| |||
Jean-Christophe Servant
*Joernalis. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Die witwyn, ’n chardonnay, kom van sy eie wynstokke in Suid-Afrika. En gaan goed af in die tropiese hitte van São Tomé en Príncipe. Maar Chris Hellinger is bitter: “Hier is dit net korrupsie en jaloesie onder die grootkoppe in die politiek.
As gevolg van die olie.” Hellinger weet waarvan hy praat. Aan die stuur van Island Oil Exploration, ’n maatskappy wat in die Bahamas geregistreer is, was dié man met die troebel verlede (1) een van die eerstes wat – vergeefs – daarna kom soek het in die eilandgroep, een van die kleinste lande in Afrika: 140 000 inwoners op twee eilande die grootte van Andorra, naby die kus van Gaboen. Dit was aan die einde van die 1980’s. Op 12 Julie 1975 kry dié Portugese kolonie sy onafhanklikheid onder die bewind van president Pinto Da Costa, roep die Marxisme vaarwel toe en neem ’n veelpartystelsel aan, ná ’n historiese nasionale konferensie: die eerste op die Afrika-vasteland. Die soektog in die dieptes van die noordelike gebiedswaters van die argipel, aan die rand van Nigerië se koolstofbronne werp vrugte af omstreeks die draai van die jare 2000: met sy vasgestelde reserwes van 11 miljard vate ru-olie kan die land teen 2010 die Brunei van die Golf van Guinee word en nagenoeg 80 000 vate per dag produseer. Maar na hoeveel politieke krisisse, korrupsie en geopolitieke vergunnings? Olie is besig om die land se klimaat te beduiwel. Sedert president Fradique de Menezes in 2001 verkies is, verval die land toenemend in onstabiliteit. Eers was daar die poging tot ’n staatsgreep in Julie 2003, toe die voormalige kakao-entrepreneur wat deur sy voorganger, Miguel Trovoada, aan bewind gesit is, tydelik uit die kussings gelig is. Hierna volg daar herhaalde krisisse teen die agtergrond van ’n hewige magstryd tussen die staatshoof en sy regeringskoalisie, gelei deur die voormalige alleenparty, die Bevrydingsbeweging van São Tomé en Príncipe-Sosiaal-Demokratiese Party (BSTP-SDP). Ook hier is elke toeklap van ’n deur omgewe in ’n walm van swart goud, veral waar dit gaan om die toekenning van oliekonsessies aan buitelandse firmas binne die gesamentlike ontwikkelingsgebied – die GOG – wat sedert 2001 deur die argipel en sy magtige buurstaat Nigerië gesamentlik beheer word (2).
Tydens die jongste krisis, toe die woede van die São Toméërs vir die eerste keer begin deurskemer het – soos geïllustreer deur die eerste höerskoolbetoging in dertig jaar van onafhanklikheid – raak mnr. Fradique sy vyfde regering kwyt. Op 2 Junie 2005 dien die premier, Damiao Vaz d'Almeida, sy bedanking by die staatshoof in. Die party beskou die toekenning van duisende vierkante kilometer oseaan aan buitelandse firmas, wat van voorafgaande tegniese toetse kwytgeskeld word, as wederregtelik. In hierdie nuwe hoofstuk van die São Tomese tragikomedie word aantygings en verwyte rondgeslinger in pas met wat op die spel is: nog voordat die olie begin vloei, ontvang die staat 113,2 miljoen dollar uit die toekenning van konsessies, oftewel drie keer sy bruto binnelandse produk (BBP), wat tot nog toe op die kontantoeste van kakao gesteun het. Hierdie ongesonde atmosfeer word verder vertroebel deur die wanhoop van ’n bevolking wat met minder as 300 euro stuks per jaar moet uitkom. Sedert einde 2004 bly die dividende van die eerste tenders – sowat 49 miljoen dollar – vreemd genoeg vas belê, rentevry, in die plaaslike filiaal van ’n bank