blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Van Vonk na Vrye Afrikaan 2006-11-15
Pieter Bingle

*Predikant, direksielid van die FAK en voormalige redakteur van Vonk

 

Vonk is die noemnaam van die Nuusblad van die FAK Koördinerende Raad Wes-Kaap (voorheen bekend as FAK Gebiedsraad Kaap die Goeie Hoop). Hierdie publikasie het in 1997 tot stand gekom om ‘venster’ te wees op die kultuurakker en om die aktiwiteite te reflekteer na en te kommunikeer met vrywillige georganiseerde Afrikaanse kultuurrade en kultuurorganisasies (veral) in die Wes-Kaapse kultuurhuishouding.

Met sy beskeie oplaag is Vonk in die Wes-Kaap en wyer versprei – ook in die Suid-Kaap en na kultuurleiers en meningsvormers landswyd. Alhoewel Vonk nie die mondstuk van die die Afrikanerbond is nie, word eervol en met waardering vermeld dat – ter ondersteuning van die kultuursaak op die Afrikanerwerf wat Vonk bedien – die publikasie ruim deur die AB befonds is.

Voortaan sal Vonk nie meer as sodanig verskyn nie, maar geïnkorporeer word by Die Vrye Afrikaan. Hierdie besluit is eenparig deur die FAK se Wes-Kaapse Koördinerende Kultuurraad geneem. Daarmee word die verskyning van Vonk weliswaar getermineer, maar nie gedemoveer nie. As draer van ’n lofwaardige gedagte en doelwit word Vonk nou gepromoveer tot die status van Die Vrye Afrikaan, wat Vonk se ‘pligstaat’ sal voortsit – om draer en boodskapper van waardes, menings, aktiwiteite en nuus, ook op die Afrikaanse kultuurakker, te wees.

Vonk het daarna gestreef om ’n passie te bevorder vir Afrikaanse kultuur. Daar is inderdaad ’n behoefte daaraan in ’n milieu van ’n (soms) apatiese gesindheid by baie Afrikaners. In ’n tyd waarin Afrikaners se stem stiller gemaak word en soms uit eie keuse stiller geraak het, is daar besondere meriete vir die verskyning van so ’n ‘boodskapper’ en mondstuk. Soos dit met geestelike en kulturele aktiwiteite gaan, is resultate nie altyd meetbaar nie. Dis moeilik om dit in rand en sent te evalueer. ’n Meetbare resultaat kan egter byvoorbeeld wees dat daar op plaaslike vlak meer betrokkenheid en skeppende denke gestimuleer word deurdat kennis geneem word van wat wel op die kultuurakker kan gebeur waar daar ’n wil is. Vonk het ’n geestelike en kulturele belegging van waardes – ook universele waardes – in die samelewing gemaak. Direk of indirek het Vonk toegespitste kultuuraksies geïnisieer, geadviseer, gekoördineer en ondersteun.

’n Gewaardeerde vriend en medewerker skryf: “Vonk gee rede om te pronk, is my reaksie nadat ek die bladjie met aandag gelees, weer gelees en elke keer geniet het. Baie dankie en geluk met hierdie publikasie. Dit bevat ’n heerlike verskeidenheid en baie stof tot nadenke! Dankie is ’n klein woordjie maar dit sê alles wat ek wil sê!” Die SAOU se credo word afgesluit met die aanhaling: Die kunstenaar verdwyn maar sy werk bly voortbestaan. Ek dink dit is hier beslis ook van toepassing.

Dankie aan Vonk se begin- en uittredende redaksie: Mev Bets Koen (Redaktrise en Bestuurder : Kommunikasie FAK nasionaal), dr Carel Stander (Paarl), dr Pieter Bingle (Kaapstad) en medewerker, mnr Nolte Smit (Bellville).

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=753
Artikel nagegaan:
    -