blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Waarom geweld SA oorspoel 2006-11-15
Johann Rossouw

*Redakteur

 

Waarom is Suid-Afrika vandag vasgevang in ’n knelgreep van misdaad en geweld, in so ’n mate dat die woord geweldsmisdaad algemeen gebruik word? Wat geweldsmisdaad betref, hoor ’n mens dikwels die argument dat dit in ’n land met soveel armoede in ’n mate verstaanbaar is dat iemand byvoorbeeld by jou huis inbreek of jou motor kaap, maar waarom jou dan ook nog aanrand, skend of vermoor?

                Dit is omdat Suid-Afrikaners toenemend nie antwoorde op hierdie vrae het nie dat ’n stemming van magteloosheid en moedeloosheid besig is om in die land pos te vat. Peiling na peiling wys misdaad uit as die enkele grootste probleem vir Suid-Afrikaners van alle gange van die samelewing, asook die grootste enkele rede waarom mense die land verlaat.

                Na gelang mense se wanhoop te midde van hulle onbegrip toeneem, begin hulle ook terugval op maklike dog ontoereikende verklarings wat nie soseer insig in die probleem gee nie, maar eerder ’n gevoel van valse sekuriteit skep en in der waarheid eintlik dikwels ou rassistiese vooroordele of wedersydse onbegrip, waaronder die land al baie lank gebuk gaan, aanwakker. Soms word die probleem toegeskryf aan “die Afrika-kultuur se gebrek aan respek vir lewe”, soms aan die “onbekwaamheid van die swart regering”, sonder dat daar enige bewys bestaan dat enige kultuur ter wêreld nie die lewe respekteer nie, of dat die gehalte van regering met ras verband hou!

                Die probleem word vir baie mense – en veral Afrikaners – ingewikkelder gemaak omdat in weerwil van die feit dat hulle bereid was om die nuwe bedeling na 1994 te ondersteun, hulle in toenemende mate self die slagoffers van misdaad en geweld geword het wat voor 1994 óf op ’n baie laer skaal in middelklaswoongebiede voorgekom het, óf tot arm woongebiede beperk was, óf eenvoudig in totaal baie minder was. Bowendien kon die geweld wat veral tussen 1985 en 1994 landswyd voorgekom het, herlei word tot die probleme met die vorige politieke bedeling, sodat baie mense in die land dan ook aanvaar het dat die instelling van ’n grondwetlike demokrasie – hoewel toenemend meerderheidsoorheers – minstens die wins van die beëindiging van die ou politieke geweld sou meebring. Op stuk van sake maak dit tog nie sin dat die instelling van ’n grondwetlike demokrasie die geweld veroorsaak nie, of hoe?

In die proses van modernisering waardeur die Westerse wêreld die afgelope ses of wat eeue gegaan het, was eers die religie, toe die politiek, en is nou die ekonomie die belangrikste sfeer van die samelewing.

Op hierdie punt moet ek eers kortliks verwys na elk van hierdie drie sfere se opvattings van waarde, transendensie (die meer-as-ons wat dit vir ons moontlik maak om ‘ons’ te sê) en immanensie (die wêreld waarbinne ons die meer-as-ons probeer verwerklik en gestalte gee).

                In die (Christelike) religie is God of die kosmiese die hoeksteen van waarde. Al daardie deugde wat die omvorming van die wêreld tot God se koninkryk bevorder, word as waardevol geag, waarvan geloof, hoop en liefde “die grootste” is. God is dit wat dit vir ons moontlik maak om ‘ons’ te sê, en diegene wat deel van hierdie ‘ons’ uitmaak, stig gemeenskap in die instelling van die kerk, waarin die uitleef van liefde in en vir die wêreld dan die belangrikste deug is.

                In die politiek na die Middeleeue is die volk die hoeksteen van waarde. Al daardie deugde wat die glorie van die nasie bevorder, word as waardevol geag, waaronder dapperheid, offervaardigheid en vaderlandsliefde. Die volk is dit wat dit vir ons moontlik maak om ‘ons’ te sê, en diegene wat deel van hierdie ‘ons’ uitmaak, stig gemeenskap in die instelling van die nasiestaat, waarin die uitleef van politieke vryheid dan die belangrikste deug is.

