blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Le Monde diplomatique: Afrika: Droom van ’n tweede onafhanklikheid? 2006-11-15
Anne-Cécile Robert

*Afrika-redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

’n Oorgangstydperk loop ten einde in Afrika. Een wat begin het met demokratisering na die afloop van die Koue Oorlog in 1989. En wat eindig met die mislukking, teen ’n agtergrond van maatskaplike katastrofe, van die strukturele aanpassingsplanne (SAP) en die nuwe programme wat hulle aan die begin van die jare 2000 vervang het. Die gevolge en betekenis van hierdie geskiedkundige draaipunt begin stadigaan deurskemer, en ’n nuwe spelrondte begin vir die vasteland.

Hoewel die mutasies wat in Afrika werksaam is, dikwels met dramatiese newegebeure gepaard gaan (maatskaplike oproer, staatsgrepe, oorloë, siektes, armoede, ens.) en die indruk van groot chaos skep, is dinge hier nie noodwendig minder verstaanbaar as elders nie. Dit is dikwels oorvereenvoudiging in die media en afbrekende vooroordele wat die vastelande se “onoplosbare kompleksiteit” skep (1).

Gedurende die spildekade van 1989-1999 is die meeste van die politieke en ekonomiese modelle wat die vasteland struktuur gee, in die gedrang gebring. Die einde van die Oos-Wes-konflik het ’n einde gemaak aan botsings wat van buite af aangehits is, soos in Angola of Mosambiek; kripto-Kommunistiese regimes het verdwyn of is tot die markekonomie bekeer (Benin, Etiopië, byvoorbeeld); die afbreek van apartheid in Suid-Afrika het die seël op die simboliese einde van koloniale regimes geplaas; veelpartypolitiek het na die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en Kaap Verdië versprei, met ’n wye draai deur Kenia en Sentraal-Afrika …

’n Mens kan hierdie ontwikkelinge van twee kante af beskou. Kruis: allerlei spanninge wat sulke ontwrigting onvermydelik meebring en waarvan die kontinent daagliks voorbeelde toon. Munt: die politieke en maatskaplike ruimte, die beweegruimte wat per definisie geskep word wanneer enige status quo bevraagteken word. Met ander woorde, enige krisis of gevaar hou die keersy in van hoop of die moontlikheid van positiewe verandering. So is dit met staatsgrepe, wat soms tot demokrasie lei, soos in Mali in 1991, toe die militêre magte die diktator Moussa Traoré omvergewerp en die mag aan die burgerlikes teruggee het. Dieselfde voorneme het geblyk uit die Mauritius staatsgreep in 2005.

Drie breekpunte help om die omvang van hierdie teenstrydighede te begryp. Aan die een kant het neoliberale terapieë en die mislukking daarvan in die meeste lande die sosiale kontrak wat met onafhanklikheid ontstaan het, uiteen laat spat (Afrika suid van die Sahara is die enigste streek in die ontwikkelende wêreld waar die lewensverwagting by geboorte tot onder sy vlak van die vroeë 1970's gedaal het en steeds onder 50 jaar bly). Hierdie ontwrigtende faktor is ’n kragtige dryfveer in maatskaplike konflikte of gewapende spannings. Terselfdertyd ontketen dit ’n tot nog toe deurmekaar debat oor die nodige herdefiniëring van ekonomiese beleide. Aan die ander kant het demokratisering die politiek verruim, maar op onvolledige wyse. In die besonder bring die voogdyskap van internasionale finansiële instansies twyfel oor die legitimiteit van die openbare gesag. Laastens is die opkoms van nuwe magte in Afrika of in die buiteland besig om die vasteland se geopolitiek te herskryf, en die moontlike herskommeling van kaarte in die vooruitsig te stel.

