blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Suid-Afrika en die Weste 2006-10-18
James Myburgh

*Mederedakteur van www.ever-fasternews.com

 

’n Man is op reis in die middel van die gramadoelas toe sy kar onklaar raak. Hy stap na die naaste plaashuis, waar die boer hom nooi om die nag oor te bly en later saam met die gesin te eet. Toe die etenstyd aanbreek, is die besoeker verbaas om ’n vark met ’n troostelose gesigsuitdrukking aan die tafel te sien sit.

Maar dis nie al nie: die vark het drie medaljes om sy nek en ’n houtpen vir ’n been. Naderhand oorval die nuuskierigheid die gas, en hy spreek sy verbasing uit oor die vark wat by die etenstafel aansit.

“Wel,” sê die boer, “hy’s hier omdat hy ’n baie spesiale vark is. Sien jy daardie medaljes om sy nek? Die eerste medalje is vir die dag toe ons jongste seun amper in die dam verdrink het. Die vark het ingeswem, hom terug wal toe getrek en sy lewe gered. Die tweede medalje is vir die dag toe die vark ons dogter uit ’n brandende buitegebou gesleep en haar lewe gered het. En die derde medalje het hy gekry vir die dag toe ons oudste seun in ’n weiveld deur ’n kwaai bul vasgekeer was. Die vark het onder die hek deurgestorm en die bul aan die agterpoot gebyt om sy aandag af te trek. Dit het ons seun kans gegee om te ontsnap.”

“Ja-nee”, sê die gas, “nou verstaan ek hoekom julle hom aan tafel laat sit en saam met julle laat eet, en hoekom hy al hierdie medaljes het. Maar waar kry hy die houtbeen vandaan?”

“Wel,” sê die boer, “’n vark soos hierdie eet jy nie in een slag op nie.”

Die gas is diep hierdeur getref. Toe hy tuiskom, vertel hy sy vrou hoe goed die boer die vark behandel het. “Hoe kan die vark so stuurs wees”, vra hy, “Hy kan aan tafel sit, hy dra medaljes om sy nek, en dit alles vir net een been!”

Dit is ’n allegorie wat die hedendaagse Suid-Afrika soos ’n handskoen pas, en kan netjies toegepas word op die ANC-regering (die boer) en die wit minderheid (die vark). Hoe produktief, hoe heroïes of nuttig die vark ook al is, om die waarheid te sê, wàt hy ook al doen, vir die boer bly hy nog steeds ’n vark. Die vark is deeglik bewus van hierdie feit, en dat dit nie ’n kwessie is van óf nie, maar van wanneer. Dis dié dat hy sy kleintjies aanraai om elders heen pad te gee.

Waarom hierdie essay gaan, is die gesindheid van die besoeker – of, in ons geval, die Westerse joernaliste en akademici wat in die land aandoen, maar nie wortel skiet of genoeg leer om hul simplistiese morele sekerhede oor die plek te skud nie. Hierdie mense artikuleer een baie invloedryke siening oor Suid-Afrika, wat my ’n tydlank verbyster het.

Ek herinner my dat ek vroeg 1999 in die kantoor van ’n LP van die Demokratiese Party in die parlement op ’n streperige swart-en-wit monitor na die verloop van die debat oor die verslag van die Waarheids-en- Versoeningskommissie gesit en kyk het. Die een na die ander kabinetsminister het opgestaan om golf na golf van vitrioel teen die wit minderheid kwyt te raak. Nadat Tony Leon gepraat het, het Peter Mokaba, destydse Adjunkminister van Omgewingsake en Toerisme, op die applous van die ANC-agterbankers so geantwoord:

“Die een ding wat ons moet aanvaar as ons oor versoening praat, is dat … die wit politieke, maatskaplike, ekonomiese en kulturele establishment, insluitende wit sakelui, wit arbeid, die media, die kerke, die skole, die universiteite, die regters, die magistrate, ens., bloed op hulle hande het. Dit is waarom dit baie verwarrend is dat sommige van hulle, soos die DP, kan dink dat swartes dom genoeg is om die leuen te glo dat hulle hande skoon is. Die feite van die saak is dat hulle net so skuldig is as die hele apartheids-establishment.”

Ek onthou hoedat ek toe geruk was deur die ongerymdheid tussen wat ek waarneem en die naïewe, simplistiese beskrywings van die ANC (as liberaal, nierassisties, versoenend ens.) wat ek in ’n groot deel van die Westerse media weerspieël vind.