                In die ekonomie wat na die Tweede Wêreldoorlog na vore kom, is die mark die hoeksteen van waarde. Al daardie deugde wat die groei van die ekonomie bevorder, word as waardevol geag, waaronder produktiwiteit, rykdom en verbruik. Die mark is dit wat dit vir ons moontlik maak om ‘ons’ te sê, en diegene wat deel van hierdie ‘ons’ uitmaak, stig gemeenskap in die instelling van die verbruikersamelewing, waarin die oorgawe aan verbruik en besit dan die belangrikste deug is.

                Hierdie bondige samevatting van die drie eras van religie, politiek en ekonomie vanaf die Middeleeue tot vandag is uiteraard ’n oorvereenvoudiging, maar nogtans kan ’n mens reeds net op grond daarvan sien dat die drie eras ingrypend van mekaar verskil, dat hulle opvattings van wat dit beteken om ‘ons’ te sê (oftewel gemeenskap), van waarde en van die tyd heeltemal uiteenlopend is.

                Waar die religieuse era met ’n oneindige tydsopvatting werk – onder meer omdat sy transendente, God, ewig is – werk die politieke era met ’n eindige tydsopvatting, onder meer omdat sy transendente, die volk, histories is. Nietemin weet ons dat albei hierdie eras mense met onsigbare bande in gemeenskappe gebind het, hoewel die gemeenskappe van die religie in die geskiedenis veel duursamer as dié van die politiek was.

                Met die ekonomie wat na die Tweede Wêreldoorlog na vore gekom het, het ’n baie meer kortstondige tydsopvatting toonaangewend geword, onder meer omdat sy transendente, die mark, hiperwisselvallig is. In teologiese taal kan ons sê dat vanaf die religieuse na die politieke na die ekonomiese era daar ’n dramatiese afskaling van die transendente plaasvind: vanaf God en die ewigheid na die volk en die geskiedenis na die mark en die onmiddellike. In die kerk word mense soms eers eeue na hulle dood tot heiliges verklaar; in die volk word mense eers aan die einde van hulle lewens nasionaal vereer; in die mark is slegs die jongste, mooiste of rykste gewild solank hulle die jongste, mooiste of rykste is – gister Rockefeller, vandag Bill Gates; gister Diana, vandag Paris Hilton. En môre?

                Waar deugde in die era van die religie of die politiek duursaam is en ’n lewe lank gevorm word, praat niemand in die era van die ekonomie meer van deugde (of van die praktyke en instellings soos kerke en skole waarbinne hulle gevorm word) nie, maar heers daar ’n al hoe groter krisis van waarde, sodat almal wonder hoe “waardes herstel” gaan word, of hoe om die krisis van “leierskap” op te los.

                Die rede hiervoor is dat die mark self die waarde vernietig wat hy skep, omdat dit waarin waarde gemeet word – geld – nie self in iets hoërs geanker is nie (soos die nasie of God). Die naaste wat die mark aan so iets hoërs kom, is om ’n tydelike materiële standaard van waarde te skep, soos eers die goudstandaard, toe olie en nou die dollar. Maar elke keer ontstaan daar mettertyd ’n krisis rondom elkeen van hierdie standaarde van waarde – omdat hulle self verhandel word in die mark wat hulle veronderstel is om te anker – en verloor die standaard sy waarde. Goud en olie is byvoorbeeld eindige bronne (anders as God of die nasie), net soos die dollar se wel en wee van die VSA se beperkte oppermag afhanklik is.

                Die mark reageer op hierdie krisis van waarde deur voortdurend kortstondige nuwe waardes te skep, amper soos wat lande in tye van ekonomiese krisis meer papiergeld druk – wat altyd die geldeenheid se waarde uiteindelik verminder. Die mark doen dit veral deur middel van die bemarkingsbedryf, wat sy oorsprong vind in die jare na die Tweede Wêreldoorlog, toe die Amerikaanse ekonomie meer geproduseer het as wat Amerikaners werklik nodig gehad het. Om die Amerikaanse bevolking sover te kry om die oortollige goedere van hulle ekonomie te koop, moes hulle eers oortuig word om dinge te koop wat hulle nie regtig nodig het nie, en nog later om dit wat hulle reeds het elke nou en dan met ’n nuwer weergawe te vervang, wat miskien ’n bietjie beter as die vorige weergawe is.

