|
|||
Die dood van Stefan Louw kan beskou word as nog ’n ongeval in die onverklaarde “oorlog van almal teen almal”, soos die filosoof Thomas Hobbes dit driehonderd jaar gelede teen die agtergrond van sewentiende-eeuse Engeland beskryf het. Wat Hobbes gesien het, was die opkoms van moderniteit en die verlies aan die tradisies en instellings aan die hand waarvan ’n stabiele samelewing tevore ingerig is. Die gevolg was ongebreidelde begeerte en “die ryk van skaarste” waarin elkeen teen elkeen opstaan om toegang tot die “vrugte van ontwikkeling” te verkry. Dít is die oorlog wat tans in Suid-Afrika woed; dít is die kragte wat dreig om die Suid-Afrikaanse samelewing uitmekaar te skeur. Die dood van Stefan Louw plaas ons voor hierdie krisis, maar lewer ons nie daaraan uit nie. Want Stefan se lewe staan nie in die teken van skaarste nie, maar van oorvloed. Hy het uit die oorvloed van God se genade ontvang en het en die nulsomlogika, waarvan hy die onomkeerbare slagoffer geword het, nie gedeel nie. Daarom hoef ons dit ook nie te deel nie. Ons hoef nie tot die oorlog van almal teen almal toe te tree nie; inteendeel, as ons van Stefan se dood ’n goeie dood kan maak, sal dit wees deur uit dieselfde oorvloed as hy te put en genoeg te hê om te deel. Soos vuur en vryheid wat meer word hoe meer mens dit deel. Stefan se lewe en dood roep ons op om anderkant die ryk van die skaarste en die ongebreidelde begeerte te tree. Dan is ’n ander wêreld en ’n ander Suid-Afrika moontlik. |