|
|||
Stefan Durand
* Joernalis. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
“Hulle loop te koop met groot konsepte, so groot soos ’n hol tand. DIE reg, DIE mag, DIE leier, DIE wêreld, DIE opstand, DIE geloof. So kan hulle ook growwe saamflansings, haastige kombinasies maak: die reg en die rebel, mag en die engel.” So “vernietig hulle die werk” waardeur begrippe “gevorm" word "met fyn, of uiters gedifferensieerde omskrywing, juis om growwe, dualistiese opvattings te vermy”. Met dié woorde kraak Gilles Deleuze in 1977 af wat hy bestempel as die “nuttelose denke” van die “nuwe filosowe”. Dertig jaar later staan hierdie denkers, nog net so “nutteloos” maar nie meer so “nuut” nie en nog steeds nie “filosowe” nie, aan die voorpunt om, deur middel van nog so ’n “growwe saamflansing”, die groot konsep van “Islamitiese fascisme” in Frankryk te verkondig. ’n Mens sou dit nog kon ignoreer, was dit nie dat die konsep in die openbaar deur die president van die VSA, mnr. George W. Bush, op 7 Augustus 2006 gebruik is nie, soos ook in ander amptelike Amerikaanse uitlatings waarin wyd uiteenlopende organisasies (Al-Kaida, die Moslem-Broeders, Hamas, Hisbolla…) saamgegooi word en die “opvolgers van die Nazisme en die Kommunisme” gemaak word. Om fundamentalistiese Moslem- bewegings oor een kam te skeer met wat in die 20ste eeu sonder onderskeid “totalitarismes” genoem word, is nie onskuldig nie. Dit is daarop gemik om opnuut legitimiteit aan oorlogsugtige beleide te gee, met behulp van veralgemenings en die ou taktieke van die “vreespolitiek”. Dit is die joernalis Stephen Schwartz (1) wat in die neokonserwatiewe weekblad The Weekly Standard vir die neologisme “islamofascisme” pa staan, en wat ook meewerk aan ’n hoogs kontroversiële webwerf, FrontPage Magazine van David Horowitz, ’n bewonderaar van Oriana Fallaci se boek La Rage et l’orgueil (2) waarin talle stellings as rassisties beskou word. Nietemin, aangesien hy eers in 2001 die eerste keer die term gebruik het, is dit nie Schwartz wat die uitdrukking uitgedink het nie, maar die historikus Malise Ruthven in 1990, in die Britse dagblad The Independent (3). Christoper Hitchens maak die uitdrukking gewild in die VSA. Dié briljante joernalis, voorheen linksgesind, skaar hom by president Bush se oorlog teen Irak. Maar dit is waarskynlik te danke aan die Midde-Ooste-kenner Bernard Lewis (4), raadgewer by die Withuis, met sy skerp vyandige houding jeens Islam, dat die uitdrukking sy weg tot in die president se amptelike diskoers gevind het. Schwartz beskou homself trouens as ’n dissipel van Bernard Lewis. Berus ’n mens jou by die tradisionele teoretiese definisies soos geformuleer deur kenners van die fascisme (Hannah Arendt, Renzo de Felice, Stanley Payne of Robert Paxton), merk jy dat nie een van die Islamitiese bewegings wat president George W. Bush onder die uitdrukking “islamofascisme” saamgooi, aan die vereistes voldoen nie. Nie dat godsdiens onversoenbaar met fascisme is nie. Waar Payne reken dat fascisme ’n sekulêre ruimte nodig het om te ontwikkel (5), is Paxton en ander se antwoord dat dit slegs waar is in die geval van Europa. Dit is heel moontlik dat daar ’n Moslem-fascisme kan bestaan, soos ook ’n Christelike fascisme, ’n Hindu-fascisme en ’n Joodse fascisme. Maar die bewegings waarna die Bush-administrasie die vinger wys, pas nie in hierdie kategorie nie. Islamisme moet beskou word as ’n hedendaagse verskynsel, iets nuuts en op sy eie. Sommige elemente van tradisionele fascisme kan inderdaad in fundamentalistiese Moslembewegings gesien word: die paramilitêre dimensie, die gevoel van vernedering en die kultus van die charismatiese leier (hoewel in ’n relatiewe mate wat nouliks met die kultusse van die Duce of die Führer vergelykbaar is). Maar al die ander fundamentele dimensies van fascisme (ekspansionistiese nasionalisme, korporatisme, burokrasie, kultus van die liggaam ...) ontbreek meestal. Islamitiese