Soos hierdie model sy perke vanaf die vroeë 1970’s weens die versadiging van die Amerikaanse mark bereik het, is dit uitgevoer na die res van die wêreld, en so kry ons die era waarin state wêreldwyd begin om hulle nasionale ekonomieë te “liberaliseer” en oop te stel vir die “vrye” vloei van goedere en dienste. In die proses is die jonger opkomende ekonomieë wat dié van die VSA en ander Westerse lande uitgedaag het, gedwing om dieselfde model oor te neem, sodat die planeet haar vandag bevind in ’n situasie waarin daar wêreldwyd meer vervaardig word as wat nodig is, en die middel- en hoë klas wêreldwyd konstant gebombardeer word met ’n reuse bemarkingsaanslag, terwyl die arm klas eenvoudig van die skerm verdwyn.

                Maar hoe kry die mark dit reg om mense te oortuig om dinge te koop wat hulle nie werklik nodig het nie? Die antwoord kom van Bernard Stiegler, wat in verskeie van sy werke verduidelik dat die bemarkingsbedryf mense sover kry om dinge te koop wat hulle nie werklik nodig het nie deur hulle begeertes konstant te stimuleer, en dan veral seksuele begeertes – wat ook verklaar waarom halfnaakte liggame oral sigbaar is soos wat dit ingespan word om dinge te verkoop.

                Stiegler verduidelik verder dat aandag vandag die mees gesogte kommoditeit geword het. Hy haal ’n Franse TV-baas aan wat in 2004 ’n reuse opskudding veroorsaak het met sy uitspraak “Ons verkoop beskikbare tyd van die menslike brein aan Coca-Cola” (1). So bevind ons ons vandag in ’n toestand waarin ’n oneindige aantal handelaars almal om ons aandag meeding ten einde dinge aan ons te verkoop wat ons nie werklik nodig het nie. Rondom hierdie dinge word ’n reuse, volgehoue drama geskep en word ons die een na die ander ekstase beloof as ons dit koop, wat ook “ervarings” kan insluit (vakansies, toere, avonture, sportgebeure, ens.) – en wat alles aan ons voorgehou word as “leefstyl”. Te midde van ’n oormaat onnodige produkte word ons aandag te alle tye opgeëis deur die illusie dat ons as vrye individue ons vrye tyd kan inrig soos ons verkies, en dat dié keuses wat ons maak, ons as “anders” onderskei. Elke mens het die begeerte om uniek te wees, en hierdie begeerte word meedoënloos uitgeput.



                Veral die begeerte na die nuwe word hier uitgebuit: wat oud is, is onaantreklik, terwyl die nuutste boek, rolprent, CD, motor, selfoon, ens. voortdurend die aandag geniet. So kom ’n ganse ekonomie tot stand rondom die “nuwe” – maar ook een wat onvolhoubaar is, omdat die nuwe onvermydelik binnekort nie meer die nuutste is nie.

                ´n Mens hoef nie die uitvinder van buskruit te wees om te snap dat net soos wat die mark waarde vernietig, dit ook begeerte vernietig nie, want net so min as wat olie as hoeksteen van die materiële ekonomie onuitputlik is, net so min is begeerte as hoeksteen van die verbruikersekonomie onuitputlik. Begeerte word vernietig wanneer dit oorgestimuleer word, of wanneer die voorwerp van begeerte nie meer uitsonderlik is nie. Albei hierdie vorms van begeertevernietiging kom vandag voor. Die voorwerpe van begeerte word al hoe gemeenplasiger weens die massa-aanbod daarvan – daar is byvoorbeeld geen vergelyking tussen die kuns van, sê, Maria Callas, die musikale seksgodin van haar tyd, en Britney Spears, die musikale seksgodin van háár tyd nie… Net so begin mense in die middel- en hoë klas al hoe meer ly aan begeerte-uitputting, wat manifesteer in depressie, sinloosheid, ’n verlies aan geloof (in sowel die goddelike as die aardse), en so meer.

