blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


PW Botha: ’n laaste sien 2006-11-15
Pieter Duvenage

*Filosoof. Hierdie artikel het op Saterdag 4 November in die By-Beeld verskyn. Die Vrye Afrikaan bedank die By-Beeld vir die vergunning om dit hier te plaas

 

Kenmerkend van die stroom evaluerings van PW Botha na sy dood is dat feitlik nie een gevra het na wat hom gevorm het nie. ’n Verband tussen die onverwerkte trauma van die Anglo-Boereoorlog en apartheid is al dikwels getrek, maar wie besef dat PW Botha ’n produk van die 1930’s en die armblankevraagstuk was?

Hoe oordeel ’n mens PW Botha se openbare loopbaan wat vanaf die 1930’s tot ons eie tyd strek? Dit is met dié begrip al malende in my gemoed dat ek sy laaste openbare optrede op Saterdag, 28 Oktober 2006 kon meemaak. Dit het eintlik heel toevallig gebeur. Ek was in die Kaap vir ’n paar dae, en toe kom die uitnodiging. Maar eers iets persoonliks.

Ek het PW Botha by twee vorige geleenthede skrams gesien. In Desember 1980 het ek (aan die einde van standerd 9) hom in Kaapstad raakgeloop waar hy in die enkele straatblokke tussen die Here XVII en die parlement gestap het. Hy was soos ’n Caesar omring van ’n leërskare lyfwagte en luitenante (een van hulle was sy vertroueling van daardie tyd, Chris Heunis). Later, as student aan die Universiteit van Stellenbosch, het ek hom weer gesien toe hy by die Neelsie ’n geselligheid bygewoon het nadat hy as kanselier (1984) ingesweer is. Weer was hy en tannie Elize die middelpunt van ’n malende akademiese skare. (Vandag sal ’n mens jou kwalik kan voorstel dat iemand in die polities korrekte bestuur van Maties sal onthou dat hy eens kanselier op Stellenbosch was!) In hierdie tyd was PW Botha op die toppunt van sy mag, en joernaliste (veral van die Afrikaanse pers) het elke beweging en uitspraak van hom met gespitste ore, wawyd oop oë en selfs bewing gevolg.

Dit is egter ’n heel, heel ander PW Botha wat ek tydens sy laaste openbare optrede by die Rapportryers se Bybelvasvra vir laerskoolkinders teëgekom het. Dit het plaasgevind in die konferensiesentrum van die plaas La Provence in die Stellenbosse distrik. Hier het ek ’n brose, meer eensame man, weg van die malende skares, aangetref. Tot my verbasing was geen joernalis in sig nie, by ’n geleentheid wat ek as een van sy laaste openbare optredes geïnterpreteer het.

Ek was egter in die unieke geleentheid dat ek enkele vrae aan hom kon stel. Aan die een kant, ’n ou man wat half fluisterend en duidelik met fisieke ongemak op my enkele vrae antwoord. Aan die ander kant ekself, worstelaar in die filosofie (en iemand van sy kinders se generasie), vir ’n kort oomblik in mekaar se geselskap. Wat sê verskillende generasiegenote vir mekaar op hierdie punt? ’n Ou man, kennelik op sy laaste aardse stasie, en ’n kritiese en veel jonger gespreksgenoot. Dit is op hierdie punt dat ek die begrip ‘oordeel’ vir ’n oomblik op die agtergrond geplaas het.

Die betrokke aand was definitief nie die tyd en die plek vir ’n strydgesprek nie (iets wat natuurlik op die regte plek ook ruimte het), dus het ek versigtig in die rigting van ’n paar verkennende vrae gebeur. Op my vraag watter politieke figure die grootste invloed op sy politieke loopbaan gehad het, het hy onmiddellik die name van die Vrystaters N.J. van der Merwe en C.R. Swart genoem. Dit was vir my ’n verrassing, want die name van D.F. Malan, Strijdom en Verwoerd was afwesig. Die grootste invloed het eerder uitgegaan van twee Vrystaters wat in die eerste twee dekades van die vorige eeu gevorm is.

’n Verdere vraag het oor sy familie gegaan, en hy het die opmerking gemaak dat daar ook reeds heelwat van sy familielede (kleinkinders?) hulle in die nuwe Groot Trek oorsee bevind. Ek het ook oor sy dokumente verneem wat by die Instituut vir Eietydse Geskiedenis (INEG) van die Universiteit van die Vrystaat lê. Daar het ’n flikkering in sy oë gekom en hy het die hoop uitgespreek dat toekomstige navorsers daarvan sal kennis neem. Daar was ook nog ander vrae, maar soos dit gaan by sulke geleenthede, het die formele program oorgeneem.

