| ||||
Chris Prior – die “rock-professor” – is ’n legende van die Suid-Afrikaanse radiowese. Deesdae is hy te hore op Radio Today en Die Vrye Afrikaan het hom uitgevra oor sy loopbaan, radio, musiek vandag…
Heelwat is sedert die laat 1980’s gesê oor die vernietiging van ernstige musiekradio. Hoekom sou jy dink het dit gebeur, veral in Suid-Afrika? As ek enige insig in die verloop van my loopbaan verwerf het, is dit dié een: hierdie musiek is eenvoudig vir die meeste mense nie belangrik nie. Die meeste luisteraars is tevrede met musiek wat van jou nie veel denke verg nie. Hulle wil nie hulle aandag van die aktiwiteit van hulle lewensbeoefening afgelei hê nie: al wat hulle regtig verlang is ’n maklike luisterstukkie iewers op die agtergrond, verkieslik met ’n maklik memoriseerbare aanknopingspunt en waarmee hulle kan saamsing. Solank dit verskaf word, is daar geen rede om dieper in musiekvorme te delf of oor die wisselwerking tussen musikante in die skeppingsproses van hul kuns te besin nie. Die opnamebedryf het baie jare gelede al hierdie uiters belangrike feit besef, en het sedertdien hulle hulpbronne grotendeels gewy aan die uitdraai van musiek wat meerderheidsbyval vind, d.w.s. musiek wat geen denke verg nie. Nou, in die 21ste eeu, is die musiek wat algemeen in hysbakke en supermarkte en oor radiostasies opgedis word, geheel en al uitruilbaar, en dit is presies hoe die deursnee luisteraar dit wil hê. Die opnamebedryf is wêreldwyd agter die stuur van ’n simbiotiese verhouding met musiekradiostasies. Uitsendings verskaf aan die bedryf ’n mark vir hulle goedere, terwyl die stasies sonder die bedryf se insette nie sou oorleef nie. Die opnamebedryf is terdeë daarvan bewus dat ’n Madonna-album miljoene kopieë sal verkoop, terwyl Ry Cooder-album slegs duisende gaan verkoop. Die radiostasie gaan dus ’n kopie van die Madonna-album ontvang, en die trefferdeuntjie sal vier maal per dag gespeel word. Maar Ry sal, as hy gelukkig is, slegs oor die lug gespeel word in ‘spesialis’-aanbiedings waarvan die platejoggie heengegaan en die album vir homself gekoop het. Ongelukkig het Suid-Afrikaanse kommersiële musiekstasies die konsep van ‘musiek vir die massas’ met huidjie en muidjie ingesluk en dit goed gedink om geen ruimte te laat vir programme wat dié luisteraars bedien vir wie musiek ’n vibrerende lewenskrag is nie.