                Maar hoe hou hierdie wêreldwye verskynsel spesifiek met Suid-Afrika verband? As simboliese datum is die jaar 1994 gedra deur twee mites wat mense begeester het, oftewel wat hulle begeertes gemobiliseer en geprikkel het. (As ek hier van mites praat, is dit in die sin van ’n hoër ideaal, ’n verhaal wat mense help om te verstaan hoe die wêreld inmekaarsteek en waar hulle inpas.) Die eerste mite was dié van ’n verenigde, demokratiese, nierassige nasie, oftewel ’n nuwe manier om ‘ons’ te sê. Die tweede mite was dié van ’n mobiele, verstedelikte, individualistiese verbruiker, oftewel die heersende ekonomie se manier om ‘ek’ te sê.

                ´n Mens hoef weereens nie die uitvinder van buskruit te wees om te sien dat hierdie twee mites in spanning met mekaar staan nie: die mense van ’n samelewing kan nie gelyktydig ewe hard ‘ons’ en ‘ek’ sê nie. Die vernaamste draers van die ‘ons’-mite, die ANC, het beheer oor die staat oorgeneem, maar byna onmiddellik moes hulle ’n verhouding vind met die vernaamste draers van die ‘ek’-mite, die korporatiewe sektor. Die krisis van die ANC was dat hy nie sy politieke oogmerke kon najaag sonder die steun van die korporatiewe sektor nie, en gevolglik moes hy sy ekonomiese beleid van herverdeling verruil vir ’n ekonomiese beleid wat eerstens op die belange van die korporatiewe sektor gerig was, en tweedens op die skepping van ’n swart middelklas (deur swart ekonomiese bemagtiging in die privaat sektor en regstellende aksie in die staat- en semi-staatsektor), terwyl die sowat 50% tot 60% armer deel van die bevolking uitgesluit is, soos prof. Sampie Terreblanche deeglik uiteensit (2).

                Op die geestelike vlak en op die vlak van Suid-Afrikaners se begeertes, sou hierdie wending katastrofiese gevolge hê, en wel om die volgende redes:

                Eerstens het die meeste Suid-Afrikaners vanweë die ekonomiese uitsluiting wat hulle onder die vorige politieke bedeling beleef het, aanvaar dat die nuwe politieke bedeling ook vir hulle ekonomiese insluiting sou bring. ’n Krisis het egter kort voor lank ontstaan omdat ekonomiese insluiting kort voor lank en sonder meer gelykgestel is aan die mite van mobiele, verstedelikte, individualistiese verbruikerskap, in plaas van ’n ekonomie wat aan almal gee wat nodig is sodat hulle die dinge wat ewig is, kan najaag. (Soos Carel (iv) Boshoff altyd sê, is die teenoorgestelde van armoede nie rykdom nie, maar selfstandigheid – maar hieroor is nog nie werklik in Suid-Afrika gedebatteer nie.). Voorbeelde van hoe die ‘ek’-mite baie gou die ‘ons’-mite begin vernietig het, was in uitsprake soos dié van die huidige adjunkpresident, “Daar is niks mee verkeerd dat swartmense stinkryk word nie”; of die huidige hoof van die ANC-presidensie toe sy betrokkenheid by ’n eties bedenklike bemagtigingstransaksie op die lappe gekom het, “Ek het nie gestruggle om arm te wees nie”.

                Tweedens: alle mense se diepste begeerte is na die oneindige (soos Augustinus ons al in die vierde eeu geleer het), wat manifesteer in die goeie lewe, maar in Suid-Afrika sedert 1994 is die ideaal van die goeie lewe self gelykgestel met ’n leefstyl wat nie net nooit vir alle Suid-Afrikaners beskore sal wees nie – daar is eenvoudig nie genoeg in die land sodat almal motors met afslaankappe en groot huise met verhitte swembaddens kan besit nie – maar wat in wese ook nie regtig goed is nie! (Daar is niks mee verkeerd om die lekker materiële dinge in die lewe te geniet nie, maar as die lewe daartoe beperk word sonder dat die onsigbare dinge wat ons mens maak – dit wat goed, waar en mooi is – hulle plek daarin het, dan word die lewe ’n goue tronk.) Met ander woorde, Suid-Afrikaners word sewe dae per week deur die bemarkingsbedryf geprikkel om ’n goeie lewe te begeer wat nie goed is nie.

