blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


‘n Donker en Swaar Verset: ’n Resensie van fokofpolisiekar se album Lugsteuring 2004-11-05
Carel Boshoff

Deur Carel Boshoff

Fokofpolisiekar is eg.  Eg eg wát weet ek nie vir seker nie, want buiten dat dit Afrikaans is, is dit nie juis my genre nie.  Danksy Johann Botha se opvoedkundige programme Maandagaande op RSG is 'n basiese waardering van swaar rock - punk rock noem hulle dit glo in hierdie geval - binne elkeen se bereik.  Persoonlik vind ek dit toegankliker as die a-tonale wending wat klassieke musiek ten aansien van die laat- moderne selfvervreemding geneem het en sal ek aanvoer dat, strydig met talle tieners se ouers se oordeel, Fokofpolisiekar en Rammstein se CD's tereg in die kategorie Musiek bemark kan word.

Fokofpolisiekar ia aansienlik meer as net 'n naam - sonder om te ontken dat die naam 'n merkbare impak gemaak het. In 'n persepsiegedrewe bedryf soos hierdie is dit egter nie vanselfsprekend dat 'n groep se inhoud na die beeld wat hulle skep, sal opleef nie. Dit is immers makliker om diep rewolusionêr te lyk as om dit te wees, soos Van Wyk Louw al in die 1930's ten opsigte van die Afrikaanse kuns en kultuur uitgewys het. Na my mening leef Fokofpolisiekar op na die verwagting wat hulle byna surrealistiese anargisme stel.  Ons sing soos ons praat sou hulle kon aanvoer sonder om noodwendig nie te weet dat dit 'n toespeling op die Eerste Afrikaanse Taalbeweging is nie.

Daar lê naamlik 'n duidelike stuk sofistikasie agter die groot geraas - beide musikaal en andersins. Mens sou byvoorbeeld kon sê die woord "fok" neem op natuurlike en oortuigende wyse die plek van 'n uitroepteken in. Mens sou kon as dit nie so pretensieus geklink het nie. Hoe ookal, vir selferkende ondergemiddelde, onderpresterende produkte van Model C-skool onderwys vertoon beide hulle woordeskat en hulle konseptuele verwysingsraamwerk dalk 'n gebrek aan finesse, maar beslis nie aan opvoeding nie. (Maar dan is finesse ook nie juis hoog op die tipiese rewolusionêre anargis se prioriteite nie. Fok/!)

As daarby nie analities nie, maar met 'n sin vir die Dionisiese met Fokofpolisiekar se werk omgegaan word, val frases soos die volgende op.  'Rys jou hande in die lug en bind die duisende slawe wat volmaag staan en vir nog reklame vra .' Of die beeldryke 'my vingers is al geel gekontempleer...'  en 'Is jy die enigste vyand van spirituele tegnologie? Ons oë is vervang met skerms en ons siele met prentjies van die see.'  Of die onheilspellende 'Het jy dit ook gehoor? Ons paradys verdwyn tussen dof geel lig en selfoonsein. Dogma. Dog maar net ek sê daar is geen vlag wat ek met trots sal dra nie, so haat my, want ek vrees my nasie.'

Nie dat los uittreksels enige reg aan die musiek kan laat geskied nie, maar dit sê darem iets van die erns en vaardigheid waarmee hulle op die eenvormigheid van 'ons klein beige paleisies aan die buitewyke van kakstad' lostrek. Daarvan getuig ook die uitstekend ontwerpte buiteblad en boekie waarin lirieke volledig vervat is. As die ses illustrasies van Matt Edwards uitgestal sou word, kan dit onder die opskrif 'Ge monsterde, dog blomlose roosboom en blits' wees - seker geïnspireer deur 'Bid vir weerlig in die reën' op snit 1.

Fokofpolisiekar staan in die teken van 'n donker en swaar verset teen die groot-stedelike vervreemding wat die einde van die moderniteit kenmerk. Dit word veral voelbaar vir jongmense wat hulleself as magteloos en marginaal ervaar. As in aanmerking geneem word dat blanke ar moede sedert 1994 met 197% toegeneem het, hoef dit ons seker nie te verbaas dat die Kaapse Metropool Fokofpolisiekar oplewer nie.  Snit 8, My lys verskonings , lees byvoorbeeld só:

'Jy praat van rewolusie. Ek praat van die enigste uitweg van my voortbestaan - jou ondergang - my bestaan.

Miskien dra ek die letsels van my gedrag en die skete van my onverantwoordelikheid

"Wit Kaffir, Kind, Kont!"  gaan bloei op die grond, op die strate waar jy so graag wil hoort

Model C, ondergemiddeld, onderpresteer.  Sal jy verstaan as ek soos Jesus Christus maak en gekruisig langs die pad lê?  Sal jy verstaan?

Miskien dra ek die letsels van my gedrag en die skete van my onverantwoordelikheid.'

Fokofpolisiekar se tweede CD Lugsteuring het onlangs verskyn en word deur Bowline Musiek versprei.  Die album is langer, beter en moeiliker (vir my) as die eerste, kort CD As jy met vuur speel sal jy brand .  Hoewel my vrou gedroom het dat die duiwel haar kinders kom steel terwyl ek vir hierdie bespreking voorberei het, beveel ek dit vir die kieskeurige en volwasse luisteraar aan. Dit vergelyk vir my met vernuwende albums soos David Kramer se Huis toe, Piet Botha se Suitcase vol winter en, voordat dit tot cliché verskraal is, Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se Eet Kreef.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=58
Artikel nagegaan:
    -