blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Musiekrubriek 2006-10-18
Herman van Niekerk

Die hoofdoel van hierdie musiekrubriek is om musiekinligting te kommunikeer wat nie noodwendig algemeen en gereeld ons (oor-)drempels bereik nie – of waaraan ’n mens nie aldag blootgestel word nie. Die doel van die inhoud is hoofsaaklik inligtinggewend, soms aanbevelend en soms vertolkend. Ons wil veral fokus op nuwe en moontlik minder toeganklike musiekinligting.

U word genooi om inligting oor musiek aan ons te voorsien (of sommer bloot te laat weet van musikale aksies waarvan ons kan kennis neem), en ons sal poog om blootstelling daaraan te verleen met inagneming van ons rubriekdoel en die beskikbaarheid van bladruimte vir ’n spesifieke uitgawe. Stuur mediaverklaring en inligting aan: Die Vrye Afrikaan: Musiek, Posbus 1010, Auckland Park 2006, of stuur ’n vonkpos aan [email protected]. Positiewe en opbouende kommunikasie is enige tyd welkom, maar indien dit vir publikasie oorweeg moet word, moet inligting ons asseblief minstens ses (6) weke voor die publikasiedatum van ’n spesifieke uitgawe bereik – byvoorbeeld: indien inligting vir die Maart 2007-uitgawe oorweeg moet word, moet dit ons asseblief teen 15 Januarie 2007 bereik.

Ons hoor graag van u!

 

Johann van der Sandt en sy Tuks Camerata*

Op Saterdag, 21 Oktober 2006 om 19:30 lewer die Tuks Camerata onder leiding van Prof. Johann van der Sandt hul jaarlikse Gala-uitvoering in die Musaion op die hoofkampus van die Universiteit van Pretoria. Hulle voer onder meer werke uit van Eric Whiteacre (Cloudburst), Mia Makaroff (Butterfly) en Neil van der Watt (Here, U is my krag en beskerming). (Kaartjiebesprekingsdetail onderaan)

 

Die Tuks Camerata is in Maart 1968 gestig en hul doelstelling is om deur middel van die beoefening van koorsang op die kampus ’n bydrae te lewer tot die kulturele vorming van die studentekorps en die gemeenskap. Die koor staan onder die beskerming van die Departement Musiek van die Universiteit van Pretoria, en hul repertorium van groter koorwerke sluit onder meer in die Missa Criola (Ramirez), Die Messias (Händel), Die Duitse Requiem (Brahms), Weinachtsoratorium en Magnificat (Bach) – om ’n paar te noem. Die koor het al intensief in Suid-Afrika opgetree, maar hul kwaliteit van sang het hulle ook al laat optree in Europa, die VSA, Australië: in 2002 tydens die Sesde Wêreld- koorsimposium in Minneapolis (VSA) – as gaskoor; in Tallinn tydens die Koorfees in Estland (1994); as gaskoor tydens die Vierde Internasionale Koorsimposium vir Koormusiek in Sydney (1996) en tydens Junie/Julie vanjaar het hulle Kenia en Tanzanië in Oos-Afrika besoek.

 

Johann van der Sandt is sedert 1999 koorleier van die Tuks Camerata – nadat hy vroeër ook koorleier was van die Oos-Randse Jeugkoor, asook die koor van die Randse Afrikaanse Universiteit (sedert 2005 die koor van die Universiteit van Johannesburg). Johann (gebore in die Vrystaat) het in 1996 sy Diploma in Koorbegeleiding aan die Instituut Voor Dirigente Edukatie in Gorinchem, Nederland ontvang, en sy doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria in 2001. Johann is nie net dirigent nie, maar ook ’n aanbieder van koorwerkswinkels en beoordelaar by nasionale en internasionale koorfeeste. Hy was onlangs onder andere ’n jurielid vir die International Festival and Competition of Advent and Christmas Music in Praag; gaslektor by die Institute of Music Pedagogy van die University of Music and Art in Graz, Oostenryk; gasdirigent in Jyväskylä, Finland en het ook ’n werkswinkel aangebied by die Performing Arts Institute of Wyoming Seminary in die VSA.

 

’n Hoogtepunt in die Suid-Afrikaans kooruitvoeringskalender is vir seker Tuks Camerata se jaarlikse gala-uitvoering. Die koor het reeds opnames gemaak van hul 2006-program, en die CD sal binnekort uitgereik word via hul koorkantoor.

 

(Kaartjies vir die uitvoering van Tuks Camerata op Saterdag, 21 Oktober 2006 om 19:30 is beskikbaar teen R70 elk by die Kore- Organiseerder, Pamela Oosthuizen, by telefoon 012-4205470)

 

(*Die Italiaanse woord, Camerata dagteken uit die laat-Renaissance. Tussen 1573 en 1580 het ’n groep, bekend as die Florentynse Camerata, gereeld byeengekom by die huis van Giovanni dé Bardi. Die doel van die byeenkomste was om tendense in musiek en drama te bespreek. Die groep was veral besorg oor die stand van musiek van daardie tyd en het gevoel musiek behoort terug te beweeg na die vorms en style van die antieke Grieke.)

 

 

 VAN ALLES EN NOG WAT

Van hier rond en van oraloor…

·     Musiekprodukte (musiekinstrumente, bladmusiek en ander musiekliteratuur) is beskikbaar vanaf Edumusic in Johannesburg en Pretoria. Kontak hulle by 011-6721662 en 012-3462733 asook by www.edumusic.co.za

·     Die Vierde Eric Ericson Meesterklasse vir Koorleiers word van 22-30 Junie 2007 in die Filharmonie in Haarlem, Nederland aangebied. Die deelnemende ensembles is die Nederlandse Kamerkoor en die Nederlandse Radiokoor. Die Fakulteitslede vanjaar is Simon Halsey van die Verenigde Koninkryk en Robert Sund van Swede. Die repertorium wat gedek gaan word, strek van Byrd tot Anderson en Sandström. Moontlike deelnemende dirigente mag nie ouer as 38 jaar wees op 22 Junie 2007 nie, en die Meesterklas sal in Engels aangebied word. Die sessies kan vanaf 25 Junie 2007 bygewoon word deur ander dirigente en belangstellende publiek. Verdere inligting kan verkry word by www.ericericsonmasterclass.nl. Die volgende Eric Ericson Meesterklas sal in 2009 aangebied word.



·     In Frankryk vind die 9de Novelum Fees vanaf 14-27 November plaas. Die program fokus op die interaksie van verskillende kunsvorme met musiek. [email protected] en www.studio-eole.net.

 

Vir KOMPONISTE:

·     Vir kreatiewe musici en komponiste bied die Gaudeamus-Stigting in Amsterdam van 15-22 April 2007 die Internasionale Gaudeamus Interpreteerderskompetisie aan. Meer inligting is beskikbaar per epos aan: [email protected].

 

Inligting vir hierdie rubriek word onder andere voorsien deur MCCOSA (Die Musiekkommunikasiesentrum van Suider-Afrika en IAMIC (Die Internasional Assosiasie vir Musiekinformasiesentrums). Die samesteller is Herman van Niekerk[email protected] en Posbus 1010, Auckland Park, 2006 Suid-Afrika.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=738
Artikel nagegaan:
    -