Die mislukking van die strukturele aanpassingsplanne (SAP) word vandag alom erken (2). Selfs wanneer Afrikalande daarin slaag om betreklik hoë groeikoerse te bereik – 5% gemiddeld in 2005, met pieke in olielande soos Tsjad (7,7%) of Ekwatoriaal-Guinee (9,3%) – verminder dit nie die armoede nie. Met hulle powere resultate op dié terrein, begin neoliberale ekonome wonder oor die bepalende faktore van hierdie groei – asook die inhoud daarvan – soos blyk uit ’n werksdokument van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) met die betekenisvolle titel “Groeipyne”: “Onlangse studies het gekyk na die elemente van groei wat tot voordeel van die armes strek, ’n begrip waarvoor daar nie een spesifieke definisie is nie. (...) In Afrika moet die rol van ongelykhede van nader beskou word, gegewe die groot veranderings in inkomsteverdeling sedert 1980 (...). Ons weet dat veranderings in ongelykhede enersyds kan help om armoede verder te laat krimp, maar andersyds ook die vermindering van armoede wat deur groei teweeggebring is, kan uitkanselleer” (3).

Gesien die omvang van die skade, het die Wêreldbank en die IMF in ieder geval besluit om nuwe ekonomiese programme te borg. Sulke programme wys op meer nougesette doelwitte in die stryd teen armoede en korrupsie, die ontwikkeling van menslike hulpbronne, die uitbouing van infrastrukture. Die Strategiese Dokumente vir die Vermindering van Armoede (SDVA) (4) moet bydra tot die bereiking van die Millennium-doelwitte wat deur die VN vasgestel is (5).



 

Met die ekonomiese vennootskapsverdrae (EVV) wat in 2002 deur die Cotonu-ooreenkoms daargestel is, gee die Europese Unie die toon aan in vir die nuwe konsert. Dieselfde geld die Nuwe Ekonomiese Vennootskap vir Afrika-ontwikkeling (Nepad) (6). Ten einde ontwikkeling te befonds, is die verligting of kansellering van skulde ook aangekondig, onder meer deur die G8, soos met die Inisiatief vir Skuldgeteisterde Arm Lande (ISAL) (7). Oproepe om internasionale hulp te vergroot, word deur verskeie multilaterale organisasies gedoen (8).

Maar hierdie inisiatiewe, wat voorgee om lesse uit die verlede se beleide te leer, bly nietemin vasgevang in neoliberale ideologiese voorveronderstellings en skram weg daarvan om die “verbode debat” (9) oor alternatiewe makro-ekonomiese benadering aan te roer. Die “Our common interest”-verslag wat Tony Blair in 2005 saamgestel het, is tekenend van hierdie soort dooiepunte (10). So word skuldverligting telkens afhanklik gemaak van “geneesmiddels” met dodelike newe-effekte (liberalisering: privatisering, inperking van openbare owerhede, en vryhandel: die oopgooi van markte vir internasionale mededinging). Die VN Konferensie vir handel en ontwikkeling (VNKHO) vra vergeefs om duideliker veranderinge in strategie, byvoorbeeld die bevraagtekening van internasionale handelsreëls (11).

Maar sekere politieke ontleders en waarnemers kom tot die heersende ekonome se redding: dit is nie hulle voorskrifte wat verkeerd is nie, dit is die Afrikane wat niks daarvan verstaan nie. Die Franse joernalis, Stephen Smith, is een so ’n voorbok met sy heftige, minagtende kritiek op die “mentaliteite” wat dan die ware struikelblok vir ontwikkeling sou wees (12). Hoe geleerd die skrywers daarvan ook al mag wees, bevat hierdie soort kritiek ’n “konstruksiefout”: dit is slegs geldig indien ’n mens die liberale ekonomie as die enigste moontlikheid sien. Kortom, Afrikane verseg om “gesond” te krepeer. Ongetwyfeld ’n gebrek aan verbeelding aan hulle kant ... Maar, by sy ongeluk, het dié vasteland die simbool geword van die geglobaliseerde ekonomie se gewelddadige sy, en uit solidariteit word die Maatskaplike Wêreldforum in Januarie 2007 in Nairobi (Kenia) gehou.