bewegings is dikwels transnasionaal, en dus ver verwyderd van die “integrale nasionalisme” wat die Europese fascismes van die 1930’s gekenmerk het. Fascisme was van nature imperialisties en ekspansionisties. Hoewel dit waar is dat daar Al-Kaida-selle in talle lande werksaam is en dat sekere Islamitiese bewegings hunker na ’n herwinning van Andalusië of Sisilië en die herstel van die kalifaat, is groeperinge soos Hamas en Hisbolla, hoe betwisbaar hulle godsdienstige neigings en sommige van hulle gewapende optredes (veral die aanvalle op burgerlikes om terreur te saai) ook mag wees, gekant teen territoriale besettings. Op sy beurt is die Taliban-regime in Afganistan, met sy godsdienstige absolutisme, eerder verwant aan die reaksionêre teokrasieë van die Middeleeue as aan die fascistiese regimes wat na afloop van die Eerste Wêreldoorlog in industriële lande die kop uitgesteek het. Die korporatistiese dimensie – ’n byna verknogte band tussen die staat, maatskappye en gildes – wat inherent aan die fascisme is, is ook afwesig in die Islamitiese konteks (die tans noue band in Iran tussen Oosterse mark-handelaars en die Islamitiese regime kan nie daarmee vergelyk word nie). Daarby word Islamitiese bewegings in die algemeen nie deur die militêr-industriële stelsel van ’n land ondersteun nie, selfs al sou die verband tussen die religieuse staat en die magtige militêre bedryf in Iran ’n mens die teendeel kon laat glo. Maar hierdie verband bestaan ook in ander lande wat ’n mens kwalik as “fascisties” sou bestempel, byvoorbeeld die VSA, Frankryk of Japan. ’n “Eensgesinde staat” is ’n noodsaaklike voorvereiste vir die uitoefening van fascistiese mag. Die betrokke Islamitiese groepe is egter merendeels niestaatlike organisasies, aan die rand van die mag in hulle land, of word vervolg deur laasgenoemde. Daarbenewens, hoe teenstrydig dit ook mag klink vir bewegings wat ideologies deur godsdiens gestruktureer word, blyk ideologiese aspekte dikwels van sekondêre belang te wees in hierdie Islamitiese organisasies, terwyl Raymond Aron klem lê op die “waansinnige ruimte” wat ideologie in enige totalitêre stelsel inneem, wat volgens hom berus op ’n “voorrang van die ideologie” (6). Islamitiese bewegings gebruik godsdiens as instrument en probeer om dit as ’n ideologie in te span, maar daar is geen strewe by hulle om ’n “nuwe mens” te skep soos in Europa die geval is nie. Dit gaan eerder om ou godsdienstige of samelewingsargaïsmes as om ’n globale, koherente ideologie. Boonop het sulke bewegings hulle sukses dikwels aan ander, nie-ideologiese faktore te danke. ’n Voorbeeld is die verkiesingsoorwinning van Hamas wat nie soseer op die Palestynse volk se steun vir die beweging se religieuse ideologie dui nie, maar eerder die gevolg is van ’n sanksie-stem teen die korrupsie van die Fatah. In Libanon steun meniges Hisbolla sonder om sy Islamitiese ideologie te onderskryf. En die intelligentsia wat hulle by dié bewegings skaar, doen dit dikwels in weerwil van die Islamitiese ideologie, en nie uit samehorigheid daarmee nie. Fascisme en Nazisme as ideologieë het daarenteen derduisende intellektuele getrek, onder wie sommige hoogaangeskrewenes. Al-Kaida kan byvoorbeeld op min steun van hierdie aard aanspraak maak, en sy ideologie, met bitter min om die lyf, herinner meer aan dié van ou sektariese verskynsels as aan Fascistiese regimes in Europa. Fascisme en Nazisme was massabewegings, gebou op ’n verpolitisering en instemming van die menigtes, terwyl Islamitiese organisasies, ten spyte van al die gunstige elemente soos ekonomiese krisis en algemene vernedering, hulle in die meeste Moslem-lande vasloop teen burgerlike samelewings wat hulle vryheid op prys stel. Dié wat fundamentalistiese Moslembewegings in Noord-Afrika steun, is nie veel meer in getal as diegene wat verregse bewegings in Europa steun nie. En, soos Robert Paxton skryf: “Wat ons bowenal weerhou van die versoeking