van Abuja (Nigerië), Hallmark bank, wat verbonde is aan die voormalige voorsitter van die Nigeriese senaat wat weens korrupsie afgedank is. Die heftige vermaning van die Nigeriese president, Olusegun Obasanjo, wat tydens ’n blitsbesoek aan São Tomé “tegniese vraagstukke wat in politieke probleme ontaard het” kom oplos het, dompel die land ’n entjie dieper in verwarring en bespiegelings. Op 31 Mei 2005, gelyktydig met ’n versoek om hoër salarisse uit die openbare sektor, word die land deur ’n algemene staking verlam. In São Tomé moet ’n mens tussen die reëls kan lees. In hierdie mikrostaatjie van die Golf van Guinee, wat in die 16de eeu deur Portugal gekoloniseer is, is die klein politieke elite wat met onafhanklikwording tot stand gekom het, voortdurend besig om ryk te word ten koste van ’n bevolking wat steeds elektrisiteit en paaie kortkom sodra ’n mens buite die vreedsame hoofstad São Tomé beweeg (3). Nadat hulle gehelp het om groot dele van die buitelandse hulp te verduister – die land bly steeds een van dié wat die meeste hulp ontvang ter wêreld – het dit die meeste lede van die regerende klas nie lank geneem om te snap dat dit in hulle belang is om hulle vullens in die wedloop om die swart goud te laat meeding nie. En dat dit weinig skeel uit watter kelk jy drink, solank jy maar deel in die roes van die olie-dollars. Veral een maatskappy speel hier ’n duister dog beslissende rol: Environmental Remediation Holding Corporation (ERHC). In 1997 onderteken hierdie Amerikaanse firma ’n besonder voordelige alleenreg in São Tomé. Sedertdien, ongeag nuwe onderhandelings en die bedenkinge wat steeds oor sy lewensvatbaarheid hang, het die firma hom in staatsake ingewerk en dit reggekry om die tegniese en etiese vangnette en veral vrome voornemens van “deursigtigheid” wat deur die bilaterale kommissie in beheer van die gesamentlike ontwikkelingsgebied (GOG) bepleit word, te systap. Hy het gesorg dat hy die leeueaandeel van die eksplorasie-konsessies bekom: in vennootskap met klein Amerikaanse maatskappytjies wat reeds by die olievelde van die Ekwatoriaal-Guinese diktatuur betrokke is, is ERHC nou die grootste aandeelhouer in die twee mees belowende konsessieblokke uit die vyf wat pas toegeken is. ERHC is in 2001 geherinvesteer deur die firma Chrome Energy van die Nigeriese Emeka Offor, ’n miljoenêr en “Mafiabaas” in die politiek in die Nigeriese staat Anambra. Voorsitter van ’n bestuursraad waar ook Howard F. Jeter, voormalige VSA-ambassadeur in Lagos, sit, is mnr. Offor boonop een van die hooffinansiers van die Nigeriese president Olusegun Obasanjo se herverkiesing in 2003 ... Sal ons, terwyl laasgenoemde sy tweede en laaste termyn voltooi (die volgende algemene verkiesing vind in April 2007 plaas), ’n “Nigeriese kaping” van São Tomé se olie sien deur ERHC en ander minderheidsmaatskappye wat deur dié in Nigerië se binnekringe beheer word? ’n Venynige hoofartikel in die Washington Post van 1 Junie 2005 verklaar: “Hierdie toekenning van eksplorasieregte het ’n klankie aan.” Nog meer droogweg reken Nicolas Shaxson, ’n Britse ontleder van die Royal Institute of International Affairs, “dat eers die Amerikaners, en toe die Nigeriërs, hierdie ongelooflike klein landjie met ERHC om die bos gelei het. Om die geld uit die eerste toekennings uitgekeer te kry, kan São Tomé nie anders as om Nigerië se voorstelle rondom die tweede toekenning van blokke te aanvaar nie.” Patrice Trovoada, die voormalige president se