|
||||
Conrad Steenkamp
Deur Conrad Steenkamp* *Sosiale antropoloog betrokke by ekologiese gemeenskapsontwikkeling
’n Getroue leser en intekenaar van Die Vrye Afrikaan, Conrad Steenkamp, gee kritiese terugvoer op ons doen en late.
Beste Redakteur,
Die Vrye Afrikaan het gehelp om die knelgreep van apartheidsdenke af te skud. Dit het bygedra tot tot die skepping van ’n nuwe intellektuele vryruimte; die oopmaak van die Afrikaner se denkwêreld en die vestiging van kritiese gesprekke in Afrikaans. Ek het baie agting vir hierdie bydraes en dink dit is histories relevant. Terselfdertyd voel ek dat Die Vrye Afrikaan besig is om historiese geleenthede te verpas. Hiermee dus my mondvol:
1. Die Vrye Afrikaan se strategiese fokus op “die Afrikaner” is problematies. Dit maak nie saak hoe ons die saak poets nie, die term is onherroeplik gekoppel aan ras (vgl. Van Zyl Slabbert onlangs in media). As sulks ondermyn dit die saak vir Afrikaans en dra by tot persepsieprobleme om kritiese kwessies soos die taalstryd by Stellenbosch. Let wel: ek stem nie met “Rooi Chris” saam dat dié term blote mite is nie. Dit het ’n sekere historiese realiteit, is vir baie mense belangrik en sal nog ’n lang tyd met ons wees. Maar ek voel ’n bietjie minder as louwarm oor mobilisering onder hierdie vaandel.
2. Voorts steur tekens van toenemende dogma en ideologie in Die Vrye Afrikaan. Hier verwys ek onder andere na die verdelende ideologiese relletjies met die VF+ en Solidariteit, waarin hulle betig word vir hul 'foutiewe' analises (dis nou kompetisie binne ’n baie klein poeletjie!); ook na wat soms lyk na aansprake op tipe intellektuele vanguardisme. Die gepaardgaande verwerping van “pragmatisme” dra by tot die gevoel van vervreemding wat mens dikwels met bydraes in Die Vrye Afrikaan beleef. Dis soms moeilik om die beeld van “white tribe dreaming” af te skud en onlangse aantygings (brief na Die Vrye Afrikaan) oor Die Vrye Afrikaan se dolery in windmeulland is wel relevant.
3. Die mate waartoe Die Vrye Afrikaan hom beperk tot die intellektuele ruimte is problematies. Hier wil ek nie bloot strooipoppe afskiet nie, want Die Vrye Afrikaan mik eksplisiet op die ontwikkeling van ’n nuwe politieke filosofie vir die Afrikaner. Verder word daar dikwels onder die vaandel van die FAK aktivisties opgetree en dis ook so dat mens met beperkte hulpbronne net sóveel kan doen. Maar dit gaan ook oor wát mens doen en ek voel dat die huidige orientasie bydra tot die algemene vertolking van Die Vrye Afrikaan as ’n elitistiese, etniese projek.
4. Ek dink ook dat daar ’n verband bestaan tussen bogenoemde kritiek en ’n beperkte (krimpende?) ondersteuningsbasis. Dit is opvallend dat dié hoofsaaklik bestaan uit “middeljarige en ouer wit Afrikanermans”. As trotse lid van dié nimlike kategorie het ek weliswaar ’n broertjie dood aan “onbeskofde meisietjies” wat ons die reg tot ’n opinie wil ontsê, maar die ooglopende onderverteenwoordiging, selfs afwesigheid, van jonger mense in Die Vrye Afrikaan-diskoers laat meer as gevaarligte flikker. Ironies genoeg herinner die situasie my ietwat aan die bedompige atmosfeer van “exile” in die 80s, destyds toe almal geglo het dat “die sisteem” nog dekades gaan duur; ook aan die moleste tussen die Sosiaal-demokrate, Marxiste, Leniniste, Trotskiïste, Maoiste, Taoiste, Afrikaniste, populiste en wie ook al wat mekaar daar in die bitter winters van die noorde die stryd aangesê het. Selfs Die Vrye Afrikaan se taalgebruik (die hoë aantal byvoeglike naamwoorde wat terme kwalifiseer!) herinner soms sterk aan daardie boekies op goedkoop papier wat die ANC en SAKP in hul wanhoopsdae uitgegee het. Hierdie vergelyking sluit vir my sterk aan by die inwaartse migrasie na magteloosheid wat reeds in einste Die Vrye Afrikaan so treffend geproblematiseer is. Is Die Vrye Afrikaan op ’n paadjie wat lei na ’n verskraling van perspektiewe en ’n fragmentering van debatte? Ek hoop nie so nie, maar hys nogtans die Rooi Vaandel. Hiermee ’n paar punte wat ek meen kan bydra tot ’n meer volhoubare koers:
5. Die mobilisering van Afrikaanssprekendes agter die taal, eerder as om Afrikaner-groepsbelang te bevorder is dié groot historiese taak van die hede. Met alle agting gesê, met ’n fokus op die Afrikaner word tans veel belangriker historiese geleenthede verpas en ’n verskuiwing van priotiteite is nodig. Dit het baie duidelik geword gedurende die onlangse universiteite werkswinkels wat gereël is deur die Akademie in samewerking met Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans.
