blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Onderwys in SA: Anderkant die drome van onderwysburokrate 2006-11-15
Tersia King

*Onderwyskundige, eienaar van ´n niewinsgewende privaatskool in Tembisa

 

Bykans sonder uitsondering word daar na die probleme met die uitkomste van onderwys onder swart werkers en hulle onvermoë om met dieselfde sukses as die blankes vaardighede aan te leer, ’n vinger gewys na minderwaardige Bantoe-onderwys onder die Apartheidsregering.

Ek wil onmiddellik duidelik maak dat ek nie apartheid hier wil verdedig nie, maar net enkele korrekte feite uitlig.

Ja, Bantoe-onderwys in daardie tyd (in vergelyking met blanke onderwys) was minderwaardig; maar kyk ons ooit na die redes waarom dit so was? En waarom vergelyk ons dit nie met wat op onderwysgebied in die res van Afrika plaasvind nie?

Onderwys is kultuurgebonde en ontwikkel parallel met die ontwikkeling van die kultuur van ’n gegewe groep. Daarom dat daar soveel verskille tussen die onderwysstelsels van die wêreld bestaan. Deur bloot leerders in ’n kultuurvreemde stelsel in te prop, gaan nie die verwagte uitkomste lewer nie. Dit kan eerder die gevoel van minderwaardigheid, veral waar die leerder saam met die kultuur-eie leerders in ’n klas sit, aanblaas of versterk. Die negatiewe proses word verder versterk as die leerder in ’n vreemde taal (m.a.w. nie ’n moedertaal nie) die uitdagings moet hanteer.

Alle ontwikkelde lande bou hulle eie onderwysstelsels en pas dit gedurig aan by die verdere ontwikkeling van hul kultuur, wat onder meer insluit wetenskap met al sy vertakkinge op die onderskeie terreine. Sou hulle ’n tekortkoming in die stelsel vind, gaan kyk hulle hoe ander stelsels die situasie hanteer en probeer vasstel of dit sal inpas binne die vermoëns en waardestelsel van hulle bepaalde omstandighede. Daarna sal daar aanpassings gemaak word, wat dan aanvaar of verwerp word.

Dit is slegs onderontwikkelde lande, waarvan die lande in Afrika veral ’n goeie voorbeeld is, wat besluit die uitkomste van die koloniale moondheid se onderwysstelsel is wat benodig word en daardie stelsel net so uitvoer en toepas. Dit dan, ongeag of die onderwysers en selfs die onderwysbesluitnemers oor die kennis, vermoëns of verwysingsraamwerk beskik om dit ten uitvoer te bring. Daarbenewens word die kulturele agterstande en omstandighede totaal geïgnoreer. Voeg weereens daarby die taal van onderrig, en ’n resep vir mislukking is geskep. Geen wonder Afrika kon nog nooit werklik ontwikkel nie, en sal ook nie, solank daar nie op wetenskaplike wyse met die onderwys omgegaan word nie.

In Suid-Afrika van voor 1994 se swart onderwys was dit ook die probleem en dit het in 2006 nog steeds nie weggegaan nie! Natuurlik is daar ’n klein persentasie swart leerders wat suksesvol deur die stelsel beweeg het en dit steeds doen. Maar hulle is die enkelinge. Die meeste leerders wat wel in ’n skool geplaas word waar die onderwysers die agtergrond van die kurrikulum verstaan, kry steeds swaar vanweë die taal van onderrig en omdat die eie verwysingsraamwerk net nie altyd die inhoud in perspektief kan plaas nie. Opstandige gedrag by leerders weens frustrasie is dikwels die gevolg hiervan.

In die swart onderwys van voor 1994 is daar gepoog om, met die insig van daardie tyd, by die kulturele agterstande van die leerders aan te pas. Dit sou uiteindelik na ’n verdere geslag of twee die standaard van die Blanke, Indiër- en Kleurling-substelsel bereik.

Na twaalf jaar van die huidige regering se onderwysbeleid met sy dikwels ondeurdagte veranderinge is die massa swart leerders nie beter daaraan toe nie – waarskynlik slegter.