seun, wat vir ERHC gewerk het, vertel: “Tydens die onderhandelings om die GOG te bepaal, wou die lede van die Nigeriese afvaardiging niks aanvaar nie. Die samesprekings het afgeskop op die basis van 90% van die aandele vir die Nigeriërs en 10% vir ons. Maar ons het nie skietgegee nie. En hulle eise is uiteindelik met ’n derde verminder [60% vir die Nigeriërs, 40% vir die argipel]. In ieder geval, 140 miljoen inwoners teenoor 140 000 ...” Nietemin, die verbluffende sukses van ERHC, net soos die bestuur van die gesamentlike ontwikkelingsgebied, lyk so tipies as kan kom van die buurstaat Nigerië se aptyt. Die GOG word bestuur deur ’n gesamentlike komitee met sy hoofkwartier in Abuja. Nigerië “se optrede teenoor ons lyk al meer na dié van Saddam se Irak teenoor Koeweit,” meen ’n joernalis in São Tomé, “met al die meegaande ongeduld by die bevolking.” Die volk verstaan nie waar die oliegeld so lank bly nie. “Hoe wil jy dit vir die mense verduidelik,” som Patrice Trovoada op, “as jy self nie die deursigtigheidsmeganismes kan kleinkry nie? Ons kom by ’n punt waar ’n ou wat ’n bietjie slim en opruiend is, maklik ’n diktatuur hier kan vestig.” Voordat hy voor ERHC se voorskrifte geswig het, het president Fradique de Menezes sonder ophou die kontrakte wat met laasgenoemde onderteken is, veroordeel. Dit was in die dae toe die president nog met leepoë na die Amerikaanse maatskappye gekyk het wat vandag so krities jeens sy bestuur staan. In so ’n mate dat dit ’n Amerikaanse raadgewer in die land was wat vir hom sy historiese toespraak geskryf het wat hy in 2003 voor president George W. Bush in Washington gelewer het. Destyds het die argipel gereed gelyk om ’n VSA- vlootbasis te huisves ter beskerming van die oliebore in ’n Golf waaruit Washington beoog het om teen 2015 25% van sy ru-olie in te voer. Wat nie meer die geval blyk nie. Van sy kant het die MLSTP-PSD historiese bande met Sonangol, Angola se nasionale oliemaatskappy, wat ook van plan is om sy kanse goed te benut in hierdie leuenagtige pokerspel. Dan is daar ook die Brasiliane van Petrobras – president Luis Inacio Lula da Silva het reeds twee ampsbesoeke aan São Tomé en Príncipe gebring – en natuurlik in die omtrek, effe oorweldig, die Franse operateurs. Die Volksrepubliek van China weer, lê op die loer met die hoop dat São Tomé, wat sedert die 1990’s Taiwan erken het, binnekort weer bande met hom sal aanknoop as historiese bondgenoot in die na-onafhanklikheidsera. Dit lyk of dit gou kan gebeur, te oordeel aan verteenwoordigers van die Chinese Kommunistiese Party se deelname in 2005 aan die laaste kongres van die MLSTP-PSD, tot groot misnoeë van die Taiwannese ambassadeur. “Dié olie moet as ’n geskenk van die gode gesien word. Maar in plaas dat dit ons saambind, verdeel dit ons.” Majoor Fernando Pereira, wat agter die mislukte staatsgreep in Julie 2003 gesit het, sou graag wou hê dat die wêreld moet terugdink aan ’n staatsgreep “sonder geweld wat vir die internasionale gemeenskap ’n boodskap oor die werklikheid in São Tomé moet wees: ’n demokrasie wat ’n fasade is vir ’n staat wat nie bestaan nie, met ’n weermag onder die beheer van ’n groep politici wat hulle eie belange bo dié van die volk stel, en waar korrupsie verskerp terwyl die mense verarm.” Maar dis eerder die junta wat hierdie offisier, vandag 53 jaar oud, omring wat in die geheue bly vassteek. Onder leiding van Alersio Costa het 14 voormalige “Buffalos” uit São Tomé – versterkings vir die