blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Gevaarligte vir die onderwys 2006-10-18
Alet Rademeyer

*Spesialisverslaggewer oor onderwys, Beeld

 

Gevaarligte flikker oor sekere voorstelle wat ’n ministeriële taakspan vir die hersiening van die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASA) onlangs in ’n verslag aan die adjunk-minister van onderwys, mnr. Enver Surty, gemaak het.

      Terwyl die verslag volgens die taakspan ’n “simplistiese oorsig” is van die werk wat hy onderneem het, wil dit voorkom of min wetenskaplike navorsing gedoen is oor die haalbaarheid en gevolge van die voorstelle.

      Een van die redes wat vir die hersiening van die Skolewet aangevoer word, is ’n vlaag hofgedinge wat verskeie belangegroepe in die verlede teen die nasionale en provinsiale onderwysdepartemente aanhangig gemaak en boonop gewen het. Volgens die taakspan is dit “an unconscionable position and alone should justify a major overhaul of the SASA and broader legislative enviroment”.

      Ná tien jaar is dit sekerlik nodig om die nuwe onderwysstelsel te evalueer en te kyk waar daar uit foute geleer kan word. Die gevaar in die taakspan se voorstelle is egter dat dit lyk of daar gespeel word met die gedagte van nuwe wette, wat ouerinspraak in hul kinders se opvoeding verder sal aftakel, gedwonge integrasie sal afdwing en die staat meer mag oor onderwys sal gee.

      Die algemene indruk is dat van die voorgestelde wysigings ’n foutiewe benadering ten opsigte van die demokratiese bestel is.

      Voorstelle van die taakspan fokus hoofsaaklik op vier brandpunte, naamlik die magte en bevoegdhede van distrikte, die magte van beheerliggame spesifiek wat betref beleid rondom taal en toelating, die saamgroepering (clustering) van skole en gelykheid en toegang tot gehalte-onderwys.

 

1. Magte en bevoegdhede van distrikte:

 

Die taakspan stel voor dat distrikskantore ’n groter sleutelrol in onderwys moet speel en meer seggenskap in onder meer die aanstelling van personeel moet kry. Distriksbestuurders moet ook meer mag oor skoolhoofde kry en hulle kan verwyder of roteer indien nodig. Voorts moet distrikte sogenaamde clustering (saamgroepering van skole) ondersoek en met skole saamwerk om te bepaal watter van die skole sogenaamde spesialisstatus kan kry en waarheen leerlinge met gedeelde belangstellings aangery kan word.

      Die gehalte van onderwys kan waarskynlik dramaties verbeter indien dienslewering op distriksvlak en hul steun aan skole verbeter. Om distriksrade egter net meer magte te gee sonder om gepaardgaande verantwoordbaarheid te eis, is sinneloos. Voordat meer magte ook aan distrikte gegee word, moet die gebrek aan beplanning en administratiewe onvermoë en die redes daarvoor eers reggestel word.

 

2. Magte van beheerliggame:

Die taakspan meen daar is veral kommer oor die huidige magte van beheerliggame wat taal-, toelating- en godsdiensbeleid by skole bepaal. Die aanname word gemaak dat beheerliggame dikwels beleid so opstel om toegang op grond van ras of taal te stuit of deur die manipulering van skoolvoedingsgebiede. Daar word voorgehou dat beheerliggame hul magte misbruik en in elk geval aansienlike magte het wat nie vir hulle gepas is nie. Soos dat hulle toegelaat word om onderhoude met personeel en skoolhoofde te voer en hulle aan te stel.

      Volgens die taakspan was dit aanvanklik gesond om ouers sentraal by die beheer van ‘hul’ skole te betrek, maar die logika moet bevraagteken word waar die magte finansiële implikasies vir die stelsel (klasgroottes, maksimale toegang en hulpbrongebruik, en skoolgetalle) het. Daar is glo tekens dat die spanning rondom die taalbeleid in die toekoms ’n meer eerder as minder aanvegbare terrein gaan word.

