blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Le Monde diplomatique: Wie beheer Europa se wapenindustrieë? 2006-10-18
Luc Mampaey

*Navorsingsattaché by die Groep vir navorsing en inligting oor vrede en veiligheid (GNIV). Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

Belegging of grootskaalse kullery? Meegevoer deur die vlaag van optimisme wat op die Koue Oorlog gevolg het, het openbare owerhede in sowel Europa as die VSA enorme programme op tou gesit om die wapensektor (oortollige militêre basisse, die wapenbedryf se oorkapasiteit) elders in te span.

Tussen 1991 en 1999 het die Europese Kommissie se inisiatiewe meer as 900 miljoen euro weggedreineer. Aangesien dié befondsing hoogstens 50% van die uitgawes dek wat deur die lidstate voorsien is en soms deur nasionale inisiatiewe aangevul word, is dit byna 2 miljard euro wat só “belê” is.

Maar terwyl belastingbetalers glo hulle dra by tot die bou van ’n vreedsamer wêreld, het marklogika en die inherente gevare van aggressiewe globalisering (1) gesorg vir ’n ongekende uitbreiding van die “militêre en veiligheidsindustrie”. Dit is in der waarheid ekonomiese en industriële oorwegings – eerder as werklike politieke dryfvere – wat gelei het tot die totstandkoming van die Europese veiligheids- en verdedigingsbeleid (EVVB) met die Nice-verdrag wat in Desember 2000 onderteken is en ’n blywende invloed op sy ingesteldheid sou uitoefen.

Die VSA gee sedert 1993 die tempo aan. Bewus daarvan dat die vet kontrakte van die Reagan-era waarskynlik iets van die verlede is, por die departement van verdediging ’n skouspelagtige proses van konsentrasie in die wapensektor aan. Hierdie proses word geheel en al aan die diskresie oorgelaat van die aandeelhouers en instansies wat die finansiële kapitaal verteenwoordig (onderlinge beleggingsfondse, pensionfondse, ens.), ten minste tot met die negatiewe uitspraak wat die departement van justisie in 1998 lewer teen Lockheed Martin se plan om Northrop Grumman teen ’n bedrag van 8,3 miljard dollar te koop (2). Sedert 2001 vier samesmeltings tussen groot projekbestuurders weer hoogty. ’n Mens dink byvoorbeeld aan enkele van die grootstes soos die aankoop van Newport News Building en TRW in 2002 deur Northrop Grumman vir onderskeidelik 2,6 en 7,8 miljard dollar, die koop van Titan deur L3-Communications in die loop van 2005 vir 2,65 miljard dollar en die aankoop in 2006 van Anteon deur General Dynamics vir 2,2 miljard dollar.

Die begeerte om saam die hele tegnologiese sektor te beheer en op dié wyse te verhoed dat potensiële mededingers dit binnedring, het aan sekere firmas bykans ’n monopolie besorg. Hulle vermoë om die openbare owerhede te beïnvloed is hierdeur versterk en het bygedra tot die militarisering van buitelandse beleid (3). Die wapensektor, ’n ruk lank oorgelaat aan die “nuwe ekonomie”, herwin geleidelik die beleggers se vertroue. Sedert 1999 en die eerste verhogings van die verdedigingsbegroting (veral uitgawes vir die aankoop van toerusting wat vanaf 1986 deurentyd aan die daal was), het die markindekse vir die wapen- en veiligheidsektor weer opwaarts begin neig. Toe die Nasdaq se spekulasieborrel in die tweede kwartaal van 2000 bars, is dié tendens versterk. Op 17 September 2001, die eerste dag dat Wallstraat weer oopgemaak het ná die aanvalle, het aandele in dié sektor met 15 tot 30% geklim ...

Vyf jaar later bly die beleggers se geesdrif steeds hoog, soos blyk uit die konstante klimming van die Spade Defense Index (DXS), bestaande uit die 58 mees verteenwoordigende maatskappye van die wapen- en veiligheidsmark. Die DXS se opwaartse neiging maak kleingeld van die neoklassieke ekonome se bewering dat finansiële markte die gebruik van geweld met afsku bejeën. Tot daar dan die dividende van vrede. Die 21ste eeu word ingelui met die dividende van oorlog.

Hierdie nuwe klimaat, ’n hutspot van terreur en finansiële euforie, verklaar die skielik verskerpte aanwesigheid van militêre kwessies in die Europese Unie se bedrywighede heelwat beter as die begeerte om uniebou te konsolideer. Tot met die keerpunt in die 1980’s het die mislukking van die Europese Verdedigingsunie (EVU) vanweë Frankryk se verwerping daarvan op 30 Augustus 1954 veroorsaak dat enige verdedigings- en wapenkwessies buite debatte en projekte gelaat is. Wapenvervaardiging is meestal oorgelaat aan arsenale en staatsondernemings, te midde van die voorkeurbehandeling wat Reagan aan veiligheid en soewereiniteit gegee het.