om fundamentalistiese Islamitiese bewegings soos Al-Kaida en die Taliban as fascisties af te maak, is dat hulle nie die gevolg van ’n reaksie teen wanfunksionerende demokrasieë is nie. Hulle eenheid is organies eerder as meganies, om die beroemde onderskeid van Emile Durkheim aan te haal (7).” Bowenal kan sulke bewegings nie “van vrye instellings afstand doen” nie, aangesien hulle nooit so iets gehad het nie (8). ’n Mens kan nog baie ander elemente noem wat hierdie analogie met Fascisme weerspreek: geen monopolie oor inligting nie (selfs in Iran of in Saoedi-Arabië, ondanks die streng beheer van die godsdienstige owerhede, is daar krake wat ’n mate van vryheid laat deurglip), geen maatskaplike Darwinisme nie, geen staatsbeheerde ekonomie of beplande mobilisering van nywerhede nie, geen wapenmonopolie nie ... Die geval van die Islamitiese Republiek van Iran is wel problematies. Mnr. Mahmoed Ahmadinejad maak staat op ’n “eensgesinde staat”, oefen streng beheer oor die media uit deur middel van ’n minister van kultuur en Islamitiese gesindheid, en mobiliseer sy – staatsbeheerde – ekonomie asook sy imposante industrieel-militêre stelsel. Maar sou ’n mens, selfs in hierdie geval, kon praat van islamofascisme? Nie regtig nie, vir sover daar steeds talle opponerende magte is en die burgerlike samelewing behoedsaam bly. Die Iranse president moet met die Majlis (Parlement) oor die weg kom, en dit het hom maande geneem om dié sover te kry om sekere ministers in te huldig. Die nommer Een van die staat van Iran en “opperleidsman”, die ajatolla Khomeini, het boonop die besluite van mnr. Ahmadinejad onderhewig gemaak aan die bekragtiging van die Raad van Oordeel, onder voorsitterskap van Hachemi Rafsandjani, niemand minder nie as die kandidaat wat in die presidentsverkiesing deur mnr. Ahmadinejad uitgeskakel is. Mnr. Ahmadinejad moet ook saamleef met die vorige president, die “hervormer” Khatami, wat ’n nie-onbeduidende gewildheid behou het. Die rubriekskrywer Tzvi Barel voer in Haaretz aan dat die Iranse president se anti-Israeliese uitvaardery “inderwaarheid verklaar word deur die ideologiese spanninge en magsverhoudings binne die Islamitiese Republiek” (9). Daarby het mnr. Ahmadinejad die “populis” ook heelwat moeite om die elite te oorreed, en ’n groot deel van die Iranse burgerlike samelewing is vasbeslote om die greep van ultra-konserwatiewes te beveg. Hoewel die generiese term “islamofascisme” teenstrydig lyk, beteken dit nie dat fascistiese insypeling totaal afwesig uit die Islamitiese konteks is nie. Die Arabiese en Moslem-wêreld ken ’n aansienlike aantal diktators en outoritêre regimes wat ’n mens as fascisties sou kon beskryf, en wat dikwels met die VSA verbind is in hulle “wêreldoorlog teen terrorisme”. Die diktators van Azerbeidjan, Uzbekistan, Kazakstan en Turkmenistan, vier Moslem-state, spring eienaardig genoeg Amerikaanse kritiek vry, hoewel die semi-fascistiese aard van dié regimes ooglopend is. Die Saoediese monargie geniet guns in Washington, ondanks sy fundamentalisme en godsdienstige reaksionêrheid, sy steun aan radikale Islamitiese bewegings en sy roekelose uitlatings. Die steun van die Amerikaanse buitelandse beleid lyk na ’n kwytskelding vir enige outokratiese en fascistiese vergryp. Noudat hy in die goeie boeke in kanselarye is nadat hy sy stormagtige verlede afgesweer het, soos Washington beweer, kon kolonel Moeammar Gaddafi die sewe-en-dertigste herdenking van sy bewindoorname vier met ’n oproep tot moord op sy teenstanders, sonder dat die Weste ’n oog knip (10). Sou die term “fascisties” geregverdig kon word met betrekking tot president Saddam Hoessein, die Baasiste en hulle mukabarat (geheime dienste) in Irak? Ongetwyfeld. Saddam Hoessein se regime was ultranasionalisties, het berus op die oordrewe kultus van die leier, het geen onderskeid tussen openbaar en privaat getref nie en was bowendien ekspansionisties. Tydens ’n konferensie