|
||||
Pieter Duvenage
*Filosoof
Hannah Arendt (1906-1975) se denke kan vanuit verskillende hoeke en perspektiewe benader word. Hier val die fokus op Arendt se politieke denke, en meer bepaald die onderskeid wat sy tref tussen ’n empiries-tegniese opvatting van die politiek aan die een kant, en ’n hermeneuties-pluralistiese opvatting van die politiek aan die ander kant. Die empiries-tegniese benadering in die politiek kan beskryf word as ’n soeke na waarheid (soos die wetenskap met sy “wat is?”-vrae) teenoor die hermeneuties-pluralistiese benadering se soeke na die sin of betekenis van die bestaan. In die laaste afdeling sal daar (kortliks en uiters voorlopig) gepoog word om hierdie onderskeid in Arendt se politieke denke ook vir die Suid-Afrikaanse konteks oop te maak. Arendt se belangstelling in die politiek kan teruggevoer word na haar waardering vir die Griekse wêreld (Plato en Aristoteles) en die moontlike toepassing van hulle denke in die huidige tydsgewrig. In hierdie opsig is sy baie sterk deur haar leermeesters, Heidegger en Jaspers, beїnvloed. Verder het Arendt se belangstelling in die Amerikaanse en Franse rewolusies haar bedag gemaak op die utopiese vergesigte, maar ook die gevare, van ’n moderne politieke opvatting. Teen hierdie agtergrond moet haar werk oor totalitarisme gesien word, asook haar kritiek op ’n instrumentele en tegnokratiese politiek wat enige vorm van kreatiewe handeling in die wiele ry. ’n Interessante aspek van Arendt is dat sy haar Joodse identiteit nooit as iets absoluut (essensialisties) gesien het nie, maar as iets wat voortdurend tot die onverwagse oopstaan. Hierdie onverwagse kan weer verbind word aan ’n ander belangrike motief van Arendt – die geboortelike aard van dinge. (Dit is juis Arendt se beklemtoning van die geboortelikheid van alle dinge wat haar met weersin sou laat staan teenoor die sinnelose moord op ’n jong denker wat nog nie sy of haar potensiaal bereik het nie.)
1. ’n Empiries-tegniese opvatting van die politiek
Dit is gemeenplaas dat sommige van die vrae wat die mens vra empiries van aard is, met ander woorde dit is ’n soeke na inligting, verduideliking en verklaring van die sintuiglik-waarneembare wêreld. So word daar na die oorsaak, bestaan en werking van ’n bepaalde saak of ding gevra. Die volgende vrae kan as empiriese vrae kwalifiseer: wat is die naam van jou buurman? Wat is die hoofstad van Frankryk? Lewe jou pa nog? Wanneer het Ceasar die Rubicon oorgesteek? Hoe werk ’n horlosie, masjien, atoombom? Wat veroorsaak aardbewings? Volgens Arendt deel hierdie verskillende vrae basies een kenmerk – die soeke na empiriese waarheid. So ’n waarheidsbegrip hou óf verband met ’n aspek van die sintuiglik-waarneembare wêreld, wat volgens algemeen aanvaarde prosedures, metodes of kriteria ondersoek word ten einde die relevante en geverifieerde kennis te verkry, óf is suiwer formeel van aard soos in die logika of wiskunde. Hieroor skryf die vermaarde Amerikaanse politieke denker, Sheldon Wolin, markant: “The version of theory which political scientists borrowed from their colleagues in the more advanced social sciences was remarkable not only for its tendency to associate theory with ‘methodology’ but for its distinct hostility toward history and philosophy. As a consequence, this new form of theory had nothing too very significant to say about the issues which dominated the politics of the twentieth century: war, totalitarianism, democracy, imperialism, racial oppression, ecological policy, and corporate power.” Waarheid as geverifieerde kennis het volgens Arendt die volgende implikasies vir tegnies-empiriese politieke gesindheid: a) dit is inherent openbaar en vir almal (in beginsel) toeganklik. b) Waarheid volg universeel aanvaarde prosedures of metodes (soos hierbo uiteengesit). Dit is objektief soos ander mensvervaardigde objekte wat onafhanklik van die skepper bestaan en ’n universeel-gedeelde kenniswêreld moontlik maak. c) Waarheid is onpersoonlik in die sin dat die geldigheid daarvan onafhanklik van menslike behoeftes (soos verlange, hoop en vrees) bestaan. d) Waarheid is dwingend van aard in soverre die verwerping daarvan as irrasioneel en afwykend beoordeel word. Instemming is hier baie belangrik, maar ongelukkig word menslike vryheid en pluraliteit daarvoor opgeoffer.