By diegene wat wel in staat is om hierdie “goeie lewe” te koop – die middel- en hoë klas – ontstaan ’n toestand van versteurde begeerte, wat manifesteer as ’n gevoel van “nog nie genoeg nie”, selfmoordneigings, depressie, dwelm- en vermaaklikheidsverslawing, eetversteurings, en so meer.

By diegene wat nie in staat is om hierdie “goeie lewe” te koop nie – die arm klas – ontstaan ’n toestand van gefrustreerde begeerte, wat manifesteer as gevoelens van uiterste vernedering en wanhoop, wat in sommige gevalle oplaas uitloop op geweld, veral en presies daar waar die vangnet van gemeenskapsverhoudinge begin skeur, en mense aan hulle wanhopige self oorgelewer is. Geweld manifesteer dikwels waar ’n mens nie meer op ’n gesonde manier ‘ek’ kan sê nie, omdat jy nie meer deel van ’n skeppende, lewenskragtige ‘ons’ is nie – Stiegler haal byvoorbeeld die woorde aan van Richard Durn, wat in 2002 in die middel van ’n laatnag- openbare sitting van Nanterre, Frankryk se stadsraad, 8 stadsraadslede doodgeskiet en hieroor in sy dagboek geskryf het: “Vir een keer in my lewe wou ek iemand wees” (3) (en per implikasie nie ’n ‘niemand’ wees nie). Kortom, hoe langer die ‘ek’-mite in Suid-Afrika ononderbroke voortduur, hoe meer word begeerte in Suid-Afrika ’n vernietigende krag wat die mens vir die mens, in Hobbes se woorde oor die sestiende-eeuse Engeland in die chaotiese oorgang tussen die religieuse en die politieke era, ’n wolf maak.

                Wat staan ons in Suid-Afrika te doen om uit hierdie krisis te tree? As die krisis die produk van skeefgetrekte begeerte is, dan volg dit dat die oplossing by herleiding van begeerte na die goeie, die ware en die skone moet begin. En dit is hier waar die rol van die kerk van kritieke belang is.

                Uit die ontleding van die krisis wat hierbo gegee is, sou dit reeds duidelik geword het dat die volgende en grootste ironie Suid-Afrika kort na 1994 getref het: terwyl alles daarop gedui het dat na die ontnugtering van die politieke era voor 1994 ’n nuwe belofte nou kon waar word, en die politieke era sy vrug in Suid-Afrika kon dra soos dit in ander wêrelddele eens gedoen het, was die land se ekonomiese elite reeds so deeglik in die wêreldekonomie (waar die ekonomiese era nou in volle swang is) geïntegreer, dat die ekonomiese era nou ook onverbiddelik in Suid-Afrika aangebreek het. Anders gestel: waar die mislukkings van die politieke era voor 1994 uiteindelik in die 1980’s gelei het tot die beperkte integrasie van Suid-Afrika in die wêreldekonomie (en die oppermag van die ekonomiese era), het die nuwe belofte van 1994 nie die glorie van die politieke era ook oplaas hier laat aanbreek nie, maar eerder die laaste beperkings op die land se volskaalse integrasie by die wêreldekonomie opgehef, die belofte van die politieke era in die kiem gesmoor – en die ekonomiese era se heerskappy volledig in Suid-Afrika gevestig.

Dit laat die land op die oomblik in ’n situasie waar die staat nie meer ’n voertuig van die politieke era is nie (buiten vir die onderbring van die voormalige struggle-elite), maar nou toenemend onderworpe aan die gesag van die ekonomiese era, en bygevolg die korporasie. Die derde groot instelling, die kerk (en ander religieuse instellings), is uit hierdie verhouding tussen staat en korporasie geskuif, maar die kerk beskik oor twee enorme troefkaarte: 1) Terwyl die meerderheid Suid-Afrikaners uitgelewer is aan die mark se aanslag op hulle gees, aandag en begeertes, soek hulle steeds geestelike leiding by die kerk. 2) Die kerk se tyd is nie dié van onmiddellikheid nie (soos wat deur die mark en toenemend die staat as verlenging van die mark bevorder word), maar van ewigheid.

