|
|||
Guy Scarpetta
*Skrywer, essayis en akademikus. Sy jongste boek is Variations sur l’érotisme, Parys: Descartes & Compagnie, 2004. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]
In die Franse intellektuele landskap is Guy Debord se posisie teenstrydig: enersyds haal almal hom aan en verwys almal na hom, met inbegrip selfs van die agente van die “spektakel” waarvan hy sy lewe lank die teenstander was; andersyds kan ’n mens nie anders nie as om getref te word deur die vreemde diskresie van die Franse pers by die onlangse verskyning van sy versamelde werke in een band (1).
So ’n boek – wat buiten sy reeds gepubliseerde werke ook ’n heel kosbare aantal briewe, direktiewe, intervensies, tydskrifartikels en ongepubliseerde aantekeninge byeenbring – is desnieteenstaande ooglopend ’n gebeurtenis wat dit moontlik maak om sowel die ontvouing van sy denke jaar na jaar te verhelder, as die indrukwekkende samehang daarvan te besien. Maar dit is asof Debord nou tot enkele clichés beperk moet word, tot enkele stereotiepe, smaaklose formulerings oor die “spektakelsamelewing”. En dit ten koste van die onteenseglik rewolusionêre stellingname van hom wat in sy tekse soos in sy lewe geen ander oogmerk had buiten die ruïnering van die gevestigde orde – of om minstens niks daaraan toe te gee nie. Aan die begin van die 1950’s is Debord in die kern van ’n klein groep jongmense wat in die verlenging van sekere avant-garde-bewegings van die vroeë 20ste eeu baie hard probeer betoog dat kuns as “aparte” entiteit dood is, dat poësie nou in die lewe moet gebeur. Dada, dink hulle, wou kuns beëindig sonder om dit te maak, terwyl die surrealisme kuns wou maak sonder om dit te beëindig: juis hierdie teenstrydigheid moet oorkom word. Elke lewe moet uitgevind geword en nie bloot geleef nie. Die stad (in dié geval Parys) is die gebied self van “afdwalings” en avonture (vanwaar byvoorbeeld die skandaal gestook teen Le Corbusier, wat volgens hulle skuldig is aan ’n opvatting van stedelikheid wat mik op die “vernietiging van die straat”). Die oogmerk is om “situasies te skep” – wat ’n bewese afwysing impliseer van alle bestaande kuns asook, meer in die algemeen, van alle “vervreemde” kultuur afgesny van alle regstreekse belewing. Op die heel meeste kan ’n mens kennis neem van die “ontbinding” van hierdie kultuur en jou (na Lautréamont) tegnieke verbeel wat jou in staat stel om dit te verlê. In sy tweede periode (wat rofweg saamval met sy verskuiwing van die “Lettristiese Internasionaal” na die “Situasionistiese Internasionaal”) brei Debord die veld van aksie beslissend uit – dit wil sê hy verpolitiseer dit. Die betwisting van kultuur loop logieserwys uit op die betwisting van die samelewing. Die ontmoeting met Marx was onvermydelik, ofskoon dit nietemin by Debord neerkom op ’n onortodokse Marxisme, heeltemal teenoorgesteld van die amptelike kommunisme. (Vir Debord en sy vriende het die “teenrewolusie” die oorhand in die 20ste eeu gekry toe die totalitêre staat in Rusland die mag van die Sowjets vervang het, en toe die vryheidsopstande van die Spaanse Burgerloorlog deur die Stalinistiese burokrasie vermorsel is). Wat Debord bowenal raakgesien het, is dat die logika van “handelsware” – waarvan Marx die verband met die produksiestelsel ontleed het – nou uitgebrei word na alle fasette van die alledaagse lewe. In plaas daarvan dat die “ontspanning” wat deur tegniese ontwikkeling bemoontlik word, meer vryheid meebring, loop dit uit op die uitbreiding van die “spektakel” wat voortdurend hernude kunsmatige behoeftes aandryf. Sodoende word ons lewens onderwerp aan gemanipuleerde, vervalste voorstellings wat ons verhouding met die wêreld word. Vir Debord is dit die era van nuwe internasionale bande, van taktiese bondgenootskappe gemerk deur verskillende “manifeste” (sy groep word voortdurend nuut saamgestel), en van intense teoretiese ontwikkeling. Dít loop in 1967 uit op bepalende werk Die Spektakelsamelewing, ’n onverbiddelike versameling teses wat foutloos uitgewerk word. “Die spektakel,” skryf Debord, “is nie ’n versameling beelde nie, maar ’n maatskaplike verhouding tussen mense wat deur beelde gemediatiseer word.” Die “spektakelsamelewing” is nie slegs die hegemonie van die media- of advertensiemodel nie, maar meer nog die “outokratiese heerskappy van die handelsoutonomie, wat die status van onverantwoordelike soewereiniteit bereik het, en die geheel van nuwe tegnieke van regering wat hierdie heerskappy vergesel.” Ons weet wat daarna