blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Stefan Louw (1972/3/4 – 2006/9/15) 2006-10-18

Om ongeveer 22:49 op Vrydag 15 September, 2006 is ’n geliefde vriend en gereelde medewerker van Die Vrye Afrikaan, ds. Stefan Louw (34) van die NG-gemeente Melville, Johannesburg, in ’n klaarblyklik onbeplande misdaad buite sy slaapkamer doodgeskiet toe hy die die deur enkele minute lank oopgelos het vir sy hond om ’n draai te loop. Luidens berigte het ’n ooggetuie twee jong mans van die toneel sien weghardloop.

      Stefan was ’n briljante, poëtiese dominee en denker met ’n liefde vir die wêreld in die volste sin. Daar is te min van sy soort in hierdie wye, droewe land, en ook daarom is sy verlies onvervangbaar. Die temas waaroor Stefan baie gedink en geskryf het, was oplaas almal saamgevat in sy dood: nostalgie, liggaamlikheid, geweld en die mark, vergiffenis en gemeenskap. Soos ’n ander briljante poëtiese dominee en denker, Tobie Müller, amper negentig jaar gelede te vroeg gesterf het, het ook Stefan. Hieronder herdenk ons ons vriend en broer in sy eie woorde geneem uit artikels wat hy vir Die Vrye Afrikaan geskryf het – Red.

Die oorheersende gevoel is van skending en oorname: skending en oorname van die intieme, private ruimte van die mens se mees weerlose toestand, naamlik sy slaapruimte, die plek van drome, versinnebeeld deur die landskapskildery bo die bed, oorgeneem deur ’n werklikheid in skrille kontras met die droom. ’n Werklikheidsvreemde droom van water, koelte, lewe en harmonie is verdring, oorwin deur ’n werklikheid waarin hierdie elemente presies afwesig is, waar son en wind en sand en hitte oor ’n doodse vlakte heers.

Die emosionele krisis geskep deur die spanning tussen droom en werklikheid is die krisis van ontkenning, ontnugtering en uiteindelik – nostalgie.

- Uit “’Nostalgia’ (1992) deur Keith Alexander, Die Vrye Afrikaan, 16 Junie 2006

 

Die bloedbelope Woord, die Woord van die gebreekde brood en die gestorte wyn. Die Godverlate, mensverstote Woord, die Woord as uitgestalde humaniteit, as uitgeskelde goddelikheid. Die lyf as die ondraaglike punt waar hierdie spanninge hul worstelstyd voer, hul wonde oopruk, hul krete laat hoor. Uiteindelik die gebroke lyf, die dorstende lyf, die sterwende lyf. Wie op die gesag van die Woord aanspraak maak, maak hierop aanspraak, of anders op ’n afgod. Voor hierdie Woord mag jy nie buig en sê “my Here en my God” sonder om eers jou vingers in sy wonde te doop nie.

- Uit “Die debat oor Skrifgesag: Oor nuwe hervormers, charismate en tradisionaliste”, Die Vrye Afrikaan, 19 Augustus 2005

 

Die morele dryfkrag agter Roy en sy makkers se soeke is dus dubbelsinnig. Hierdie is nie bloot ’n versugting om vergoddeliking nie. Dis eerstens bloot die versugting om vermensliking, om mens te wees, en nie bloot produkte, objekte vir gebruik nie …

Tog is dit juis hierdie intense doodsangs wat haar diep, eg menslik maak in haar laaste oomblikke, en wat maak dat ons as kykers ons eie menslikheid in haar erken en met haar begeerte om volledig mens te wees, identifiseer. Wat is die diepste verlange in die mens anders as die verlange om volledig mens te wees? …

Net waar ons diep geraak word, in ons kosbaarste herinneringe, geaksentueer deur die vervlietendheid en broosheid van die lewe, net daar is ons eg mens.

- Uit “Blade Runner: Stryd om die oog”, Die Vrye Afrikaan, 16 Augustus 2006

 

Die vraag na redemption – verlossing en die herstel van waarde – is een van die mees wesenlike vrae van ons tyd. Iets waardevols word van jou weggeneem, wat onafwendbaar lei tot ’n verlies aan waarde, gewoonlik as gevolg van skuld wat aangegaan word, en die daad om dit weer terug te kry, is om dit te redeem

Geld – in wese ’n abstraksie – kan op sigself nooit waarde toevoeg tot jou lewe nie. Dis uiters ironies om te sien hoe die najaging van geld, en die gevolglike kommodifisering van die lewe juis lei tot verlies aan waarde … Hoe meer die wêreld vergeldelik word, hoe minder waarde het dit…

Tsotsi het ook vele ander nuanses, maar dat dit die herstel van menswaardigheid as konfrontasie met die weerlose ander kontrasteer met die verlies aan menswaardigheid deur die rykdom/armoede-polarisasie waarbinne ’n geldbehepte wêreld vasgevang is, is ’n tema wat noodsaaklik is vir ’n land waarin ekonomiese groei en die toename van rykdom aangebied word as vals verlossing (redemption). Ons herstel van waarde (redemption) in ’n geldbehepte wêreld is juis ons verlossing (redemption) van geld.

Uit “Tsotsi”, Die Vrye Afrikaan, 21 April 2006

 

The Village is ’n verhaal oor die twee primitiewe eksistensiële kragte wat ons aantrek na mekaar, wat van ons gemeenskapswesens maak: die disintegrerende kragte van smart, vrees en die dood, wat ons laat saamdrom, instinktief laat gryp na mekaar, en die regenererende kragte van liefde en hoop, wat ons onweerstaanbaar na mekaar toe lok – in omhelsing, in die huwelik, in families, in ’n gemeenskap. Uiteindelik is dit ’n liefdesverhaal wat soos alle ware liefdesverhale die oorwinnende krag vier van die band van die lewe, van gemeenskap, oor die vrees vir die dood …

In die verruimde narratief het ons nou die verhaal van ’n gemeenskap wat nie meer vanuit sy vrees vir pyn en smart leef nie, maar dit oorkom het. Dis ’n verhaal van liefde wat sterker is as vrees, ’n verhaal van grense wat wel nog ons selfbehoud en onskuld verseker, maar wat nie meer absoluut is nie. Dis ’n verhaal oor die gevaar van ideologie en moralisme om ’n gemeenskap te laat versmoor in haarself, en oor die liefde se vermoë om wedergeboorte daaraan te skenk. Dis ’n verhaal oor die helende krag van ’n gemeenskap wat verbind is tot die her-toeëiening en bevestiging van hul onskuld. Dis ’n verhaal oor die noodsaak van ’n religieuse narratief waarbinne herinnering en oordrag kan plaasvind oor die plek van en ons houding jeens die goeie en die bose. Dis veral ’n verhaal oor die noodsaak vir ’n simboliese orde om sin te skep in ’n chaotiese wêreld vol pyn en smart, en ’n gemeenskap waarbinne dit geleef kan word.

- Uit “Gemeenskap tussen grens en oopte”, Die Vrye Afrikaan, 20 Januarie 2006


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=739
Artikel nagegaan:
    -