      Volgens die taakspan het die konsep van ware veeltalige skole en klaskamers met omgewings waar almal sukses kan behaal in die proses verlore gegaan.

      Bewerings dat beheerliggame hul magte misbruik, berus grootliks op veralgemenings, en om beheerliggame se magte links en regs aan bande te wil lê, sal neerkom op ’n miskenning van die verkiesing van beheerliggame en ouers se betrokkenheid by skole, wat een van die grootste bewyse van demokrasie in die land is.

      Voorts finansier ouers die onderwys in die meerderheid van die skole. Solank die regering nie onderwys ten volle kan finansier nie, kan die regte van ouers tot inspraak in die opvoeding van hul kinders nie verontagsaam word nie. Ouers se reg om inspraak in die opvoeding van hul kinders te hê, word wêreldwyd beskerm. Hulle het gemeenregtelike en grondwetlike regte rakende toelating, taal en godsdiens wat nie deur ’n nasionale wet weggeskryf kan word nie. Die aanname dat beheerliggame in Suid-Afrika ‘ongebonde’ magte het, is ook onwaar. Hul magte is boonop swakker as dié van beheerliggame in lande soos Australië en Nieu-Seeland waarop dit gebaseer is.

 

3. Die saamgroepering (clustering) van skole:

Voorstelle is dat skole in ’n bepaalde geografiese gebied in verskillende rigtings moet spesialiseer soos kuns en kultuur of wiskunde, wetenskap en tegnologie. Leerlinge moet dan op grond van die spesialiteitsrigting eerder as die skool aansoek doen om toegelaat te word. Maar al word ’n leerling tot ’n spesialisskool toegelaat, moet hy sy ander vakke by ander skole in die groepering neem.

      Volgens die taakspan kan die verandering help om leerlinge van verskillende rasse, klasse en geloofsoortuigings te integreer. Hulle word tot een skool toegedeel op grond van hul belangstellings

      So ’n wysiging sal ook meebring dat skole hulpbronne moet deel, omdat dit volgens die taakspan se mening in elkeen se belang is dat die skole ewe toereikend toegerus is.

      Hieruit kan selfs voortvloei dat ’n superbeheerliggaam tot stand kom wat na meer as een skool kan omsien. Die taakspan meen dit kan help om beheerliggame meer doeltreffend te maak en selfs koste te bespaar.

      Spesialisskole in Suid-Afrika, soos wat die taakspan dit in die vooruitsig stel, is nie haalbaar nie. Gegewe die ligging van skole en vervoerprobleme in die land kan leerlinge nie verskillende skole bywoon nie.

      Daar is ook ernstige bedenkinge oor of die groepering van skole en die deel van hulpbronne enigsins die gehalte van onderrig sal verbeter. In die afgelope twaalf jaar is talle swart skole immers van uitstekende hulpbronne soos rekenaars en boeke voorsien, sonder dat die gehalte van onderrig noodwendig verbeter het.

      Dit is onduidelik hoe hulpbronne beskikbaar in ’n baie klein minderheid (10%) van die land se skole, in die behoeftes van al die land se skole sal kan voorsien.

 

5. Gelykheid en toegang tot gehalte-onderrig:

 

Vir die taakspan is dit die kruks van die probleem en was daar onder mnr. Kader Asmal, vorige minister van onderwys, en me. Naledi Pandor, huidige minister van onderwys, ’n sterk visie vir die bevordering van dié beginsels. Maar om dit te kan bereik, is regstelling en verdeling van hulpbronne onvermydelik.

      Daar word voorgestel dat die hele benadering van ‘keuse in skoling’ hersien moet word. In sommige gevalle werk die keusebenadering goed, soos waar ’n aansienlike hoeveelheid township-leerlinge stedelike skole bywoon en waar leerlinge tussen armer en ryker provinsies beweeg.