6. ’n Pragmatiese kultuurpolitiek: Minder ideologie en dogma sal help ruimte skep vir ’n wyer, nie-etniese alliansie vir Afrikaans - een waarin die sukses van Afrikaans nie onderhewig is aan ’n futuristiese, anderwêreldse oorwinning van die alterglobaliste of ander fundamentele politieke omwentelinge nie.
7. Konkrete aksies, sonder intellektuele tierlantyntjies, wat mik op die behoeftes van veral arm Afrikaanssprekendes. Ek glo vas dat die toekoms van Afrikaans nie aangespreek kan word sonder om die armoede van die meerderheid van sy sprekers as een van die hoof-vertrekpunte te gebruik nie. Hiermee wil ek geensins die nut van ’n “elitistiese” middelklas-inisiatief ontken nie, maar argumenteer onbeskaamd dat die een sonder die ander nie veel meer as ’n “roumars vir Afrikaans” kan wees nie (aldus Jakes Gerwel by onlangse vergadering van die Akademie). Met ander woorde, geen “Simfonia africana” sonder grond onder die vingernaels nie! Werklike gemeenskapswerk is wat vereis word, iets wat in fundamentele spanning staan met die filosofiese aanslag van Die Vrye Afrikaan.
8. ’n Ingrypende hersiening van Die Vrye Afrikaan as instelling is nodig. Die Vrye Afrikaan moet daarop mik om die klas, ras en ouderdomsverskille wat Afrikaans kniehalter te oorbrug. Dis ’n Helpmekaar-aksie wat mense saamvoeg wat nodig is eerder as ’n verdelende “Native Club”. ’n Belangrike komponent hiervan is ingrypende veranderinge van Die Vrye Afrikaan se redaksionele komitee. Ek wil ook Die Vrye Afrikaan uitdaag om hande te vat met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans.
Soos vooraf gesê, het ek baie agting vir dit wat Die Vrye Afrikaan binne ’n kort tydjie vermag het. Dit is duidelik dat inisiatief en baie harde, ondankbare werk hieragter steek. Derhalwe moet ek beklemtoon dat my kritiek van die hart kom en ek hoop dit sal nie as bitsig of afbrekend ervaar word nie. Ek hoop veral dat dit nie ’n “analitiese refleks-reaksie” sal uitlok nie. Dit is nodig dat Die Vrye Afrikaan voortbou op sy sterk punte en ’n noodsaaklike herorientasie uitvoer. Gebeur dit nie, vrees ek, word Die Vrye Afrikaan ’n kwynende stem in die wildernis.