Maar die tye verander: in die middel van die 1990’s het regerings van die Europese Unie voorkeur begin gee aan die integrering van hulle wapenmaatskappye. ’n Einde moes gemaak word aan die gedagte van “nasionale kampvegters”, en wapenvervaardiging moes ’n Europese dimensie kry ten einde die mededinging van groot Amerikaanse groepe beter teen te werk. Hierdie strategie berus op ’n beleid van privatisering en voorrang aan markte. Drie doelwitte word voor oë gestel: die mededingendheid van die wapenbedryf, die oopstel van die markte en die fasilitering van wapenuitvoere. Hierdie doelwitte stem in werklikheid ooreen met nuwe aandeelhouers se belange en is die gevolg van ’n doeltreffende strategie van een sektor (en sy Brusselse drukgroepe) wat vasbeslote is om sy belange wat deur die voorstaanders van ’n Europa as passifistiese, “vreedsame mag” bedreig word, te laat seëvier (4).

Institusionele veranderings in die 1990’s illustreer hierdie proses goed. So erken die Wes-Europese Unie (WEU), destyds die gewapende vleuel van die Europese Unie, reeds in 2001 die Wes-Europese Wapengroep (WEWG) as ’n Europese medewerkingsinstansie vir bewapening. As ’n informele groepering van 19 lande (die 16 lidlande van die Atlantiese Alliansie, plus Oostenryk, Finland en Swede) stel die WEWG hom dit ten doel om nasionale verdedigingsmarkte vir Europese mededinging oop te maak en die industriële en tegnologiese basis van verdediging in die Europese Unie te versterk. Verskeie inisiatiewe volg, tot met die totstandkoming op 12 Julie 2004 van ’n Europese Verdedigingsagentskap (EVA) om ’n mededingende wapenmark in Europa tot stand te bring. Op 21 November 2005 word ’n niebindende “Gedragskode” (5) wat wapenmarkte wil vrymaak, ook deur die ministers van verdediging aanvaar.

Dit is onder die druk van hulle wapenindustrieë, uit oorgawe eerder as oortuiging, dat die Unie se lidlande onderneem om ’n einde te maak aan die nasionale proteksionisme wat dekades lank reeds in die vasteland se wapenmarkte heers. Die gevolg van hierdie proses van konsentrasie en privatisering is skouspelagtig, en drie Europese groepe figureer voortaan onder die tien grootste vervaardigers wêreldwyd: BAE Systems (Verenigde Koninkryk), EADS (Nederland) en Thalès (Frankryk). Maar waar die Amerikaanse groepe almal op die aandelemark genoteer is en merendeels deur institusionele beleggers beheer word (finansiële instansies, pensioenfondse en onderlinge beleggingsfondse besit meestal tussen 70 en 100% van die kapitaal), lyk die Europese bedryf na ’n ingewikkelde verstrengeling van wedersydse beleggings, gesamentlike ondernemings en medewerking waarby dit moeilik is om te verstaan wie wat beheer.

Aan die einde van dié proses, gekenmerk deur ’n beduidende onbetrokkenheid van die staat, het werksgeleenthede met bykans 40% verminder. Die twee voorste Europese wapenvervaardigers, Frankryk en die Verenigde Koninkryk, het alleen meer as 200 000 werksgeleenthede tussen 1991 en 2000 verloor. Desondanks is sake- en finansiële kringe in hulle skik met hierdie onafgehandelde herstrukturering en verberg beswaarlik hulle ongeduld om die staat finaal te sien onttrek. In ’n bondige verslag wat in 2002 verskyn, beklemtoon die ontleders van Ernst & Young – een van die grootste konsultasiefirmas ter wêreld – opnuut die begeerte dat die aandeelhouers, en nie die klante (dus regerings) nie, die “uiteindelike skeidsregters in bestuur en strategie” moet wees (7). Hulle onderstreep dat dit op grond van die groei en algehele vertonings van hulle maatskappy is dat beleggers die bestuurders van ’n maatskappy sal beoordeel, en “nie volgens hulle vermoë om die belange van ’n spesifieke regering of groep regerings te dien nie”. ’n Maatskappy behoort dus slegs ’n kontrak van sy land se ministerie van verdediging te aanvaar “indien die winsgewendheid van die aanbod aantreklik genoeg is”. Hulle versoek Europese vervaardigers om hulle nie deur hul tradisionele en streeksbande op die Ou Vasteland te laat lei nie, maar hulle ontwikkeling te fokus daar waar die beste groeimoontlikhede is, met ander woorde die VSA.