Sedertdien het Thabo Mbeki natuurlik heelwat van die ontsaglike politieke en morele gesag wat vir die ANC deur sy voorganger opgebou is, verkwansel. Die twee beleide wat die grootste skade aangerig het, was sy verwerping van die wetenskap van MIV/VIGS en sy steun aan ZANU-PF se vasklewing aan mag deur drie gesteelde verkiesings in Zimbabwe heen. Dit sal moeilik gaan om deesdae enige geloofwaardige persoon op die lyf te loop wat bereid is om Mbeki op hierdie kwessies te verdedig. Beskrywings van hom as ’n sentralis en ’n Afrika-nasionalis in die Westerse media gaan nou ook kommentaarloos verby.

Nogtans bly die Westerse denke (of liewer gesindheid) teenoor Suid-Afrika veelal onveranderd. Dit bly steeds ten diepste gekondisioneer oor wat George Orwell ‘nasionalisme’ genoem het. Dit behels nie alleen die oortuiging dat mense “soos insekte geklassifiseer kan word, en dat hele blokke van miljoene of tienmiljoene mense met sekerheid as ‘goed’ of ‘sleg’ bestempel kan word nie, maar ook die gewoonte om “’n mens met ’n enkele nasie of ander eenheid te identifiseer, hom bo ‘goed’ en ‘boos’ te verhef, en geen ander plig as die bevordering van sy belange te erken nie.”

In Suid-Afrika se geval hou baie Westerse intellektuele aan om hulle met die Afrikanasionalistiese ideaal te vereenselwig en ’n diepgaande afkeer te vertoon teen die voortgaande aspirasies van die wit minderheid vir gelyke behandeling. Gevolglik kan die ANC se toksiese rassebeleide nou, sestien jaar na die einde van apartheid, steeds op die diepgewortelde steun van baie van die Westerse intelligentsia staatmaak. Na ’n onlangse vakansie in die Wes-Kaap het een rubriekskrywer van die Guardian die feit betreur dat die “goodies” nog steeds deur een groep [die wittes] opgepot word en van alle ander weggehou word. Die regering doen sy bes, met ’n Swart Ekonomiese Bemagtigingsprogram wat ontwerp is om die buit regverdiger te verdeel, het hy geskryf. Die wit minderheid kan nooit werklik wen nie. As hulle as groep steeds bly floreer – ondanks die baie hindernisse wat in die pad van hulle vooruitgang opgerig word – word dit as ‘’n wonderwerk’ bestempel en aan die verdraagsaamheid van die ANC toegedig. As hulle ’n bietjie gekarnuffel word, ‘is dit bloot hulle verdiende loon’.

Enige suggestie dat die slagoffers kon verander het, sal waarskynlik óf met bespotting, óf aggressie begroet word. Die hewige reaksie rondom die ANC se instelling van rassekwotas in krieket het een Engelse kommentator geprikkel om te verklaar dat die “… disenchanted white minority may think they have already been forgiven by the rest of the world for the decades of disgrace, but the rest of us have longer memories.” Nóg een het sy verbystering daaroor uitgespreek dat krieket en rugby hoegenaamd nog in Suid-Afrika toegelaat word, nadat dit so intensief as ‘donskomberse van apartheid’ aangewend is.

Vroeër vanjaar was ek so onwys om aan ’n prominente (wit) Amerikaanse joernalis te skryf, wat ’n pryslied oor die ANC se rasseoogmerke geskryf het, om hom te vra hoe hy daarop kan aanspraak maak dat hy rassisme verafsku, maar dit nogtans nie herken wanneer dit reg onder sy neus is nie. Hy het geantwoord, “Ek neem aan … dat jy ’n witman is. Kom ons verhang vir ’n oomblik die bordjies. As jy langer as vier dekades as nie-mens deurgebring het as gevolg van jou kleur – onteien, verneder, gedreig, gemarginaliseer, vertrap en by geleentheid deur sekuriteitskurke doodgeslaan is sou jy dit regtig as ‘rassisme’ bestempel het om bo jou voormalige swart teisteraar bevoordeel te word vir ’n werk?”

As ’n mens in isolasie na Suid-Afrika kyk, kan lojaliteit van hierdie aard aan die spesifieke wreedhede van apartheid toegeskryf word. ’n Mens sou hoop dat hierdie soort houdings sal verander as die toestand werklik sleg raak. Die ervaring van rasseminderhede in ander Afrikalande voorspel egter dat nie een van twee die geval gaan wees nie.