Onlangs het musikante so uiteenlopend as Bruce Springsteen en Elton John na die artistieke bevryding verwys wat hulle ervaar het tesaam met die besef dat hulle nie meer hoofstroomradiotyd toegedeel gaan word nie. Dink jy daar is ’n nuwe tendens van alternatiewe radio-uitsending, veral satelliet- en Internetgekoppel? En sou jy reken dat dit rock in die breër sin vryer gaan maak en ’n beter kwaliteit gaan gee? ’n Mens dink hier veral aan die uitstekende jongste werk deur veterane soos Springsteen en Dylan, of jonger groepe soos Interpol. Persoonlik dink ek die toekoms van ‘spesialis’-musiekradio lê by die Internet. Kommersiële radio sal in hierdie land vir seker nooit weer na die verskaffing van musiek vir spesialiste teruggaan nie. Ons is ondergronds gedryf, met een klein gemeenskapstasietjie as ons enigste toegang tot die luggolwe. Die uitweg is deur die Internet. Internetradio is nog in sy kinderskoene, maar na gelang die tegnologie verbeter (al hoe vinniger, lyk dit), dink ek dat sommige uiters interessante stasies hulself vir ’n briljante toekoms kan klaarmaak. Ek het geen illusies oor die aantal luisteraars wat my aanbieding in Suid-Afrika gaan trek nie ek wonder of ek in my bloeityd in die 1980’s, met ’n landwye FM-sein, ooit meer as 100,000 gehaal het. As ek ’n wêreldwye verhoog gehad het, kon dit dalk ’n ander saak gewees het. As spesialisstasies eers op die Internet gaan vermenigvuldig en ’n afsetgebied vir ander musiek gaan aanbied as die kommersiële prulle wat die bedryf verskaf, is ek seker sal alternatiewe musici en rand- opnamemaatskappye gou die voordele en moontlikhede insien. Of dit nou musikante gaan aanspoor om beter musiek te maak, kan ek nie met sekerheid voorspel nie. As ek ’n rock-musikant was en my liedjie uitgesaai hoor naas ’n liedjie van ’n tydgenoot wat ongetwyfeld beter is, dink ek, sou ek na my ateljee teruggaan en my eie musiek probeer verbeter. En as ek dit nie kan regkry nie, sal ek waarskynlik my musikale aspirasies laat vaar en eerder ’n platejoggie word!
Jou bynaam as “Die Rock-Professor” verraai iets van jou merkwaardige vermoë oor die jare om uitstekende rock-, folk- en blues-kunstenaars uit te lig. As ’n mens na een van jou programme luister, wat musiek uit enige dekade van die 1950’s opwaarts kan insluit, kry ’n mens die indruk dat hierdie genres so lewenskragtig en kreatief as ooit tevore is en die bewering van hulle alom verkondigde stagnasie vir die leuen ontmasker wat dit is. Hoe gesond dink jy is hierdie genres vandag? Is hulle swakker daaraan toe as voorheen, of is hoofstroomradio gewoon ’n baie doeltreffende vorm van sensorskap? In my dae as voorste joggie sou dit maklik gewees het om hierop te antwoord; dit was vir my redelik maklik om kontak te behou met wat aan die gang is in die genres wat ek speel. Vanselfsprekend was die platemaatskappye van geen nut hiermee nie, maar ek het ’n uitstekende reëling met Lenny van die tans oorlede Hillbrow Record Centre gehad, waardeur ek in staat was om sowat 15 of 20 plate of CD's elke maand te koop. Om volkome op die hoogte te wees, sou ek 50 per maand moes gekoop het, maar wie behalwe politici en advokate kan dit bekostig? Die afgelope vyf of ses jaar is ek uit die besigheid, dus het ek net persoonlike gunstelinge gekoop. Ek het onlangs begin om musiek deur Amazon aan te skaf, aangesien daar in die plaaslike musiekwinkels niks is wat ek oor die lug kan gebruik nie. Gegewe my beperkte blootstelling aan werklike musiek oor die afgelope paar jaar kan ek dus slegs sê dat die enigste terrein waar ek trillende krag, geesdrif en energie sien en hoor, dié van blues-rock boogie is. Ek is oortuig dat as Duane Allman, Jimi Hendrix, Jim Morrison, Janis Joplin, Marc Bolan en ’n leerskare van andere die turbulensie van die 1960’s en 1970’s sou oorleef het, dít is waar hulle sou gewees het. Dis die een plek waar die musikante nie alleen werklik pret het nie, maar ook hulle vaardighede uitbrei. En ek praat nie net van gesoute voordraers wat dekades in die veld was nie, jongelinge soos Jonny Lang en Colin James het na vore gekom en heroïes opgetree. Toets gerus my program vir pragtige voorbeelde! En betreffende hoofstroomradio as doeltreffende vorm van sensorskap: absoluut! Kry vandag se kinders enigsins musiek te hore buiten dit wat die bedryf as byderwets en insiggewend voorhou? Nee, hulle kry dit nie.
