blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Hoofartikel: VSA-verkiesing 2006-11-15


Op Woensdag 8 November, die dag van die Amerikaanse Kongres- en senaatsverkiesingsuitslae waarin die Demokrate die oorwinnaar was, is 10 Palestynse vroue en 7 Palestynse kinders volgens Channel 4 dood te Beit Hanoen, in ’n Israelse militêre operasie teen ’n vermeende vuurpyllanseerpunt … wat die teiken met ’n halwe kilometer gemis het.

                Twee gebeure duisende kilometer uitmekaar, maar ten nouste verbind, want na die amperse vredesluiting tussen die Palestyne en die Israeli’s laat in 1999 met die bemiddeling van die vorige Demokratiese president, mnr. Bill Clinton, wankel die Midde-Ooste vandag op die rand van ongekende geweldpleging en selfs ’n streeksoorlog.

                Terwyl daar gereeld verklaar word dat links en regs in die politiek grootliks agterhaalde kategorieë is, het die skrille kontras tussen die eras van die links-sentristiese Clinton en die regse, neokonserwatiewe George W. Bush getoon dat dié kategorieë nie geheel en al van inhoud gestroop is nie …

                Die kontras tussen die Demokrate en die Republikeine moet ook nie oorskat word nie. Waarnemers soos Noam Chomsky het al meermale daarop gewys dat die patroon van Amerikaanse wêreldhegemonie sedert die Tweede Wêreldoorlog onder die leiding van óf Demokrate óf Republikeine nie wesenlik gewissel het nie. Te oordeel aan die benaderings van onderskeidelik Clinton en Bush lyk dit of die Demokrate sedert die Val van die Berlynse Muur verkies om Amerikaanse hegemonie met ekonomiese middele na te streef, terwyl die Republikeine verkies om dit met militêre middele te doen.

                Nietemin is dit tog ’n belangrike verskil, veral in ’n hoogs ontvlambare streek soos die Midde-Ooste, wat dekades al gebuk gaan onder Westerse en veral Amerikaanse dubbelhartigheid. Hierdie dubbelhartigheid is waarskynlik nêrens so duidelik versinnebeeld soos in die wel en wee van die figuur Saddam Hoessein nie: in 1967 met Amerikaanse steun aan bewind gestel en gehou, ook deur die oorlog teen Iran in die 1980’s heen, tot hy na sy Amerikaanse meesters se sin te onafhanklik geraak het en na twee invalle in sy land ontsetel en oplaas tot ’n galgdood veroordeel is in ’n uitspraak wat op veelseggende wyse vir die beleërde Bush en sy party slegs twee dae voor die verkiesing gekom het. ’n Lomp poging om aan die gemanipuleerde Amerikaanse publiek te wys die VSA is aan die “wen” in Irak?

                Gaan die verkiesingsoorwinning van die Demokrate iets hieraan verander? Waarskynlik nie. Ten eerste is Bush steeds president, met aansienlike uitvoerende magte. Ten tweede het Hillary Clinton, die Demokrate se voorloper om in 2008 presidentskandidaat te wees, haar ten opsigte van die Midde-Ooste allesbehalwe van Bush onderskei – hoewel dit natuurlik vanweë haar politieke versigtigheid te midde van die teenswoordige klimaat van vrees in die VSA mag wees.

                Met die VSA se politieke elites toenemend na binne gekeer, die Israelse regering rigtingloos en verlam na die oorlog teen Hisbolla in Libanon, die Palestynse politici intern verdeel en Irak op die rand van ’n burgeroorlog, val dit te betwyfel of die oorwinning van die Demokrate ’n wesenlike verskil aan die Midde-Ooste gaan maak – of aan internasionale politieke en ekonomiese stabiliteit.

                Nietemin is dít nie die laaste woord oor die Demokrate nie. Daar is vandag pogings om nuwe idees in die Demokratiese Party te ontwikkel. Die finansier, George Soros, het onlangs self miljoene dollar bewillig vir ’n nuwe ideëforum om die Demokrate te versterk. Jong Demokratiese bloggers is besig om die Demokrate se gevestigde leierskap uit te stof in die stryd om die aandag van die kieserspubliek. Howard Dean, die eerste Amerikaanse politikus wat in ’n presidentswedloop die internet behoorlik kon inspan, is nou voorsitter van die Demokratiese Party. Dit alles kan dui op ’n party wat homself desperaat probeer heruitvind, alhoewel daar nog nie werklike tekens van vernuwende denke of praktyke sigbaar is binne hierdie groeperinge nie. Dit lyk eerder na die bekende Amerikaanse politiek van “muddling through”.

                Intussen sal dit vir demokrate van alle soorte wêreldwyd verstandig wees om nie hulle asem op te hou nie: die onsekerheid in die Midde-Ooste en die groeiende ekologiese krisis – wat nou selfs deur die finansiële establishment in die persoon van sir Nicholas Stern erken is – maak dit noodsaakliker as ooit tevore dat gewone burgers deelneem aan die skep van ’n ander wêreld.

                Die opkoms van die inligtingsekonomie die afgelope twintig jaar het enorme kragte ontketen wat nog hoegenaamd nie deur die religieuse of politieke instellings van ons tyd verreken is nie. Om die inligtingsekonomie met uitgediende idees of agterhaalde politieke ekonomie te probeer verstaan, is fataal. Daarom is die eerste en belangrikste taak van demokrate vandag die ontwikkeling van idees en instellings wat die ekonomie weer ’n onderdeel van die wêreld in plaas van die alfa en die omega kan maak. So nie kan die era van inligting se onmeetlike beloftes katastrofaal onvervuld bly.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=741
Artikel nagegaan:
    -