blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Hannah Arendt: Geboortelikheid en wêreldlikheid 2006-10-18
Vasti Roodt

*Senior lektor, departement filosofie, Universiteit Stellenbosch

 

Dit is gepas om na te dink oor Hannah Arendt se bydrae as politieke denker in die honderdste jaar na haar geboorte. Vir Arendt is geboorte − in haar terme, nataliteit − ’n moontlikheidsvoorwaarde vir iemand om ’n herkenbare menslike lewe te lei. Anders gestel, die menslike toestand word ten dele omskryf deur die feit van ons geboorte.

In hierdie opsig onderskei Arendt haarself van ’n lang en invloedryke tradisie waarvolgens die dood eerder as geboorte ’n sentrale plek inneem in die poging om sin te gee aan ons bestaan in die wêreld. Arendt herlei hierdie tradisie terug na Plato, wie se verlange na die ewige, onveranderlike vorms van dinge agter die wêreld van ons ervaring juis op gang gebring word deur sy wanhoop in die eindigheid van alles wat sigself binne hierdie ervaring aan ons voordoen, onsself inkluis.

Hierdie bemoeienis met eindigheid en sterflikheid, wat sigself geredelik manifesteer in die wilde hoop op een of ander vorm van onsterflikheid − hetsy van persone of God of waarheid − is een van die stigtingsmotiewe van die Westerse filosofiese en religieuse tradisie. Arendt se weerstand teen hierdie tradisie beteken egter nie dat sy die dood onbelangrik ag in haar poging om die menslike toestand te omskryf nie. Inteendeel, sy beskou sterflikheid eweneens as ’n voorwaarde van ons menslikheid. ’n Lewe wat nooit tot ’n einde kom nie, is ewe min ’n herkenbaar menslike lewe as een wat nie met geboorte begin het nie. Anders as Plato en sy filosofiese en religieuse nakomelinge gaan Arendt egter van die oortuiging uit dat, alhoewel ons noodwendig weerloos staan voor die vernietigende aanslag van die tyd, is die vormende gebeurtenis van die menslike bestaan nie die onvermydelikheid van die dood nie, maar die “wonderwerk” van geboorte, wat in elke geval ’n nuwe begin verteenwoordig. So skryf sy in The Human Condition:

The miracle that saves the world, the realm of human affairs, from its normal, ‘natural’ ruin is ultimately the fact of natality, in which the faculty of action is ontologically rooted. It is, in other words, the birth of new men and the new beginning, the action they are capable of by virtue of being born. Only the full experience of this capacity can bestow upon human affairs faith and hope […] It is this faith in and hope for the world that found perhaps its most glorious and most succinct expression in the few words with which the Gospels announced their “glad tidings”: “A child has been born unto us”.

Vir Arendt is daar eintlik sprake van twee geboortes, twee wyses van begin, by die mens. Naas ons eerste, fisieke geboorte, wat verband hou met die biologiese imperatiewe van ons spesie, ondergaan ons ook ’n soort tweede geboorte wanneer ons toetree tot die wêreld wat ons met ander deel. Hierdie toetrede word gekenmerk deur handeling − en woorde is ook ’n vorm van handeling − waardeur bestaande prosesse of toestande onderbreek of omvergewerp word en daar iets nuuts in die wêreld verskyn wat nog nie vantevore daarin gesien of gehoor is nie. So ’n onderbreking van die alledaagse verloop van dinge hou in dat een proses of stel prosesse tot ’n einde kom en ’n ander verloop van dinge ’n aanvang neem.

Terwyl ons eerste, biologiese geboorte verband hou met wat ons is − ’n lid van die menslike spesie − hou die tweede geboorte verband met wie ons is. ’n Mens word eers wie jy is − ’n persoon met ’n herkenbare identiteit − deur handeling in die wêreld. Terselfdertyd is die voortbestaan van die wêreld self − die omgewing van woorde en dinge wat tussen ons lê en waartoe ons onsself verhou − afhanklik van sodanige handeling, waardeur die wêreld self voortdurend nuut word. ’n Mens sou kon sê dat, vir Arendt, die wêreld juis in stand gehou word deur ’n brose netwerk van sulke beginpogings. Anders gestel, dit wat ons die “wêreld” noem, bestaan solank en net solank as individuele mense die feit van hul aanvanklike geboorte vir hulleself toe-eien deur hulself in die wêreld te begewe in woord en daad. In hierdie opsig is dit duidelik dat Arendt se weerstand teen die tradisie nie in die eerste plek gemik is teen laasgenoemde se erkenning van die onvermydelikheid van die dood en die verganklikheid van alle dinge nie, maar teen die mindere waarde wat aan geboortelikheid toegeken word binne hierdie tradisie. In kritiek op hierdie tradisie skryf sy:

The life span of man running toward death would inevitably carry everything human to ruin and destruction if it were not for the faculty of interrupting it and beginning something new, a faculty which is inherent in action like an ever-present reminder that men, though they must die, are not born in order to die but in order to begin.

In die lig van hierdie uitspraak is dit dalk moontlik om ’n soort teleologie − die gedagte dat die lewe betekenis verkry in die lig van ’n finale doel of telos − te bespeur in Arendt se denke. Wat egter duidelik blyk uit bogenoemde passasie is dat sy hierdie einddoel op ’n radikaal ander wyse interpreteer en daardeur eintlik die hele teleologie waarop die tradisionele opvatting van verlossing en saligmaking berus, omverwerp. Arendt redeneer dat die doel van ’n menslike lewe nie lê in die uiteinde daarvan nie, maar in die vermoë om iets nuuts te begin in ’n eindige wêreld. Soos ons reeds gesien het, is so ’n nuwe begin soos ’n tweede geboorte, waardeur iemand hom- of haarself onderskei van sy of haar ongedifferensiëerde spesie-bestaan en ’n persoon word tussen ander persone binne ’n gedeelde wêreld.