In ’n land soos Suid-Afrika ontvang ernstige musiekradio bitter min staatsbefondsing, en word hulle dus dikwels blootgestel aan "the pressures of the marketplace", om Roger Waters aan te haal. Jy is deesdae verbonde aan ’n gemeenskapsradiostasie, Radio Today AM1485. In watter mate verteenwoordig gemeenskapsradio ’n ekonomiese alternatief vir ernstige musiekradio? ’n Mens dink hier aan julle klub, The Rockfest, waar luisteraars se ledegeld help om die lugtyd te finansier. Op hierdie tydstip verteenwoordig dit hoegenaamd geen ekonomiese alternatief nie! Ons doen hierdie werk bloot vir die pret daarvan. Daar is geen maandelikse besoldiging nie. Die geld wat ek bestee aan die nuwe musiek wat ek speel – wat ek verplig is om te koop om ’n element van varsheid aan die aanbieding te verleen kom uit my eie sak. Dis ’n anti-ekonomiese alternatief! Maar ek kla nie: Die plesier daarvan om Little Feat weer oor die lug te speel, weeg veel swaarder as die koste daarvan. Die inkomste (soos dit is) uit die Rockfest Club sal hopelik aangewend word om toerusting in die ateljee op te gradeer. Ons het alreeds twee nuwe CD-spelers, wat ’n enorme aanwins is. Toe ek die eerste keer op die stasie begin het, het die speelapparate die nare gewoonte gehad om eensklaps te weier om liedjies te speel, of anders iewers halfpad deur die item vasgesteek. Die ongelukkige platejoggie het dan geen alternatief gehad buiten om die mikrofoon aan te skakel en vrolik te gesels terwyl hy die apparate tot aksie probeer skop nie; ’n werklik ongemaklike posisie om in te wees, om die minste te sê. Dinge sou finansieel kon verander as die adverteerders bewus raak van die spesifieke markte wat ons teiken maar ek hou nie asem daarvoor op nie. As ek ’n oomblik mag afdwaal, wil ek graag na die eerste sin in jou vraag terugkeer. Dit was altyd my opvatting dat sekere stasies op die staatsondersteunde SABC ’n mandaat had om voorsiening te maak vir gespesialiseerde segmente van die land se bevolking. Die Afrikaanse diens (ek glo hulle opereer nou onder ’n ander naam) het presies dit gedoen en doen dit waarskynlik steeds. Al die verskillende Afrikataalstasies speel waarskynlik musiek wat aan die verskillende smake van hulle luisteraars voldoen. Waarom is dit dan dat die Engelse Diens (tans SAFM) dit nou goeddink om alle volwasse-georiënteerde musiekprogramme af te haal en deur ’n soutlose, dodelik vervelige speellys vir die ganse stasie te vervang? Kommersiële stasies volg kommersiële tendense - waarom moet ’n staatsbefondste stasie dieselfde doen? Toemaar, ek gaan nou dadelik van my stokperdjie afklim.
Die Franse filosoof, Bernard Stiegler, wat omvattend oor kultuur en tegnologie geskryf het, hou vol dat musiek sedert die Industriële Revolusie veel minder voorgedra en veel meer beluister word, hoofsaaklik as gevolg van die vooruitgang in opnametegnologie. Waar stilte eens alomteenwoordig was, is musiek (dikwels uiters swak) nou oral. Ons is inderdaad deesdae luisteraars, dikwels nie uit eie keuse nie (d.w.s. in koopsentra of supermarkte). In hierdie verband is die ernstige platejoggie ietwat van ’n kunstenaar wie se belangrikste tegniek die luister en selektering is, ’n soort tussenganger tussen die ernstige musikant en die toegewyde luisteraar. Wat is jou siening hieroor? Vir my was die kuns van die platejoggie altyd in die verpakking. Die manier waarop liedjies aanmekaargestrengel word, hoe hulle inmekaarvloei, die jukstaposisionering van bepaalde style om ’n spesifieke effek of stemming te skep, die kwaliteit van die musiek self - dis die faktore wat ’n ware ‘musiekjoggie’ van ’n ‘persoonlikheidsjoggie’ skei. Ek was aangetrokke tot die bedryf omdat dit my die geleentheid gebied het om blootstelling te gee aan musiek wat hoegenaamd geen lugtyd gekry het nie.
