|
||||
Katja Gentric Deur Katja Gentric, kunstenaar, kunshistorikus en assistant van Willem Boshoff Die uitstalling NONPLUSSED het huiwerig vorm begin aanneem gedurende die eerste maande van 2004. Terwyl Boshoff in Februarie 2004 aan sy persverklaring begin werk het, het hy hom bekommer dat sekere van die besonderhede rakende die uitstalling die publiek of selfs die galery mag aanstoot gee. Hy sukkel om die woorde te vind waarmee hy alles kan sê sonder om dit pertinent te noem... Drie maande later slaag hy daarin om ‘n gepaste inleiding te formuleer : ‘Boshoff, by Goodman, is antipas (teen alles). Hy stem teen vredesinisiatiewe, geregtigheid en teen menseregte. As pejoris glo hy dat die wêreld ‘n slegter plek word. Die uitstalling NONPLUSSED vier die ineenstorting van taal, die tirannie van dialoog, misverstande, die onvermoë om ‘iets’ te sê. Sy (pre)teks(t)e is onderhewig aan cacoethes scribendi, die onversadigbare drang om iets slegs te skryf. Boshoff se wêreld is syferig , soos dryfsand, onbetroubaar en verraderlik...’ Soos die leser deur die katalogus van NONPLUSSED blaai, sal hy of sy een visuele konstante kan opmerk: Geskrewe tekens. Al 18 werke vertoon skrif: getik, handgeskrewe, gedruk, uitgesny, gekerf, skrif in Latyn, Sirillies, Arabiese karakters, aangebring in ‘n goed versorgde ontwerp. In die kringe van Suid-Afrikaanse kunskritiek het sy gebruik van die geskrewe teken Boshoff die titel ‘Konseptualis’ laat verower. Een van die eerste werke wat Boshoff vir hierdie uitstalling versin het, is SDROW FO NWODKAERB (lees ‘BREAKDOWN OF WORDS’): Hier gebruik Boshoff die eerste bladsye van sy ongepubliseerde woordeboek. Die bladsye word in stukke gesny, die logika van die definisies word sodoende “gedekonstrueer”. Gebreekte werktuie word met die knipsels oorgetrek - ’n boodskap rakende die afbreek van taal... ’n Eerste vinnige lesing van die inhoud van die sinne wat op die werke in NONPLUSSSED vertoon word, los by die leser die idee van verwarde verwysings en sinspelings wat uit ’n wye politiese konteks ontstaan. Reeds in Boshoff se vorige uitstalling word sy uitsprake meer openlik polities as gewoonlik. Dit is die uitstalling LICKED, wat by Michael Stevenson van 26 Augustus tot 27 September 2003 te sien was. In LICKED stel Boshoff vrae oor gevangenskap en stemreg, temas wat binne die post-apartheid konteks steeds Suid-Afrikaans bly. In een werk, FLAGS, maak Boshoff ’n eerste opmerking oor eietydse Amerikaanse imperialisme. ’n Tweede uitstalling wat in hierdie konteks genoem kan word is GOD SAVE THE QUEEN. Dit is vanaf 15 Oktober tot 16 November 2004 by die Ou Fort by die Grondwetlike Hof te sien. Hierdie uitstalling hou verband met die besoek van Thomas Packenham. Die Ierse skrywer en geskiedkundige het onder meer gepubliseer oor die Boereoorlog en oor bome. Boshoff deel beide hierdie belangstellings. Vir GOD SAVE THE QUEEN het Boshoff ’n paar van sy werke gekies wat oor die konfrontasie tussen Brit en Boer aan die begin van die 20ste eeu handel. Boshoff verwys na gebeure wat sy familie self oorgekom het as deel van die Brit-Boer-konflik. Twee van hierdie het deel gevorm van NONPLUSSED en drie van LICKED. Behalwe hierdie werke wat met Boshoff se belangstellings verband hou, spreek hy in NONPLUSSED ’n nuwe problematiek aan. Dit gaan hier oor die politieke gebeurtenisse wat na 11 September 2001 plotseling midde-in die aandag van die internasionale publiek kom staan het en wat die lande van die Midde-Ooste in die waansinnige wyk betrek het. In die eerste maande van 