blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Het die tyd onder Antjie Krog se voete verander? 'n Reaksie op Antjie Krog se N.P. Van Wyk Louw-lesing 2004-11-05
Charl-Pierre Naudé

Deur Charl-Pierre Naudé, wenner van die Ingrid Jonker-prys vir poësie waarvan ‘n nuwe digbundel eersdaags by Protea Boekehuis verskyn

*'n Korter weergawe van hierdie artikel het onlangs in Die Burger en Beeld verskyn

By 'n onlangse vertalerslypskool waar Nederlandse en Afrikaanse digters gedigte van mekaar oor en weer vertaal het, het die besoekende digter K. Michel sylangs opgemerk: “Die Nederlandse poësie het eers in die afgelope dertig jaar vernuwe.”

Vernuwe? Dertig jaar … Min of meer die bestek waarin Suid-Afrika – en veral Afrikaans – se kulturele isolasie op die spits gedryf was.

Kan dit dalk die rede wees waarom sommige Afrikaanse gedigte wat ná 1970 verskyn het, en veral in die 1980’s, soms verstok en verouderd voorkom in vergelyking met Europese (en Nederlandse) gedigte wat in dieselfde tyd geskryf is?

Ons sien al hoe meer inisiatiewe soos bogenoemde vertalerslypskool. Maar hoe suksesvol word isolasie opgehef? Isolasie het gebeur weens 'n politieke proses, maar dit kan in stand gehou word deur ons gebrek aan ontvanklikheid. Dit moet helaas ook opgehef word waar dit die hardnekkigste in stand bly: in die bestaansterme van die Afrikaanse kultuur.

'n Voorbeeld: Antjie Krog het by die N.P. Van Wyk Louw-gedenklesing dit betreur dat nuwe Afrikaanse digters nie verskyn nie. Omdat Afrikaanse jongmense nie genoeg identifiseer met wat in die land gebeur nie, was min of meer haar punt. Vervreemding maak die digters stil ...

Inderdaad. Maar, is dit 'n vervreemding van die toekoms? Die vraag ontstaan of dit nie eerder 'n goedbegronde vervreemding is van die verlede nie, wat ad nauseam aanhou om homself op hulle af te dwing, nie die minste nie in Antjie Krog.

Ek wil nie die belang van die digter as gewete of geheue verkleineer nie. Ek verwys na die maniere waarop bepaalde gediskrediteerde gebare van die verlede hulself herhaal waar jy dit die minste verwag. Een so 'n gebaar is paternalisme.

As Krog se lesing uitsluitlik was oor hoe sý die poësie sien, sou dit goed en wel wees. Die indruk word egter gelaat dat sy digkuns wil interpreteer vir haar opvolgers. Die dag wanneer Afrikaanse digters aan die volgende generasie sê: “Moenie soos ek dink nie, en in hemelsnaam, moet net nie soos ek skryf nie!”, sal ons paternalisme agterlaat. Dit sal beslis help om nuwe digters uit die gate te bring …

Onderliggend aan Krog se lesing was dié “etos” : “ware” poësie behoort nie “besinnend” te wees nie, want “poësie is gevoel”. Dié idee staan wars teenoor refleksie binne die poësie, teenoor die talmende en weifelende emosie. Teenoor die dinkende droom. Niks vervreem tans meer nie as die oorvereenvoudiging van die openbare diskoers, veral rondom die kunste.

In die tydsgewrig wat aan Krog se eie digkuns beslag gegee het, het die heersende (manlik-gedomineerde) denke binne Afrikaans grootliks vasgeval in rasionalisasie. Dus was hierdie oriëntasie van haar oorrompelend gemotiveerd, maar slegs binne die tydsgewrig wat haar geskep het.

En ook slegs as 'n praktiese middel. Inhoudelik hou dit kwalik stand, nie nou of voorheen nie. Want onderliggend aan Krog se betoog skuil die idee dat gevoel “oorspronklik” en “suiwer” is en besinning 'n wegval daarvan, 'n korruptering van “hartstog”. En hemel, daardie idee is so oud soos soos Jean-Jacques Rousseau se Romantiese pruik. Pleks van 'n edele barbaar onder die hare, sit nou net 'n edele digter.