______________________________________
Beste Conrad,
Baie dankie vir jou lojale kritiek, wat ontvang is in die goeie gees waarin dit geskryf is. Uit die aard van die saak stem ek nie oor alles met jou saam nie, maar jy raak aan grondige dinge waaroor daar nog heelwat debat in Afrikaans gevoer moet word. Hieronder reaksie op elkeen van jou punte soos in die volgorde hierbo genommer:
1. In sy geskiedenis van Afrikaners (Die Afrikaners, Kaapstad: Tafelberg, 2005) toon Hermann Giliomee aan dat naas taal en geloof die onverkwliklike assosiasie tussen Afrikaners en ras eintlik eers vanaf die eerste dekades van die 20ste eeu geïnstitusionaliseer is. Verder is dit ook in Giliomee se studie duidelik dat die begrip Afrikaner vir meer as 250 jaar betreklik oop en vloeibaar is, net soos dit sedert die skeiding tussen Afrikaners en die Suid-Afrikaanse staat in 1994 weer geword het. Hoe ons ook al intellektueel oor die toekoms van Afrikaners dink, bly die feit dat daar tans so ’n gemeenskap van nagenoeg 3 miljoen mense bestaan wat vir praktiese doeleindes deur ons landgenote en die res van die wêreld as “wit en Afrikaans” beskou word. Dit konfronteer ’n mens met ’n dilemma: hoe bedink jy die toekoms van Afrikaners sonder om dit in rasseterme te doen? Veral twee antwoorde hierop het sedert 1994 na vore getree. Die eerste is om gewoon die begrip Afrikaner te ontken en na sigself as Afrikaanse, Afrikaanssprekende, Suid-Afrikaner of wat ook al te verwys. Die tweede antwoord is om die begrip Afrikaner as oop, demokratiese term te herdink. Die Vrye Afrikaan verkies die tweede opsie, omdat ons dink die eerste opsie is sowel ’n miskenning van die historiese verantwoordelikheid van Afrikaners (onder meer met betrekking tot apartheid) as ’n vorm van selfontkenning wat onmiddellik ’n vraag agter jou integriteit plaas. In gewone Afrikaans: mens verander jou self nie deur op te hou bestaan nie, maar deur anders te bestaan, wat beslis nie beteken jy kan à la die bemarkingsbedryf sommer sito-sito ’n nuwe term vir jouself skep nie, maar wel dat jy die bestaande historiese terme met verbeeldingryke dade en woorde nuwe inhoud moet gee. Ons kies hiervoor ook omdat ons nie dink ’n nuwe Afrikaanse toekoms (sonder enige rassekonnotasie) is moontlik as Afrikaners en bruinmense mekaar nie as vennote kan ontmoet nie. As een van die vennote sigself ontken, kan so ’n verhouding gewoon nie bestaan nie. Te oordeel aan die reuse bydrae wat Afrikaners tot die lot van Afrikaans gelewer het, is dit onwaarskynlik dat dit in die toekoms anders sal wees. Laastens hanteer ons die begrip Afrikaner, buiten vir die assosiasie met die demokrasie, nooit voorskriftelik of eksklusief nie. Hierby moet ook in gedagte gehou word dat die sentrale politieke probleem in Suid-Afrika die soeke na harmonie tussen die verskillende gemeenskappe is: selfontkenning of skielike selfherbenoeming kan kwalik hierdie harmonie bevestig, al is dit dan net omdat om, byvoorbeeld, jouself ’n Afrikaner te noem, vir baie mense betekenisvol is. Dit is ook opvallend hoeveel Afrikaners wat vandag vir ’n inklusiewe Afrikaans pleit, baie gou is om sensuur aan die begrip Afrikaner op te lê: hoe inklusief is hulle dan werklik? 2. Dat Die Vrye Afrikaan tot ’n duidelike ideologiese posisie verbind is - ’n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe – is waar. Dat ons dogmaties daaroor is, is nie. Ons het al talle bydraes gepubliseer wat kom uit die Swartbewussynsbeweging, die sosialisme, ’n meer tradisionele Marxisme, en so meer. In die lig van die poging om Afrikaners as demokratiese kultuurgemeenskap te herdefinieer, is dit ook geensins duidelik waarom kritiek op en verskille met byvoorbeeld die VF+ of Solidariteit “kompetisie binne en baie klein poeletjie” is nie: die reuse bydrae wat Afrikaners tot Suid-Afrika se heil maak, impliseer tog sekerlik ook ’n robuuste interne debat, of hoe? Of waarom sal ’n mens dan soos jyself hoegenaamd die moeite loon om soveel aandag aan ’n klein onafhanklike publikasie soos Die Vrye Afrikaan te bestee? 