|
||||
Op Vrydag 15 en Saterdag 16 September het die FAK sy jaarlikse ledevergadering en openbare kongres in Pretoria gehou. Vanjaar se byeenkoms is onder leiding van die FAK-direksie na aanleiding van openbare terugvoer van die vorige byeenkoms verlede jaar in die Paarl vereenvoudig en ingekort, sodat minder aandag aan administrasie en meer aan deelname deur die publiek gewy is. Die geslote amptelike deel van die byeenkoms, die ledevergadering, wat bygewoon is deur afgevaardigdes van die FAK se meer as twintig ledeorganisasies, het die Vrydagmiddag plaasgevind in die Manschappen-saal, Fort Schanskop. In sy voorsittersverslag het prof. Danie Goosen ’n aantal sake uitgelig waaraan die FAK die afgelope twaalf maande sy energie bestee het. Dit sluit in gesprekke rondom ’n gemeenskapsraad van Afrikaners, die posisie van Afrikaans in die onderwys en veral die universiteite, Die Vrye Afrikaan, die verhouding met bruin Afrikaanstaliges, die honderdste viering van NP Van Wyk Louw se geboortedag en die omvorming van die FAK-kantoor. Hierna is oorgegaan tot die direksieverkiesing. Dr. Carel Stander, veteraan van die direksie wat die afgelope jare ’n sentrale rol in fondswerwing vir die FAK gespeel het, het sy uittrede aangekondig, waarna groot waardering uitgespreek is vir die werk wat hy verrig het. Nuwe persone wat tot die direksie verkies is, is dr. Pieter Bingle, mnr. Carel (iv) Boshoff, met dr. Dioné Prinsloo wat herkies is. Prof. Goosen is onbestrede as voorsitter herkies, soos ook mnr. Roland Henwood as ondervoorsitter. Die direksie het origens onveranderd gebly. Die res van die middag se program is gewy aan ’n lewendige bespreking oor die toekomstige struktuur van die FAK. Prof. Goosen het in sy inleiding tot die gesprek beklemtoon dat die verskynsel dat die verskillende ledeorganisasies van die FAK wissel vanaf kerngesond en aktief tot byna heeltemal verdwene, dit noodsaaklik maak om die toekomstige struktuur van die FAK te herbedink. Daar was uit die gehoor heelwat aanvullings hiertoe, maar in den brede is daar konsensus bereik dat die nuwe direksie moet voortgaan om ’n soepeler struktuur vir die toekoms te ondersoek. Die tradisionele prestige-aand het plaasgevind by die SAOU-ouditorium in Garsfontein. Die geleentheid is ingelei met die jaarlikse FAK-prestigelesing, wat vanjaar deur die Pretoriase historikus, prof. Fransjohan Pretorius, gehou is oor die tema “Afrikaners en ’n demokratiese toekoms.” Pretorius het veral by twee kwessies stilgestaan, naamlik die huidige herskrywing van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, wat in sommige gevalle neerkom op die wegskrywing van Afrikaners uit die geskiedenis (1), asook die huidige vlaag skrapping van Afrikaanse plekname. Met verwysing na die Instituut vir Versoening en Geregtigheid se geskiedenisreeks Turning points in history het Pretorius gesê (om) “met ’n doelbewuste, onbillike regstellende aksie van die verlede te kom waarin jy duidelik die verlede skeeftrek, nie die waarheid dien nie. Dit bring nie versoening nie – juis nie.” Wat die skrapping van Afrikaanse plekname betref, het Pretorius gesê, “Ek dink nie Afrikaners het so ’n felle aanslag verwag nie.” Hy het gewys op die feit dat dit duideliker word dat talle swartmense Afrikaners bloot verdra en dat van die veelgeroemde versoening in Suid-Afrika daar al hoe minder te siene is. Afrikaners vra ook nie “dat alle Afrikaanse plekname behoue bly nie. Ons kan wegdoen met name soos Rietfontein en Bultfontein en Warmbad. Maar ANC-woelgeeste moet tog bewus daarvan wees dat sommige Afrikaanse name met kultuurhistoriese betekenis vir ons kosbaar is en dat ons dit wil behou… Daar moet in oorleg met Afrikaner-kultuurleiers bepaal word watter name is vir die Afrikaner kosbaar, watter name het vir hom … kultuurhistoriese waarde.” Pretorius het hom ook uitgespreek teen Afrikaners wat beswaar maak teen die feit dat die “verkeerde prosedure” met naamsverandering gevolg is, want “wat gaan gebeur as die regte prosedure gevolg word?” Eweneens het hy beswaar gemaak daarteen dat alle Afrikaners as “ver regs” beskou word, en ’n beroep op die Minister van Kuns en Kultuur gedoen om met Afrikaner-kultuurleiers in gesprek te tree oor die kwessie. Na Pretorius se lesing het die FAK ’n aantal toekennings oorhandig. HB Thom-onderwystoekennings is aan drie onderwysers gegee, naamlik Jacques Geldenhuys (HTS Potchefstroom), Marinette de Bruin (CVO-skool, Pretoria-Oos) en Nelmari Pretorius (Laerskool Anton van Wouw, Pretoria). Toekennings vir buitengewone kultuurprestasie is gemaak aan die voormalige besturende direkteur van die FAK, Hennie de Wet, asook aan Jopie Koen van die Pierneef-teater in Pretoria. Die MJ Thom-toekenning vir joernalistiek is gemaak aan Marlene Malan van Rapport, veral vir haar uitstekende berigte oor die T-opsie aan die Universiteit van Stellenbosch. Drie FAK-erepennings is ook oorhandig. Die eerste het gegaan aan die uittredende voorsitter van ABSA, dr. Danie Cronjé, vir sy bydrae tot die bankwese en die Afrikaanse wêreld. Tweedens is die aktrise en filmmaker, Katinka Heyns, vereer vir haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse film- en TV-bedryf, waarvoor sy ver buite die grense van Afrikaans erkenning geniet. Laastens is die rock-ster, Piet Botha, wat vanjaar sy dertigste jaar in die musiekbedryf vier, vereer vir sy universele bydrae tot Suid-Afrikaanse en Afrikaanse musiek. Die laaste gedeelte van die byeenkoms is die Saterdagoggend gewy aan die bekendstelling van die FAK-Manifes vir Demokratiese Afrikaners, en wel in die vorm van ’n paneelbespreking onder leiding van prof. Goosen, die filosoof en FAK-direksielid, Pieter Duvenage, en die redakteur van Die Vrye Afrikaan, Johann Rossouw. Die drie paneellede het verskillende aspekte van die ontstaansgeskiedenis van die manifes uit landswye gesprekke met Afrikaners die afgelope 18 maande belig, asook die konteks waarbinne die manifes nou vrygestel is. Die manifes is daarna vir byna twee uur tydens ’n intense debat deur die vergadering bespreek. Een van die punte van kritiek wat uitgespreek is, het dit gehad oor die verbintenis tot ’n gemeenskapsraad van Afrikaners wat in spanning kan staan met ’n Afrikaanse gemeenskapsraad, maar prof. Goosen het beklemtoon dat die FAK dié twee moontlike strukture as wedersyds aanvullend sien. Hierdie asook ander deeglike vrae wat tydens dié debat geopper is sal opgeneem word in die verdere verfyning van die manifes waarmee die FAK besig is. _________ (1) Kyk Fransjohan Pretorius, “Onbillike ‘regstellende aksie’ in SA geskiedskrywing”, Die Vrye Afrikaan, 19 Mei 2006, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=571 |