Ek kan nie dink aan enige idee wat verder verwyderd is van 'n postmoderne digterskap nie. Poësie, liriese poësie ook, was nog altyd 'n mengsel van brein- en hartimpuls. Laat maar die ongebore digters se tydsgewrig aan hul eie intuïsie oor, asseblief! Hulle gaan skuldig genoeg wees aan hulle eie idees.

En kyk bietjie na wat deur daardie etos van Krog uitgesluit word (enkele voorbeelde): die simbolisme (“Art is thinking in images”) en alles in die vaarwater daarvan, onder andere die kragtoere van die na-oorlogse Europese digters, met die besinnende ruimtes wat so gelyktydig voorkom met die oombliklike waarneming: Milosz, Szymborska… Ook daardie plaaslike modernistiese meester – wat’s sy naam nou weer? – ou warts-and-all, Van Wyk Louw.

Te Eurosentries? Pasop vir die ergste van alle Eurosentriese idees: dat die Afrikaan 'n “gevoelswese” is en “nie geneig is tot denke nie”! 'n Wese wat “hou van sing”...

En hierin lê dalk die kruks waarom “nuwe digters nie gevind word nie”. Die moontlikheid van nuwe digkuns word tans gelyk gestel aan proletariese vorme. Dit sluit 'n hele band moontlike nuwe skeppers uit. Dit dra ook miskien by dat Nobel-Pryswenners emigreer.

Nie dat mens nie by hierdie proletariese vorme kan leer nie. Afrikaans in sy Kreoolse volheid, soos Suid-Afrika, is in vele opsigte 'n proletariese kultuur. Krog se klem op ubuntu, so aanwesig in daardie vorme, is dus van kardinale belang – maar dis 'n raamwerk, nie 'n eindpunt nie.

Rockmusiek, waartoe die nuwe digters kwansuis hul toevlug neem, is in wese en oorsprong 'n proletariese uitdrukkingsvorm - wêreldwyd. Proletariese uitdrukking berus meestal op “seggingskrag”, soos trouens Krog se poësie self, en soos die inheemse vorme wat sy so klinkend mooi vertaal. Maar dis slegs 'n gedeelte van wat moontlik is!

Die amptelike, swyende definisie van kuns is “proletariese kuns”. Die swyende definisie van gehoor is 'n “proletariese gehoor”. G'n wonder rockmusiek en performance poetry groei – en wel die meer kru vorme – en ander kuns word stiller. Selfs binne rockmusiek raak die verfynde poëtiese stem stiller.

Wil kuns, en poësie, nie dalk in ander terme ook plaasvind nie?

Daar is 'n vertraging in die kulturele oorgang in SA van 'n rewolusietoestand wat per definisie oorvereenvoudigend is, na 'n post-rewolusionêre, genuanseerde samelewing. As ons nie die oorgang maak nie, sal isolasie, én verlies, net voortplant.

(Dis belangrik om te sê: “post-rewolusie” veronderstel nie 'n einde aan “rewolusie” nie, slegs 'n gans ander voltrekking.)

En wanneer die oorgang plaasvind, sal vele dit nie herken nie. Die filosoof Foucault het aangetoon dat die logika van “tydgleuwe” soomloos en ongesiens in iets heel anders kan verander, en so baie segspersone onkant betrap.

Het die tyd onder Antjie Krog se voete verander? Neem haar verdere punt: dat aktivistiese poësie altyd nodig sal wees in SA. Aktivisme en ubuntu val glad nie per definisie saam nie, want ubuntu is ruimteskeppend, en aktivisme is ruimtebesettend. Dit val wel saam in die gepolariseerde konteks van rewolusie, maar in ander tydsgewrigte kan die twee mekaar ophef.

Die jeug “word vervreem van die poësie omdat dit deel is van hul ouerlike wêreld”, aldus Krog. Miskien is hulle ewe veel vervreem van die alewige voorskrif tot aktivisme. Politieke verse sal altyd nodig wees. Maar aktivistiese gedigte is tog slegs 'n bepaalde soort daarvan.

'n Pool wat Afrikaans doseer in Warskou was nou die dag hier. Almal was nuuskierig oor Afrikaans in Pole. Het iemand hom uitgevra oor letterkunde in 'n post-rewolusionêre samelewing?

Na my wete nog nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=57
Artikel nagegaan:
    -