in Koeweit in 1987 waarsku Edward Said teen die regeerders van die Golfstreek: “Deur julle voortgesette finansiële steun aan Saddam Hoessein maak julle julle medepligtig aan hierdie Arabiese fascisme, waarvan julle uiteindelik die slagoffers sal wees.” Dit is eers op 2 Augustus 1990, ná die inval in hulle land, dat die Koeweitse leiers begryp. Die geveinsdheid is des te skreiender as ’n mens dink dat dié wat vandag as “islamofasciste” bestempel word, soos die Afghaanse neo-Talibans, tydens hulle stryd teen die Soviets in die 1980's deur Washington as die “morele ekwivalente” van die stigtervaders van die VSA gehuldig is (11). Die Egiptiese Moslem-Broeders het op hulle beurt ook ruimskoots hulp van die Britse en Amerikaanse inligtingsdienste ontvang. En die Israelse regering het die Moslem-Broeders in Palestina bevoordeel (voor die totstandkoming van Hamas) om die mag van die Fatah, die Marxiste en die Palestynse Bevrydingsorganisasie te beteuel. ’n Mens kan en moet ook met beslistheid sekere reaksionêre, fanatieke bewegings wat hulle in die Moslem-wêreld tot terrorisme wend, kritiseer, maar sonder om noodwendig gebruik te maak van uitlokkende, verouderde terme soos “nazislamisme” of “islamofascisme”, wat ganse bevolkings stigmatiseer en ’n direkte koppelteken plaas tussen hulle godsdiens en die ekstremistiese partye wat dit vir politieke gewin inspan. Om ’n valse konsep af te keur, beteken geensins dat ’n mens jou daarvan moet weerhou om die Islamiete se misdade en hulle wêreldbeskouing te kritiseer nie. Talle Moslem-intellektuele skroom nie om dit te doen nie. Die briljante Pakistanse denker, Eqbal Ahmad, het immers uitsonderlike moed aan die dag gelê deur voor briesende Pakistanse skares die skrywer, Salman Rushdie, te verdedig ná hy met die dood gedreig is deur ’n Iranse “fatwa”. Maar hierdie oorwegings rakende die eksakte definisie van fascisme is van min belang in die oë van die Jacksoniane (12) en neokonserwatiewes wat die VSA se buitelandse beleid oorheers, en vir wie die gebruik van die term “Islamitiese fascisme” veral nuttig is vanweë sy emosionele lading. Dit help om vrees te saai. Maar dit is ook hier waar een van die grootste gevare lê. Deur die gedagte te onderskryf dat die Weste besig is om ’n nuwe Fascisme en nuwe Hitlers te beveg, word die openbare mening voorberei om die gedagte te aanvaar dat die oorlog “voorkomend” kan en moet wees. Die antwoord op die “fascistiese bedreiging”, ’n massiewe een, word dus geregverdig ongeag die gevolge gemeet aan menselewens. “Die Geallieerdes het immers Dresden gebombardeer,” is sommige neokonserwatiewes se antwoord aan dié wat die Israeliese F16 veroordeel vir hulle bomaanvalle op Libanese woongebiede. Die neiging om opsluit jou opponent te wil “nazifiseer” is nie nuut nie. Elke dan en wan ontdek die Westerse media ’n “4de Reich” en ’n “nuwe Führer”. Om die beurt is Gamal Abdel Nasser, Yasser Arafat, Slobodan Milosevic, Saddam Hoessein, en vandag Mahmoed Ahmadinejad al met Hitler vergelyk. Nasser is die “Hitler van die Nyl” genoem. Menahem Begin noem Arafat die “Arabiese Hitler”. Teenswoordig bied die Iranse president en sy revisionistiese strafredes ’n nuwe, vrugbare teelaarde vir media-manipulasie. So het die Irannese neo-konserwatiewe Amir Taheri, ’n voormalige medewerker van die Sjah, die “nuus” versprei dat Iran planne het om Iranse Jode ’n geel ster te laat dra. Hoewel dit ’n riemtelegram was, het dit die voorblad van die konserwatiewe Kanadese dagblad The National Post gehaal, met as hoofopskrif: “Die 4de Reich”. Dat die inligting heftig ontken is deur die Iranse Jode self asook die pers in sy geheel, het niks aan die saak verander nie. Die “nuustreffer” was geslaag en honderde duisende Kanadese en Amerikaners is nou oortuig dat Iranse Jode ’n geel ster dra en dat Iran dus die 4de Reich verteenwoordig. Dit sal van groot waarde wees as die VSA sou besluit om ’n nuwe voorkomende oorlog