Tot dusver is die strukturele skade wat Afrika-gemeenskappe gely het, aansienlik. Drie bronne van maatskaplike en politieke destabilisering is aan die gang gesit. Eerstens het die in pas bring met wêreldmarkte die landbousektor ontwrig (twee-derdes van die bevolking suid van die Sahara is landelik), onder meer deur die spel van dislojale mededinging wat verarming en toevloei na die stede in die hand werk. Vervolgens is die middelklasse uitgeroei. Vanaf die jare 1980 het daar in Afrika-gemeenskappe ’n enorme kloof ontstaan tussen die brandarmes en die skatrykes: die rykste 20% van die bevolking se inkomste is tien keer meer as dié van die 20% aan die onderpunt van die skaal (13). Die ontwikkeling van ’n land berus egter in ’n groot mate op die dinamiek van die middelklasse waarvan die opbloei juis veronderstel is om vooruitsigte aan die minderbevoorregte lae te bied. “Gedurende die huidige fase van kapitaalgroei met sy nuwe vorms van verryking,” merk die Ghanese politieke deskundige Kwame A. Ninsin op, “is baie mense – insluitend die middelklas – deur die markkragte hulle broodwinning ontneem, verarm, mishandel en gebreek.” (14).

Laastens het die liberale ideologie state verpletter deur sy verkondiging van begrotingsdissipline, finansiële liberalisering, oopstelling van die markte, privatisering. Hierdie toestand lê veral ontwikkeling aan bande: die VN se konferensie van handel en ontwikkeling het onder meer getoon dat openbare stukrag (die finansiering van infrastrukture, instelling van ’n wetsraamwerk wat gunstig vir sake is, ens.) onontbeerlik is om beleggings en privaat ondernemers te lok (15). Daarbenewens het Afrika die afgelope jare bloedweinig voordeel getrek uit direkte beleggings in die buiteland (16).

Maar die verswakking van die openbare gesag dra ook by tot die ontwrigting van gemeenskappe. Aan die een kant word die staat maniere ontneem om inkomste te herverdeel, soos geïllustreer deur die debat oor die afwesigheid van maatskaplike beskerming of die agteruitgang van die onderwys in Rwanda, die DRK, die Ivoorkus ... Verarming werk onvergenoegdheid in verwaarloosde weermagte in die hand, wat gunstige toestande vir staatsgrepe skep (soos onlangs in Guinee-Bissau (2003), Mauritanië (2005), ens.). Staatsamptenare word maande, soms jare laat betaal. Dit is hoekom generaal François Bozizé se eerste gebaar ná sy staatsgreep in Sentraal-Afrika in 2003 was om die betaling van staatsamptenare aan te kondig.

Aan die ander kant is daar nie meer ’n werklik legitieme gesag wat vir die samelewing ’n doel voor oë kan stel nie. Met openbare owerhede wat nie meer in staat is om die algemene belang te definieer nie, gedy alternatiewe diskoerse, veral van etniese aard. Die outentisiteit van “Kongoleesheid” word in die Demokratiese Republiek van die Kongo verdedig; daar word gepraat van “Togoleesheid” of “Ivoriaansheid”... Sulke vereenvoudigende diskoerse laat ’n mens dink aan die “Frankryk vir die Franse”-gedagte wat mnr. Jean-Marie Le Pen na aan die hart lê. “Toe die krisis begin het, met die skielike, gepaardgaande vernietiging van die surplus-aanwas wat die transetniese beleid van die nuwe staat help finansier het,” verduidelik die Egiptiese ekonoom Samir Amin, “is die heersende klas self verbrokkel, gestroop van al sy geloofwaardigheid wat op die resultate van ontwikkeling gebou was. Gevolglik moes hulle vir hulleself nuwe basisse skep, wat dikwels sinoniem met etniese inkering is.” (16) Die gedagte self van openbare besit, wat die onafhanklikheidselite gerugsteun het, moet weer opgebou word met die herdefiniëring van die sosiale kontrak as dryfveer.



 

Tipies van die poststrukturele aanpassingskrisisse, is die toestand in die Ivoorkus ’n taamlik goeie voorbeeld van wat op die spel is. Die konflik wat sedert September 2002 hier woed, het sy oorsprong in die rampspoedige nalatenskap van Félix Houphouët-Boigny. Dié geskiedkundige leier het ’n paternalistiese stelsel daargestel wat gebaseer is op die opbrengste van die kakao-ekonomie en die blinde ondersteuning van Parys. Sake is verder gekompliseer deur die privatisering van die kakaobedryf, met die gepaardgaande verlaging van sy winsgewendheid en van die bevolkings se lewenskwaliteit. Woede het opgebou onder die verarmde stedelike jeug, vir wie mnr. Gbagbo ’n kampvegter word, terwyl die landelike bevolkings, wat vroeër deur Houphouet-Boigny gepamperlang is, probeer om hulle toekoms te verseker deur opnuut besit te neem van die grond wat ruimskoots in die tyd van die “Ivoriaanse wonder” aan buitelanders gegee is wat dit wou kom ontgin. Vandaar die nasionalistediskoers oor “Ivoriaansheid” en die verdeling van die land, waarby elkeen glo dat ’n ander ten koste van hom verryk word: stedelinge teenoor die landelike bevolking, buitelanders teenoor Ivoriane, die jeug teenoor die ouer garde, ens.