Sedert 1984 werk skryfster in ’n swart stad in Gauteng as vrywillige ontwikkelaar. In daardie tyd het ek maar net te dikwels besef hoedat kultuurverskille (wat nie sommer sal verdwyn nie) inisiatiewe kan beïnvloed, hetsy negatief of positief. Ongelukkig meer dikwels negatief, sonder dat dit so bedoel is.

Die afgelope sestien jaar, sedert ek ’n niewinsgewende onafhanklike skool daar begin het, en veral die afgelope ses jaar vandat ek voltyds as skoolhoof daar werk, het weereens die reuse uitdagings van ons land en sy mense by my tuisgebring.

Swart ouers is bereid om hulleself te kort te doen om hul kinders die geleentheid tot goeie onderwys te gee. Hulle is dus sterk ingestel daarop dat die onderwysers hoofsaaklik blank moet wees en dat die onderrigtaal Engels moet wees. Selfs by die keuse van ’n tweede taal kies hulle Afrikaans bo enige van die ander inheemse tale. Hulle glo dat dit groter geleenthede vir hulle kinders in die toekoms sal verseker.

Terselfdertyd is daar nie ’n tradisie van betrokkenheid van die ouers by die skool nie, en kan die grootste persentasie ouers nie hulle kinders tuis bystaan nie, selfs nie eers met toesig oor of die leerder al die huiswerk gedoen het nie! Dit is gewoon nie deel van hulle kultuurerfenis nie. So ook is die gebrek aan ’n lees- en leerkultuur en swak produktiwiteitsetiek ’n verdere struikelblok.

Die vinnige tegnologiese en ander veranderinge wat in die wêreld plaasvind, skep uitdagings aan alle ouers, hetsy wit of swart Suid-Afrikaners, Brit, Fransman of Australiër. Maar daarby beleef ons swart gemeenskap die probleem van te vinnige verstedeliking, disintegrasie van die uitgebreide gesins- en familieverband en die sekuriteit wat daarmee saamgaan. ’n Baie groot persentasie huishoudings word deur enkelmoeders finansieel en andersins in stand gehou. Afgesien daarvan dat kinders, veral seuns, sonder ’n vaderfiguur grootword, is die enkelmoeder ook nog broodwinner en kom sy saans moeg terug na haar verdere verantwoordelikhede as moeder van die huis. Ervarings met “moeilike” kinders (veral seuns) by die skool toon dat daar bykans geen sosiale kontak tussen die twee geslagte (kinders en ouers) is nie. Waar so baie grootouers deesdae kinders grootmaak, is die situasie nog meer ingewikkeld.



’n Vader het op ’n dag vir my gesê hy vind dit moeilik om te weet hoe om teenoor sy seun op te tree wanneer dit by meisies kom, want hy kom self van die landelike stamgebiede in Natal waar jong seuns en dogters totaal weg van mekaar in afsonderlike groepe grootgemaak word.

My persoonlike gevoel is dat ons meer as 800 leerders, van drie jaar tot 19 jaar oud, soggens vanuit ’n verwarde Derde Wêreld in ’n hopelik redelik Eerste Wêreld instap wanneer hulle deur ons hekke stap. Na skool stap hulle weer in hul verwarde Derde Wêreld terug. Televisie en selfone vererger hierdie situasie, en dieselfde gebeur met hul ouers.

Dit is nodig om hier by te voeg dat die beleid by ons is om nooit die huistaal of kultuur van ons leerders af te takel nie. Die verskille in gedrag, soos om byvoorbeeld dadelik in ’n stoel neer te val en op die stuitjie te gaan lê wanneer hulle in bv. die skoolhoof se kantoor instap, word uitgewys. Hulle word daarop attent gemaak dat ’n mens in die Eerste Wêreld waarvoor ons hulle as werknemers en -gewers oplei, moet wag op ’n uitnodiging om te mag sit. Terselfdertyd word hulle gemaan om wel die gewoonte van respek; om altyd laer te wees as die eienaar van die vertrek of huis, soos in hulle kultuur, daar voort te sit en trots daarop te wees.