2004 het Boshoff elke nag die ondeursigtige politieke uitsendings van CNN stip gevolg. Spoedig het Boshoff die een werk na die ander beplan (iets wat vir Boshoff heeltemal vreemd is, sy werkswyse verg gewoonlik tien jaar vir een werk...) Beginnendw by die katastrofe van die 11e September skep Boshoff die werk getiteld LEBAB: Hy gryp in een enkele gebaar die toring van Babel en die tweelingtorings van Manhattan saam. Die werk bestaan uit ‘boustene’ waarop die Bybelse storie van Babel in 94 tale gedruk is en simuleer die ineenstorting van die torings. ’n Tweede werk wat oor hierdie tematiek handel is LIBERTÉ, ÉGALITÉ, twee gemanipuleerde legkaarte van die aansig van die geboue van Manhattan met die Vryheidstandbeeld in die voorgrond. Hierop volg die vraag na die Beloofde Land, die vraag van die geregtigheid van Israel en die rol wat die Verenigde State hierin speel. JER USALEM, JER USALEM (jy wat die profete vernietig...); SERIAL (lees ISRAEL) KILLER en die BREAD AND PEBBLE ROADMAP: (Boshoff laat homself uit oor vrae rakende hierdie werke in die onderhoud hieronder gepubliseer). Die ander werke in NONPLUSSED het baie vinnig gevolg en is uit verskeie werke wat uit ‘n enkele sin bestaan. Boshoff voer die sinne in verskeie tegnieke uit: viniel op die muur van die galery, sement op metaalbord, mis op grond, gedrukte skrif op ’n T-hemp... hierdie sinne is soms geleen uit 'n reklameslagspreuk, soms uit statistieke, soms ’n grap wat op die internet sirkuleer... Kritici van NONPLUSSED formuleer hulle vrae rondom die twee volgende asse. Eerstens ’n vraag wat ons in die konteks van eietydse kuns byna as agterhaal kan bestempel: Hoekom, as Boshoff die posisie van ’n konseptuele kunstenaar inneem, is sy werke tegnies so goed versorg, so indrukwekkend? Hoekom hierdie beklemtoning van harde werk, handvaardigheid en handearbeid? Die kritici se tweede twyfel handel oor die belangrikste uitsprake wat Boshoff in sy uitstalling maak: Hoekom stel Boshoff skynbaar onsamehangende vrae oor baie belangrike aspekte wat ons huidige samelewing raak as hy homself nét op die gegewe oomblik agter die klassieke postmoderne antwoord gaan verskans? Hoekom antwoord hy ‘WORDS HAVE NO MEANING’, ‘NOTHING IS OBVIOUS’ as hy daarna gevra word? Ek wil hier terugkom na die formulering van Alex Dodd. Laasgenoemde sien die probleemparadoks andersom: Hoekom het hierdie uitstalling die titel NONPLUSSED as Boshoff in sy uitsprake glad nie verbouereerd klink nie? Inteendeel, hy lyk baie seker van die morele inhoud van sy stellings. Die enigste een wat skynbaar onkant gevang word, is dus die toeskouer? Laat ons om af te sluit terugkom na die voorwoord vir die katalogus van NONPLUSSED: ‘Boshoff by Goodman is antipas...’ Terwyl hy hierdie woorde skryf wat later vir die inleiding uitgesoek is, het Boshoff sy werk CACOETHES SCRIBENDI in gedagte. Dit is ’n werk van aansienlike afmetings (300cm x 210cm) en die oppervlak is met 4cm hoë letters bedek. Boonop is hulle in ’n ongewone medium geskryf wat nie gewoonlik in ‘n handleiding oor kunstegnieke gevind sal word nie. Dit is die uitskeiding van duiwe, konyne, koeie wat goed gemeng is tot ‘n spesiale ink. Die 97 sinne neem altyd dieselfde vorm aan, in alfabetiese volgorde, beginnende by: ‘I have a big problem with Allah, God and Yahweh; I have a big problem with Arabs and Islam; I have a big problem with Art and Artists...’ en afsluit met, steeds in alfabetiese volgorde ‘...I have a big problem with Women, I have a big problem with World Peace.’ SKOOB deur Willem Boshoff |