Die spanning loop nog hoër in Afrika met dié dat demokratisering dit moontlik maak om dit uit te druk, met ’n mindere of meerdere mate van sukses. Kiesers mobiliseer oral: die sterk deelname (70%) in algemene verkiesings in die Demokratiese Republiek van die Kongo in Julie 2006 is tekenend van hierdie neiging. Nuwer spelers tree na vore, soos verenigings – van vroue, vakmanne, kleinsakeondernemings, ens. – of sindikate wat hulle merk in die openbare debat maak. So het ’n veelpartyregering, ná grootskaalse openbare betogings, in Oktober 2006 in Togo tot stand gekom onder die presidentskap van mnr. Faure Gnassingbé, seun van die oorlede diktator Gnassingbé Eyadema.

In Madagaskar het die mobilisering van die inwoners mnr. Didier Ratsiraka se uittrede in 2002 verhaas. In die DRK is wegblyaksies gehou om teen die traagheid van die oorgangsproses in 2003-2004 te protesteer. Maatskaplike botsings breek uit: algemene stakings teen die hoë lewenskoste in Guinee in die lente van 2006, opstand teen die privatisering van die spoorweë in Mali, betogings teen kragonderbrekings in plakkersdorpe in Suid-Afrika, ens. Maatskaplike forums wat die voogdyskap van die IMF en die Wêreldbank in twyfel trek, word gereeld oral oor die vasteland gehou (17). Kunstenaars (sangers, rapmusikante, straatskilders of spotprenttekenaars, video- en filmmakers) wat groot populariteit geniet, laat die protes verder weerklink.

In die leemte wat deur die openbare owerhede gelaat is, speel godsdienstige bewegings ’n al hoe groter rol, veral op maatskaplike gebied. Dit is die geval met Moslem-verenigings, maar ook evangeliese kerke uit die VSA. President Gbagbo is lid van een. Hulle ontwikkel millennium- en profetiese diskoerse (18), maar tree ook op as bemiddelaars in sekere konflikte, soos in die DRK. Islamisme in Afrika, wat eeue oud en tradisioneel verdraagsaam is, dra die gevolge van gebeure in die Midde-Ooste en die impasses van die Amerikaanse oorlog teen terrorisme. ’n Mate van radikalisering kom na vore, na die voorbeeld van Nigerië, Soedan of Somalië, en word dikwels deur die media uit verband geruk.

Maar dit is die uitbarsting van die jeug op die maatskaplike verhoog wat Afrika-demokrasieë die meeste uitmergel (na gelang van die land is 40 tot 49% van die bevolking suid van die Sahara jonger as 15 jaar oud) (19). Kwaai geraak deur die agteruitgang van die onderwys weens ’n tekort aan geld, maar ook deur groot pandemies soos vigs (20), val hulle rond tussen woedebetogings veral in stedelike gebiede – soos die konstante oproer in Abidjan en onder jeugdige rebelleleiers in die Noorde van die land – en wandade deur Mafia-agtige bendes – soos die kriminele sabotering in Nigeriese oliegebiede illustreer.

In die voorstede van groot plekke soos Nairobi of Johannesburg trek jeugdiges in klein parallelle gemeenskappies saam of studeer, indien hulle tot universiteitsvlak vorder, in uiters moeilike omstandighede. Betogings teen buitensporige klasgelde, die tekort aan beurse of die swak gehalte van die verblyf en kos skud gereeld kampusse, soos in Dakar verlede winter. “Die jeug is honger na geregtigheid (...). Hulle wil dat sake tot ’n punt gebring word,” ontleed die Mauritiaanse filmmaker Abderhamane Cissako die situasie. “Hulle is dus sowel op soek na waardigheid as na ’n verduideliking vir die moeilike toestand op die vasteland” (21).