Hierdie nadruk op geboorte, geboortelikheid en begin werk ook ’n ander perspektief op die betekenis van einde en eindigheid aan die hand. Arendt se The Origins of Totalitarianism, wat inderdaad gelees kan word as ’n oordenking van die einde − in die sin van die radikale disintegrasie of mislukking − van ’n spesifieke morele, politieke en filosofiese tradisie, sluit af met hierdie woorde:

But there remains also the truth that every end in history necessarily contains a new beginning; this beginning is the promise, the only “message” which the end can ever produce. Beginning, before it becomes a historical event, is the supreme capacity of man; politically, it is identical with man’s freedom. Initium ut esset homo creatus est − ‘that a beginning be made man was created’, said Augustine. This beginning is guaranteed by each new birth; it is indeed every man. (OT 478-9).

Hierdie passasie herinterpreteer die betekenis van die einde van ’n tradisie vanuit die perspektief van geboortelikheid. Vanuit hierdie perspektief is die einde waartoe alle dinge neig nie ’n dooiepunt − ’n terminus − nie, maar die moontlikheidsvoorwaarde vir ’n nuwe begin. Om die wêreld en tydelikheid vanuit hierdie perspektief te verstaan, is nie om terug te val op ’n oppervlakkige troos in die aangesig van die onafwendbare verganklikheid van alle dinge nie. Dit is om te verstaan dat die verskyning van elke nuwe mens in die wêreld die moontlikheid verteenwoordig om bestaande prosesse, bestaande kettings van oorsaak-en-gevolg te deurbreek. Wanneer so ’n moontlikheid verwesenlik word, kom ’n bepaalde proses, denkraamwerk of tradisie noodwendig tot ’n einde en ontstaan daar terselfdertyd die moontlikheid van ’n nuwe begin, ’n nuwe manier van handel en betekenis skep, anderkant die sekerhede van ’n vorige tradisie. Arendt verwys meermale na die nuwe manier van dink wat genoodsaak word deur die verlies van voorafgaande sekerhede as “thinking without banisters”.

Die alomteenwoordige moontlikheid van ’n nuwe begin is natuurlik geen waarborg dat so ’n begin inderdaad sal realiseer nie, nog minder dat dit onafwendbaar is. Dit is juis om hierdie rede dat Arendt die geboortelikheid bespreek aan die hand van geloof in en hoop vir die wêreld. Dit is juis hierdie “geloof en hoop” in die belofte van ’n nuwe begin wat kenmerkend is van Arendt se denke, en waarin die waarde van haar filosofiese bydrae opgesluit lê.

Indien ons sou probeer om hierdie bydrae relevant te maak vir ons teenswoordige bestaan, sou ’n mens kon aanvoer dat post-apartheid Suid-Afrika steeds gedefinieer word in terme van dit wat deur ons demokratiese oorgang tot ’n einde gekom het, of waaraan demokrasie ’n einde moes bring. Staan ons nie steeds in die ban van die einde van sekere politieke en filosofiese raamwerke, beleide en prosesse (apartheid, Afrikaner-nasionalisme, swart nasionalisme, rassisme), sonder dat ons onsself daadwerklik en genoegsaam begin bemoei het met die nuwe moontlikhede wat in die plek van hierdie -ismes kan gedy nie? Kan ons werklik daarop aanspraak maak dat ons al sonder die trapleunings van ’n vorige bestel kan klaarkom? Hierdie is natuurlik vrae wat aan die huidige regering gestel kan en moet word. Dit is egter ook vrae wat burgers aan hulself behoort te stel. Byvoorbeeld, in watter mate is diegene wat hulleself skaar by die sogenaamde “derde taalstryd” vir Afrikaans bevry van die invloedsfeer van ’n vervloë tradisie van outentieke Afrikanerdom? ’n Nuwe begin in die wêreld, soos Arendt dit verstaan, hang saam met die erkenning van die einde van iets anders; dit is nie die blote herwaardering van die denkraamwerke van die verlede nie. Die uitdaging lê nog voor vir diegene wat hulleself vir die regte van hierdie taal- en kultuurgroep beywer om weg te beweeg vanaf die verlange na wat was en nie meer is nie na handeling in die hoop op wat kan wees maar nog nie is nie.

’n Verdere opsig waarin Arendt vir ons van relevansie is, is in die wyse waarop sy die moontlikheid van ’n nuwe begin koppel aan wêreldlikheid. Haar punt is dat, terwyl elke nuwe begin iets in die wêreld inbring wat nie vantevore daar was nie, gaan die wêreld self enige individuele handeling daarin vooraf. Juis daarom is die wêreld nie reduseerbaar tot die belange van enige spesifieke persoon of groepe nie. Die uitdaging in hierdie opsig is vir alle Suid-Afrikaners om te besin oor dit waarvoor hulle hulself beywer: vir die beskerming van ’n eie, bekende ruimte in die wêreld, of vir die voortbestaan van ’n gedeelde wêreld wat meer is as die ruimte wat enige spesifieke persoon of groep daarin beklee? Die herdenking van Arendt se geboorte is inderdaad ’n gepaste geleentheid om met so ’n besinning te begin.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=732
Artikel nagegaan:
    -