3. Dit is nie duidelik waarom Die Vrye Afrikaan se “beperking tot die intellektuele ruimte” problematies is nie. Ons glo dat geen vernuwing moontlik is sonder idees nie, en daar is doodgewoon nie ’n enkele ander Afrikaanse nie-akademiese publikasie wat hom eksplisiet tot nuwe idees verbind nie. Wat etnisiteit betref, is die vermenging van ras met etnisiteit hoogs onwenslik, maar dit wil nie sê dat etnisiteit noodwendig geslote en selfgerig is nie. Mexiko se Chiapas-Indiane of Kanada se Franse is maar enkele voorbeelde van gemeenskappe wat hulle etnisiteit belangrik ag en aan ’n oop, demokratiese projek verbind. Etniese selfbeheptheid word om die waarheid te sê juis aangeblaas wanneer etnisiteit op ondemokratiese en sentralistiese wyse misken word, soos wat onder meer die toenemend Afrikanistiese ANC vandag doen. 4. Dit is nie duidelik na watter “krimpende ondersteuningsbasis” jy verwys nie, maar wat Die Vrye Afrikaan self betref toon ons ’n stadige groei, en is die mikpunt van volhoubaarheid op grond van intekenaars en verkope nie ver in die toekoms nie. As ’n mens in ag neem dat ’n koerant soos Die Burger te midde van die hoogbloei van Afrikaner-nasionalisme en die gesag wat die gedrukte woord geniet het vyftig jaar geneem het om winsgewend te word, vaar Die Vrye Afrikaan sonder advertensies in die oudiovisuele era van die verheerliking van die apolitiese privaatbestaan seker nie te sleg nie. Ons lesers lê in die groep tussen ouderdomme 25 en 60, studente skryf gereeld briewe aan en soms bydraes vir ons. Verteenwoordigers van die FAK en Die Vrye Afrikaan is die afgelope 12 maande herhaaldelik en spontaan as sprekers na Afrikaanse kampusse genooi. 5. Ek is dit roerend eens met jou dat die mobilisering van Afrikaanssprekendes fundamenteel vir die toekoms is, maar ek weet van geen enkele taalstryd wat sonder groepsidentiteit gevoer is nie. Die feit van die saak is dat Afrikaanssprekendes beslis tot baie onlangs nie as verenigde groep vir een ideaal opgetree het nie, en dat dit nou maar eers moontlik word om hierdie ideaal na te jaag. Enige poging om ons egter saam te dwing sal net so skadelik wees soos vorige pogings om ons uitmekaar te dwing. Na my beskeie mening is die enkele bruin leier wat die afgelope 12 jaar die meeste hiervoor gedoen het, Christo van der Rheede van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA). Is dit nie opvallend nie dat hy ook baie sterk op sy bruin identiteit staan nie? Juis die oopstelling en herdefiniëring van ons identiteite in Afrikaans sal gehelp word deur die bestaande identiteite te erken as boublok tot iets groters – wat ons hoop sal kom, maar wat ons ook nie kan forseer nie. Ek verwys jou ook graag daarna dat Van der Rheede nie net sy eerste omvattende onderhoud in Afrikaans met Die Vrye Afrikaan gehad het nie, maar ook dat naas hom leidende bruin skrywers soos Neville Alexander, Abraham Philips, Jakes Gerwel en andere gereeld in Die Vrye Afrikaan verskyn. Ek verwys jou ook graag daarna dat die groter samewerking tussen die SA Akademie en die SBA onder meer (maar gewis nie alleen nie!) die gevolg van bemiddeling daartoe deur die FAK is, insluitend die onlangse beraad oor Afrikaans in die universiteitswese wat hulle saam op Stellenbosch aangebied het. 6. Die sukses en toekoms van Afrikaans (en Suid-Afrika en Afrika) is gewis nie deur Die Vrye Afrikaan ondergeskik gestel aan “die oorwinning van alterglobaliste” nie. Maar sekerlik kan die oop, niedogmatiese manier van doen wat jy self voorstaan kwalik buite hoorafstand van die wêreld buite Afrikaans beoefen word? Dit is waarom daar geen ander Afrikaanse publikasie buite die akademie is nie waarin soveel Afrikaanse, Suid-Afrikaanse, Afrika en internasionale bydraes verskyn nie as juis in Die Vrye Afrikaan. 7. Te midde van enorme vervlakking in die media, vyandigheid teenoor deeglike denke en nuwe idees en geweldige praktiese energie wat reeds aan armoedeverligting bestee word, is dit moeilik om te sien waarom jy Die Vrye Afrikaan ook hieraan wil onderwerp. Om die waarheid te sê kom jou pleidooi vir ’n pragmatiese benadering neer op sensuur. Binne sy voorkeur vir idees het Die Vrye Afrikaan dus van meet af die ongehoorde stap geneem om anders as feitlik die totale Suid-Afrikaanse sakejoernalistiek geen aandag aan konvensionele sakenuus of die ontleding daarvan te gee nie, maar juis aan die idees van gemeenskapsekonome wat nie net deur hulle denke nie, maar ook deur hulle eie persoonlike betrokkenheid soek na maniere om armoede te beëindig. Hierdie mense verskyn gereeld in ons ekonomierubriek. Om van Die Vrye Afrikaan of die FAK te verwag om met sy baie karige bronne nou ook nog sy sterkpunt – idees – prys te gee en te begin werk aan praktiese projekte van armoedeverligting (want ons het gewoon nie die bronne om albei gelyk te doen nie), is eintlik allesbehalwe pragmaties, maar juis dogmaties. Na my beskeie mening lê hierdie taak vandag voor die deur van groot Afrikaanse besighede wat werklik die vermoë het om ’n verskil te maak (en waarvan baie dit reeds doen). As hulle fondse vir geletterdheid, werkskepping, studie en dies meer beskikbaar stel, sal Die Vrye Afrikaan dit in hart en niere steun! – Red. |