Voeg by hierdie verskynsels die emigrasietendens – met die menslike dramas wat ons in die nuus sien – wat aangehelp word deur families en dorpies wat hulleself in skuld dompel om ’n jongmens die land uit te help, in die hoop dat dié hulle sal kan onderhou wanneer hy of sy terugkeer. Emigrasie word ’n paradoksale verskynsel omdat dit lande hulle “lewenskrag” ontneem, maar terselfdertyd 323 miljard euro per jaar vir die kontinent inbring, wat meer is as ontwikkelingshulp ...

“Ons leiers stel ’n slegte voorbeeld,” meen die Senegalese historikus Ibrahima Thioub. “Deur hulle kinders te stuur om te gaan studeer of geldmaak in die Noorde, onderskryf hulle die gedagte dat ’n mens nie plaaslik sukses kan bereik nie.” Meer nog as elders leef die elite in Afrika ’n trappie bo die gemeenskap. Die saamval van demokratisering met die uitbreiding van globalisering het inderdaad ’n nuwe soort politieke regime geskep: iets wat ’n mens “IMF-demokrasieë” sou kon noem. Dit wil sê dat die elite volgens ’n dubbele dinamika geselekteer word: veelpartyverkiesings en steun van internasionale finansiële instellings (IFI), waar die tweede element dikwels toegewings behels wat die doeltreffendheid van die eerste ondermyn.

Aangesien Afrikalande feitlik onder voogdyskap van IFI staan, maak kandidate om die hoogste poste almal ’n draai by die “finansiële borge”, waarvan hulle die ondersteuning of neutraliteit moet bekom. Mali se president Amadou Toumani Touré erken dat hy “heelwat onregverdigheid in internasionale ekonomiese verhoudinge ontdek het” en dat hy nie “skaam” nie, maar “verleë” voel oor hierdie afhanklikheid (22). Sekere leiers kom selfs direk uit die geledere van die IMF of Wêreldbank, soos die president van Liberië, Ellen Johnson-Sirleaf. Die afgelope jare was daar Alassane Dramane Ouattara, voormalige departementshoof by die IMF, wat eerste minister van die Ivoorkus geword het; Nicephore Soglo, voormalige goewerneur van die IMF, wat president van Benin geword het; Ngozi Okongo-Iweala, minister van finansies in Nigerië, wat vroeër sekretaris-generaal van die Wêreldbank was; sakelui soos die Malgassiese president Marc Ravalomana, of bankiers, soos die premier van die Ivoorkus, Charles Konan Banny, voormalige goewerneur van die Sentrale Bank van Wes-Afrikalande (SBWAL), wat almal die guns van finansiële instansies geniet.

Hoe legitiem en verteenwoordigend die elite is, hang dus nie soseer van die bevolking af nie, maar van internasionale liggame. Tydens ’n parlementêre debat kon ’n Senegalese minister die opposisie stilmaak met ’n enkele sin: “Die borge is dit eens.” Die katoenkonflik in 2003 illustreer op paradoksale wyse die oogluiking van die elite en heersende ekonome: Afrikaleiers vra dat die reëls van vryhandel gerespekteer word, eerder as om die wêreldwye, gewelddadige magspel tussen Noord en Suid te bevraagteken.

Soms word die kandidaat uit die Bretton Woods-instansies egter deur die volkstem stilgemaak. In Benin, nadat hy in 1991 deur Nicephore Soglo uit die kussings gelig is, verslaan die voormalige diktator Mathieu Kérekou laasgenoemde in 1996 (voordat hy vrywillig en finaal die presidentskap in 2006 neerlê). Meer onlangs moes mev. Sirleaf, wat in 2005 verkies is, haar met ’n vyandiggesinde parlement versoen.