’n Jong Paul Theroux het in 1967 geskryf dat daar onder die Westerlinge wat na die einde van kolonialisme in Suid-Afrika belang gestel het, ’n enorme gretigheid was dat die nuwe regerende partye moet slaag, asook ‘volkome identifikasie met die Afrika-ideaal.” As gevolg hiervan het die diskriminasie en rassemishandeling waaraan diegene van Suid-Asiatiese (Indiese) oorsprong in na-koloniale Kenya blootgestel is, onopgemerk gebly en veral “unexamined by the political scientists who picture Kenya as a little paradise for race relations”. Die prekêre posisie van hierdie Asiatiese minderheid, het hy afgesluit, was “the result of a collaboration, most likely unthought-out and maybe even unconscious, between outsiders and insiders; almost a conspiracy of Africans and their European apologists, who would very much like to see Africa succeed, even at the expense of a pogrom, a thorough purge of these immigrant peoples.”

Hoewel daar in Kenia geen massaslagting/etniese suiwering was nie, het die implementering van diskriminerende burgerskap en handelslisensiëringsbeleide tot ’n bestendige eksodus van Asiate uit die land gelei. Sy vrese is gerealiseer in Uganda, waar Idi Amin die Ugandese ekonomie oornag ‘getransformeer’ het deur die ganse Asiatiese bevolking van 72 000 te verban. In Augustus 1972 het Amin eenvoudig aangekondig dat hulle almal binne negentig dae die land moet verlaat. Hierdie optrede is voorafgegaan deur ’n droom, het hy gesê, dat die Asiatiese probleem uiters plofbaar begin word het en dat God hom opdrag gegee het om onmiddellik op te tree om die situasie te red.

Teen die laat 1980’s is ’n ander “klein paradys” van rasseverhoudings ontdek. Die VSA-akademikus, Jeffrey Herbst, het Zimbabwe as ’n model van rasseversoening beskryf, en een van die “few signs of hope for stability in the bleak landscape of southern Africa.” Die voorwaardes waarop wittes toegelaat is om in Zimbabwe aan te bly, skryf Herbst goedkeurend, is dat hulle mag voortgaan om hul sake en plase te bedryf, maar dat hulle kinders – buiten dié wat by kommersiële boerdery of wildtoerisme betrokke is, sal moet padgee. Die regering het dit baie duidelik gestel dat daar geen ekonomiese toekoms vir die meeste jong wittes is nie. Hierdeur is die noodsaaklikheid om die ekonomie met geweld te Afrikaniseer, uitgeskakel, omdat daar binne ’n generasie of so min wittes in die land sal oor wees.

Toe Robert Mugabe die wit boereklas in Zimbabwe in 2000 met geweld begin likwideer het, was daar talle Britse kommentators wat bereid was om die suiwerheid van sy ideaal te verdedig. Een het selfs die Bybel aangehaal om te regverdig waarom wit Zimbabwiërs vir die misdade van hul voorgangers gestraf moet word: ’n jaloerse God besoek die misdade van die vaders aan die kinders, “tot die derde en vierde geslag”. ’n Ander een het gekonstateer dat die grondkwessie die grootste enkele probleem is wat Mugabe se regering nog moet oplos. Daar is goeie rede vir Afrika-bitterheid oor grond. Wittes in koloniale Rhodesië het gewoon die land wat hulle wou hê deur militêre onderwerping afgevat. Londen-gebaseerde rubriekskrywers vir die Guardian het hulle bes gedoen om die opwelling van simpatie met die boere in die Verenigde Koninkryk te blus. Een het die Britse regering beskuldig van ’n “racist concern for the privileged white minority”. Nog een het gepoog om die woede van die Oorlogsveterane te verklaar as die “inherente rassisme” van wit Zimbabwiërs. ’n Derde het geredeneer dat die MDC nie in die kussings toegelaat moet word nie, omdat hulle dalk net ten gunste van die boere en multinasionales uitspraak kan lewer en die “majority peasant population” kan verwaarloos.

Soos Orwell opgemerk het, is die probleem dat hierdie soort oorgedraagde nasionalisme dit vir iemand moontlik raak om “… much more nationalistic—more vulgar, more silly, more malignant, more dishonest—” te wees as wat hy ooit ter wille van sy eie land van herkoms, of enige ander eenheid waarvan hy werklik kennis dra, sou kon wees.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=725
Artikel nagegaan:
    -