                Afgesien van wat die kerk (en ander religieuse instellings) kan doen, word twee ander pogings om die krisis op te los vandag geloods. Hierdie twee pogings kom onderskeidelik vanuit die geledere van diegene wat die draers van die belofte van die politieke era was – die Afro-nasionaliste wat die botoon in die ANC voer – en diegene wat die donker kante van die ekonomiese era eerstehands beleef – die sosialiste wat Cosatu en die SA Kommunistiese Party aanvoer.

                Soos wat die oppergesag van die ekonomiese era sedert die middel 1990’s in Suid-Afrika gevestig is, het dit onderskeidelik vir die Afro-nasionaliste en die sosialiste elk ’n reuse krisis veroorsaak. Vir die Afro-nasionaliste was die krisis dat hulle mite – die nuwe ‘ons’ van ’n verenigde, demokratiese, nierassige nasie – eenvoudig die stryd om begeerlikheid teenoor die ‘ek’-mite van mobiele, verstedelikte, individualistiese verbruikerskap begin verloor het. Vir die sosialiste was die krisis dat hulle mite – die ou negentiende-eeuse ‘ons’-mite van ’n samelewing sonder ekonomiese ongelykheid wat hulle gehoop het oplaas gestalte sou kry – ook minder begeerlik was as die ‘ek’-mite, met die gevolg dat die nuwe swart politieke en ekonomiese elite nog meer selfgerig as hulle wit eweknieë begin optree het, terwyl die gaping tussen ryk en arm in die samelewing nog groter as voorheen geword het.

                Omdat albei hierdie groeperings nie ’n deeglike ontleding van die werking van begeerte deel van hulle mondering gemaak het nie, reageer hulle op die krisis van skeefgetrekte begeerte in Suid-Afrika deur verskillende pogings tot die “regdwing” daarvan: vir die Afro-nasionaliste is die gestalte wat die dwangpoging aanneem dié van “transformasie”, oftewel om die staatsmasjien te probeer inspan om die samelewing tot ’n verenigde, demokratiese, nierassige nasie te dwing, waar die weerspieëling van die land se demografiese profiel op alle vlakke die maatstaf is, en waar die hele poging uiteindelik al hoe meer rassisties word. Vir die sosialiste is die gestalte wat die dwangpoging aanneem dié van “herverdeling” of die “ontwikkelingstaat”, waar ook weereens gehoop word om die staat in te span om ’n minder ongelyke maatskaplike bedeling af te dwing.

                Niks standhoudends kan egter afgedwing word nie, en die geskiedenis van soortgelyke pogings elders in die negentiende en twintigste eeu is besaai met mislukkings in hierdie verband, waaronder apartheid en die mislukking van kommunisme maar twee is.

Nee, die enigste alternatief vir die skeeftrekking van begeerte in Suid-Afrika is die skepping van ’n nuwe ekologie van begeerte, ’n omgewing waarin begeerte nie ’n doodsmasjien nie, maar ’n vrugbare grond vir nuwe lewe is. En hier kom ’n derde troefkaart van die kerk ter sprake, naamlik dat hy dié instelling is waarin mense hulle diepste begeerte, naamlik na die oneindige, kom uitleef, wat manifesteer as ’n poging om ’n lewe van die goeie, die ware en die skone tot stand te bring.

Die uitdaging van die kerk in Suid-Afrika is om op so ’n wyse te verskyn dat hy mense kan herinner aan hulle begeerte na die oneindige, en mense kan wys hoe om dié begeerte in ’n goeie lewe uit te leef.

 

__________

(1) Bernard Stiegler, De la misère symbolique : 2. La catastrophè du sensible, Parys: Galilée, 2005, p.85.

(2) A History of Inequality in South Africa 1652 – 2002, Pietermaritzburg: University of Natal Press, 2002, veral hoofstuk 4.

(3) Ongelukkig is nog feitlik niks van Stiegler se werk in Engels, Nederlands of Afrikaans vertaal nie. Sy insigte waarna ek hier verwys, is egter wel bondig saamgevat in ’n opstel deur hom wat oorspronklik in Le Monde diplomatique verskyn het en wat ek in Afrikaans vertaal het met ’n inleiding onder die titel “Versmoorde begeerte, of hoe die kultuurindustrie die individu vernietig: Bydrae tot ’n teorie van massaverbruik”, Fragmente: Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek no.12 en 13, 2004, pp.29 – 46.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=740
Artikel nagegaan:
    -