 

Meer nog as die roofsugtige welwillendheid van die “internasionale gemeenskap” ondermyn die ekonomiese vraagstuk die demokratiese spel. Dié word nog onsekerder gemaak deur politieke partye se gebrek aan kampvegters, dikwels omdat laasgenoemde nie die lidmaatskap kan bekostig nie. Die spandabelheid van sommige kandidate, terwyl ander feitlik niks het nie, verwring die verkiesingstryd. Paradoksaal genoeg gee doeltreffende regimes aanleiding tot die vorming van opposisiegroepe, maar net om hulle teenstanders nog beter te verdeel (Gaboen, Burkina Faso, byvoorbeeld). Meestal bevestig “internasionale waarnemers” die resultate en skyn slegs werklik op hulle hoede te wees wanneer die betrokke regime hom nie by die ekonomiese spelreëls hou nie (soos in die geval van Zimbabwe). In ieder geval sukkel die demokratiese kultuur om pos te vat: sommiges laat die Grondwet verander om sonder beperkings herverkies te kan word (Burkina Faso, Uganda, Tsjaad); korrupsie vreet aan die staatsdiens. Die opposisie, joernaliste en regters word geïntimideer. Dit gebeur in Senegal (arrestasie van die voormalige premier Idrissa Seck, mishandeling van die parlementslid Talla Sylla…), maar ook in Niger waar twee van hulle in die somer van 2006 voor die reg gedaag word vir die “verspreiding van vals nuus” oor die toestand van die land.

“Hoekom kan ons nie ’n Chavez in Afrika kry nie?” (23) vra ’n student onlangs op ’n kampus in Abidjan (24). ’n Beduidende botsing vind tydens die winter van 2005-2006 tussen Tsjad en die Wêreldbank plaas. Met verwysing na die dringende maatskaplike probleme in sy land, vra N’Djaména dat die blokkasie van olieopbrengste wat deur die Wêreldbank afgedwing is ten einde “toekomstige generasies se belange te beskerm”, opgehef word. Hoewel mnr. Idris Deby se regime natuurlik meer begaan was oor sy weermag (en sy konflik met die naburige Soedan) as oor sy volk, is die afhanklikheidspel waarin die Tsjadse ekonomie gewikkel is, tekenend van wat in Afrika as die “vloek van olie” bestempel word. Ekonomiese afhanklikheid, die belofte van wins vir multinasionale maatskappye wat op die vasteland dobbel soos in ’n reuse kasino waar iedereen kan maak soos hy wil (24), en korrupsie onder ’n elite wat nie die gemeenskap verteenwoordig nie, werk saam om die bevolking van die opbrengste van sy ontsaglike rykdomme te beroof.

Die vasteland se geopolitiek is egter in ’n proses van mutasie wat mag lei tot groter beweegruimte vir state. Ou afhanklikheidsbande kom in gedrang, soos die Franse neokolonialisme. In sommige plekke word dit bevraagteken (Ivoorkus, Togo, Senegal...), in ander, uitgewis (Tsjaad, Gaboen...) (26). Nuwe buitelandse magte neem stelling in, soos die markgesinde China of die VSA (tussen big business en sy oorlog teen terrorisme). Suid-Suid-bande word gesmee met vennote soos Brasilië of Venezuela, wat nuwe ambassades in Afrika oopgemaak het. Vir die elite wat ná onafhanklikheid tot stand gekom het, is koloniale bande verouderde realiteite en is enige vennootskap moontlik.

Op die vasteland self kom plaaslike beskermhere na vore, soos Suid-Afrika, Nigerië (27) of Soedan. Die konflik in Darfoer – deels ’n leierstryd tussen Kartoem en N’Djamena – word deur die Afrika-Unie dopgehou, en laasgenoemde neem ook deel aan vredesmagoperasies (Sierra Leone in afgelope jare, die DRK vandag). Inter-Afrika organisasies word gekonsolideer en speel ’n al groter rol. In Oktober 2006 probeer die Vrede en Veiligheidsraad van die Afrika-Unie en die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikalande (EGWAL) die vredesproses in die Ivoorkus terug op koers kry. ’n Gebrek aan geld bly egter ’n besliste hindernis vir die optrede van sulke organisasies.

Wie of wat ook al die bevryder van hierdie geskiedkundige era sal wees, die raamwerk word tans duidelik gevorm deur die “vertikale” afhanklikheid van die onderskeie lande, die eensydige verteenwoordiging van die leiers en hulle liberale ingesteldheid. Maar bo die vasteland sweef daar die droom van ’n “tweede onafhanklikheid”, wat ook sinoniem met ekonomiese en maatskaplike vooruitgang sal wees.

