blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Oor die posisie van bruin mense skryf Enver Buys van Newclare 2006-11-15

Heindrich Wyngaard is ’n gerespekteerde joernalis wat toegang het tot pres. Thabo Mbeki, regeringsbeamptes en meeste sakeleiers danksy sy invloedryke posisie by Rapport. Pres. Thabo Mbeki is nie ten volle bewus van watter etniese gevegte onder regeringsbeamptes plaasvind nie. Dus jammer dat Mbeki nie ’n groep bruin leiers toespreek om ’n langtermynoplossing te vind vir die gevoelens van uitsluitings wat op voetsoolvlak onder bruin mense voorkom. Dis ’n klap in die gesig vir ons mense dat Mbeki slegs met ’n oproep op Wyngaard verwag ons mense moet bly wees. Waarom doen die president moeite om ander rolspelers soos Solidariteit en Cosatu te sien terwyl hy net melding maak van die Khoi en San mense en ’n oproep aan hulle vir ’n oop gesprek? Verder doen hy niks rondom die hartseer van ons mense op die grond. Dis tyd dat die president besef ons is die ware burgers van hierdie land.

            Verder neem ek aanstoot dat die ANC, DA en ander partye niks doen aan hierdie knelpunt nie. Nie een van hierdie partye het ooit opreg met dié knelpunt gehandel nie. Die feite is in die geskiedenis van die land na 1994.

            Ons mense sukkel om werk te kry. Die tekort aan behuising en kapitaal vir entrepreneurs gaan binnekort ontplof as daar niks aan gedoen word nie. Soos swart entrepreneurs weet ons dat swart ekonomiese bemagtiging op die langtermyn essensieel is om inkomste en rykdom te versprei. Wanneer gaan dit in ons gemeenskappe gebeur? Kom ons vergeet die bekende spelers en aanvaar dat bemagtiging nie bestaan in ons gemeenskappe nie. Niemand binne die Afrikaanse Handelsinstituut kwel hulle oor die ekonomiese toestand van die Khoi en San entrepreneurs in al die diamantkonsortiums nie.

            Die Noord-Kaap is die tuiste van die Khoi-San en Griekwa gemeenskappe wat nie deur enige politieke party verteenwoordig word nie. Die waarheid moet vertel word van provinsiale beamptes wat deurgaans die saad van uitsluiting en verwarring tussen ons mense en die organisasies wat op die grond werk, saai. Telefoonoproepe en herhaalde besoeke aan die provinsiale kantoor van die departement van minerale en energie het tot niks gelei nie. Fakse word beantwoord met versoeke om meer fakse te stuur. Beamptes is nie ingestel op die bemagtiging van Saartjie Baartman se mense nie.

                Die ander dag vertel my moeder my oor die Limpopo-regeringsbeamptes wat Buysdorp wil wegneem van die Buyse, want dit het nooit aan hulle behoort nie. Hierdie amptenare dra geen kennis van die Khoi en San rotskuns in Limpopo nie, want dit beteken mos niks vir hulle nie. Terwyl almal besig is om name te verander, gee niemand om oor die swak toestand van al die waardevolle kunswerke van die Khoi en San in die Limpopo nie. Dis tog ook ’n deel van Suid-Afrika se erfenis, of hoe? 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=748
Artikel nagegaan:
    -