      Die beweeglikheid van leerlinge maak dit egter baie moeilik om op skool- en distriksvlak te beplan, infrastruktuur te bou en onderwysers te plaas waar hulle die nodigste is. Die taakspan stel voor dat skole wat die hoogste persentasie plaaslike of armste kinders inneem, beloon moet word.

      Daarbenewens moet meganismes gevind word om die situasie te stuit waar skole wat middelklas-leerlinge bedien, al hoe ryker word en hulle ’n 100%-slaagsyfer handhaaf met leerlinge wat universiteit toe of na die buiteland gaan. Dit terwyl skole wat die meerderheid leerlinge voorberei wat in die land agterbly, net ’n tweedeklas opvoeding aan hulle kan gee.

      Volgens die taakspan veroorsaak die swaar steun op geld van ouers om skole te befonds dat die gaping tussen skole net groter pleks van kleiner word. Daar is kommer oor die differensiasie in toegang tot gehalte, en veranderings word voorgestel rakende die wyse waarop beheerliggame geld bekom en leerlinge toelaat.

      Nog iets wat aangepak moet word is die kwessie van hoë-inkomste-skole, wat ondanks al die geriewe en ondersteuningsmateriaal wat hulle nodig het, ook beter opgeleide personeel aanstel en beter betaal. Om dié situasie te verander, word ’n sentrale plasingsagentskap vir onderwysers voorgestel wat hul herontplooiing kan bestuur.

      Daar is begrip vir die kommer oor skole wat bly swak presteer en armer word terwyl ander ryker word en steeds goed presteer.

      Die werklikheid is egter dat ouers skole kies en bereid is om skoolgeld te betaal op grond van die gehalte-onderrig wat dit bied.

      Die voorstelle sal nie help om die probleem van onprofessionele gedrag en die onvermoë van talle onderwysers op te los nie. Wat nodig is, is beter opleiding en groter toegewydheid van amptenare en onderwysers om gehalte en dienslewering te verbeter.

      Al die voorstelle van die taakspan, waarvan sommige radikaal is, sal moet opgeweeg word teen die agtergrond van bepalings in die Grondwet wat die omvang van die staat se bevoegdhede om ’n onderwysstelsel te hervorm, bepaal.

 

Dit is onder meer:

Art. 6 - Voorsiening word vir elf amptelike tale gemaak. Taalregte van kinders en ouers moet in ag geneem word;

Art. 15 - Vryheid van godsdiens en opinie. Ouers en kinders se godsdienstige diversiteit moet in die onderwysstelsel geakkommodeer word;

Art.18 - Vryheid van assosiasie van leerlinge en ouers moet geakkommodeer word. Outoritêre gedwonge integrasie druis in teen die vryheid van assosiasie en demokratiese regte van ouers, leerlinge en opvoeders;

Art. 23 - Arbeidsregte van onderwysers moet in ag geneem word. Wetgewing kan nie goedsmoeds bepalings daarstel wat verplasings, aanstellings, afdankings en afbetalings teen wil en dank afdwing nie. Elke werker, insluitende onderwysers, kan kollektief beding en onbillike wette betwis;

Art. 28(2) - Elke kind se beste belang is van deurslaggewende belang. As die beoogde wetgewing dus die kinders van sekere kulture of tale of verskeidenheid agtergronde ongrondwetlik benadeel, sal die wette ongrondwetlik verklaar word.

Art. 29(1) - Elkeen het die reg tot basiese onderwys by ’n openbare skool. Volgens die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak in die Mikro-saak beteken dit nie dat elke kind by enige skool onderrig kan ontvang nie. Dit beteken net dat elke kind kan onderrig ontvang by ’n openbare skool, waar redelik doenlik. In die praktyk beteken dit dat die meeste leerders net op onderrig geregtig is by ’n skool naby hulle.

      Nuwe wetgewing sal al dié kwessies in ag moet neem.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=724
Artikel nagegaan:
    -