Sulke verklarings, wat verteenwoordigend is van gesindhede in die finansiële en sakewêreld, mag teenstrydig lyk met die standpunt van verskeie regerings wat hulle amptelik bekommer oor die groot oordrag van eiendom na institusionele beleggers of industriële groepe in Amerika. General Dynamics het byvoorbeeld in 2003 die Oostenrykse Steyr-Daimler-Puch en in 2001 die Spaanse Santa Barbara bekom, wat immers twee groot name in die Europese weermagindustrie is. Die Carlyle-groep beklink op sy beurt die koop van die Italiaanse Fiat Avio asook 30% van die Britse Qinetiq in 2003, terwyl Kohlberg Kravis die Duitse MTU Aero Engine insluk. Die VSA se aanslag is dus duidelik sigbaar, en dié lys kan nog uitgebrei word. Europese aandeelhouerstate behoort hulle daarom in hierdie stadium eerder toe te spits op die uitwerk van sluitstrategieë en die vasankering van kapitaal, deur enige buitelandse kapitaalbeleggings in Europese wapenindustrieë wat ’n sekere persentasie oorskry, aan regeringstoestemming onderhewig te maak (8). En om dus, in weerwil van skouspelagtige privatiserings, ’n steeds beduidende staatsteenwoordigheid te bevestig, veral in weermagwapens en vlootbou.

Proteksionistiese oorwegings van dié aard weeg egter lig in die magsverhouding wat sedert die 1990’s tussen die staat en finansiële kapitaal tot stand gekom het. Onder die plak van finansies en aandeelhouers se eise om winsgewendheid word die wapenbedryf ’n beslissende faktor en die dryfkrag van die Europese veiligheids- en verdedigingsbeleid. Hierdie eienaardige konfigurasie van wapenvervaardiging in die Europese Unie gaan gepaard met die opkoms van die “omgekeerde stroom” soos die Amerikaanse ekonoom, John Kenneth Galbraith, dit beskryf. ’n Klassieke stroom veronderstel dat opdragte van die verbruiker na die mark, en dan van die mark na die vervaardiger gaan. In ’n omgekeerde stroom “is dit die vervaardigingsmaatskappy wat sy tentakels uitsteek om sy eie markte te beheer, of beter nog, markgedrag te beheer en die maatskaplike ingesteldheid te vorm van dié wat dit veronderstel is om te bedien” (9).

Hierdie konfigurasie hits die militarisering van Europa en die verhoging van nasionale verdedigingsbegrotings aan, soos deur die konstitusionele ontwerpverdrag bevestig (10). Tussen staatstoegifte en korttermyn finansiële denke heen bevoordeel die Europese verdedigings- en veiligheidsbestel dus nie die skep van ’n Europese Uniebeleid nie. Dit dra eerder die kiem van sy verswakking. Want om hulle belange wêreldwyd te beskerm, sal groot wapenproduserende state ’n politieke Europa al minder nodig hê namate hulle hul eie mag ontwikkel, soos aangevuur deur ’n militarisme in nabootsing van die VSA.

 

_________

(1) Lees Claude Serfati, Impérialisme et militarisme: actualité du XXI e siècle, Lausanne: éditions Page deux, reeks “Cahiers libres”, 2004.

(2) In 1998 het die Amerikaanse regering die samesmelting van die twee groepe in die naam van anti-trust regulering geveto.

(3) Lees ook Luc Mampaey en Claude Serfati,Les groupes de l'armement et les marchés financiers: vers une convention ‘guerre sans limites’ ?”, in François Chesnais, La Finance mondialisée, Parys:La Découverte, 2004.

(4) Bernard Adam, “Pour une Europe, puissance tranquille”, Enjeux Internationaux, n° 12, Paris: April 2006.

(5) Lees L’Union européenne adopte un code de conduite pour libéraliser le marché de l’armement, ’n ontledingskrif van GRIP, 28 November 2005, http://www.grip.org/bdg/g0999.html

(6) Deur die gedragskode te aanvaar neem die regerings, onder leiding van die harde kern van wapenproduserende state (veral die Verenigde Koninkryk en Frankryk), in die verbygaan die inisiatief oor by die Europese Kommissie, wie se ingryping in hierdie strategiese sektor hulle bekommer. Kyk Green Paper on Defence Procurement, Europese Kommissie, COM (2004) 608 finaal, 23 September 2004.

(7) Ernst & Young, Europe’s Aerospace and Defence sector: An Industry at the Crossroads, 09/2002.

(8) Kyk byvoorbeeld die inligtingsverslag wat deur Bernard Deflesselles en Jean Michel aan die Franse Nasionale Vergadering voorgelê is: n° 2202, 23 Maart 2005.

(9) John Kenneth Galbraith, Le Nouvel Etat industriel, Parys: Gallimard, 1989. (Oorspronklik: The new industrial state, Boston: Houghton Mifflin, 1967)

(10) Kyk Champ libre pour la militarisation de l’Europe - Regard critique sur la “Constitution” et l’Agence européenne de défense, ontledingskrif van GRIP, 13 Junie 2005, http://www.grip.org/bdg/g1046.html

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=723
Artikel nagegaan:
    -