teen Iran te verklaar… Gebruikers van die uitdrukking “islamofascisme” het dit met mekaar gemeen dat hulle wil baklei en gewapende optrede wil voortsit ter wille van die “wêreldoorlog teen terrorisme”. Met die jare het die Britse historikus, Bernard Lewis, die begrip gepopulariseer dat die Arabiere en die “Oosterlinge” slegs geweld verstaan. Dit sou vir hom leersaam gewees het om te lees wat Hannah Arendt geskryf het: “Ondanks alle hoop op die teendeel, wil dit voorkom of daar EEN argument is wat Arabiere nie in staat is om te begryp nie, en dit is geweld” (13). Om onder een vaandel, dié van “islamofascisme”, tientalle uiteenlopende bewegings te wil saamgooi, wat dikwels in botsing met mekaar is en uiters diverse doelwitte nastreef, help om die mite van ’n wêreldwye Islamitiese komplot te laat posvat, suiwer nie-godsdienstige geopolitiese vraagstukke te versluier en dus die oorsake te ignoreer wat tot die meeste van dié bewegings gelei het. Soos koloniale besettings en konflikte oor grondgebied, waarby slegs ’n regverdige oplossing die teelaarde kan laat opdroog waarin hedendaagse Islamitiese terrorisme gedy. Churchilliaanse houdings word ingeslaan, en iedereen wat hierdie absurde, teenproduktiewe oorloë teenstaan, word as “Müncheniaan” (14) uitgekryt. Eerder as helderdenkend, word hulle uitgebeeld as “bruikbare gekke”, moderne vergestaltings van Edouard Daladier en Neville Chamberlain wat in 1938 die München-verdrae met Hitler gesluit het. “Daar is niks erger as sogenaamde lesse uit die geskiedenis wanneer hulle verkeerd verstaan en verkeerd vertolk word nie,” soos Paul Valéry gesê het.
_________ (1) Lees sy artikel van 17 Augustus 2006, “What is islamofascism?”. (2) Parys: Plon, 2002. (3) 8 September 1990: “Regeringsoutoritarisme, om nie te praat van islamofascisme nie, is die reël eerder as die uitsondering van Marokko tot in Pakistan.” (4) Lees Alain Gresh, “Bernard Lewis et le gène de l’islam”, Le Monde diplomatique, Augustus 2005. (5) Want “´n religieuse fascisme beperk” in sy oë “onvermydelik die magte van sy heerser, nie slegs vanweë die kerklikes se kulturele teenmag nie, maar ook as gevolg van die voorskrifte en waardes wat die tradisionele godsdiens inhou”. (6) Démocratie et totalitarisme, Parys: Gallimard, 1965. (7) Eenvoudig gestel, tref die Durkheim-teorie ’n onderskeid tussen “organiese samehorigheid”, gekenmerk deur differensiëring en ’n swak kollektiewe bewussyn, en “meganiese samehorigheid”, gekenmerk deur ooreenkomste en ’n sterk kollektiewe bewussyn. (8) Le fascisme en action, Parys: Seuil, 2004, p 345. (9) Hierdie artikel het ook in die Courrier International van 3 November 2005 verskyn, onder die titel “Cause toujours, Ahmadinejad”. (10) Reuters-berig van 31 Augustus 2006. In ander tye sou dié nuus die voorblaaie van die VSA se grootste koerante gehaal het. (11) Vir ’n algemene oorsig van hierdie gevaarlike verhoudings, veral in Suidoos-Asië, lees die werk van die Columbia-professor Mahmood Mamdani, Good Muslim, Bad Muslim, America, the Cold War and the roots of terror (New York: Pantheon, 2004). (12) Walter Russel Mead gebruik die benaming “Jacksonians”, met verwysing na die Amerikaanse president (1829 tot 1837) Andrew Jackson, vir ultranasionaliste wat nie huiwer om buitelands in te gryp nie, maar wat, anders as die neokonserwatiewes, nie probeer om hulle in “nasiebou” te begewe nie. Dick Cheney en Donald Rumsfeld kan as “jacksoniane” beskryf word. (13) Hannah Arendt, “Peace or Armistice in the Near East”, in Review of Politics, Notre Dame, Indiana, Januarie 1950. (14) ’n Verwysing na die München-verdrae in 1938 waardeur die Verenigde Koninkryk en Frankryk, onderskeidelik verteenwoordig deur Neville Chamberlain en Edouard Daladier, ’n oorlog wou voorkom deur Nazi-Duitsland toe te laat om die Sudete-gebied wat van Tsjeggoslowakye afgesny is, en wat op die steun van die Britse en Franse demokrasieë gereken het, te annekseer.
|