Ons swart leerders het geweldige uitdagings om te bowe te kom. Die stelsel alleen kan dit nie doen nie. Opvoeding van ouers en voogde, op dieselfde skaal en meer nog as met Vigs, moet landwyd op ’n gestruktureerde grondslag geskied. Hulle moet bewus gemaak word van die kind se behoeftes, veral ten opsigte van emosionele geborgenheid en die belangrikheid van besliste maar ook liefdevolle dissipline en grense wat gestel moet word. Ook moet hulle ingelig word oor die probleme van die tiener in sy passaat vanaf kindwees tot volwassewording.

En laaste, maar nie die minste nie, dat sosiale omgang tussen die geslagte op ’n gereelde, verkieslik daaglikse basis moet plaasvind.

By ons skool nooi ons die ouers gereeld na sulke praatjies, en hulle het groot waardering daarvoor. Ongelukkig is dit meestal moeders wat dit bywoon. Verder vind ons dat dit juis die kinders met “issues” is wie se ouers/voogde nie kom nie. Baie berading op persoonlike vlak vind ook gereeld plaas. Dit raak egter steeds nie al die probleme aan nie – te min tyd en die administratiewe eise van die onderwysowerhede maak dit net nie moontlik nie.

Om wiskunde, natuurwetenskap, aardrykskunde of watter ander vakinhoud ook al te kan begryp en weer terug te voer in ’n mens se eie woorde en op papier is ’n geweldige uitdaging wanneer dit uit ’n onbekende milieu en in ’n vreemde taal op hoër vlak moet geskied. As jou onderwyser dan ook nog uit dieselfde gestremde milieu kom, vererger die situasie net verder. Veral wanneer hulle grootgeword het in die tyd van “Liberation before Education”.

Interessantheidshalwe, by die TKLA onderwysinrigting in Tembisa, word verpligte aanvullende “Vakke” in die skoolrooster ingesluit:

 

·             Vanaf Graad R begin leerders wiskunde op rekenaars doen;

·             Vanaf Graad 1 word leerders stelselmatig ingelyf in die prosedures en uiteindelike denkprosesse en probleemoplossings van skaak, ’n verpligte vak wat tot Graad 9 duur;

·             Vanaf kleuterskool begin die kleintjies kennis te maak met Lego sodat hulle uiteindelik tot Graad 9 op die rooster daarmee voortgaan. Daar is ook ’n Legoklub in die middae en die skool neem jaarliks deel aan die nasionale kompetisie;

·             Van Graad 4 tot 11 word leerders ook rekenaargeletterd gemaak as deel van die skoolrooster;

·             Vanaf Graad 3 word Engels as taal ook in ’n derde rekenaarlokaal opgeskerp;

·             Sedert 2003 neem TKLA deel aan die F1-Jaguar kompetisie, en in 2004 verteenwoordig ons Suid-Afrika as tweedespan internasionaal in Brittanje. Ons eindig 5de. Vanjaar was ons juniorspan die wenners in die Noordelike deel van die land en behaal tweede plek op die Nasionale vlak.

Ons kompetisie kom hoofsaaklik uit welvarende onafhanklike skole en voormalige Model-C skole.

 

Met bogenoemde aktiwiteite word op beskeie wyse gepoog om die verwysingsraamwerk, blootstelling en vaardighede van ons leerders te stimuleer en te verbreed! Ons glo ons slaag in ’n mate wel daarin.

Daar moet nog baie gedoen word en dit sal tyd neem voordat onderwys in openbare skole, veral in die swart woonbuurte, gelykwaardig sal word. Intussen is dit nodig om te waak teen die versoeking om skole wat aanvaarbare standaarde handhaaf, af te takel sodat dit moet voorkom asof die agterstande by ander ingehaal is. Dit sou fataal wees in Suid-Afrika! So ook die verlaging van standaarde vir Graad 12, soos wat tans gebeur, ten einde die slaagsyferpersentasie te kan manipuleer om ’n sogenaamde verbetering van onderwysstandaarde te wil illustreer. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=754
Artikel nagegaan:
    -