gevolg het: die ondergrondse propagering van hierdie teses, hulle vertakking in die studentewêreld van Straatsburg tot Nanterre, en oplaas die ontploffing van Mei 1968, waarvan die situasionistiese gees die geheime, brandende, stralende vuurherd is – miskien nie soseer deur sy regstreekse invloed nie (by name op die Sorbonne-universiteit as op die “Komitee vir die Handhawing van die Besettings”) as deur sy wydlopende inspirasie. Dit is hierdie gees wat dan vibreer in die slagspreuke, die plakkate, die inskripsies wat die strate inval. Wat daarna gebeur, is somberder. Debord besef gou dat dit wat hy aangewakker het, die risiko loop om by verlenging in die gemeenplaas onder te gaan, dit wil sê om verdun te word in ’n gebanaliseerde, konformistiese “betwisting”. Hierop volg die ontbinding van sy “Internasionaal” (wat op die meeste nooit uit meer as 15 lede bestaan het nie), sy terugtrekking en sy selfopgelegde ballingskap (by name in Italië, wat aan hom die geleentheid bied om die “ware aard” van die historiese kompromis, soos nagestreef deur die kommuniste, aan te toon en met onweerstaanbare helderheid die manipulasie en infiltrasie van die Rooi Brigade deur die magte van die staat uit te wys). Daarna ontmoet hy ’n beskermheer in die persoon van Gérard Lebovici, wie se uitgewery Debord se gunstelingskrywers (vanaf Gracian tot Orwell) sal uitgee, en wat ’n bioskoopteater eksklusief aan die vertoning van Debord se rolprente sal wy (want Debord se hele avontuur word ook onderskei deur die deurlopende vervaardiging van rolprente wat daarop gemik is om die spektakel van binne af met sy eie wapens te vernietig). Lebovici sal op ’n dag in onduidelike omstandighede in ’n sluipmoord sterf. Debord, al hoe meer onversetlik, al hoe meer geïsoleerd in sy radikaliteit terwyl die meeste veterane van 1968 inval by die gevestigde liberale orde, wy sy laaste pogings daaraan om terug te slaan teen die beelde (meesal beswadderend) wat van hom en sy werk voorgehou word. So verbind hy hom tot ’n skryfstyl wat terselfdertyd klassiek, ondermynend, selfstandig, dig en ontnugterd is, en nie langer huiwer om (in wat sal uitloop op die ontsaglike Panégyrique) in die eerste persoon na sy eie ervaring te verwys nie. Dit is nie uit narcisme nie (want narcisme is ook een van die bestanddele van die spektakulêre), maar eerder om te suggereer dat weerstand teen ’n wêreld wat volledig in handelsware verander is ook daarop neerkom om teen alles in te bevestig dat ’n ander manier van lewe as die een wat op ons afgedwing word, moontlik is. Die belangrikste boek van hierdie laaste periode is ongetwyfeld die Kommentare op die spektakelsamelewing van 1988, waar Debord die analises van 1967 uitbrei en verdiep deur aan ons die mees deurdringende diagnose van die eietydse wêreld te gee, asook die hoofsleutels wat ons in staat stel om dit te verstaan. ’n Jaar voor die val van die Berlynse Muur voel hy aan dat die opposisie tussen die “gekonsentreerde” vorm van die spektakel (die kommunistiese regimes) en sy “uitgespreide” vorm (Westerse kapitalisme) op die punt is om agtergelaat te word en te versmelt in ’n “geïntegreerde spektakulêr” wat nou onverdeeld oor die planeet heers. Sy hoofkenmerke? Die “onophoudelike tegnologiese vernuwing” (byvoorbeeld, die afgedwonge rekenaarhandelsware wat elke gebruiker daarvan verander in ’n onderworpe klant); die “staatsekonomiese versmelting” (die absorbering van die staat in die mark); die “veralgemeende geheim” (die eintlike besluite is ontoeganklik, die Mafia-model seëvier in die politieke instelling); die “onbeantwoorde valse” (vir die eerste keer is die meesters van die wêreld ook die meesters van hoe hy uitgebeeld word); die “ewigdurende hede” (die afskaffing van alle historiese bewussyn). Dit skep ’n heelal van vrywillige onderdanigheid sonder presedent (volgens Debord is die eintlike nuutjie van die spektakel dat dit “´n generasie geplooi na sy wette kon grootmaak”): “Hy wat altyd kyk om te weet wat volgende gebeur, handel nooit nie, en moet dus inderdaad die toeskouer wees.” Dit is ooglopend nie meer die tyd van groot kollektiewe utopieë nie. Die spektakel het alles ingeval en geabsorbeer, insluitend die onvolledige, gelokaliseerde kritieke van die stelsel, wat slegs sy randeffekte in die oog het – maar dit wil nie sê dat dit minder moontlik is om hierdie stelsel radikaal te weier nie. En dit laat by Debord ’n sekere nostalgiese toon: die agteruitgang is vandag so omvattend dat dit rewolusionêr kan