|
||||
Pieter Duvenage
*Filosoof Hannah Arendt is op 14 Oktober 1906 in Hannover (Duitsland) in ’n Joods-Protestantse familie gebore. In 1910 verhuis die familie na Königsberg. Na haar skoolopleiding studeer sy (1924-1928) filosofie, teologie en klassieke tale in Marburg, Freiburg en Heidelberg – agtereenvolgend onder Heidegger, Bultmann, Husserl en Jaspers. In 1929 verwerf sy haar doktorsgraad onder leiding van Jaspers oor Die Liefdesbegrip by Augustinus. In 1933 vlug Arendt as Jodin uit Nazi-Duitsland na Parys (tot 1940). Hier werk sy vir verskeie Joodse nieregeringsorganisasies en kom sy ook onder die invloed van Kurt Blumenfeld, die woordvoerder van die Duitse Sionistiese beweging. In 1941 wyk Arendt na die VSA uit waar sy vir die res van haar lewe sou bly. Aanvanklik werk sy as ’n boekeredakteur. In hierdie tyd is die oprigting van die Joodse staat Israel (1948) vir haar ’n verlore geleentheid. Arendt word toenemend krities oor die Sionisme en pleit vir ’n multinasionale staat van Jode, Arabiere en Palestyne. In 1951 verskyn Arendt se eerste groot werk – The Origins of Totalitarianism. Vanaf 1953 begin sy aan verskeie Amerikaanse universiteite as besoekende professor klasgee. In die proses het die volgende belangrike werke uit haar besinnende pen gevloei: The Human Condition (1958), Between Past and Future (1961), On Revolution (1963), The Life of the Mind (1978) en Lectures on Kant’s Poltical Philosophy (1983). Hannah Arendt is op 4 Desember 1975 in New York aan ’n hartaanval oorlede. |