2. Kritiek van ’n empiries-tegniese opvatting van die politiek
Arendt se kritiek op ’n empiriese-tegniese opvatting van politiek skep terselfdertyd die ruimte om haar hermeneuties-pluralistiese opvatting van die politiek te ontwikkel. Haar eerste punt van kritiek teen ’n empiries-instrumentele politiek is dat die politieke lewe as middel tot een of ander doel geïnterpreteer word. Sodoende is dit altyd aan eksterne doelwitte ondergeskik (soos metodologiese waarheid hierbo). Hierdie perspektief van die tradisionele filosofie verontagsaam egter die openbare sfeer as menslike wêreld. Hier word die mens/subjek in so ’n mate van intersubjektiewe verhoudings afgegrens dat die idee van ’n gedeelde wêreld verdwyn. Tweedens hou ’n empiriese politieke benadering nie rekening met die eiesoortigheid van die politiek en emosies soos liefde vir die wêreld, naastesorg en vriendskap nie. Omdat ’n tegnies-empiriese politiek nie behoorlik ’n epistemologiese greep op begrippe soos opinie en oordeel het nie, word die fenomeen van menslike meningsverskil bloot aan waarheid (of volmaaktheid) gekoppel. ’n Veelheid van opinies word sodoende as die afwesigheid van waarheid in menslike sake gesien. Derdens kom ’n empiriese politiek vir Arendt op ’n tegniese konseptualisering van politiek neer. Sodoende word ’n fenomenologiese ondersoek van abstrakte konsepte (bv. vryheid, die staat, reg, soewereiniteit ens.) bemoeilik. So bestaan daar byvoorbeeld analises van die begrip revolusie en vryheid, maar nie van die revolusionêre of vryheidservaring nie. Gevolglik loop die empiriese politieke wetenskap die gevaar om nie die politieke praxis te verstaan nie. Vierdens val die fokus van die empiriese politieke houding op die formele struktuur van die staat en regeerproses. So word politieke vrae altyd vanuit die perspektief van die regeerder eerder as van die burger gevra.
3. Vir ’n hermeneuties-pluralistiese opvatting van die politiek
Na hierdie kritiek op ’n empiries-instrumentele opvatting van die politiek kom Arendt se opvatting van ’n hermeneuties-pluralistiese politiek, met die volgende gedeelde kenmerke, uit die verf. Eerstens val die fokus nie op hoe ’n saak ontstaan het en hoe dit werk nie. Veel eerder word daar op die betekenis of die waarde van ’n saak ingegaan. Hermeneutiese vrae kan dus nie suiwer op sterkte van ’n empiriese kennis van die wêreld beantwoord word nie. Empiriese inligting kan byvoorbeeld nie die waarde van ’n gebeurtenis in die mens se lewe of waardige menslike handeling verklaar nie. Daarom is hermeneutiese vrae vir Arendt nie op ’n suiwere kennisproses ingestel nie, maar op oordeel. In die plek van empiriese ondersoek en verklaring kom refleksie en nadenke. In die tweede plek ontstaan hermeneutiese vrae nie uit onverskilligheid of blote nuuskierigheid ten opsigte van die wêreld nie, maar vanuit eksistensiële verwondering. Die mens word in ’n wêreld gebore wat prima facie vreemd is. Hy handel, ly, ervaar en kies tussen lewensvorme waarvan die betekenis nie altyd vanselfsprekend is nie. As rasionele wese het die mens ’n begeerte na sin en wil hy ’n bevredigende en intelligente antwoord in die verband gee. Omdat hermeneutiese vrae in die derde plek nie-empiries van aard is, kan die antwoorde daarop nie geverifieer of vervals word nie. Gevolglik is die antwoorde hierop nie waar of vals nie, maar slegs argumentatief oortuigend of onoortuigend, waarskynlik of onwaarskynlik, insigtelik of banaal. Anders as empiriese vrae wat slegs een ware antwoord het, word hermeneutiese vrae op verskillende wyses beantwoord. Menslike handeling of ervaring kan verskillend geïnterpreteer word en kan verskillende vorme vir verskillende mense aanneem. Die persoon aan wie hermeneutiese vrae gerig word, is dus vry om sy instemming te gee of te weerhou. Die soeke na betekenis of verstaan is ’n belangrike sleutel om Arendt se politieke denke te begryp. In die algemeen bedoel sy dat die betekenis van ’n saak bepaal word deur die posisie wat dit in ’n groter raamwerk inneem. As die mens byvoorbeeld die betekenis van kultuur, kuns, kennis, ’n lewensvorm of die lewe wil verstaan, dan moet dit in die grootste moontlike raamwerk geplaas word. Volgens Arendt bied die mens se bestaan (the human condition) so ’n raamwerk. Vir Ernst Vollrath, wat hierdie raamwerk vanuit ’n fenomenologiese perspektief beskryf, word aspekte van die politieke sfeer as fenomene en verskynsels beskou. In so ’n raamwerk bestaan daar nie “objekte” nie, maar eerder ’n wedersydse verhouding tussen die fenomene (verskynsels) en die waarnemer. Met ander woorde, die betekenis van fenomene word nie volgens ’n voorafbepaalde prosedure deur die waarnemer ondersoek en verklaar nie, maar altyd met inagneming van die agtergrond of raamwerk waarbinne die die fenomene aan hom of haar verskyn. Hierdie hermeneuties-pluralistiese of fenomenologiese politieke opvatting van Arendt gaan nou met twee verdere begrippe, waarheid en vryheid, verdiep word.
