Taxation and Economic Justice (ITEP), September 2004. Lees ook “Corporate income taxes in the 90’s”, ITEP, Oktober 2000. (19) The Wall Street Journal, 14.02.06 (20) “How Jack Welch runs GE”, Business Week, 8 Junie 1998. |