wees om sekere vervloë aspekte van die verlede te mis, te wete juis dié wat die spektakel vernietig het … In die geheel dus ’n begeesterende boek waarin ’n mens Debord se pad in al sy fases kan volg – en waarvan nie een die ontkenning van die vorige is nie. Wat ook opval, is die verbystering van sekere tekste wat hier opgeneem is en voorheen ongepubliseer of onverkrygbaar was. Daar is byvoorbeeld die “Toespraak vir Algerië se rewolusionêre” van 1965 in die tyd wat Houari Boumedienne se staatsgreep Ahmed Ben Bella ontsetel het; of die merkwaardige artikel van 1967 oor die Chinese kulturele rewolusie ontleed in al sy teenstrydighede; of, nog nader aan ons, die “Ongepubliseerde notas oor die vraagstuk van die immigrante” (Desember 1985) waarin Debord die ontstigtende vraag vra presies waarby moet die immigrante in Frankryk “integreer” op die tydstip dat die spektakel besig is om dít wat van Frankryk oor is heeltemal te amerikaniseer … Hier is soveel presiese, heldersiende en vooruitlopende analises wat nie toegee aan enige gemeenplasigheid nie (en wat by name haaks staan op die stereotipes en blindhede van die konformistiese linkses). Dit gaan oor meer as om hier op te merk dat Debord nooit die geringste genoegsaamheid teenoor die “sosialistiese kamp” of die diktature van die Derde Wêreld laat blyk het nie. Dit moet ook gevra word waarom die strewe na die mees rewolusionêre oogpunt by hom oor alle onderwerpe die maksimum intelligensie en helderheid genereer. Dan moet daar ook gelet word op die buitengewone belangrikheid van sy rolprenttekste. Want al het dit vir hom daaroor gegaan om hierdie kode van binne af te vernietig (deur elke toeskouerlike fassinering te verbreek, deur beeld en klank stelselmatig te dissosieer, die primaat van denke bo die “visuele” te bevestig, wat die meeste herlei word na dokumentêre beelde of na geskaakte plot), is dit nietemin so dat Debord se rolprente (en bowenal die meesterwerk In girum imus nocte et consumimur igni) ’n ongekende poging uitmaak om aan die kant van die bewussyn (histories sowel as subjektief) ’n kunsvorm te projekteer wat in beginsel daaraan gewy is om dit te leeg te maak. Hieruit volg rolprente wat tegelyk opstel, belydenis, bepeinsing en begrip van die wêreld deur sy beelde is, en wat met niks anders vergelyk kan word nie – behalwe miskien die laaste werk van Jean-Luc Godard (en dit is jammer dat geen gesprek tussen hierdie twee reuse, wat mekaar hartlik verpes het, ooit aan die gang kon kom nie) (2)… Dit is sekerlik geoorloof om nie blindelings alles wat Debord geskryf of voorgestaan het aan te hang nie. ’n Mens kan byvoorbeeld sy bykans stelselmatige repudiëring van al die kuns en letterkunde van sy tyd buitensporig en onregverdig vind – terwyl dit nou duidelik is dat dit juis die die skeppende opbruising van die 20ste eeu is wat die spektakel neig om te vernietig of “onleesbaar” te maak. Dit is ook nie verbode nie om Debord se neiging verdag te vind om in die groepe waarmee hy hom omring het reëlmatige opbrekings, uitsluitings en suiwerings uit te voer, wat soms gemik was op diegene wat die naaste aan hom was en die kollektiewe (en dus politieke) omvang van sy standpunte des te meer vereng het. Maar miskien was dit alles ten diepste maar die verpligte losprys van sy onversetlikheid, van sy byna absolute eis om radikaliteit – hy wat geweet het dat elke ondermynende groep moet verwag om op sy beurt “te verdwaal, getart, geïnfiltreer, gemanipuleer, binnegedring of geskaak” te word. Dit is einde ten laaste hierdie radikaliteit wat Debord se denke in staat stel om die enigste te wees wat vandag krities rekenskap kan gee van alle aspekte van die kommersialisering van die wêreld, en van die “valse bewussyn” wat dit kon versprei. Dit is juis hierin dat Debord in weerwil van al die mode-effekte wat daarop gerig is om sy denke onskadelik te stel, grondig onvervangbaar bly. “Dit is algemene kennis,” het hy geskryf, “dat ek nêrens toegewings aan die heersende idees van my era gemaak het nie.” Dit is in werklikheid die groot les wat hy aan ons nalaat – en wat ons moet weet om, soos hy, in ons lewens in te laat.
__________ (1) Guy Debord, Œuvres, Parys: Gallimard, 2006, 1904 bladsye, 31 euro; uitgawe saamgestel en geannoteer deur Jean-Louis Rançon in samewerking met Alice Debord. (2) Hierdie teenstrydige nabyheid tussen Debord en Godard is baie goed aangestip deur Cécile Guilbert (Pour Guy Debord, Parys: Gallimard, 1996) in een van die beste opstelle aan hom gewy. |