anti-Marxistiese stormtroepe uit die Suid-Afrika van die apartheidsjare wat aanvanklik in die 1970’s teen president Pinta Da Rosa se kommunistiese regime ingespan is – deel uitgemaak van die komplot om die Derde Republiek van São Tomé omver te werp. “Opgelei deur Pretoria en in diens geneem in Namibië en Angola, is die Buffalos professionele oorlogvoerders,” aldus die offisier wat 80 euro soldy vir 29 jaar diens vra. “En hulle is nog net so gevaarlik. Niks is nog sedert 2003 opgelos nie. Eerder as om administrasieprobleme te takel, is dit of mense hulle op die weermag wil wreek. Ons kuswagte het nie eens bote nie! Dink net, vir ’n land met olie wat sy seegrense meer as ooit tevore moet beskerm.” Hy waarsku verder: “Met die koms van die swart goud en politici wat mekaar oor die toekenning van blokke verskeur, sal die volgende slag aansienlik bloediger wees.” Ná hy op 30 Julie 2006 bo Patrice Trovoada herverkies is, spring president Fradique Menezes weg met die afdanking van die prokureur-generaal Adelino Pereira, wat ’n ondersoek geloods het na verduisterings wat ’n klad op die toekenning van oliekonsessies gelaat het, tot die misnoeë van Nigerië wat die regter se dagvaardings geboikot het (4). Eerder as in São Tomé is dit dalk op die sustereiland Príncipé waar die argipel se eerste werklike probleme binnekort dalk mag uitbreek. Dit is vanaf hierdie eiland, hoofsaaklik bevolk deur “contradores” (5), dat die meeste van president Pinto Da Costa se teenstanders in die jare 1970-1980 na Gaboen vertrek het. Dit is ook Príncipe, 150 km na noord, wat deur die waters van die GOG omring lê. Nogtans, met sy 5 000 inwoners is Príncipe nog meer vergete as São Tomé. Uit die 40% wins wat die argipel se GOG in sy sak steek, sien hierdie eiland slegs 7%. In São Antonio, die grootste dorp op die eiland, is die enkele Nigeriërs bekommerd oor die groeiende xenofobie. En die jeug maak geluide van onvergenoegdheid. Sal Príncipe, net soos Cabinda, die olieprovinsie van Angola wat deur die sentrale owerhede vergeet is (6), probeer om af te stig? Aan die begin van 2005 het ’n kampvegter vir burgerregte in Cabinda (Angola), Raul Danda, juis ’n besoek aan São Tomé gebring. Om sy gashere teen die “vloek” van olie te waarsku, het Angola gemaan: “Politici gaan van hierdie olie hulle persoonlike rykdom maak en die volk aan nagmerries en armoede uitlewer.” In São Tomé en Príncipe word ru-olie se verskyning eers aan die einde van die dekade verwag. Maar die oliekoors loop reeds hoog. ’n Ontnugtering vir almal wat gedink het dié land sal ontkom aan die bose kringloop van die swart goud, wat ongelukkig alle lande in die subgebied ry.
__________ (1) Sy fortuin het hy onder meer uit die verkoop van diamante in Angola gemaak. (2) http://www.nigeriasaotomejda.com/Pages/Introduction.html. (3) Lees Gerhard Seibert, Comrades, Clients and Cousins, Boston: Brill Editions, 2006. (4) Bulletin d’information du Réseau intégré régional d’information (Irin), 11 Augustus 2006. http://www.irinnews.org (5) ’n Naam wat aan die einde van die Portugese slawehandeltydperk aan Kaap Verdiërs gegee is wat in São Tomé kom werk het. (6) As ’n Angolese enklawe tussen die twee Kongo’s (Demokratiese Republiek van die Kongo en Kongo-Brazzaville), vra die provinsie van Cabinda om onafhanklikheid. Op 17 Julie 2006 gee ’n “vredesooreenkoms” – onderteken deur slegs ’n gedeelte van die onafhanklikheidsgesindes – sy outonomie aan die provinsie, onder die beheer van Angola.
|