|
|||
Hennie Aucamp
We think caged birds sing, when indeed they cry
John Webster in The White Devil.
Ander gevangenes mag hom nie hoor nie,
in sy hok in die vierkant
van die tronk:
en Pisa is ’n kloklui ver.
Die pes wandel bedags
op swaar soldatestewels;
en snags skyn fel –
’n aflosoog vir die son –
die skynwerpers wat soek
en uiteindelik vind
onder gekastyde vel en been:
’n siel.
Later het hy ’n tentjie gekry –
só groot was sy kou wel –
vir groter privaatheid;
en toe kon hy aanskou
die skaduwees van wagte
wat uur na uur verbytrek op die seil
soos in Plato se grot.
En ook dít kon hy sien:
hoe ’n salmander flikker oor die klipplaveisel;
hoe Broer Perdeby ’n huisie bou
van klei, vier vertrekke groot;
hoe ’n mier hom ’n reus waan in ’n drakeryk.
As a lone ant from a broken anthill
from the wreckage of Europe
ego scriptor
skryf hy in 1946,
voor hy Amerika toe geneem
en mal verklaar is
en verban tot ’n gestig,
dertien jaar lank.
Maar nog sing Ezra Pound
in sy verse
en in dié van ander:
want invloed is ’n blywende gety
wat kom en gaan
en kom en gaan
by grense van ’n oorlogstyd verby.
|