|
||||
Ignacio Ramonet
*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]
Ofskoon Noord-Oos Asië op 9 Oktober geskud is deur Noord-Korea se kerntoets, is dit nie minder ontstig nie deur die bewindsaanvaarding van Japan se nuwe premier, mnr. Shinzo Abe, op 26 September. Soos sy voorganger, mnr. Junichiro Koizumi, ’n produk van die Liberaal-Demokratiese Party (LPD), wat die Land van die Opkomende Son sedert 1955 oorheers, is die 52-jarige mnr. Abe die jongste Japannese premier sedert 1945. Hy word nietemin deur die Japannese linkervleuel beskou as ’n ultraliberale, aartskonserwatiewe, nasionalistiese politikus. Sy opponente in die streek huiwer nie om hom as ’n “valk” te beskryf nie. As seun van ’n voormalige minister van buitelandse sake behoort mnr. Abe tot ’n groot regse dinastie met ’n veelbewoë verlede (1) waarvan hy nie afstand geneem het nie. Sy oupa, Nobusuke Kishi, was ’n minister in die oorlogskabinet van generaal Tojo, wat die aanval op Pearl Harbor geloods het. In 1945 as vermeende oorlogsmisdadiger gearresteer, is Kishi uiteindelik tog nie deur die militêre tribunaal van Tokio (die eweknie vir Japannese oorlogsmisdadigers van die Nurembergse tribunaal wat Nazi-leiers verhoor het) verhoor nie, omdat die Amerikaners teen die agtergrond van die groeiende Koue Oorlog ’n Japannese regtervleuel wou herbou. Kishi was dus een van hulle manne. Nadat hy in 1948 bevry is en twee maal benoem tot premier – onderskeidelik in 1957 en 1958 – het hy ’n nuwe veiligheidsverdrag met die Verenigde State onderteken. ´n Grootoom van Abe, Yosuke Matsuoka, minister van buitelandse sake, was ’n voorstander van Japannese ekspansionisme in Asië. In 1940 het hy Japan laat aansluit by die Spilmagte, oftewel die bondgenootskap gesluit deur Hitler se Duitsland en Mussolini se Italië. Nadat hy ook van oorlogsmisdade beskuldig is, het hy in die tronk gesterf voor hy verhoor kon word. In ’n land wat nog nie amptelik om verskoning vir sy oorlogsmisdade gevra het nie, het Abe nog nooit regtig sy familieverlede afgesweer nie. Inteendeel, terwyl hy diegene wat ’n “masochistiese” blik op Japan se geskiedenis het, afwys, minimaliseer hy sy land se aanspreeklikheid. Soos Koizumi is hy al dikwels na die Yasukuni-begraafplaas, waar soldate “wat hulle lewe vir Japan gegee het”, waaronder veertien oorlogsmisdadigers (en sy grootoom Matsuoka), begrawe is. Hiervoor is Koizumi nie langer ontvang in Beijing of Seoul nie, wat hom beskuldig het van “revisionisme” en dat hy “die militêre verlede van Japan wil verheerlik”. As produk van die mees regse faksie van die LDP het Abe sy openbare loopbaan gebou deur uit te vaar oor die lot van die oorlewende Japannese wat in Kim Il-sung se tyd deur Noord-Koreaanse agente op Japannese strande ontvoer is. Dit is deur deurgaans meer fermheid en sanksies teen Noord-Korea te vra – met ’n goeie skeut demagogie (omdat daar nog net een saak onder litigasie is) – asook deur die anti-Koreaanse, rassistiese sentimente van groot dele van die media te vlei, wat Abe gewild geword het. Na Noord-Korea se missieltoetse op 5 Julie (2) het hy nuwe sanksies teen Pjongjang gevra – en op 19 September gekry. Voorts het hy onder voorwendsel van die “Noord-Koreaanse bedreiging” sy voorneme aangekondig om per referendum artikel 9 van die pasifistiese Japannese Grondwet (3) te wysig ten einde Japan se selfverdedigingsmagte te omvorm tot volwaardige gewapende mag gestroop van die beperkinge wat in 1945 deur die oorwinnaars geëis is (4). Dit is ’n voorneme wat tans deur George W. Bush se binnekring in Washington aangemoedig word, aangesien hulle ’n kragtige militêre bondgenoot in Noord-Oos Asië verlang om China hok te slaan. Dit alles laat die vrees ontstaan dat Japan, wat reeds naas die Verenigde State die grootste militêre begroting ter wêreld het, homself gaan herbewapen, wat die wapenwedloop wat reeds in een van die gevaarlikste streke van die planeet op dreef is, kan laat versnel. Die meerderheid Japannese is egter gekant hierteen en Abe moes op 10 Oktober spesifiseer dat sy land – beskerm deur die Amerikaanse kernsambreel – dit nie in die vooruitsig stel om homself met kernwapens toe te rus nie (5). In die praktyk beskik Tokio oor ten minste 43,8 ton plutonium, deur sy burgerlike kernreaktors vervaardig, en sou hy ’n kerntoestel binne enkele maande kon bou … Dit is ongetwyfeld om aan te dui in watter mate die nuwe Japannese premier volgens hom gevaarlik is wat Noord-Korea op 9 Oktober – dieselfde dag wat Abe in Seoul op die Koreaanse skiereiland aangekom het – sy veroordeelbare kerntoets uitgevoer het. ’n Onverantwoordelike waarskuwingsboodskap. Wat wêreldwyd met kommer ontvang is. En wat bevestig dat buiten vir ’n onwaarskynlike wysiging van Abe se nasionalistiese teses die spanninge in Noord-Oos Asië kwalik gaan verminder.
__________ (1) Lees Philippe Pons, “Shinzo Abe, ‘prince’ de la droite’”, Le Monde, 21 September 2006. (2) Lees “Spanning in Noord-Korea”, Die Vrye Afrikaan, 20 Oktober 2006. (3) Hierdie artikel stipuleer dat Japan “oorlog vir altyd opsê, sy gewapende magte afskaf en onderneem om hulle nooit weer te vestig nie”. (4) Lees Ichiyo Muto, “Revise the peace constitution, restore glory to empire!”, Japonesia Review no.1, Tokio, Januarie 2006. (5) El País, Madrid, 11 Oktober 2006. |