|
||||
Kleinjan Schietekat
In die lig van groeiende tekens dat Afrikaans op die Universiteit van Stellenbosch (US) uitgesorteer is, moet die stilte wat tans in die Eikestad heers nie vlak gekyk word nie. Dit is om die minste te sê betekenisvol. Luidens dokumente wat Die Vrypostige Afrikaan onder oë gehad het, is die gevoel in hoë US-kringe dat teenstrydighede nou versoen is en diversiteit nie vir die universiteit ’n probleem is nie. Teen hierdie agtergrond word daar geglo die US kan vorentoe kyk. Die groeiende verhouding met Engels staan nie net in die teken daarvan dat Engels die taal van globalisasie is nie, maar ook, in ’n meer letterlike sin, die taal van glo-bal-isasie, soos die skouspelagtige Sokkerwêreldbeker vanjaar in Duitsland uitgewys het. Die US het klaarblyklik groot planne om nie net op taalgebied nie, maar ook op sportgebied die bal vorentoe te skop. Historiese kenners verbonde aan die US wys daarop dat die US nie net ’n taalbakermat is nie, maar ook ’n sportbakermat, en dat sport nou ’n belangrike rol kan speel om die studenteprofiel van die US in lyn te bring met die nasionale bevolkingsamestelling. Meer spesifiek is die besluit feitlik geneem om vanaf aanstaande jaar die klem vanaf rugby na sokker en meer aan die US te verskuif. Dit is die “meer” wat veral die verbeelding aangryp. Terwyl die US na die onlangse taalrelletjie die lukrake idee van ’n universiteit as ’n gemeenskapsbate uitgeskuif het in sy herposisionering as nasionale bate, word daar nou gehoop om met groter ondersteuning aan die wêreld se geliefkoosde sportsoort die US ook in ’n internasionale bate te verander. Sokker is per slot van rekening ook die geliefkoosde sport van die suidelike lande, soos bewys deur die sukses van Australië se nimlike Socceroos by die pasafgelope Wêreldbeker. Marknavorsing wat die US in sy tradisionele voedingsgebied gedoen het, het egter aan die lig gebring dat om rugby aan die agterspeen te laat suig ten gunste van sokker – veral as die afrigting slegs in Engels gaan geskied (geen T-opsie nie) – hoofsaaklik uit Malmesbury en omliggende gebiede moleste kan ontketen, met rugby hooliganism ’n besliste moontlikheid. Dit is hierdie vrees vir rugby hooligans wat die US-administrateurs op die blink idee gebring het om die voortou in die versoening tussen rugby en sokker te neem, ’n soort van sport-KODESA. Twee voormalige rugbyspelers – Stampkar Jantjies en Kapstok Jones – en ’n voormalige sokkerspeler – Shoes Tshabalala – wat Suid-Afrika in die Mandela-era op die hoogste vlak verteenwoordig het, is deur die US gevra om ’n nuwe sport bestaande uit ’n kombinasie van sokker en rugby te ontwerp. Hulle voorstelle vir die nuwe sport – sokby (uitgespreek sok-bie) – is boeiende leesstof. Die bal se twee helftes sal onderskeidelik ovaal en rond wees. Die nodige afmetings om die regte verhouding tussen die gelukkige en die ongelukkige wip te bepaal, is ontwerp deur ’n paneel internasionaal erkende wiskundiges, waarby die uittredende rektor na bewering ook betrokke was. Weens die historiese bevoordeling van rugby ten koste van sokker is besluit om die aantal rugbyposisies in die nuwe spel te verminder, en die span tot 13 lede te beperk as kompromis tussen ’n sokkerspan van 11 en ’n rugbyspan van 15. Daar is ook gevoel dat die bal histories te na gekom is deur te veel geskop te word, veral in maneuvers vanaf die regterkant van die veld. Om dié kwessie reg te stel, word twee 10-meter-reëls voorgestel, oftewel die twee groot gelykmakers. Reël 1 bepaal dat die bal nie verder as 10 meter geskop mag word nie, terwyl reël 2 bepaal dat wanneer die bal gedribbel word, dit minstens 10 meter ver moet wees. Wat posisies in die span van 13 betref, stel die komitee voor dat die meeste rugbyposisies eenvoudig saamgegooi word onder die posisie van têkkelaar, waarvan daar vyf in die span moet wees. In ’n kopknik aan Amerikaanse rugby behoort die vyf têkkelaars ter wille van aanskoulikheid nooit naby die bal te kom nie en slegs mekaar te têkkel – geelkaarte sal so ook tot die minimum beperk word. Verder is daar ’n doelwagter, vier senters en vier vleuels, oftewel ’n verdubbeling van die dribbelposisies in sokker, buiten die doelwagter. Die doelhok bly onveranderd met horisontale pale. Uit billikheid teenoor die histories mishandelde bal moet die bal dus so min as moontlik beweeg word. Geen drieë word toegelaat nie, en punte word slegs aangeteken deur die span wat die bal die minste in ’n beweging kan hanteer. So word die spel tot sy uiterstes gevoer. Indien die têkkelaars in enige stadium die dribbelaars têkkel, word die spel onmiddellik gestaak, want beserings is onwenslik. Drie skeidsregters – een wit, een bruin en een swart – roteer elke tien minute die fluitjies. Planne is om die eerste Matie sokby-derby volgende Februarie af te skop, met ’n spesiale pawiljoen vir toeskouers uit Malmesbury en omliggende gebiede. Ofskoon die planne nog stilgehou word, het die Universiteit van Fort Hare blykbaar reeds die US genader met ’n versoek om hulp om ’n kombinasie van jukskei en stokgevegte op die been te bring. Samesmelting tussen die twee instellings is egter nie op die kaarte nie. |