|
||||
Vasti Roodt se besinning oor Hannah Arendt se gedagte oor “klaarkom sonder ’n trapleuning”, ten opsigte van die behoud van Afrikaans, vind ek baie interessant. Sy vra die vraag in watter mate mense wat hulleself skaar by ’n “derde taalstryd” bevry is van die invloedsfeer van ’n vervloë tradisie - die gedagte synde dat mens verkieslik weg moet beweeg van die verlange na dit wat was. Hierin is daar egter ’n ingeboude probleem omdat die Afrikaanse taal self ’n produk van die geskiedenis is. Deur dus op watter wyse ook al die voortbestaan van Afrikaans te probeer bevorder, is die persoon wat daarby betrokke is besig met iets uit die verlede waaraan hy verknog is. Afrikaanssprekendes sal slegs volkome nuut in Suid-Afrika volgens die Arendt-benadering (soos deur Roodt vertolk) ten opsigte van Afrikaans kan handel, as hulle geheel en al met die taal help wegdoen (en nie daarin skryf nie). Deur slegs ’n bepaalde veranderde houding in verband met die taal voor te gee, maar die taal nog te wil beskerm, red hom nie van insluiting by die groep mense wat nie regtig iets nuuts wil skep nie. Dit is sekerlik nie me. Roodt se bedoeling nie, maar dit is bepaald wat die vyande van Afrikaans sal kan sê. |