PW Botha het ’n kort voordrag gehou voor omtrent 150 mense, waarvan die meeste laerskoolkinders was. Die onderwerp was: “Die belang van die Bybel in my lewe”. Vir ’n oomblik was dit asof ’n mens weer in die 1980’s terugverplaas is. Weg was die fisieke afgematheid en vir omtrent 15 minute het hy uit die vuis, die orator van ouds, driftig gepraat. Ek kan drie aspekte van hierdie toespraak onthou: hy het klem daarop gelê dat die vertaling van die Bybel in Afrikaans (1933) vir hom ’n grootse gebeurtenis was. Nou kon hy die Woord in sy eie taal lees. Tweedens het hy die eenvoudige maar belangrike punt gemaak dat ’n mens met jou intellek die Bybel nie kan verstaan nie, en daarom moet vertrou en glo. En laastens het hy aan die kinders gesê dat, indien ’n mens jou lewe op die Bybel bou, dan sal stormweer en geweld niks aan jou kan doen nie. Dit was vir my ’n interessante laaste toespraak, omdat dit op die oog af apolities was, maar tog ’n duidelike hoewel versluierde politieke boodskap gedra het.

Na sy toespraak het PW Botha die sertifikate en medaljes aan die kinders van die Bybelvasvra oorhandig, nog enkele woorde met hulle en hulle onderwysers gewissel en kort daarna vertrek. Ek het op die stoep van die konferensiesentrum gaan staan en kyk hoe ’n klein geselskappie (PW Botha, sy vrou en twee lyfwagte) in ’n ouerige silwer Mercedes in die donker Bolandse nag verdwyn.

Drie dae later is hy by sy huis in die Wildernis oorlede. Dit bring my terug by die begrip oordeel, soos ek dit manhaftig aan die begin gestel het.

Dit is natuurlik maklik om hom vanuit die hede te veroordeel (en nie net van buite Afrikaner-kringe nie). Dié PW Botha van die 1960’s tot 1980’s wat genadeloos met sy teenstanders in die Nasionale Party en daarbuite omgegaan het. Die kille Minister van Verdediging (1966-1978) en die latere Eerste Minister en Staatspresident (1978-1989) met die swaaiende voorvinger. Die donker 1980’s met sy driekamer-parlement, geweld, onluste, noodtoestande, uitsiglose grensoorlog en imperiale presidensie. Die benaming van Groot Krokodil. Hieroor bestaan daar genoeg stof tot nadenke.

En tog was daar ook ’n ander PW Botha. Die een wat sekere hervormings aangepak het soos die driekamer-parlement, die afskaffing van kwetsende wette en die eerste gesprekke met Mandela.

Hoe dit ook al sy, PW Botha laat ’n komplekse nalatenskap agter – een wat net deur behoorlike historiese navorsing en nadenke vertolk kan word. As ek PW Botha moet oordeel (en nie net veroordeel nie) dan wil ek graag die volgende opmerking maak. In my gesprek met hom het ek met ’n skok tot die besef gekom dat ek met iemand praat wie se politieke bewussyn tot die dertigerjare van die vorige eeu teruggestrek het. PW Botha het sy politieke verstand in die Suid-Afrika van die 1930’s gekry. Hoe beoordeel en interpreteer ons dié wêreld wat vandag al hoe verder in die newels verborge lê? ’n Wêreld waarin baie Afrikaners nog Armblankes was en om gelyke erkenning met hulle wit Engelssprekende landgenote gestry het. Dit is die wêreld wat die jong Botha uit sy universiteitstudies geruk en as organiseerder na die Kaapse Nasionale Party gestuur het waar hy in 1948 op 32-jarige ouderdom die LV van George geword het. Hierna het hy die parlementêre en staatspolitieke trappe geklim as hooforganiseerder van die NP in Kaapland, Adjunk-minister (1958), Minister (1961), Eerste Minister (1978) en Staatspresident (1984-1989). Vir 41 jaar het hy die binnewerking van die Nasionale Party en staatsmasjinerie soos min leer ken en bemeester. In die proses het hy egter al hoe meer die doeltreffende tegnokraat as die besinnende en interpreterende staatsman geword.

En die laaste 17 jaar nadat hy sy staatspresidentskap onwillig prysgegee het? Op verrassende wyse was sy afwesigheid uit die Suid-Afrikaanse openbare lewe die afgelope tyd juis een van die mees openbare dade. Kortom: PW Botha se lang openbare lewe van die 1930’s tot 2006 bevat net soveel teenstrydighede as wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis van dieselfde tydperk bevat.  

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=752
Artikel nagegaan:
    -