blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


’n Noord-Korea met kernwapens? 2006-11-15
Roland Henwood

*Lektor in politieke wetenskap, Universiteit van Pretoria

 

Noord-Korea se toetrede tot die sogenaamde “kernklub” as die negende staat met ’n kernwapenvermoë is bevestig na die onlangse suksessvolle toetsing van ’n kerntoestel. Die aankondiging van Noord-Korea het tot uiteenlopende reaksies en bespiegelinge oor die toekoms van die Koreaanse skiereiland gelei. Dat ’n kerntoestel ontwikkel en suksesvol deur Noord-Korea getoets is, was nie onverwags nie, maar het in die algemeen negatiewe reaksies ontlok. Hierdie gebeure is belangrik omdat dit die aandag vestig op die onsekerhede wat onderliggend is aan die politieke, ekonomiese en veiligheidsbelange in hierdie streek, maar ook die res van die wêreld.

Die belangrikste rede wat aangevoer word vir die besluit om ’n kernvermoë te ontwikkel is die vrees van die Noord-Koreaanse regime vir eksterne optrede wat daarop gerig is om dit te ontsetel. Die regime van Kim-Jong Il is bekend om sy ondemokratiese aard en bereidwilligheid om brutaal teen sy onderdane te reageer. Daarby is dit ook ’n voorbeeld van ’n hoogs oneffektiewe regime wat bittermin in die vorm van suksesvolle beleidsprogramme kan wys, en tewens sy voortbestaan grootliks aan die jarelange ondersteuning van eers die Sowjet-unie en meer onlangs veral China te danke het.

Diegene wat die optrede van Noord-Korea steun, redeneer dat die aksies nie onwettig is nie, alhoewel dit problematies is. Hierdie argumente beklemtoon die reg van ’n regering om self oor sy optrede te besluit, en om onafhanklik van die instemming of goedkeuring van veral moondhede soos die VSA, te kan optree. Dit bevraagteken ook die druk wat veral deur die VSA en bondgenote op Noord-Korea geplaas is om konformerend op te tree (met ander woorde in ooreenstemming met die belange van die VSA self).

Diegene wat gekant is teen die ontwikkeling van ’n kernvermoë deur die Noord-Koreaanse regime redeneer dat dit as ’n bedreiging vir vrede en stabiliteit beskou kan word, veral in die streekskonteks. Die argumente berus op die aanname dat die Noord-Koreaanse leierskap nie optree binne die aanvaarde norme wat tans in die internasionale gemeenskap geld nie, en ook nie toerekeningsvatbaar is nie – anders as die ander moondhede wat oor ’n kernvermoë beskik. Alhoewel hierdie argument hoogs aanvegbaar is, moet sekere aspekte wat met hierdie argument verband hou tog verder ontleed word.

Ten eerste word die magsbalans in die streek drasties verander deurdat die regime in Noord-Korea nou oor ’n wapenvermoë beskik wat slegs China tot dusver beskore was. Die vrees is dat, soos die geval was met ander streke waar kernwapens beskikbaar geraak het/ ontwikkel is, dit tot ’n spiraal van bewapening sal lei. In die geval van Noord-Korea is die uitgesproke vrees van veral Suid-Korea, dat Japan kan reageer deur opnuut ’n fase van militêre opbou van stapel te stuur.

Die ander argument is dat, anders as in vorige gevalle waar kernwapens ontwikkel is (VSA en USSR; Indië en Pakistan), die Noord-Koreane ’n eensydige proses onderneem het met ’n magswanbalans as resultaat. Noord-Korea se kernvermoë word dus nie gebalanseer met ’n teenpool wat min of meer terselfdertyd dieselfde vermoë ontwikkel het nie. In hierdie geval is die bestaan van ’n kernmoondheid in die vorm van China nie ’n vergelykbare teenvoeter nie, omdat die relatiewe kernvermoë van Noord-Korea en China absoluut buite verhouding is. Die effek hiervan is dat Noord-Korea nie aan dieselfde beperkinge ten opsigte van die gebruik van kernwapens onderhewig is as die ander voorbeelde (soos China) waarna verwys is nie. Die soort regime en die geskiedenis van optrede van die Noord-Koreaanse leierskap skep die gevaar van eensydige, onvoorspelbare en “onverantwoordelike” optrede, as gevolg van die magswanbalanse wat nou geskep is. ’n Ander vrees is dat Noord-Korea as bron kan dien vir die verspreiding van die middele en kundigheid vir die vervaardiging van kernwapens aan state soos Iran en Sirië, vanwaar dit verder kan versprei - ook na terreurorganisasies.

Toekomstige gebeure in die streek sal bepaal word deur die optrede van die betrokke partye. Indien omvattende sanksies toegepas word, soos deur die VSA voorgestaan, kan die uiteinde die isolasie van die regime in Noord-Korea wees. Dit kan aanleiding gee tot die uiteindelike ineenstorting van hierdie regime wat belangrike gevolge vir China inhou. Dit kan byvoorbeeld die instroming van groot getalle mense uit Noord-Korea na China veroorsaak wat weer ernstige druk en selfs onstabiliteit in die Sjinese grensstreek kan veroorsaak. Op simboliese vlak sal dit nog ’n mislukte kommunistiese staat op die Sjinese grens tot gevolg hê. Dit kan ook die Suid-Koreaanse ideaal van ’n verenigde Korea in ’n langtermyn droom en kort- tot mediumtermyn nagmerrie laat ontaard.

Dit is steeds nie duidelik wat die regime in Noord-Korea met sy nuut verworwe vermoë en status beplan nie. Dit kan ontaard in ’n situasie waar Noord-Korea besef die probleme en beperkinge van sy nuwe mag hom meer blootgestel en magteloos laat as wat die verwagting is. Die uiteinde hiervan kan ’n situasie wees waar Noord-Korea se enigste werklike bondgenoot, China, die teiken word vir gefrustreerde verwagtinge. In so ’n geval kan China as’t ware deur Noord-Korea afgepers word met dreigemente aangevuur deur ’n gewaande magsvermoë en ’n politiek-ekonomiese onvermoë. Ongeag hoe hierdie situasie afspeel sal Noord-Korea se toetrede tot die uitgelese groep van state wat oor kernwapens beskik vir al die betrokkenes meer probleme en spanning bring, eerder as probleemoplossings. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=751
Artikel nagegaan:
    -