Die spanning tussen waarheid en vryheid in Arendt se politieke denke
Vir Arendt is die hoogste waarde in die politiek nie waarheid nie, maar vryheid. Soos opgemerk, het die empiriese politieke houding ’n dwingende aard waar verkillende opinies uitgeskakel word om eenvormigheid te bewerkstellig. Gevolglik kan diegene wat op waarheid aanspraak maak nie enige teenspraak aanvaar wat die waarheid in gedrang bring nie. Dit is vir Arendt ironies dat sommige standpunte van liberale en verligte denkers in hierdie sin dogmaties is. Sy sien in die moderne Westerse denke ’n rigiede en afdwingende paradigma van waarheid teenwoordig: die logiese argument. Deduktiewe argumentering waar alles uit die eerste stelling vloei, laat geen ontsnapping toe uit die grense van die logiese denke nie nie, selfs al dui die gesonde verstand (common sense) op ’n ander rigting. Hierdie wantroue in so ’n deduktiewe logika (wat vir Arendt ’n verwantskap met dogmatisme en ideologie toon) deurdrenk haar denke. Meer nog, so ’n opvatting van absolute waarheid (in ’n sisteem of leerstelling ) is ’n bedreiging vir politieke vryheid omdat dit geen ruimte vir menslike verskeidenhied of pluraliteit laat nie. Menslike pluraliteit kom daarop neer dat elke individu op ’n unieke wyse handel en insïeer. Die grootse gevaar vir die handelende mens is volgens Arendt geleë in die gegewe dat politieke oplossings op die ryke (pluraliteit) van die menslike lewe afgedwing word. Die tiran dwing byvoorbeeld sy gesag deur geweld af en vernietig sodoende enige vorm van weerstand. Hy bevind hom in ’n posisie waar slegs sy individualiteit, sy denke en waarheid tel, terwyl sy onderdane tot ’n onmenslike posisie gereduseer word. Totalitarisme gaan volgens Arendt ’n stap verder as tiranieë deurdat menslike pluraliteit berekend en sistematies vernietig word. Deur so ’n sistematiese terreur word die menslike vermoëns van die slagoffer uitgeskakel en word die hele bevolking bloot ’n rat in ’n ideologiese masjien. Persoonlike handeling word sodoende deur ’n ideologiese paradigma vervang, en persoonlike denke moet vir ’n standpunt (enkelvoud) plekmaak. Hoewel Arendt nie die tradisionele politieke wetenskap tot ’n empiries-instrumentele opvatting van politiek verskraal nie, wys sy egter ondubbelsinnig op die feit dat die ongenuanseerde gebruik van die begrip waarheid in die politiek tot onmenslike vergrype kan bydra.
Arendt en Suid-Afrika – ’n voorlopige toepassing
Hoe kan Arendt se onderskeid tussen ’n empiriese en ’n hermeneutiese politiek in Suid-Afrika vandag verstaan word? In hierdie opsig gaan daar twee baie bondige (en hoogs voorlopige) toepassings gemaak word. Die eerste is dat die Suid-Afrikaanse politiek nog altyd die gevaar geloop het om ’n empiries-instrumentele benadering te volg. Een moontlike verklaring hiervoor is dat die brute modernisering van die Suid-Afrikaanse samelewing na die ontdekking van goud en diamante ongetwyfeld in die hande van sogenaamde politieke eksperts en elites gespeel het. Hierdeur is die ruimte vir die handeling van gewone Suid-Afrikaners sedert die laat 19de eeu uiters beperk. Veral in die laaste 40 jaar staan die Suid-Afrikaanse politiek in die teken van ’n empiries-instrumentele politiek – eers in die konteks van die tegnokratiese en militêr-beïnvloede apartheidstaat – op sy knieë, en ná 1994 in die konteks van ’n Afrikaan-oorheersde tegnokrasie in ’n ontwikkelingstaat. Een van die uitwasse van die huidige bedeling is juis ’n politiek wat vir baie min spontane handeling ruimte maak. Teen dié agtergrond kan ’n mens (in die tweede plek) wys na die arbeidsreëlings wat by wyse van regstellende aksie alles volgens ’n rigiede demografiese sisteem reël en daardeur enige spontane handeling van sy burgers in die kiem smoor. Daarmee word nie gesê dat regstelling nie kan plaasvind nie, maar minstens nie volgens ’n stuk empiries-instrumentele politiek wat op tegnokratiese wyse Suid-Afrika se toekoms op die spel plaas nie. |