 

 __________

(1)           Jean-François Dupaquier, “ De la françafrique à la maffiafrique ”, Mouvements, 17 Mei 2002 - www.mouvements.asso.fr/

(2)           Lees Jean-Pierre Foirry, L’Afrique continent d’avenir, Transversales, reeks Débats, Paris: ellipses, 2006.

(3)           “Growing pains: With Africa’s growth finally picking up, the challenge is to accelerate and sustain the pace to reduce poverty”, Finance and Development, Washington: IMF, Maart 2006.

(4)           Die SDVA, opgestel deur die IMF en die Wêreldbank, beskryf ’n land se makro-ekonomiese, strukturele en maatskaplike beleide en programme oor etlike jare, asook sy buitelandse finansieringsbehoeftes.

(5)                http://www.un.org/french/millenniumgoals/

(6)           Nepad is in Julie 2001 in Lusaka (Zambië) deur die Afrika-Unie aanvaar, en is deur vyf “swaargewigte” in Afrika-politiek ontwerp: Suid-Afrika, Nigerië, Algerië, Egipte en Senegal.

(7)           Die ISAL is ’n globale instrument vir skuldverligting in skuldgeteisterde arm lande wat aanpassings- en hervormingsprogramme toepas wat deur die IMF en Wêreldbank gesteun word.

(8)           Lees “The 25 billion dollar question”, The Economist, Londen: 2-8 Julie 2005.

(9)           Jean-Pierre Foirry, L’Afrique continent d’avenir, Transversales, coll. Débats, Paris: ellipses, 2006, bl. 87.

(10)                http://www.commissionforafrica.org/french/report/introduction.html

(11)                UNCTAD, Verslag oor handel en ontwikkeling 2006, http://www.unctad.org

(12)         Stephen Smith, Negrologie. Johannesburg: PRAAG, 2005.

(13)                http://www.un.org

(14)         Lees Kwame A. Ninsin, “Les nouveaux mouvements sociaux africains”, Et si l’Afrique refusait le marché?, Parys: L’Harmattan, 2001, page 221.

(15)         Cnuced, Flux de capitaux et croissance en Afrique, Genève: 2000.

(16)         In die tydperk 1975-1982 het die invloei van buitelandse kapitaal 3,9% van die bruto nasionale produk (BNP) in Afrikalande verteenwoordig. In die tydperk 1983-1998 verteenwoordig dit slegs 1,8%. Erger nog, ’n uitvloei van Afrika-kapitaal na die buiteland word gekonstateer.

(17)                www.forumsocialafricain.org

(18)         Lees Laurent Fouchard, René Otayek, André Mary, “Des imaginaires partagés”, Courrier de la planète, n°79, Montpellier: Januarie-Maart 2006.

(19)         Teenoor 30% in geïndustrialiseerde lande. Suid-Afrika lê tussenin met 30 tot 39%.

(20)         Lees Stephen Ellis, “La crise universitaire”, Courrier de la planète, n°79, Montpellier, Januarie-Maart 2006.

(21)         Le Rideau rouge, TV5, Februarie 2003.

(22)         Die president van Venezuela, Hugo Chávez, het die olie-opbrengs tot voordeel van maatskaplike projekte aangewend.

(23)         ’n Mens moet ook die ouderdom en spesifieke aard van die magsverhoudings in Afrika in ag neem, sedert die verdrag tot vandag toe. En onthou dat die Chávez van Afrika, Thomas Sankara van Burkina Faso, in 1987 om die lewe gebring is, vermoedelik met die goedkeuring van Parys.

(24)         Die bitter stryd wat in Oktober 2006 deur Johnson-Sirleaf begin is om die eensydige ooreenkoms wat deur die staalreus Mittal steel aangegaan is, te herbeding, is nog ’n voorbeeld.

(25)         Lees Delphine Lecoutre en Admore Mupoki Kambudzi, “Vers un divorce entre Paris et le continent africain?, Le Monde diplomatique, Junie 2006.

(26)         Nigerië en Suid-Afrika verteenwoordig 60% van die bruto binnelandse produk van sub-Sahara Afrika.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=742
Artikel nagegaan:
    -