Die Iers-Afrikaanse rock-historikus, Shiloh Noone, het ’n merkwaardige rock-ensiklopedie geskryf onder die naam Seeker's Guide to the Rhythms of Yesteryear. Noone beweer dat rock gedurende die 1950's, 60’s en 70’s ’n spirituele kwaliteit gehad het wat nou verdwyn het. As ’n mens na jou luister, kry ’n mens die indruk dat jou toewyding aan musiek nie slegs esteties is nie, maar ook spiritueel, selfs religieus. Kan jy hierop uitbrei? Ek sal nie ontken dat ek spirituele insigte uit musiek verkry het nie; ek wil graag dink dat dit met almal gebeur het. As Gustav Mahler se Simfonie van ’n Duisend jou nie spiritueel ophef nie, dan moet ek terugkeer na die punt wat ek vroeër opgehaal het, naamlik dat musiek eenvoudig nie belangrik vir die massas is nie. Gedurende die 1960’s en 70’s het die woorde van kunstenaars soos Van Morrison, Jim Morrison and the Doors, Country Joe & The Fish, Pearls Before Swine en ’n menigte ander geestelike insigte verskaf wat tot die beskikking was van almal wat bereid was om na hulle te luister. Ek dink Shiloh Noone het reg wanneer hy sê dat die rock van die 50’s en 70’s ’n spirituele kwaliteit gehad het, en hy is klaarblyklik daarvan bewus dat ’n spirituele rewolusie in daardie tyd die wêreld meegevoer het, waarskynlik aangevuur deur marijuana en die psigedeliese middels. Dit het ’n enorme spirituele invloed op die jong musici van destyds uitgeoefen, vandaar die spirituele kwaliteit in sommige van hul musiek. Vir my lê musiek ten grondslag van Lewe. Daarsonder sou ons verdroogde skaduwees van ons ware self gewees het.
Watter hedendaagse musikante in rock, blues en folk sou jy uitsonder? Hedendaagse? Ek is mal oor The Subdudes, en The Blasters het pas ’n nuwe album vrygestel. En daar is ’n heer met die naam Delbert McClinton, ’n mondfluitjiespeler en sanger uit Texas wat die afgelope 30 jaar reeds sy eie fabrikaat van country-boogie opgeneem het, en dit nou nog doen. Die blues het ’n menigte sterre opgelewer, waaronder my gunstelinge Roy Rogers, Jimmy Thackery en Sonny Landreth is. In folk beveel ek Patty Larkin aan.
Ter afsluiting ’n ietwat onbillike vraag: in weerwil van ongekende tegnologiese vooruitgang sedert die opkoms van kamer- en simfoniese musiek word avant-garde-musiek nog steeds geskep met dieselfde instrumente wat uit die 15de tot die 16de eeu ontwikkel het, hoewel hierdie genres minder ingeskakel is by ’n vorm van transendensie (die koning, God) as voorheen. Sou rock, blues en folk dieselfde lang lewensduur hê? Per slot van rekening was hul politieke en religieuse ideale nooit heeltemal so hoog as dié van kamer- en simfoniese musiek nie. Ek glo nie. Sommige musiek uit die 60’s en 70’s hou vandag nog stand, maar baie daarvan is verouderd. Sommige vroeë rock-melodieë het langlewendheid verwerf via hermengde omslagopgawes van dansgeoriënteerde albums, maar dis nie juis ’n nalatenskap nie. Klassieke werke verouder nie; hulle is net. |